Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Ou Testament leer ons dat God reguit houe met krom stokke slaan. Die Nuwe Testament leer ons dat God gelowiges help om reguit tree op krom paaie te gee. Sodra ’n mens tot bekering kom, wil jy geestelik groei, die Bybel leer ken en diensbaar in God se koninkryk wees – en daarvoor moet jou geestelike vuur hoog brand.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (25)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Wat 'n Gesangvers vermag
C. leR.
Tydens die oorlog het bendes op moord- en rooftogte uitgetrek, onder die aanvoering van een of meer wat die plase haarfyn geken het.
So het dit gekom dat ’n bende op ’n aand omstreeks nege-uur die huis omsingel het waarin my ouma, my moeder en twee tantes was. My oom, wat destyds vyftien jaar oud was, het buite wag gestaan.
My moeder-hulle was besig om huisgodsdiens te hou. Intussen het daar swartes nader gesluip. Die voorstes was omtrent dertig tree van die huis toe my oom hulle gewaar. Stil het hy die huis binnegegaan en gesê dat die huis deur minstens dertig of veertig swartes omsingel is.
Maar die huisgodsdiens is voortgesit en weldra het die note van Gesang 20 uit die huis opgeklink.
Die swartes het hul hoede afgehaal en in ’n kring ongeveer twintig tree van die huis gaan sit. Toe die laaste note in die aandstilte wegswerf, het hulle opgestaan en in die donker verdwyn, so stil soos hulle gekom het.
C. le R. in "By die Uitspanning", Die Huisgenoot, 8 Januarie 1943.
Gesang 20 het in die ou Gesangboek onder meer die volgende bevat: "Waar ons (jeen schepsel helpt, helpt Hij, Als alles vlugt, staat Hij nabij; in rust en vreugd, in nood en strijd,/Blijft Hij dezelfde t'aller tijd."
Wegkruipertjie in die spruit
C.M. du Toit
My huisgesin het destyds uit sewe mense bestaan: my man en ek met ons drie kindertjies, ’n ongetroude suster van my, Sannie, en ’n dogtertjie van tien of elf jaar oud, Fien Fourie. Omdat my man besonder swak was van gesig, is hy nie tot aktiewe kommandodiens opgeroep nie, maar moes hy tog dikwels waar nodig diens doen in belang van die kommando’s, sodat ons ses ander hulpeloses meer as een maal alleen tuis was. Ons was toe op die plaas Bossiesspruit, net waar die spruit in die Vetrivier loop by Brandfort.
Op ’n dag in Januarie 1901 is ’n Engelse kolonne oor ons werf. Dis ’n geraas en ’n gedoente van die wiele en perdepote, die geskreeu van drywers en veewagters, die gebulk en geblêr van groot- en kleinvee. Hulle neem die hele erf in, waens voor en agter die huis om. Kans vir vlug is daar nie. Nou en dan kom daar ’n offisier aanklop om ’n glas water of melk. Drie maal die dag is ek aangesê om my gereed te hou om saamgeneem te word. Of hulle my vergeet het en of hulle nie meer plek gehad het nie, weet ek nie. Maar toe alles na ure en ure verby was en dit weer stil word, kon ek weer in my eie huis sing: “Rus my siel!”
Die dag het die Engelse al ons plaaswerkers weggevoer, en ook die paar melkkoeie, ’n nuwe tentkar en ’n paar nuwe tuie. Hierna was daar ’n tydjie stilte, hoewel ons nooit eintlik gerus gevoel het nie, veral as ons hier of daar die rook sien opstyg van een of ander boerewoning wat afgebrand word.
Een more word ons voor sonop begroet met kanonskote. Die nag het daar ’n paar kommandomense by ons op die werf geslaap. Hulle moes net gou maak om hul perde in die hande te kry en weg te kom.
Fien word met die baba vooruit gestuur na die rivier se bosse met die twee ander kleintjies op ’n draffie agterna, terwyl Sannie haar bes doen om eetware en ander belangrike goedjies hier en daar op ’n veilige plekkie in die tuin of in ’n sloot weg te steek. Ek sit ’n bont sisvoorskoot aan en pak dit vol met al die nodigste vir die dag, soos brood, gekookte eiers, medisyne, ensovoorts. ’n Groot beker melk bly ook nie agter nie. Eindelik is ons twee haastig agter die kinders aan en het met hulle tussen die bosse en struike deurgesukkel. Ek het ’n mooi plekkie tussen die bome gekies waar ons almal gaan sit het om te rus - byna sprakeloos, want my bors wou toetrek.
