Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geduld is om 'n moeilike situasie van God te aanvaar sonder om Hom 'n einddatum daarvoor te gee.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (26)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Tussen twee vyande
Anna Susanna Meyer (gebore Eloff), opgestel deur J.H. van Dyk
Dit was September 1901. Reeds in November 1900 is ons huis op Groenfontein in die Rustenburgse distrik deur die Engelse afgebrand. Om die een of ander rede, waarskynlik omdat die Boerekommando’s op hul hakke was, het hulle ons nie weggevoer na die konsentrasiekamp nie. Met die paar stukkies of krummeltjies wat aan ons gegun was of wat ons uit die puin gered het, moes ons die veld kies. Agtien maande sou die ossewa, sy tent met dun blik oorgetrek, ons enigste skuiling wees, en die Bosveld met sy rante, klowe en bosse ons skuilplek.
In die somermaande was dit stil omdat die vyand bang was vir koors- en perdesiekte, maar die res van die tyd het hulle ons nooit met rus gelaat nie. Soms alleen, maar meestal in geselskap van ander families, het ons heen en weer gevlug, partykeer diep die Bosveld in en dan weer terug tot by ons huis.
Op al hierdie togte was ons nie net afhanklik van Boereverkenners wat ons gereeld ingelig het oor die vyand se bewegings nie, maar ook van die land - die omgewing van die Magaliesberge en Swartruggens - wat ons genoeg skuiling gebied het, en die wa en osse waarmee ons saam met perdekommando’s kon vlug. Die span osse was net so goed soos muile. Wanneer klein Labius, ons swart touleiertjie, voor die span is, ons dogters voor op die wakis die sweep swaai en die osse eers begin draf oor die ruwe veld, kon mens die bliktent myle ver hoor, maar nooit het die vyand ons ingehaal nie.Tog is ons getalle met verloop van tyd uitgedun deurdat die vyand telkens snel bewegende kolonnes agter ons aangestuur, ons soos wild uitmekaar gejaag, en die ongelukkiges wat nie vinnig genoeg kon wegkom nie, gevange geneem en aangery het kampe toe.
En nou, in September 1901, het ’n klompie bekendes en familielede met hul gesinne op Lindleyspoort bymekaargekom. Onder andere was daar my vader, Johannes Frederik Eloff, sy swaer Daniel Erasmus, wie se vrou en dogters reeds in die kamp was, maar wat sy drie seuns nog by hom gehad het; verder die broers Frederik, Gert en Theunis Eloff, Casper van Wyk en Stoffel Fourie, ons laerkommandant en skoonseun van pres. Paul Kruger.
Op 26 September het ’n paar Engelse kolonnes van die Hoëveld op ons afgestorm. ’n Klein Boerekommandotjie het in alleryl by ons verby gevlug en ons gewaarsku. Ons was genoodsaak om agterna te vlug in ’n noordelike rigting, dieper die Bosveld in na ’n streek waar die Engelse selde of nooit ingedring het, maar wat een van die dorste streke van die Bosveld was. Buitendien het ons geweet dat die omgewing baie onveilig was omdat swart bendes daar ongestoord rondgetrek en geplunder het.
Die bietjie water wat ons in kannetjies op die waens gehad het, was vroeg al gedaan; die osse was flou, die oë diep in die kasse weggesink van die dors en die aanhoudende draf met die waens oor die ongelyk veld. Die gekerm van vroue en kinders oor water sal ek nooit vergeet nie, maar aan stilhou en water soek was daar nie te dink nie, want die agtervolgers het steeds nader gekom.
In die nag het ons weggeswaai in die rigting van Holfontein, waar daar fonteine was. Die plaas was omring deur hoë koppe met ruie bosse. Van ver af kon ons die koppe vaag teen die lug sien, maar het gewonder waarom daar honderde vuurtjies daarteen flikker.
“Mense, ek sê vir julle dis swartes daardie,” het oom Daniel Erasmus onrustig opgemerk. “Ag, man,” het oom Stoffel gerusstellend opgemerk, “jy wil weer net oproer onder die vrouens wek. Dis veeposte van swartes.” Daarby is die saak gelaat, want oom Stoffel was laerkommandant.
