Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja! – Ps 104:44-45
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (15)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Die onoortreflike Blessie
Maurits J. Dommisse
Blessie was nie juis ’n danige perd om na te kyk nie en sou op ’n skou seker nooit ’n prys gewen het nie, en tog sou ek hom nie vir die mooiste kampioenperd verruil het nie. Hy was sommer ’n gewone Boereperd met ’n blessie en vier wit pote. Hy was kort en stewig gebou, omtrent veertien hande hoog, met ’n pragtig gevormde kop, wakker oë en kort, spits ore. Hy was vurig van geaardheid, vinnig en rats. In die donkerste nag het hy deur slote en oor kliprante gegaan en nooit gestruikel of misgetrap nie. Hy het oor ’n doringdraad gespring asof dit niks was nie, het ’n gang geloop, was geskik van geaardheid en doodmak en daarby besonder intelligent.
Ons het soms dag en nag aaneen gery, sodat baie ruiters aan die slaap geraak en afgeval het en die rydiere heeltemal uitgeput was, maar Blessie het altyd ewe wakker en lewendig gebly. Hy was nooit flou of bevange of uitasem nie.
Op ’n keer was generaal Beyers met sy staf in die distrik Bethal toe hy opdrag kry om sonder versuim die Engelse opmars na Soutpansberg te gaan stuit. Laat die middag vertrek hy en enkele lede van sy staf en om elfuur daardie aand word vir die eerste keer afgesaal anderkant die treinspoor in die Bosveld. Nadat die perde gerol het, word daar weer opgesaal, en die volgende more was ons in Chuniespoort, sowat agtien myl van Pietersburg af. Dit was ’n afstand van ongeveer 150 myl.
Boonop stuur generaal Beyers toe nog vir Hendrik Mentz en my vooruit om die kommando’s te gaan bymekaarmaak. Ons het die hele dag tot donker hard gery en moes feitlik met die Engelse reisies jaag om voor te bly. Nadat Blessie amper dertig uur onder die saal was,het hy nog geen tekens van afmatting getoon nie. Sy uithouvermoë was onoortrefllik.
Op ’n keer moes Hendrik Mentz en ek ’n rapport aan die Waterbergkommando gaan aflewer. Ons pad het deur ’n digte boskloof geloop en ons kon niks rondom ons bespeur nie, maar kort-kort steek Blessie vas net asof hy wou sê: “Pasop, hier is gevaar.” Ek druk hom weer vorentoe, maar toe hy weer beslis vassteek en sy ore spits, wis ek daar is onraad en ruk ook sommer kortom, en net betyds, want toe fluit die koeëls.
Met al die nagtelike aanvalle het ons bevel gekry om ons perde te span, maar ek het Blessie nooit gekniehalter of gespan nie, want douvoordag het hy my by die saal kom wakker maak. Ek het my nooit aan ’n riem of halter gesteur nie. Ons moes dikwels vlak voor die Engelse verbyjaag. So het dit gekom dat Blessie my eendag amper in die grond laat ploeg het, maar darem nie sonder gegronde rede nie. Dit het so gebeur: Die kanonne bestryk ons op die flank en die kommando jaag in verspreide orde uit terwyl die granaatkartetse onder ons fluit en bars. In die harde jaaggalop steek Blessie skielik vas dat hy so op sy vier pote oor die grond gly, en geen telling daarna nie bars die bom tien tree reg voor hom. ’n Goeie oorlogsperd kan vir ’n kanonkoeël padgee, want aan die fluit het hy geweet waar die bom sou gaan bars.
Nog ’n geval: In ’n geveg by die ingang van Sandrivierspoort, distrik Waterberg, het daar van die perde tussen die posisies van die twee vyandelike magte ingekom. Toe die Engelse merk dat ek en adjudant Lourens van Niekerk die perde wou gaan keer, rig hulle die kanonne op ons. Twee bomme bars gelyk vlak by my en ruk my katswink, maar sonder dat daar ’n skrapie aan my is. Van Niekerk hardloop vorentoe, kry sy perd in die hande en spring bloots op sy rug en kom aangejaag tot waar ek lê, met Blessie kort op sy hakke.
Toe Blessie my sien, steek hy vas en ruik oor my, net asof hy my met sy bek wil optel. Ten spyte van die hewige kanon- en kleingeweervuur staan hy doodstil terwyl Van Niekerk my op sy rug tel. Toe ek hom aan sy maanhare pak, hardloop hy reguit na my saal. Teen hierdie tyd was die Engelse voorhoede net ’n paar honderd tree ver. Ons moes nou tussen hulle deur om by ons regterflank te kom. Ons twee storm, skiet uit die saal en vang ’n paar van die voorste ruiters, want die Tommies kon mos nie uit die saal skiet nie. Blessie het geweet wanneer ek my geweer aangooi. Dit was net asof hy dan sy galop makliker gemaak het, terwyl hy sy kop opsy getrek het.
Ek moes dikwels met rapporte deur die vyandelike linies ry, maar ek was nooit onrustig nie, want daar was geen beter spioen as Blessie nie. Hy het die vermoë besit om Engelse soldate en hul swart helpers op groot afstande te gewaar en het my dan deur sy onrustige bewegings betyds gewaarsku. Hy het sy kop laat sak, oor die grond geruik, ongeduldig met sy voorpoot in die grond gekap en gesnork.
