Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelowiges is anders as wêreldlinge; beproewings maak hul geloof sterk. Gelowiges wen deur hul verliese, ontvang krag in hul siekwees, wen vriende in hul beproewing en behaal oorwinning deur hul verliese.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (16)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Deur Wagter gered
S. Swanepoel
Op ’n koue more, terwyl ek in die flou wintersonnetjie teen my woonhuis se muur staan om warm te word, gewaar ek iets teen ’n ou roosboom se stam. Ek loop nader om te ondersoek wat dit is, en tot my grootste verbasing sien ek ’n klein hondjie daar lê, byna verkluim van die koue. Ek dra hom na die kombuis, gee hom bietjie warm melk en lê hom op die matjie voor die stoof neer. Van daardie oggend af het die hondjie sy tuiste by ons gevind. Hy het spoedig opgegroei tot ’n pragtige groot dier en het die naam Wagter gekry.
Toe die oorlog uitbreek, is ek opgekommandeer. Die oggend van my vertrek was dit ’n naarheid op die plaas soos Wagter te kere gegaan het, want hy is vasgemaak. Die kinders het opdrag gehad om hom nie los te maak nie, omdat ek bang was dat hy my sou volg en so sy einde sou kry. Maar die tweede dag kom Wagter by ons kommando aan, moeg en uitgeput van die honger.
Dag na dag het hy met my saamgegaan. In die geveg by Sprinkaansnek aan die einde van 1900 is ons deur die vyand vasgekeer. Oorgee wou ons nie, en ons het toe maar op een punt gekonsentreer om vir ons ’n pad te probeer oopskiet en so te ontvlug. Die plan geluk toe ook. Die hele tyd was Wagter by my. Ons was feitlik al uit die gevaar toe ’n vyandelike koeël my in die linkerbeen tref, en op dieselfde oomblik word my getroue ou perd Prins ook doodgeskiet. Hy sak inmekaar onder my en daar lê ons: Prins dodelik gewond en ek met ’n koël deur die been. Wagter het hulpeloos by ons gestaan en na alle kante gekyk. Die pyn in my been het al hoe erger geraak en boonop het die son begin steek. Naderhand het ek my bewussyn verloor.
Toe ek oplaas weer my oë oopmaak, lê ek onder ’n krans in die koelte terwyl Wagter langs my sit, en my gesig lek. Sodra hy gewaar my oë is oop, gee hy so ’n blaffie van blydskap. Ek stoot my broekspyp op en daar sit die gapende wond. Wagter het sommer die wond begin lek. Dit was nou vir my duidelik hoe ek in die koelte gekom het: daar was ’n sleepsel en dit het sy eie storie vertel. Die arme Wagter het maar ’n swaar taak gehad, want ek was ’n fris geboude man.
Nêrens was daar nou ’n teken van ’n vriend of vyand te bespeur nie. Die bietjie kos in my bladsak het ek mooi tussen ons twee verdeel. Daar was ook nog ’n bietjie water in my waterkannetjie wat ons kon drink. Maar wat vang ons aan wanneer dit op is? Ek kon my amper nie verroer sonder om bykans ondraaglike pyn te verduur nie.
Meteens gewaar ons perderuiters onder in die laagte. Wagter wou net opspring en blaf, maar wonderlik, dit lyk of hy ook gewaar dit is Engelse en besef in watter nood sy baas verkeer. In plaas van te blaf, kom lê hy styf teen my aan, met sy kop op my lyf asof hy my wil beskerm. Gelukkig swenk die Engelse weg en gaan ver onder ons verby.
Nou was daar weer ’n ander vyand: honger en dors. Ek was al amper raadop toe ons weer twee perde gewaar. Gelukkig was dit die keer twee van my landgenote. Teen die tyd kon Wagter ook al goed onderskei tussen Boere- en Kakiedrag. Hy spring op en hardloop blaf- blaf na die perderuiters en keer dan terug na my toe.
Eindelik het die hond die aandag van die twee getrek. Hulle het my na ’n naburige woning geneem, waar ek verpleeg is tot ek herstel het en weer op kommando kon gaan. Die hele tyd het Wagter my opgepas.
Snags wanneer dit op die oop veld so koud was dat ’n mens se tande op mekaar klap, het Wagter nader gelê en my met sy wollerige liggaam verwarm. Teen die einde van die oorlog moes ons egter van mekaar afskeid neem.
Ons het afgesaal en rustig lê en pyp rook en gesels, toe ons skielik ’n skietery hoor. Voordat ons weet wat gebeur het, spat die vyandelike koeëls tussen ons. Een van die koeëls het Wagter getref. Ek sien duidelik dat hy dodelik gewond is en baie pyn verduur. Ek streel sy kop en probeer hom troos. Tyd vir versuim was daar egter nie. Ek neem my roer, sit dit aan my skouer en vat goed korrel. Wagter kyk nog een keer tevrede na my. Die skoot knal. Wagter gee nog een stuiptrekking en hy is daar nie meer nie. Met bewende hande laat sak ek die geweer en loop nader om seker te maak Wagter is dood. Met trane in my oë het ek my getroue dier aanskou.
Die Huisgenoot, 26 Mei 1939.