Na ’n hele rukkie word ons verskrik deur ’n kanonkoeël wat oor ons trek met die geluid van ’n klein vulletjie se skreeu. Nie lank nie, toe weer een, maar ’n bietjie verder van ons af. Toe fluit kleingeweerkoeëls by ons verby. Die vyand het ’n klompie burgers bespeur en was besig om op hulle te skiet.
Later die dag het ons ’n tante ontmoet wat ons meegedeel het dat die vyand terug is. Ons het byna sononder tuisgekom en die huis in die grootste wanorde aangetref. Die goed wat nie weggeneem is nie, is oral rondgegooi.
Hierna wou ek nie langer daar bly nie, en my swaer Gert het ons kom haal met ’n ossewa. Nou was ons vier huisgesinne [vroue en kinders] op een plaas en was dit byna ’n algemene vlugtery. Van die burgers het ons gewoonlik op hoogte gehou met die bewegings van die vyand. Hulle kom ons dan sê in watter rigting ons moet vlug, en help ons gou inspan en wegkom. Te alle tye moes ons gereed wees, vroeg of laat, dag of nag. Ons wa het dan ook gedurig gereed gestaan voor die deur, half opgepak, en die osse word naby gehou. Sommige het met kar en perde gevlug.
Dit het gebeur dat ons ’n ent gevlug het tot waar ons dink dis veilig, dan word uitgespan, koffie gemaak en iets genuttig. Nou word kos op die vuur gesit vir die volgende maaltyd. Maar nie te lank nie of die bevel kom: “Inspan en ry, die of daardie rigting.” Nou gaan alles halsoorkop om weg te kom. Die potte met half gekookte vleis word net so geneem en voorop die wa of onderaan die wa vasgemaak tot waar ons weer tot stilstand kom. Hier word dit afgehaal en verder klaar gekook. As alles dan verby is, moet ’n mens nooit praat van al die pret en grappe en die geterg en gespot onder mekaar nie.
Na weer ’n tydjie stilte het ons te gerus geword en die osse te ver laat loop na hul ou weiveld toe. Hier kom weer die tyding: die vyand kom sooos sprinkane oor die aarde van Brandfort se kant af, en ons moet so gou moontlik padgee. Almal wat daar was, het die hasepad gekies, behalwe ons ses. Wat nou gedoen? Ons kies die spruit met sy hoë walle wat nie ver daarvandaan is nie. Êrens in ’n wal ontdek ons ’n soort grot - eers ’n reguit gangetjie van ’n paar voet lank, dan weer een regs, en dan ’n groot opening reguit onder die oppervlakte van die grond in, soos ’n kamertjie. Hierin het ons ons intrek geneem en geskuil tot die tweede dag byna sononder.
Toe kon ons nie langer bly nie, omdat die voedsel wat inderhaas saamgeneem is, op was en die kindertjies behoorlik versorg moes word. Maar ons weet nie wat by die huis of op die werf aangaan nie, en ons moet begin spioeneer.
Eers loop Sannie en toe ek om te sien of ons iets gewaar. Nou is dit al sterk skemer. Sannie waag dit weer, loop nog nader aan die werf, en kom met die berig dat sy mense by die kraal hoor wat besig is om te melk. Ons weet nie wie dit is nie, maar moet dit waag. Sannie gaan nader en opeens hoor ek stemme praat en lag. Maar dit was ’n verligting! Twee burgers, van ons bekendes, het gaan kyk wat op die plaas aangaan en het gedink dat al die vroue weggevoer is kamp toe.
Ons ontdek toe dat die vyand nie op die werf was nie, maar weerskante van die plaas verbygetrek het in die rigtings van Hoopstad en Boshof. Die nag kon ons weer heerlik op ons beddens slaap en die volgende dag met ons gewone werkies voortgaan.
Nog een keer kon ons in die huis oornag. Die volgende môre terwyl ek besig was om ontbyt te maak, kom een van die burgers, mnr. Le Roux, by die agterdeur en sê ek moet ’n bietjie kom luister. Ek luister. Dis ’n gedruis soos van sterk water. Die Engelse was aan die kom. Toe is daar ’n warboel, want die een is besig om sy saal reg te maak en ’n ander werk aan sy skoene. ’n Swaertjie van my, omtrent elf of twaalf jaar oud, is besig om ’n skaap af te slag en ’n ander om koeie te melk. Maar so gou as moontlik is elkeen op sy ryperd en daar trek hulle.
Ons klompie kies weer die spruit en haal uit om by ons grotkamertjie te kom, maar ons was te laat.
Binne drie maande nadat ons in Julie 1901 van die plaas weggevoer is, is my kindertjies al drie aan die skoot van die aarde toevertrou in die konsentrasiekamp van Brandfort.
Die Huisgenoot, 3 Desember 1937.