Gedagtes vir elke dag
Waar kom die sin van die lewe vandaan? Staan jy net op 'n dag op en die son skyn vir jou? Of vra dit dalk 'n ander manier van dink oor wie en wat jy is? Daar is net een manier om waarlik sin en betekenins in jou lewe te verkry: jy moet jou hele bestaan op aarde aan die HERE self koppel.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (20)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Met Vossie by Rooiwal
W Lock
Saam met my kommando-maat, oom Giel Maree, het ek in Wes-Transvaal onder kmdt. Tollie de Beer gedien. As oom Giel in ’n geveg moes gaan, was daar net een perd op wie hy gereken het, en dit was Vossie. Sy was getrou en goed, maar ongelukkig ongeleerd in die kar, en my perd was steeks.
Op ’n dag het genl. Kemp besluit om ’n sterk Engelse mag by Rooiwal aan te val. Ons kry bevel om te storm en jaag tussen die Engelse in. Voordat ons kon afspring, word oom Giel gewond - ’n lelike skoot: voor by die waai van die been in en agter op die kruis uit. Ek kon net twee seuns kry om oom Giel uit die gevegslinies te bring.
Net toe dit lyk of ons die oorwinning gaan behaal, kry die Engelse versterking en ons moet vlug.
Na 24 uur in die saal was ons en ons diere al baie uitgeput. Met die vlug kom ek op oom Giel se perd af en verneem van een van die burgers dat oom Giel ’n ent terug onder ’n doringboom lê. Ek is dadelik daarheen, maar by die doringboom was daar net twee karspore.Ek het die spoor gevolg en gou kry ek oom Giel met nog twee gewondes by hom op ’n kar getrek deur twee stokflou muile. Ek vra wat sy plan is, en hy antwoord: “Vlug! Gevange gee ek my nooit, want nou het ek mos my vriend en my vosmerrie!”
Ons het nog ’n ent met die muile probeer voortgaan. Ek het ’n ander man op oom Giel se perd gehad, en ons slaan al twee die muile, want nou was daar vir ’n dier geen genade nie.
Die burgers wou intussen nie meer terugskiet nie, en die Engelse kom al hoe nader. Kmdt. De Beer bied nou aan om ons sy perd te gee, maar die is ook ongeleerd in die kar, sodat die kar nou nutteloos vir ons word. Die muile wil geen voet versit nie en die vyand is op ons. Die twee ander burgers word by ’n huis afgelaai.
“Wat nou, oom Giel?” vra ek.
“Kan jy my op die perd kry?”
Met baie gesukkel kry ons hom op, want hy is baie swak van die bloedverlies. Sit kan hy nie op die saal nie. Met die regterbeen moes hy in die stiebeuel staan en met sy bolyf vooroor op ’n pak komberse lê wat voor op die saal vas is. Nou begin ’n vlug soos ’n nagmerrie. Voor ons word mense geskiet, spring af en steek hulle hande op.
Na ’n tyd vra oom Giel: “Hoe lyk dit, Willem?”
“Ons is tussen die voorstes, oom.”
“Gee haar ’n raps,” is al wat hy sê.
Na nog ’n uur te perd is ons Hartsrivier deur en redelik buite gevaar, maar nog nie veilig nie. Nou vlug ons reg wes, terwyl ons rigting eintlik suid is. Eindelik kom ons by ’n pan met water uit.
“Laat ons die perde ook water gee, Willem, want dit lyk of die ou dier my toestand verstaan.”
Hierna in ’n suidoostelike rigting. Na omtrent nog ’n uur sien ek dat oom Giel baie swak word - ten minste, hy kry baie swaar om op die perd se rug te bly.
“Wat nou, oom?” vra ek.
“Jaag maar aan!” is al wat hy kan sê.
Die gewonde man was nou so gedaan dat as Vossie een misstappie moes maak, hy sou afval.
Nadat ons omtrent nog ’n uur aangesukkel het, sien ek hy kan nou nie meer nie. Dis al laat die middag en ons vlug al byna ’n hele dag. My moeder se huis, waar oom Giel se vrou ook is, is omtrent nog ’n uur te perd van waar ons nou is. Ek weet dat my moeder ’n kar het en besluit om dit vir hom te gaan haal.
Ek bring oom Giel in ’n voetpaadjie wat na die rivier toe loop en sê dat ek hom weer in die voetpaadjie sal ontmoet. Ek is toe vooruit, maar stadig, want my perd was ook gedaan. By die huis moes ek tot my teleurstelling verneem dat daar geen kar is nie. Alles is weg, die twee vroumense is alleen daar.
Nou moet ek maar terug om oom Giel huis toe te bring so goed ek kan. Hier is dit waar ou Vossie eintlik presteer het, want wat sou ons sien toe ons uit die huis kom? Hier kom ou Vossie aan op daardie stadig-gemaklike halwe galoppie van haar, met die half bewustelose man nog op haar rug.
Nadat oom Giel versorg is, is ek met Vossie verder om die kar omtrent ses myl van die huis af te gaan haal. Die twee vroue het my gehelp om oom Giel op die kar te kry en ons is vort na die laer. Toe ons daar kom, is die laer weg. Ons kon nêrens uitvind in watter rigting hulle gevlug het nie, want dit was donkermaan. Ons verneem wel dat die vyand in groot getalle aankom, sodat ons maar weer moes vlug.
Uiteindelik het ons oom Giel op my vrou se wa. Sy wond is behandel met bossies en goed wat die vroue kook, en hy voel gou baie beter.
Met die vrede was oom Giel so goed herstel dat hy sy wapen op Schweizer-Reneke gaan aflê het. Daar het ek ou Vossie weer gesien.
Die Huisgenoot, 8 September 1939.