Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons eie Sagmoedige Neelsie het gesê dat ouderdom die vervaldag is van die uitstel wat aan die jeug gegee is. Gebruik dan jou jeug so dat jy die vervaldag nie berou nie.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (28)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas
Rolla red haar maat
Mev. L. Bosch
Ons was in die oorlog “wilde Boere”, dit wil sê ons het van plek tot plek gevlug om die gevreesde konsentrasiekampe te ontduik. Ons ses kinders het saam met diere grootgeword, en Moeder het dikwels gesê dat, as sy elke kind sou toelaat om ’n troeteldier huis toe te bring, ons huis meer na ’n dieretuin as iets anders sou gelyk het. Daar was nie net katte en honde nie, maar byna altyd ook meerkatjies, hanslammers, mak voëls en konyntjies - om van perde nie eens te praat nie.
Toe ons so moes vlug, was dit vir ons kinders baie swaar om ons maatjies onder die sorg van ander agter te laat. Gewoonlik het ons hulle ook nie weer gesien nie. Ons honde het darem altyd saamgegaan, en Sannie, ons huiskat, het saamgevlug solank die oorlog geduur het. Sy moes dikwels ook haar hele familie saamneem tot groot blydskap van ons kinders, wat dan in die wa met die katjies kon speel.
Baiemaal ook moes ons so skielik op die vlug gaan dat ’n hok met eendjies of kuikentjies nie kon agterbly nie en ook maar op die wa moes kom.Teen die end van die oorlog het ons naby Hoopstad langs die Vetrivier gestaan. Behalwe ons ligte wa, getrek deur twaalf muile, waarmee ons die hele oorlog gevlug het, was daar nog ’n paar waens en karre van ander vlugtelinge. Ons twee honde, Rolla, ’n waardevolle jaghond, en Hektor, ’n jong boerhond, was saam met die trek, en natuurlik ook Sannie die kat.
Vader was gelukkig met verlof by ons toe die tyding kom dat die Engelse op ons hakke is. Daardie holderstebolder inspan en inpakkery was ons kleinspan al gewoond, en ons het gou ons plekke ingeneem. Skaars het ons weggetrek of die eerste bomme trek oor die agterste waens. Onder die tentdak sit ons stil en angsbevange styf teen mekaar. Vader het self die leisels en ons ry so vinnig as moontlik voort. Die honde drafsoos gewoonlik onder die wa tussen die agterwiele. Weer gons ’n bom oor ons en nog vinniger word die muile aangejaag. Meteens hoor ons ’n aaklige getjank. Hektor het seker geskrik en onder die wiel beland. Ja, daar aan die een kant van die pad sien ons hom half orent sukkel, terwyl hy ons agternakyk en jammerlik huil. ’n Paar ander honde wou hom net bevlieg, maar Rolla spring met ontblote tande tussenin en dit laat hulle gou terugdeins.
In die wa heers daar die grootste verwarring. Ons skree en gaan te kere. Hier is vir ons iets baie erger as die Engelse gevaar! “Pappie, hou stil! Arme Hektor! Tel tog vir Hektor op!” klink dit van alle kante. Die oudste boetie wil sommer uit die wa spring, maar Moeder hou hom vas. Vader is naderhand vererg en spreek ons streng aan, hoewel hy byna net so sleg voel.
“Julle sien hoe naby die Kakies is! As ons nou stilhou, word ons sekerlik gevang, en ons hou die ander mense ook terug en stel hulle in gevaar. Wil julle in die kampe sterf?”
Toe ons ure later ’n bietjie uit die gevaar was en tot stilstand kom, merk ons op dat Rolla ook nie by die wa is nie - wat die trane opnuut laat vloei. Vader het gemeen dat die Engelse haar gevang het, aangesien elkeen wat kennis van honde het, kon sien dat sy goed geteel was. Nou maar verdrietig verder trek sonder ons getroue ou maats.
Drie dae later, toe Vader ons in veiligheid gebring het en weer na sy kommando moes vertrek, kom Rolla doodmoeg en uitgehonger by die wa aan. Hoe het ons haar nie getroetel en gevoer nie!
Dit het ons geluk om die hele oorlog die konsentrasiekamp te ontduik en ons ses kinders was ná die oorlog in blakende gesondheid en het skerp afgesteek by die maer en bleek gesiggies van ons nefies en niggies wat net uit die kamp aangekom het.
Net na die vrede kom Vader op ’n dag naby die plek verby waar die ongeluk gebeur het, maar aan die oorkant van die rivier. Wat was sy verbasing groot toe hy by ’n boerewoning aankom en Hektor daar voor die deur gewaar. Die hond was nou uitgegroei en fris en gesond. Hy het sy vroeëre baas ook nie vergeet nie, maar hom bly tegemoetgekom.
Die plaaseienaar het aan Vader vertel dat ’n groot jaghond op ’n dag deur die rivier aangesukkel gekom het met die halfverlamde jong hond. Hulle het die arme dier versorg en kos gegee en wou die jaghond ook baie graag daar hou, maar nadat sy glo gemerk het dat die jong hond in goeie hande is, het sy weer laat vat. Hoe die stomme dier dier weg van die vyand en deur die rivier gekry het, sal ons nooit weet nie.
Vader wou Hektor graag vir ons terugkoop, maar die boer en sy kinders wou nie van hom afsien nie en ons was toe maar bly dat hy gesond geword en ’n goeie baas gekry het.
Die Huisgenoot, 9 Junie 1939.