Met die groot omsingelingsbewegings waartoe die vyand met sy oormag in staat was, was die tyd vir stellinggevegte verby. Sodra die vyand ’n knyptang om ons gegooi het, moes ons maar stormjaag en ’n pad oopskiet. Sulke gevegte het dikwels die hele dag geduur en dan kon ek dubbel op Blessie staatmaak. Op lang afstande kon geen perd voorbly nie.
By Moddernek, Waterberg, neem ons posisie in ’n koppie in en hou die vyand teë om die voetgangers en swak perde ’n kans te gee om veilig uit te kom. Toe die vyandelike ruiters reeds tot ’n paar honderd tree genader het, verlaat ons die posisie, maar ons het nie bemerk dat ons reeds byna omsingel was nie. Nou kon ek op Blessie reken. Ek jaag sommer maklik los voor en kry nog ’n kans om af te spring en links en regs te skiet op die vyand, wat nou ooplê soos hulle jaag om ons voor te keer.
Onder die hewigste kanongebulder en geweervuur, wanneer ander perde vasgehou moes word, het ek die toom voor oor Blessie se kop gegooi en dan het hy doodstil daar bly staan; of as ek wou hê dat hy my moes volg, het ek net die toom agter die kombers op die saalboom vasgehaak en dan het Blessie met sy kop teen my skouer agter my aangedraf. Dit het gebeur dat hy saam met my teen rotswande uitgeklim het waar geen bobbejane kon loop nie, en van hoë kranse afgeseil het. Dit was nooit nodig om lat of spore te gebruik nie, want ons twee het mekaar verstaan.
Omstreeks Maart 1902 het die vyand al sy kragte ingespan om Noord-Transvaal skoon te vee. Die Britte het met ’n oorweldigende oormag van alle kante uitgetrek om ons in te sluit. Ons was van dagbreek tot donker gedurig met hulle slaags en was dankbaar wanneer dit eindelik donker word. Dit was tagtigduisend teen ’n handjie vol Boere. Van koskook of vuurmaak was daar geen sprake nie. Die bevel was: net die stang uithaal en met Mauser en toom in die vuis slaap, en die hemel bewaar die man wat ’n tonteldoos stryk. Die burgers het met hul knipmesse voer vir die perde gesny en Blessie was ook altyd ruimskoots voorsien. Baie perde het ingegee, en terwyl ons die vyand gedurig terugskiet, het die voetgangers in die berge ingevlug waar die vyand hulle nie kon agtervolg nie.
Gedurende die geveg van Malepspoort lei ek saam met genl. Beyers om ons linkerflank, bestaande uit voetgangers, in posisie te stel. Die mis het intussen so toegetrek dat ons geen vyf en twintig tree voor ons kon sien nie. Die voetgangers, wat die terrein nie geken het nie, het in die digte mis stelling ingeneem met hul rug na die vyand. Toe ons skielik voor hulle uitkom, maak hulle klaar om te skiet, maar Abraham Coetsee skree: “Moenie skiet nie, kan julle nie sien dis Blessie nie!” Daar was geen man in Noord-Transvaal wat hom nie geken het nie.
Toe genl. Beyers later berig kry om saam met ander gekose verteenwoordigers na Vereeniging te gaan vir die vredesonderhandelinge, was ons sowat vyf en dertig myl noord van Pietersburg, en ’n paar Engelse offisiere het ons daar ingewag om ons vrygeleide te doen. Genl. Beyers het Frikkie van Manen, my en ’n paar van sy stafoffisiere saamgeneem. Hy vra my toe om Blessie die dag te mag ry, want hy wou die Engelse offisiere wys hoe ’n Boerekommando kon ry! Blessie het dan ook daardie dag, hoewel hy maande lank so te sê dag en nag onder die saal was, spog-spog op ’n stywe gang geloop sodat die ander perde op ’n draf moes byhou. Toe ons Pietersburg inkom, was die perde van die Engelse offisiere kapot, en een van hulle het gesweer dat hy nooit weer met ’n Boerekommando sou saamry nie. Hy het my sommer £100 vir Blessie aangebied, maar ek sou my perd vir geen geld ter wêreld verkoop het nie.
Ons is daarvandaan per spoor na Vereeniging en het die perde by Pietersburg laat agterbly. Genl. Beyers het my opdrag gegee om die kommando’s wat oor Soutpansberg en Waterberg verspreid gelê het, te gaan aansê om in te kom. By my terugkoms is ek meegedeel dat Blessie dood is. Toe ek dit aan die generaal sê, het hy hom omgedraai en ek kon sien hoe die onverskrokke held met sy hand oor sy oë stryk.
Toe ’n deel van die kommando op Pietersburg aankom, sê een van die burgers vir my dat hy Blessie onder ’n Engelse offisier gesien het. My troue Blessie - ek het hom oral gesoek, maar kon hom nêrens kry nie en het eers ’n maand ná die vrede die vrugtelose soektog laat vaar en treurig huistoe gegaan.
Die Huisgenoot, 19 Mei 1939.