Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet ophou wegskram oor ons liefde vir God; selfs val jy in mense se oë oor jou liefde vir God, sal jy soos 'n ster verrys - veral dan!
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (17)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Twee keer afskeid
F.G.A. Wolmarans
In 1896, toe ek veertien jaar oud was, het ek van my oupa ’n mooi klein vaal hondjie gekry. Terwyl haar oë nog toe was, het groot langstertrotte een van haar neusklappies afgevreet. Toe sy omtrent ’n jaar oud was, het my suster per ongeluk ’n koppie warm water op haar laat uitval, en die plek op haar linkerrib was daarna altyd sigbaar, want die nuwe hare het regop gestaan. Toe sy volwasse was, het sy soos ’n leeuwyfie gelyk.
Met die groot vlug in Februarie 1901 in die rigting van Delagoabaai [ten tyde van die eerste groot Britse dryfjag, naamlik in Oos-Transvaal] is my hond ook saam met die honderde waens en duisende beeste en skape. Die burgers het by Ermelo al weer deurgebreek en teruggekom, maar die vee is òf deur die Engelse gevat òf moes deur Swaziland vlug. Die waens moes agterbly en my hond het by ons wa gebly.
Ná ’n paar dae het ’n oom van my by ons wa aangekom en dit verbrand aangetref. My hond het ernstig gewond daar gelê - sy is deur ’n sabel of bajonet stukkend gekap, miskien toe sy vreemdes nie by die wa wou toelaat nie. Ek het my maar getroos met die gedagte dat sy haar lewe gelaat het in ons stryd om vryheid en reg.
’n Jaar later, in Januarie 1902, is ons klompie burgers een nag om drie-uur as gevolg van verraad tussen Ermelo en Carolina gevang en na Ermelo aangejaag. Daar was ’n groot Engelse kamp.
Die volgende more sien ek ’n klompie gevangenes naby ’n pragtige hond staan en gesels oor die prag van die dier: “Dis die mooiste hond wat ek nog gesien het!” “Sy lyk nes ’n jong leeu!” “Sy is tien pond wêrd!”
Ek stap ook nader en sê vir ’n vreemde oom: “Dis ons soort, honde van voor die oorlog waarmee ons geboer het.”
Hy was die baas van die hond en het my net minagtend aangekyk, sodat ek nie verder met hom wou praat nie. Omdat dit so ’n pragtige dier was, kon ek ook nie weggaan van die hond nie. Toe ek die soveelste maal na die hond kyk, gewaar ek dat een van haar neusklappe af is en dat daar ’n kol regop hare op haar rib is!
Ek roep uit: “Dis my hond daardie!” Maar ek is te bang om nader te gaan, want dit was meer as ’n jaar dat ek haar laas gesien het en miskien ken sy my nie meer nie.
Terwyl ek nog oor die vreemde sameloop van omstandighede nadink, val dit my by dat haar naam Perses was. Ek het omtrent tien voet van haar gestaan en roep uit: “Perses!” Sy het egter nie ’n poot verroer nie en my so ernstig aangekyk dat ek nie wis wat om te doen nie. Na ’n oomblik waag ek dit weer om haar naam te roep, en hierdie keer bevlieg sy my met ’n huilkreun, slaan haar voorpote oor my skouers en kruip so tussen my bene deur dat ek net moet sukkel om op my voete te bly. Almal het dadelik gesê: “Dis die seun se hond!”
Van toe af het sy haar weldoener nie meer geken nie en altyd by my gebly. Sy het snags by my voete geslaap en toe ons met die Kakiewaens na Standerton vervoer is, het sy agter die wa aangeloop waarop ek was. In die ringmure van die tronk was sy by my. Twee dae later is ons op ’n oop staaltrok geplaas waarop die hond nie toegelaat is nie. Sy het bitterlik begin huil - en ek het trane gestort oor my hond.
’n Uur nadat ons uit Standerton weg is, kom ons op Kromdraaistasie aan, omtrent agt myl daarvandaan. Hier moes ons wag op treine vol troepe. Naderhand sien ek iets langs die spoor aangehardloop kom, en na ’n rukkie gewaar ek tot my verbasing my hond doodmoeg hier langs die trok. Met die hulp van ’n paar kêrels het ek haar voorpote gevat en in ’n kits was sy by ons in die trok.
Twee dae later het ons in Durban aangekom, waar ons te skeep moes gaan na Indië. Nou het die tweede en laaste afskeid gekom. Perses het hard gehuil daar op die kaai en ek het met betraande gesig aan boord gegaan omdat my hond in die vreemde stad moes agterbly.
Die Huisgenoot, 14 Julie 1939.