Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dra jou kruis met vreugde; moet dit nie teensinnig sleep nie. Onthou: Dis ‘n skat en nie ‘n ergernis nie.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (23)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Op 'n eiland in die Vaalrivier
Mev. Sannie Pretorius (gebore Smit), opgeteken deur B.S. Roberts
Die eerste deel van die oorlog het ons op Bothaskraal, sewe myl van Villiers, aan die Transvaalse kant op die walle van die Vaalrivier gewoon. Dit was my ma, my oudste suster met twee jong kinders, ek, toe pas getroud, en twee jonger sustertjies van nege en dertien jaar.
Toe die oes- en skeertyd aanbreek, het ons vroue vir die werk gesorg en dit het nogal goed gegaan. Geld was betreklik volop, want ons het ’n pond vir ’n sak mielies op Frankfort ontvang. Maar ons het ons klaargemaak vir swaarder tye. Toe die mans nog op die plaas was, het hulle in ’n gedeelte van ’n kamer twee bale wol, ’n hoeveelheid mielies en gansvere toegemessel.
Met die begin van die guerrillastryd het die vroue in die omgewing van Bothaskraal die allernodigste dinge op die waens en karre gepak, vasbeslote om saam te gaan met kmdt. Fanie Buys en sy kommando van Lydenburg. Ons kry toe die ontstellende berig dat die mans moes veg en vlug, en dat die vroue vir hul eie veiligheid moes sorg. Vir ons het dit beteken dat ons in die rivierwalle moes skuil omdat die bulte baie kaal is daarlangs.
Ons vroue het maar moedeloos gevoel, maar my ma het die voortou geneem en ons het besluit om in die ou opstal bymekaar te bly en op “die eiland” in die rivier te gaan skuil as die nood druk. Die eiland was ongeveer honderd en vyftig by dertig tree groot, en sowat ses honderd tree wes van die opstal, waar die stroom van die Vaalrivier verdeel. Die walle aan die Transvaalse kant was besonder hoog en regaf en die stroom besonder diep, terwyl die breedste stroom aan die Vrystaatse oewer van die eiland gevloei het.
Toe het ons van ons goed begin “bêre”. Die mure van ou krale word afgepak, gekleurde sybokvelle word oopgevou en daarin word kussings, trouklere, ’n sak gedroogde perskes, stene seep en ander kosbaarhede toegevou en onder die klippe toegepak. Van ons vernaamste meubels en gereedskap het ons in die sand op die rivierwal begrawe.
Skaars was alles weer toe, of ons hoor die geweervuur van die vyand. My man, wat ons gehelp het, moes in aller yl ’n paar honderd tree suid deur die rivier vlug. Die Engelse neem toe die klere van die mans, die paar gewere en patrone wat ons gehad het en sê: “Die oorlog sal nog lank duur. Gaan haal julle mans en sê hulle moet maar oorgee.”
Engelse kolonnes het nou kruis en dwars in ons omgewing rondgetrek, en my ma het dit gerade geag om woonplek te soek op die eiland. Die vrouelaer het teen hierdie tyd, Maart 1901, aangegroei tot sowat dertig en met alle erns is gereed gemaak om die ou woonhuis vir die eiland om te ruil. In digte, skoon seilsakke word die botter, vet, vleis, brood, koringmeel, ensovoorts, gepak, want op die eiland moes hierdie kosbare ware onder die sand begrawe word. Stukkie vir stukkie is die goed na die eiland aangedra en sorgvuldig begrawe, ook die beddegoed. Twee sakke koringmeel is onder ’n oorhangende wal aan die Transvaalse kant weggesteek.
’n Nagmaalstent is op die eiland opgeslaan, maar daarin kon net ’n paar mense skuiling vind. Die eerste aand onder die blote hemel - sal ek dit ooit vergeet! Daar kom die vroue en kinders bymekaar vir die aandgodsdiens in ’n holte wat baie maande lank ons slaapplek sou wees. Ma het die diens gehou, ’n paar vroue het gebede gedoen, en ons het saamgesing; maar ons het hartseer gevoel en die kleintjies, wat die sombere atmosfeer nie verstaan het nie, het droewig gehuil. Die eiland sou voortaan ons tuiste wees, want as ons dit sou waag om huis toe te gaan, kon die vyand ons te eniger tyd onverhoeds betrap en wegvoer kamp toe.