Sowat elfuur die aand het ons tussen die koppe deurgetrek. Hier en daar het nog vuurtjies gesmoor. Naby die sloot waarin die fontein was, het ons uitgespan. Sodra die jukke van die osse se skowwe af was, het hulle met ’n woeste vaart op die fonteintjie afgestorm. Die mans moes hardloop om vir die dorstige mense water te skep voordat die diere dit in die modder vertrap. Omdat die fonteintjie swak was, het ons party spanne sonder water aan die jukke vasgebind om hulle dan die volgende môre vroeg te laat drink.
Die stemming in die laertjie het weer opgeruimd geraak. Vure is aangepak en aanstaltes gemaak om kos te berei. Die laerkommandant het vyf jong manne teruggestuur om te kyk of die Engelse nog aankom. Intussen het ons om die vure gesit en gesels. My moeder het ’n skottel deeg geknie om die volgende dag, as dit goed uitgerys is, daarvan vetkoek te bak. Die skottel deeg het sy voorop die wa toegemaak.
Laat, seker lank na middernag, het ons een na die ander ons slaapplek opgesoek. ’n Paar het naby die laer wag gestaan. Dit was stil, maar tog eienaardig vir baie van ons vir wie die slaap nie so dadelik gevang het nie dat duisende voëltjies gedurig met ’n onrustige getjirp van die koppe af oor ons laer heen na die bosse langs die sloot gevlieg het. Wat sou hulle in hulle slaap steur?
Die oggend vroeg het my vader en oom Daniël hulle osse losgemaak en my boetie Corrie en sy neef Johannes Erasmus, skaars dertien en veertien jaar onderskeidelik, aangesê om saam met Labius die osse te laat suip en sommer die ketel vol te maak vir koffiewater.
Daar het lewe in die laertjie gekom. Ons kon die mans onrustig hoor fluister. “Mense, ons is omsingel deur swartes,” kon ek iemand wat ’n entjie van die waens af geloop het, hoor sê. My vader het my moeder en ons kinders kalm gewaarsku.
Die angs het ons meteens beetgepak; ons kon die gedagte aan moorde wat reeds op vroue en kinders gepleeg is, nie verdryf nie. Ons het almal dieselfde vrees gehad: my broertjie tussen die vyandige swartes ...
Die mans - daar was ongeveer vyf en twintig, van wie twintig gewapen was, party met net vyf patrone - het hul geweers gegryp. Hulle het omtrent tagtig tree van die waens af stelling ingeneem, om nie tussen die vroue en kinders te veg nie. Die posisie wat hulle in die oog gehad het, was ’n klein rantjie, maar toe hulle daar kom, het swartes dit reeds beset. Links en regs probeer hulle, maar rondom het die swartes gedurende die nag elke bossie en klip in beslag geneem. In die skemerdonker kon hulle die swartes sien rondkruip. Ernst Coetzer, een van die mans wat hul taal goed kon praat, merk 'n paar ongeveer twaalf tree voor hom.
“Wat soek julle?” vra hy in hul eie taal, maar dieselfde oomblik knal daar ’n skoot en hy val agteroor met ’n koeël deur sy voorkop.
Van alle kante het die swartes nou onder die geblaas van horings aangestorm en die geveg het so hewig geword dat die mans moes retireer tot aan die kant van die laer, en daar moes hulle sonder dekking of skuiling op hul knieë staan en skiet. Die vroue het soos skape in ’n kraal rondgedwaal. Die waens het uitmekaar en in die oop veld gestaan. Net ons wa het langs ’n bos gestaan en daarheen het almal gevlug. Die swartes het so geweldig op die bos gevuur dat die bome naderhand byna sonder blare was.
Een van die mans het die gevaar besef. “Julie moenie so opeendring nie,” het hy vir ons geskreeu, “julle sal almal doodgeskiet word!”
My suster Hannie is een van die eerste wat opspring, maar met die tref die koeëls haar - twee gelukkig deur die klere, maar een deur die palm van haar hand. Dieselfde oomblik raak ’n koeël die ysterketel wat onder die wa hang, en een van die splinters tref haar in die wang, sodat een van haar tande uitgeslaan word. My suster Tiena het agter die mans aangehardloop, maar hulle het haar teruggejaag.
