Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is vandag slawe, en die land wat U aan ons vaders gegee het om die vrug en die volle seën daarvan te geniet – daarin is ons slawe – Neh 39:6
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (14)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Boer en Brit vier saam fees
Kaptein R.J.F. Britz
Onder die Vrystaatse Afrikaners is Kersfees voor die oorlog nie kerklik gevier nie. Kersdag is gewoonlik stil deurgebring, en dinge het maar hul gewone gang op die plase gegaan. In een enkele geval onthou ek dat die bure bymekaargekom het en daar toe sport gehou is met perderesies en skyfskiet.
Die laaste Kersfees in die oorlog (1901) het ons klomp jonges in die staf van genl. Nieuwoudt besluit om die dag te vier en dat perderesies die vernaamste sport sou wees. Twee dae voor Kersfees het ons ’n program opgestel, dit gestuur aan kommando’s in die nabyheid en hulle uitgenooi na Paljasfontein, waar ons gestaan het. Nadat alles gereël was, moes ons nog die toestemming van die bevelvoerder kry.
Hy was verbaas toe hy ons versoek hoor:
“Wil julle op Kersdag sport hou?” het hy gevra.
Ons het verduidelik dat daar nie op die resies gewed sou word nie en dat dit maar ’n onskuldige feesviering sou wees.
Na ’n rukkie nadink antwoord hy: “Julle sal môre resies jaag, maar nie die soort resies wat julle nou vra nie.” Toe ons hom vra watter soort resies hy bedoel, antwoord hy dat ons miskien Engelse sal jaag.
Ons gaan toe terug na ons maats en sê vir hulle wat die antwoord van die generaal is. Ons besluit egter om maar voort te gaan met die plan, aangesien die generaal nie direk geweier het nie. Aan Engelse jaag het ons maar min geglo, want daar was geen Engelse in ’n omtrek van dertig myl nie.
Ons stuur eers ’n paar kêrels na ’n buurplaas om ryp appelkose te gaan haal om die gaste wat ons genooi het, te trakteer. Op Paljasfontein was daar baie ryp vye.
Die middag laat voor die fees kom daar ’n rapport van ons verkenners dat daar 'n Engelse mag van Philippolis se kant af aankom en dat hulle op die pad is wat loop oor die plaas Leeufontein, waar een van ons kommando’s staan, ongeveer drie myl van Paljasfontein af.
Die generaal het toe aan kmdt .Pretorius, wat op Leeufontein was, opdrag gegee om die vyand op die plaas in te wag. Die generaal sou dan van agter aanval. Die generaal het die hele nag wakker gebly, en ’n paar van ons saam met hom. Naderhand was dit rooidag, en die generaal sê vir my: “Maak die burgers wakker en sê hulle moet opsaal.”
Nadat ek die fluitjie geblaas en die bevel gegee het, sê die generaal ek moet saam met hom na die kliprantjie gaan, van waar die pad waarop die vyand is, gesien kan word. Toe ons op die rantjie uitkom, sien ons ’n dik streep stof op die pad oor die nek na Leeurivier. Die generaal het die verkyker ’n paar sekondes voor sy oë gehou en sê vir my: “Hardloop soos ’n resiesperd na die huis en stuur ’n boodskap aan kommandante Theunissen en Munnik Hertzog dat hulle dadelik na Leeurivier se nek moet jaag - en bring die staf en verkenningskorps hierheen.”
Ek het dadelik sy bevel uitgevoer. Toe ons terugkom by die generaal, gee hy bevel om die nek te storm. Toe ons in die nek kom, was die Engelse mag al op Leeurivier en ons kon kmdt. Pretorius se kommando sien retireer die anderkant van die plaas uit. Die generaal wou dadelik agter die Engelse aanstorm, maar kommandante Theunissen en Hertzog was nog nie by die nek nie. Hulle het omtrent nog ’n myl daarvandaan aangekom.
