Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moet nooit die kans laat verbygaan om na mooi dinge te kyk nie want dit is God se handskrif, 'n sakrament langs die pad. Verwelkom dit in elke gesig, in die blou lug, in 'n blom, en dank God vir hierdie seëning.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (21)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
VROUE EN KINDERS TROTSEER GEVARE
Mev. Catharine Roux (gebore Lubbe), opgeteken deur J.F. Jacobs
Mev. Catharine Wilhelmina Roux, eggenote van mnr. Piet Roux van Spitskop, Jacobsdal, en dogter van wyle mnr. Johannes Hendrik Lubbe van Jacobsdal, was as sewejarige ooggetuie van die elfdaagse stryd aan die Modderrivier. Die gesin het bestaan uit haar vader, wat op kommando was, haar moeder, twee susters van elf en veertien, 'n negejarige broertjie en sy. Hulle was by die laer van genl. Piet Cronje, wat uiteindelik op 27 Februarie 1900 oorgegee het. Dit was 'n groot slag vir die republieke.
Nadat die gevegte op 18 Februarie 1900 begin het, was daar by die kinders byna geen vrees nie. Mev. Roux vertel:
My broertjie en ek het die tyd aangenaam verdryf deur allerhande speletjies. Onder andere was daar ook ’n skynoorlog.
As die bombardement ’n bietjie bedaar, het ons na buite gesnel en die ronde lood- koeëltjies opgeraap en in die skuilplek daarmee gaan oorlog speel. Ek was gewoonlik die Boere en my broer die Engelse. Die tyd het ons glad nie verveel nie en die gedonder van kanonne, die gekraak van barstende bomme en kartetse het in ons kinderlike onkunde ’n alledaagse voorvalletjie geword. Ons kon eenvoudig geen gevaar sien nie.Ons het darem ook pligte gehad. Die rivier was vol en die water gevolglik naby ons skuilplek. Dit was ons werk om water aan te dra vir die gewondes. Dit het baie dikwels gebeur dat van die burgers in ons teenwoordigheid gewond is of gesneuwel het. Die bloed het soms uit die verskansing van sandsakke in stroompies afgeloop en my moeder en ons was dikwels vol bloed.
Een geval kan ek my nog helder voor die gees terugroep. ’n Burger is in ons onmiddellike nabyheid deur ’n bom getref en grusaam verwond. Dit was ’n aaklige gesig. Die bloed het vinnig by die wond uitgestroom en dit was duidelik dat sy ure getel was. Hy het sy medeburgers gesmeek om sekere boodskappe aan sy vrou en kinders af te gee. Hy is kort daarna oorlede.
Op ’n sekere dag was my moeder vlak voor ons skuilplek besig om vetkoek in ’n pan te bak. Sy het langs die vuur gesit. ’n Bom het onverwags deur die lug gesuis en die pot met vetkoek en al weggevee. Die bom kon nie verder as ’n voet of twee van my moeder verby gewees het nie en sy is geweldig geskok. Net een poot van die pot het ons teruggevind. Kos het ons voldoende gehad, maar dit was ’n groot teleurstelling vir ons kinders om die genot van die heerlike vetkoek te moet ontbeer.
Die pret wat ’n ou mak bobbejaan, die eiendom van een van die burgers, ons verskaf het, sal ek nie lig vergeet nie. Die dier kon hom eenvoudig nie skuil- of stilhou wanneer die geveg op sy hewigste was nie.
Van opgewondenheid of benoudheid het hy na die oop terrein gesnel, ’n sak oor sy kop getrek en hoog en droog in ’n doringboom gaan sit, om die wêreld te bewonder. Dat die stomme dier nie getref is nie, was ’n wonderwerk. Wanneer die geveg verby was, het Kees weer ’n veiliger plek gesoek. Dit het ons ook baie vermaak verskaf om te sien watter fratse Kees kon uithaal as hy probeer om die burgers deur die bruisende rivier te volg. Langs die waterkant het hy gaan staan en pylregop in die lug gespring om telkens op dieselfde plek te lande te kom. Na die oorgawe het Kees ’n “joiner” geword. Hy het met ’n Engelse offisier ’n vriendskapsband gesmee en by Kakiegeledere aangesluit.
Die laaste paar dae het ons gaan skuil by tant Hessie, die eggenote van genl. Cronje. As kind het ek nie die erns van die stryd besef nie; maar wat my trane laat loop het, was voorvalle by die neerlê van wapens. Dit staan my nog goed voor dat die wit vlag wat op 27 Februarie op bevel van die Generaal gehys is, herhaaldelik deur burgers afgetrek is. Die laaste persoon wat die vlag afgeskeur het, was ’n jong seun, en toe het die Generaal gedreig dat die man wat dit weer sou waag, onmiddellik doodgeskiet sou word.
Dit was hartroerend om te sien met hoeveel smart die burgers van hul wapens afskeid geneem het. Die gewere is op ’n hoop gegooi. Honderde burgers het met knersende tande die slotte uit die gewere geruk en hulle in die rivier geslinger.
My veertienjarige suster het ons kosbare familiebybel gered deur dit op haar kop deur die rivier te dra.
Die Huisgenoot, 10 Februarie 1939.