Omtrent halftien, toe die geveg op sy hewigste was, kom my broertjie alleen die laer ingestap - stokflou. Reeds vroeg die môre het hy en sy maats hulle teen die vyandige swartes vasgeloop. “Witmense!” het hulle geskreeu. “Vang hulle!”
Myle ver het hulle die seuns rondgejaag. In die vrugteboord van ’n nabygeleë plaas het my broertjie hulle ontglip. Hy het eers deur ’n kweperlaning gespring, waar sy ketel bly vassteek het, en daarna die lemoenboord ingevlug. Tussen die rye bome met takke laag op die grond het hy telkens soos ’n vlakhaas kortom omgespring en sy agtervolgers ontduik. Koeëls het vir hom geen verskrikking meer gehad nie, en so het hy sy pad deur die laer gevind. Van sy maats kon hy geen verslag gee nie. Doodmoeg het hy soos ’n houtpop bo-op die wakis gaan sit en die koeëls uitgetart.
Die toestand het uiters haglik begin word. Die ammunisie het begin opraak. Baie van die osse wat nog aan die jukke vas gestaan het, was doodgeskiet. Die aanvallers het, sonder om hulle te veel bloot te stel, die kring al hoe nouer getrek. Daar moes dus plan gemaak word om uit te vlug. Die laerkommandant was net besig om bevele te gee dat die waens in dieselfde rigting uittrek as wat ons die vorige nag gekom het, toe die swartes hom bemerk. Hy was goed bekend onder hulle. Ons kon duidelik hoor hoe hulle sy naam uitroep, en tegelykertyd sak hy neer met drie koeëls deur die bors.
Met die hulp van vroue en kinders is party van die waens ingespan onder ’n koeëlreen. ’n Klomp waens moes in die slag bly, want, die osse was of weggeneem of dood. Ook ons wa moes bly staan. My broertjie, nou van sy skrik bekom, het inderhaas van ons beddegoed op die waens wat ingespan was, gegooi, die skottel deeg op sy kop gesit en met ’n emmertjie vet in die hand en my moeder aan die ander hand ingehaak, saam met die waens uitgevlug.
Daar word koers gevat na die nek waaroor ons die vorige aand gekom het, maar oom Daniël Erasmus, wat die plek van oom Stoffel as laerkommandant ingeneem het, merk dat al die swartes na dieselfde nek afstorm om die aftog vir ons af te sny. Meteens laat hy ons omswaai en in die teenoorgestelde rigting vlug.
Ernst Coetzer was dood en ses mans en my suster gewond. Twee gewondes, Casper van Wyk en Jan Jacobs, moes agterbly. Eersgenoemde was lig gewond aan die been, maar hy kon nie loop nie. Sy seun Karel moes hom na die laer dra, maar hy word ook in die been getref, sodat hy sy vader moes neersit. Die orige mans moes die uitvlugtende waens beskerm. Party het voor geloop, ander aan die kante, en die res moes die agterhoede dek. Verskeie osse is in die vlug doodgeskiet. Die strop en riem word dan maar afgesny en sy maat moet die juk sleep.
Tussen elf- en twaalfuur was ons buite gevaar. Die verkenners wat ons die vorige nag uitgestuur het en wat deur die swartes van ons afgekeer is, het nou weer by ons uitgekom. Op die plaas Uitkyk het ons by ’n ander vrouelaertjie waarby ’n klompie burgers was, aangekom. Die wat perde gehad het, is aangesê om die swartes agterna te sit. Hulle was egter reeds weg toe die burgers op die toneel van die geveg kom. Die swartes het alles saamgeneem en die waens aan die brand gesteek. Gelukkig kon die burgers ’n paar waens van die vlamme red. Op die slagveld het hulle oom Casper van Wyk gevind waar sy seun hom die môre neergelê het, maar hy was dood en gruwelik vermink. Vir Jan Jacobs het hulle in ’n bos gekry waar hy weggekruip het met ’n wond aan die voet.
Op Uitkyk het die treurige begrafnis van die gesneuweldes plaasgevind. Die gewondes het gelukkig herstel. Eers die derde dag na die geveg het klein Johannes Erasmus by ons uitgekom.
Die Huisgenoot, 5 November 1937.