Terwyl ons nog op hulle wag, kom ’n perderuiter van agter met die pad waar die vyand so pas verby getrek het. Hy rapporteer dat ’n Engelse konvooi ’n paar myl daarvandaan agter die rantjies aankom. Die generaal besluit toe om die konvooi van omtrent vyftig muilwaens en karre en honderd perderuiters aan te val.
Kmdt. Theunissen kry bevel om met sy kommando aan die regterkant van die pad en kmdt. Hertzog om aan die linkerkant voort te beweeg, die vyand tegemoet. Die staf en verkenners het in die pad afgetrek. Die bevel was om op ’n stap te ry.
Nadat ons ’n entjie so gery het, kom twaalf van die voorhoede van die konvooi voor ons op die rantjie uit. Hulle ry ook op ’n stap. Hulle het natuurlik gedink ons is hulle mense, want ’n halfuur tevore het hulle mense dieselfde pad getrek. Toe ons omtrent vyftig tree van hulle af was, merk hulle onraad.
Ons gee ons perde die teuels en spore, en voor hulle hul geweers kon uithaal - hulle het met die geweers in die geweerskoen gery - was ons tussen hulle en ontwapen hulle. Teen hierdie tyd was die voorpunt van die konvooi ook al op die rantjies en kon hulle sien wat gebeur. Kommandante Theunissen en Hertzog was al op ’n stywe jaaggalop weerskante van die konvooi. Ons storm reg op die konvooi af. ’n Hewige geveg ontstaan, maar binne vyftien minute het ons hulle oorrompel en moes hulle oorgee.
Aan ons kant was een man dood en twee gewond. Van hulle was ’n paar dood maar nie een gewond nie. ’n Paar waens se disselbome was af omdat die muile omgespring het. Ons het die goed op daardie waens oorgelaai op die ander waens en die konvooi dadelik na Paljasfontein laat trek.
Ons buit het bestaan uit ses en vyftig waens en karre en meer as vyf honderd muile en perde, omtrent honderd geweers en duisende patrone. Op Paljasfontein het ons ’n deel van die patrone begrawe en toe na die volgende plaas getrek. Daar het ons uitgespan, die waens afgepak, geneem wat ons wou hê en die waens aan die brand gesteek.
Toe alles tot stilstand gekom het, vra die generaal of ons tevrede is met ons sport. Of ons tevrede was? Al moes ons die verlies van een van ons burgers betreur, was ons hoogs in ons skik met ons feesviering. Vir elke Engelse soldaat was daar ’n Kerspakkie, bestaande uit ’n klein dadelpoeding, ’n pakkie sjokolade, ’n pakkie sigarette en ’n sakpotloodjie van die Koningin, behalwe die drank, koffie, suiker, konfyt, ensovoorts.
Ons het die Engelse wat ons gevange geneem het, genooi om saam met ons fees te vier. Hul aanvoerder was kaptein Watson. Ons het vir die oomblik vergeet dat ons vyande is.
Die Engelse wat agter kmdt. Pretorius aan was, het op ’n plaas agt myl van waar ons die konvooi kafgeloop het, gaan afsaal en op die konvooi gewag. Die middag om drie-uur het hulle by die stukkende waens van die konvooi aangekom en toe teruggetek na Philippolis, waarvandaan hulle gekom het. Hulle was toe seker al baie honger. Mens sou graag hul uitdrukkings wou gehoor het toe hulle agterkom dat hulle al hul kos en drank kwyt was en nog ’n dertig myl moes trek voor hulle weer kos kon kry. Wat ons betref, het die Kersfees twee volle dae geduur.
Ons het aan kmdt. Pretorius ’n boodskap gestuur dat Boer en Brit saam sy deel van die buit vir hom hou en dat hy dit moet kom haal. Hy en sy kommando het die tweede dag saam met ons feesgevier.
Die Huisgenoot, 23 Desember 1938.