Eindelik het dit stil geword. Die kinders het aan die slaap geraak, maar die moeders het onrustig om en om gedraai in die sand. Toe die dag breek, weerklink dit aan alle kante van oggendliedere, maar veral die lied: “Zullen wij eens altezamen hier vergader.”
Dis maar stil op die eiland as die gewone dagtakies afgehandel is. 'n Paar vroue neem miskien ’n skottel met deeg en gaan bak brood in die bakoond by die huis, ander doen naaldwerk en die jong meisies sit in die skadu van die wilgerbome en sing:
“Mijn schoonste is hier niet
En ik lijd zwaar verdriet.”
Af en toe word ons deur klompies Engelse besoek, maar hulle laat ons met rus. Maar as die gewapende kleurlinge verskyn, moet ons sorg dat alles sorgvuldig onder die sand toegekrap is.
Eendag daag ’n patrollie Engelse onverwags op en gewaar die tienjarige Hendrik Grobler wat in die wal wegkruip. Die Kakies wil hom net daar bydam, maar twee vroue pak hom en sê: “Kan julle nie sien dat dit maar ’n seun is en geen man nie?” Die Kakies probeer met alle geweld om die seun teen die wal uit te trek boontoe, maar die vroue het ’n arm en ’n been beet en trek so al wat hulle kan, en naderhand beland hulle, die seun en die Kakies in die water. Dit was vir die Engelse genoeg en hulle laat Hendrik met rus. Hierdie gestoei het tot groot ontsteltenis van die laer plaasgevind digby die oorhangende wal waar die twee sakke kosbare koringmeel weggesteek was, maar die Tommies het niks daarvan gewaar nie.
Dit was naderhand al Juniemaand en die nagte op die eiland bitter- bitter koud. Ek sien nog hoe die mooi swart krulle van een van die dogters soggens toutjies geryp was en hoe die kindertjies halfverkluim om die vuurtjies kom staan. Hoe koud was die sand nie! In die oggend was die een gedeelte van my liggaam gewoonlik lam van die koue en eers teen die middag kon ek behoorlik beweeg. Jare na die oorlog moes ek gereeld elke winter deur dr. A.G. Visser behandel word vir hierdie gedeeltelike verlamming.
Kort-kort het die Engelse ons probeer wegvoer kamp toe. Maar as hulle van die Transvaalse kant nader kom, vlug ons deur Vrystaat toe. Dan is daar nie ’n drif naby genoeg nie en moet hulle met leë hande omdraai. Dieselfde gebeur as hulle van die Vrystaatse kant af nader kom, want die naaste driwwe was ses myl hoër op en vier myl laer af met die rivier. Daarby het die burgers ons gereeld op die hoogte gehou van die bewegings van die vyand en ons het weer die nuus- en inligtingsbron vir ons eie mense gevorm. Nooit was daar ’n siekte onder ons nie, selfs die kleinste outjies het goed gehou. Vir gewonde burgers kon ons slegs suiker as medisyne gebruik, met uitstekende resultate.
Eendag het die Engelse ons amper gehad. Hulle het baie moeg geword vir ons teenwoordigheid op die eiland, veral omdat ons gedurig in verbinding met die Boeremagte was en aan talle gewonde of gehawende burgers uitkoms geskenk het. Vasbeslote om van ons ontslae te raak, stuur hulle toe sowat honderd en vyftig man van die Transvaalse kant af om ons te vang en kamp toe te bring. Maar ons het hulle met hul waens betyds gewaar, krygsraad gehou en besluit om deur die rivier na die Vrystaatse oewer te vlug en daar in ’n populierbos te gaan skuil.
