Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Beproewing is onvermydelik, maar om daaroor te bly sanik en in ellende te verval, is opsioneel. Daarom moet ons gedurig damwalle van moed om ons bou sodat ons die vloede van vrees buite kan hou.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (29)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas
Op drie pote konsentrasiekamp toe
Mev. C Bell
Ons het op die plaas Hangklip, distrik Zastron, gewoon. Op 24 Mei 1894 is my een broertjie gebore, op die dag dat ons nuwe klein hondjie, Jack, vier dae oud was. Witoog, Jack se ma, was baie lief vir my ander boetie, Fransie, en ek kon op Witoog vertrou dat sy hom sou oppas.
Solank Moeder in die bed was, moes ek die huiswerk doen. Boetie Fransie het so lekker met sy kleiossies sit en speel dat ek hom skoon vergeet het. Meteens roep Moeder: “Hester, waar is Fransie?”
Ek het gaan soek, maar kon hom nie kry nie. Toe kry ek ’n plan, wys vir Witoog Fransie se hoedjie, en daar gaan sy! Sy soek die huis deur en snuffel daarna op die werf rond totdat sy die regte spoor kry.
In oom Petrus se lande kry sy Fransie. Hy het teen die tyd al baie gehuil, want dit was meer as twee myl dat hy verdwaal het. Witoog het Fransie aan die klere beetgepak om hom terug te bring, maar vergeefs. Sy het toe deurmekaar geblaf en getjank totdat oom Petrus kom kyk wat aangaan.Toe hy daar kom, kry hy vir Fransie. Hy spring van sy perd af en wil hom optel, maar as hy aan die kind vat, wil Witoog hom byt. Eindelik sê hy: “Witoog, kom ons gaan na julle huis!” en tevrede is die hond. Oom Petrus het Fransie se een handjie beet en Witoog het die ander liggies in haar bek. Oom Petrus het alles aan Moeder gaan vertel, want ek was te bang om dit te doen. Fransie het dadelik aan die slaap geraak. Die nag toe hy wakker word, was hy baie siek. Sy bors het toegetrek en die vierde dag daarna is hy dood, twee jaar en drie maande oud.
Witoog het baie getreur, en op sy graffie is sy ook dood. Ma het al Witoog se kleintjies weggegee, maar Jack het sy gehou. Sy het hom saam met Boetie grootgemaak.
In die oorlog was Jack baie getrou aan ons. Dit was die einde van November 1901 so teen die laaste van die maand. Ons kinders het siek gelê aan die masels en Pa was op kommando. Moeder was besig om ’n paar akkers broodkoring te oes. Hans, ons enigste swart werker, het Ma gehelp en Jack het by ons gebly om, indien die kinders sieker word, Ma te gaan “roep”. Ons het almal aan die slaap geraak, en toe ek weer hoor, blaf Jack hier by ons. Ek kyk toe wat daar skeel, en merk die hele huis is vol Engelse.
Ek sê net: “Jack, waar is Ma?” Hy sit die rieme neer en kom al tjankende by Ma, gryp haar aan die rok en trek aan haar, en dan hardloop hy weer ’n ent vorentoe en weer terug, en Ma moes net hardloop om by te bly. Sy sê sy het geweet daar is gevaar.
Toe Ma by die huis kom, het die soldate ons al uit die bed en buitekant. Ma praat mooi en sê ons is siek, maar dit baat niks. Hulle steek die huis aan die brand, en sy spring in om ’n paar van die nodigste goed te kry.
Die Engelse was ook al besig om die hoenders dood te maak. Jack het seker gedink dis darem te erg en sit hulle agterna, maar een van hulle kap een van sy boude net bokant die hakskeen af.
Ons is kort daarna op ’n oop wa na die kamp op Aliwal-Noord vervoer. Ma het baie gepraat oor Jack, die arme hond wat ons so getrou gedien het. Sy het altyd gewonder wat van hom geword het.
Op 16 Februarie, Ma se verjaarsdag, maak sy die tent oop, en wat sal sy dien? Hier lê Jack voor die tent!
“Hoe op aarde het jy geweet ek is hier, my arme hond?” roep sy uit en gaan aan die huil van blydskap. “My arme hond, hy dink soveel van sy ounooi dat hy op drie bene na haar gaan soek!”
’n Paar maande daarna was dit vrede en ons is terug plaas toe. Tien jaar hierna is Jack dood. My pa was toe weg, en Moeder het na die pampoenland gegaan en die getroue Jack het saamgegaan. Meteens het hy ’n ystervark gewaar en hom stormgeloop. Een van die penne het sy dood veroorsaak deurdat dit in sy longe gesteek het. Ons het Jack soos ’n kind begrawe.
Die Huisgenoot, 28 Julie 1939.