Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons liewers sterf omdat ons die waarheid praat, as om te leef en oor leuens te swyg!
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (19)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Dagon se trou
G.P le Roux
Ek het in die oorlog vyf perde gehad. Een is doodgeskiet, twee is aan perdesiekte dood en een is gesteel. Die vyfde, ’n donkerbruine met ’n wit kolletjie, het my die laaste sestien maande van die oorlog getrou gedien. Ek het hom vir £20 van burger Jan van Kraaienburg van Lakensvlei naby Belfast gekoop. Ek was eers nogal ontevrede met die koop, want Dagon - dit was sy naam - het ’n gang geloop soos ’n afrikaneros, en sy kop het hy ook so van die een kant na die ander geswaai wanneer ek hom op ’n vinnige stap gery het. Maar nadat ek aan sy ongemaklike gang gewoond was en agtergekom het dat hy taamlik intelligent was, het ek meer tevrede gevoel.
Ek het Dagon opgepas so goed as wat in oorlogstyd moontlik was en hy het baie geheg geraak aan my. Hy wou niemand anders as sy baas toelaat om hom te vang as hy gespan of gekniehalter was nie, maar sodra ek self aangestap kom, het hy my dikwels tegemoetgeloop.
Na ’n paar maande was dit toe my gewoonte om hom heeltemal los te laat loop gedurende die dag, want ek was oortuig dat dit nie moeilik sou wees om hom in die hande te kry as daar skielik gevaar kom nie. So ’n geleentheid het gou gekom.Ek was lid van ’n verkennerskorps van sowat twintig man, genoem die “Rooi regering”, waarvan Rooi Andries du Toit die voorman was. Ons staanplek was op daardie tydstip naby Elandskloof nie ver van Dullstroom af nie.
Die Engelse het van vier kante die streek oorstroom en aan ons klein kommando'tjies ’n benoude tyd besorg. Die enigste genade was om dag en nag te vlug om uit die 40 000 EngeIse hande te bly. Dit was die grootste dryfjag wat in daardie deel gemaak is.
Nadat, ons kommando'tjie die vyand agt tot tien dae ontduik het, merk ons dat die kolonne wat agter ons aan was, wegswaai na die grootpad in die rigting van Dullstroom. Die swartes daar in die buurt en ook ene mev. Maree, wat deur die Engelse in ’n afgebrande huis agtergelaat is, het aan ons vertel dat hulle aan die terugtrek was na Belfast en ons omgewing sou verlaat. Ons was baie bly hieroor, want ons het naby ons ou staanplek ’n bietjie mieliemeel en biltong weggesteek gehad, en was nou haastig daarnatoe op pad. Ons was al ’n paar dae sonder kos en het geleef van die bietjie vrugte wat ons in die hande kon kry.
Hennie van Graan en Christiaan Joubert was die eerste by ons staanplek en toe my maat Flanaghan en ek daar aankom, het hul keteltjie al amper gekook. Hul perde het hulle opgesaal laat bly met die teuels op die grond. Ons het hulle nog gespot en gesê dat hulle so bang vir die Engelse is dat hulle die perde gereed hou asof hulle wou vlug. Van Graan het geantwoord: “Mens weet nooit.”
Flanaghan en ek het ons blikkies ook na die vuurtjie gebring, met ons perde afgesaal. Hy het sy perd gekniehalter, maar ek het Dagon laat los loop.
So omtrent twee honderd tree of meer van ons staanplek af was ’n stuk brand [veld wat die vorige winter afgebrand is] waar die gras ongeveer ses duim hoog was, en ons twee perde het dadelik daarheen begin aanstap, want hulle het die kol jong gras goed geken.