Toe dit mooi donker is, begin die uittog uit ons skuilplek. Elkeen dra ’n paar van die onmisbaarste dinge. Ek wou teen wil en dank my verebed behou en bind dit in ’n bondel vas om dit op my kop te kan dra. Die yskoue water, omtrent drie voet diep, byt aan ons bene, en toe ons oorkant teen die wal uitklouter, is ons rokke papnat en dit voel of ons bene kan afval van die koue. Maar niemand uiter ’n klag of geluid nie, want almal is vasbeslote om uit die hande van die Kakies te bly. Ons koers nou in ’n rigting waarin ons die dag ’n huis in vlamme sien opgaan het. Dit gaan oor klipperige veld, en al stamp ’n vrou of kind ook ’n toon teen ’n ongenadige klip, niemand sê eers “e!” nie. ’n Koue westewindjie sny deur ons gehawende klere en ons was amper verkluim, want weldra het die rokke styf gestaan van die ys.
Ongehinderd bereik ons die nog warm puin en vind daar half verbrande pampoene wat nog warm is. “A,” sê Ma, “nou kan ons ten minste die kinders verwarm”, en die pampoene word styf teen die liggaampies en voetjies vasgedruk. Maar gou het skelm vingertjies begin krap aan die pampoen en deeltjies gevind wat lekker gesmaak het. ’n Vuurtjie word aangesteek, maar baie klein uit vrees dat kleurlingspioene dit kon opmerk. Die kinders sit in die eerste kring, en ons grootmense neem agter hulle plekke in, maar met die veryste rokke aan ons was daar nie sprake van warm word nie. Nou en dan het ons onrustig ingesluimer, en toe die môrester uitkom, beveel Ma ons om na ’n groot populierbos te gaan nie ver daarvandaan nie in ’n klofie.
Die ryp lê dik oor die veld en die gras kraak onder ons voete.
Toe dit lig word, is ons veilig in die populierbos in die klofie, maar nie te lank nie of bomme fluit oor ons koppe, want suid van ons het die Boere stelling ingeneem in die rantjies, en van die Transvaalse kant trek die Engelse op hulle los. Doodbenoud skuil ons agter klippe en in die lang gras, en hoewel party bomme bokant ons bars, word niemand getref nie.
Dit word gou vir ons duidelik dat ons nie lank daar kan vertoef nie en dat ons net moet wag tot donker om terug te keer eiland toe. Die Engelse is seker al weg met hulle waens. Voetjie vir voetjie begin die terugtog. Maar die mans moes tog weet dat ons veilig en vry was, en daarop word op agtereenvolgende plekke artikels soos ’n pan, ’n bord, ’n lap, ensovoorts, in die voetpad gelaat en dan word op ’n klip ’n paar woorde uitgekrap soos: “Nog alles wel”. Twee vroue wat dit te ver gewaag het van die ander af, is deur die Engelse gevang, maar die res het vinnig eiland toe gegaan. Toe die voorste vroue die rivier bereik, is die Engelse orals rond, maar met die kinders op die arms stap die vroue teen sononder halflyf die rivier deur en bereik die eiland.
Ek het agter geloop, ek kon nie so vinnig vorder met die verebed nie, en toe ek die water bereik, keer ’n kordon perderuiters my voor. Ek probeer verbykom, maar verniet. Die klomp Engelse klim van hul perde af, trek die perde dwars voor hulle en lê oor die saals vir my en lag. Ek voel of ek in die aarde kan wegsink van verleentheid, en nie te lank nie of die trane rol van skone hulpeloosheid. Dit spoor die soldate aan om vir my te sing - net om dinge te vererger. Gelukkig gewaar my ouer suster, wat al deur was, my verleentheid, en sy kom weer deur die water, druk ’n paar perde eenkant toe en help my met my verebed om ook veilig deur te kom.
’n Rukkie later het ons ’n mooi petalje gehad met ’n klompie bokke, omtrent sewentig in getal, wat op die suidelike oewer van die rivier gewei het. Die bokke het aan ’n sekere Rood behoort en was al wat oor was nadat die Engelse onder hulle was. Dit spreek vanself dat ons besonder graag die paar slagvee wou behou, en toe die Engelse op ’n goeie dag ’n klompie Tommies stuur om die bokke na die noordelike oewer te jaag, het hulle nie met die eiland se vroue rekening gehou nie.
