Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As patrotiese nasionaliste vertel ons graag dat ons sal sterf vir waarin ons glo – pragtig, maar dit verg net één dag se moed om dit werklik te doen. Maar om te lééf vir waarin ons glo, verg elke liewe dag moed – kry jy dit reg?
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (22)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
'n Heldedaad op die werf
Mev. P.G.P. Pienaar (gebore Du Preez)
Ek is in 1887 op die plaas Renosterspruit agtien myl van Pietersburg af gebore. Toe die oorlog begin, het my vader en broer gaan veg. Wanneer die kommando naby genoeg aan ons plaas gekom het, het my broer, Jan du Preez, vir hulle kom kos haal. Een nag laat het hy en Hendrik Nel huis toe gekom en is die volgende oggend met ligdag daar weg. Die son het net lekker begin skyn, toe sien ons die Engelse kom, en ons kinders het uitgeroep: “Moeder, Moeder, hier is die Kakies!” Moeder het ons getroos.
Die Engelse het aangekom huis toe en drie offisiere het ingekom. Ek het net ’n klompie tamaties in my voorskoot gehad en het van angs dit vir hulle oopgehou. Die offisiere het gelag en daarvan geneem. Ek kon so ’n paar woorde Engels praat en kon dus op ’n manier verstaan wat hulle wou hê. Hulle het ons huis kom deursoek na ammunisie, maar kon niks kry nie. Op die stoep het biltong gehang en hulle het hulle daaraan gehelp. Onderwyl hulle nog eet, kom ’n Tommie ingehardloop en skreeu: “Hurry, hurry! Here are the Boers!”
Ons hardloop toe almal uit en sien net hier kom my vader verby, gevolg deur my broer Jan, Hendrik Nel, genl. Beyers en adj. Mentz en ander, en toe was dit Boer en Brit deurmekaar. Dit skiet en die koeëls knetter en klap oor die huis. Van skrik het ons op die stoep bly staan en kyk of daar nie van ons familie getref word nie.
Onderwyl hulle nog so veg, skiet my vader ’n Kakie. Hy val omtrent vyftig tree van die huis en wink net om drinkwater. My moeder sê: "Ag, kyk tog, hoe vreeslik! Hy is dors.”
Ek as kind dink nie verder nie, gryp ’n beker water en hardloop nog onder die koeëls deur en gee hom die water. Ek het by hom gekniel, sy kop opgelig met trane in my oë en hom gehelp om die water te drink. Nadat hy gedrink het, sê hy: “God bless you, my child!”
Ek wou weer terughardloop, maar hy wys my ek moet plat lê - hulle sal my skiet. Hy trek my neer, en ek lê langs hom met my wit rok, wat toe al begin vlek van sy bloed. Die koeëls het nog oor ons gedreun; dit het om ons geval soos harde haelkorrels en die stoffies het links en regs opgeslaan. Ek het my oë toegemaak om niks te sien nie, maar net gewag om ook maar doodgeskiet te word.
Eindelik word die koeëls minder en die geveg gaan meer na Pietersburg se kant, en toe ek my oë oopmaak, sien ek nog die laaste perde oor die bultjie jaag.
Die gewonde beduie my om sy slobkouse los te maak, en na ek dit gedoen het, hardloop ek huis toe na my moeder, wat my reeds tegemoetkom met uitgestrekte arms.
Die Rooikruiswa het die dooies en gewondes kom wegneem en later het genl. Beyers, my vader, my broer en ander huistoe gekom. My moeder het aan my vader en genl. Beyers vertel wat ek deurgemaak het. Hulle het gaan eet, en genl. Beyers het aan die hoof van die tafel gesit, my geroep en gesê: “Kind, wat is jou naam?”
Ek antwoord: “Johanna.”
Hy druk sy hand op my kop en sê: “Johanna, dapper Afrikaanse dogter, ek is trots op jou. Jy het vandag gedoen wat baie mans nie sou doen nie ... Neem die perd, saal en toom van die oorlede soldaat as geskenk van my aan. Jy moet nooit bang wees in die lewe nie.”
Nog dieselfde dag moes ons oppak en vlug. Die Generaal het gesê dit sou die veiligste wees, want die Engelse sal dink ons het verraad gepleeg.
Die Huisgenoot, 29 April 1938.