Van Graan en Joubert het net die pas gebrande mieliemeel in die ketel gegooi om koffie te maak, toe daar skielik eers een, toe twee skote en daarna ’n sarsie op ons gelos word. Hennie en Christaan het dadelik op hul perde gespring, die spruit ingejaag en koers gekry na die oorkantste rant. Flanaghan en ek het ons saals en tooms gegryp en na ons perde gehardloop, wat reeds in die brand gewei het en in die rigting was waarvandaan die skote gekom het. Ons was nog jonk en taamlike hardlopers en het dus gou honderd tree of meer afgelê, maar die skietery was toe so geweldig dat ek wou omspring en die spruit inhardloop om daar te skuil, wat ook al gebeur. Maar Flanaghan het aangehou hardloop en ek besluit toe om dit ook maar te waag. My maat was so twintig, dertig tree voor my toe hy by sy perd kom, maar ek kon so in die gouigheid sien sy perd weier om hom te laat vang.
Dagon was nog so ’n veertig tree anderkant Flanaghan so perd in die Engelse se rigting. Toe Dagon my sien aanstorm, slaan hy met sy kop in die lug en beweeg sy ore vooruit en agteruit, asof hy my iets wou toeroep. Meteens kom hy op ’n vinnige drafstap na my toe, en toe ek by hom kom, gee hy ’n runnik en vryf sy kop teen my skouer.
Ek het die saal oor hom gegooi sonder om die buikgord aan te haal, die toom oor sy nek gestroop en op hom gespring. Nog voordat ek op hom kon roep, het hy op ’n stywe jaaggalop weggespring in die rigting van die spruit. Flanaghan het geprobeer om sy perd na die spruit se kant toe te jaag en toe ek by hom aangejaag kom, druk ek op Dagon se nek. Hy steek vas en ek help Flanaghan om sy perd te vang. Die skietery word nou hewiger en ons sien ’n klomp ruiters in ons rigting aanstorm om ons van die spruit weg te keer.
My perd se toom was nog los oor sy nek. Ek het voortgejaag die spruit in en met my hand rigting gegee aan Dagon. Ek het dit nog nooit tevore met hom probeer doen nie, en toe ek die spruit deur is, moes ek dadelik van rigting verander om onder die koeëls uit te kom. Ek het weer my hand uitgesteek, en tot my verbasing swenk hy weg in die rigting wat ek verlang.
Ons het ’n noue ontkoming gehad danksy die getrouheid en skranderheid van my perd.
Op ’n ander keer het ons korps by die Swartkopsteenkoolmyntjie naby Dullstroom gekampeer. Saam met vyftig man van veldkornet Lukas Grobler het ons in ’n groot sinkhuis van die myn geslaap. Ons het om die beurt wag gehou, maar die manne het later onverskillig geraak en tot laat in die nag nog gesing. Dit was die nag die beurt van die “Rooi regering” om wag te staan, en ons het met die veldkornet gereël dat ons die burgers die volgende more teen dagbreek die skrik op die lyf sou jaag.
Van Graan en ek het daardie nag by die myn agtergebly omdat hy ongesteld was, en ek het Dagon los laat loop. Sestien of agtien van die “Rooi regering” was op diens, en met die terugkom van die wagstaan het hulle in twee klompies verdeel. Die een klompie sou dan die ander “aanval” en oor en weer skiet. Dit was ’n stil, koue nag en toe hulle so twee myl van die steenkoolmyn af kom, begin hulle dan ook oor en weer te skiet, en die een klompie jaag myn toe om die burgers kastig te waarsku.
Dit was nog donker, en die oormekaarvallery om gewere te gryp en uitkomplekke te soek was ’n aardigheid. Die wat eerste uit die gebou gekom het, het die eerste die beste perd gegryp en weggejaag ander het, die veld in gehardloop. Dagon het na my slaapplek aangeloop gekom, en hoe ander ook al geprobeer het om hom te vang, kon hulle dit nie regkry nie.
Toe ek buitekant die gebou kom, het Dagon na my toe aangehardloop gekom en aan die saal geruik. Met sy kop in die lug het hy aangehou met kyk in die rigting waarvandaan die skote kom, en toe die eerste klompie al skiet-skiet nader jaag, het hy om my gestap en met sy kop teen my gevrywe asof hy my wou aanja om op te saal. Toe die klompie nader kom en hy gewaar dis nie die vyand nie, het hy gerunnik en bedaard gaan staan en vreet.
Kort daarna was dit vrede, en ek het Dagon aan burger Van Kraaienburg terugverkoop.
Die Huisgenoot, 2 Junie 1939.