Gou het Ma hulle plan agtergekom en almal laat nader staan om die bokke te probeer behou. Die suidelike stroom was betreklik breed en diep en die bokke moes dus feitlik deurswem. Skaars het dit die Tommies geluk om ’n paar bokke in die water te kry, of ons keer die diere voor, en omdat hulle maats ook nog op die Vrystaatse bodem was, was die bokke maar alte gewillig om ons te gehoorsaam. Maar wat ’n gedoente was dit nie! Die Engelse keer, waai met die arms en maak lawaai en druk die diere die water in. En voor staan ’n klomp vasberade vroue en kinders wat veg om hul enigste slagdiere te behou. Die vroue, Engelse en bokke was naderhand ewe nat, maar die vroue het darem die slagveld behou.
Hierna het die Engelse ons nie te veel lastig geval nie en van die Boere het ons verneem dat die vyandelike magte nie in die nabyheid was nie. Ons is toe terug na die opstal en het net weer eiland toe gevlug as ons verneem dat die Engelse nader kom, want ons was vir elke gebeurlikheid oorgehaal. Teen die einde van September 1901 het ons die eiland vir goed verlaat en in die huis gaan woon, waar my eerste kind ’n paar dae daarna gebore is.
My kindjie was net vyf dae oud toe daar op ’n dag ’n Kakiekommando bestaande uit hendsoppers, kleurlinge en ’n paar Engelse opdaag en sê dat hulle ons vyf minute kans gee om die huis te ontruim. Skaars was ons uit, of hulle steek die huis aan die brand en rig die gruwelikste wreedhede aan deur al wat gans, hoender of makou is, so lewendig in die brandende puin te gooi. Die aaklige geskreeu en geluide van die arme diere klink nog in my ore. Die paar koeie wat daar nog was, word aangejaag, maar ek en my suster keer ons ou mak melkkoei in ’n hoek van die kraal vas en laat die vyand nie toe om haar weg te vat nie. Die end van die saak was dat die koei voor ons doodgeskiet is.
Het hulle net vervoermiddels gehad, dan het die konsentrasiekampe nog ’n paar inwoners ontvang. Maar die plunderaars verdwyn oor die bult en ons staan by die brandende huis, terwyl swaar wolke saampak.
Weldra sak ’n hewige reënbui op ons uit en ons is verplig om in die platdakgedeelte van die huis skuiling te soek. Ons het nou water gehad om die vlamme te beveg en dit geluk ons om die agterste paar vertrekke te behou. Maar dit is so warm dat ons dit byna nie kan uithou nie, en om dinge te vererger, is daar die benouende reuk van die verbrande pluimvee en varke wat ons keer op keer verplig om maar in die reën te gaan staan.
Die volgende oggend daag my man en ander burgers op en ondersoek die puin om te sien wat van die toegemesselde wol en mielies geword het. Tot ons verbasing kry hulle op die warm muurplaat ’n groot hoeveelheid dinamiet en ’n paar dosyn doppies. ’n Enkele vlamtong, en ons kon almal verpletter gewees het.
Ons het toe van die gebrande sinkplate teen die mure geplaas en betreklik veilig gewoon, hoewel ons kos baie skaars was en die vleis van die enkele verdwaalde skapies uiters treurig. Toe die Engelse kolonne weer nader skuif en met hul sogenaamde “krale” en “drives” begin, het ons dit die veiligste geag om na die Vrystaat deur te vlug, aangesien die rivier se water te vlak was om genoeg beskerming te bied. Heen en weer het ons oor die bulte gevlug, totdat ons verneem het dat al die deurgestane ontberings ter wille van ons onafhanklikheid tevergeefs was.
Tydens die wapenstilstand het ds. J.M. Louw van Boksburg ’n diens onder die wilgerbome op Bothaskraal gehou en daar is my seuntjie, fris en gesond, en nog ’n kindjie gedoop.
Maar ons klere! Ons het rokke en ander klere gemaak van die tent wat ons gehad het, maar die rokke waarin ons ons kinders ten doop gebring het! Die rok wat ek aangehad het, is in die swart dorp in Meyerton gebuit, net skoon gewas en gestryk, terwyl die ander vrou ’n rok aangehad het wat gemaak was van ’n swart kakiejas, hier en daar slegs met wit gare toegeryg... Daar was nie kans om kieskeurig te wees nie.
Gesond kon ons almal weer met die groot opbouwerk begin, dankbaar dat ons klompie “eilandbewoners” so wonderlik gespaar is.
Die Huisgenoot, 26 November 1937.