Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Eintlik is daar net twee opsies in die lewe: ons moet kiestussen betrokkenheid wat met pyn gepaard kan gaan; of ons moet kies om onbetrokke te staan teenoor ander en die verveling daarvan te verduur.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (30) SLOT
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas
'n Engelse vlugteling se ervarings
Mev. C.B. Wilson
Ons Engelssprekendes het net voor die uitbreek van die oorlog gedink dit sou die beste wees om oor die grens te kom. Ons geselskap bestaan toe uit ’n vriend met sy vrou en kinders, my skoonsuster en haar ses kinders, my suster en haar kind en ek en my twee kinders. Ons het melkkoeie saamgeneem om die kinders van vars melk te kan voorsien. Ons moes ook voorsiening maak vir kos, vuurmaakgoed en water.
Ons is van Lydenburg na Carolina, maar reeds lank voordat ons daar aangekom het, het ons Boerekommando’s teëgekom op weg na die grens en Volksrust - waens, perdekarre en ruiters van alle oorde, almal op weg om vir hul land, vlag en vryheid te veg. Saans wanneer ons uitspan, het hulle dikwels ons laer besoek, beleef gegroet en verneem wie ons is en waarheen ons gaan, en ons altyd met respek behandel.
Die osse het mettertyd pootseer geword; party kon skaars loop, maar ons het maar so vinnig moontlik vorentoe gebeur om die grens te haal.
Ons het al hoe meer kommando’s teëgekom wat ons met die grootste hoflikheid en bedagsaamheid behandel het.Toe ons uiteindelik op Sandspruit aankom, was daar talle kommando’s want dit was ’n uitspanplek. Baie mense het met ons kom gesels en die jong manne het met ons geskerts en gepraat van ons osse buit. Hulle het geweet dat ons Engelse is, maar nietemin het ons geen vrees vir hulle gehad nie, want dit was goedmoedige plaery. As ’n mens aan al die jong manne dink wat ons so vriendelik en gaaf behandel het voel ons waarlik trots op ons Suid-Afrikaners.
Ons volgende uitspanplek was Volksrust. Daar was duisende mense. Ongeveer twee myl uit die dorp het twee offisiere, luitenante Du Toit en De Jager van die Staatsartillerie, ons ingewag. Hulle het ons leier beleef aangespreek, maar aangesien hy geen woord Afrikaans verstaan het nie, het ek, wat al hier en daar ’n woord geken het, van die wa afgespring en van hulle verneem wat hulle wou hê. Hulle sê toe dat hulle Engels ook kon praat en dat hulle ons waens ’n paar dae wou kommandeer. Ons het eers baie besware geopper, maar later ingestem. Toe het hulle voortgery en ons het gevolg. Hoewel ons nou taamlik begin vrees het, het ons darem probeer voorgee dat ons heeltemal gerus is. Toe ons op die dorp aankom, het die twee offisiere ons na ’n kampeerplek gelei wat ’n hele entjie van die kommando’s af weg was. Dit was al laat die middag, maar hulle wou onmiddellik die waens gehad het. Maar hulle het toe net een wa en twee spanne osse geneem om kanonne en ammunisie te vervoer. Dit is ’n bietjie humoristies of liewer ironies om daaraan te dink dat ’n Engelsman se osse en wa die eerste kanonne na ’n vesting vervoer het om sy eie mense mee te skiet, maar as mens nou so daarna kyk, is dit seker ook reg dat wanneer 'n land goed genoeg is om in te woon, dit ook goed genoeg sal wees om iets daarvoor op te offer, terwyl ons nou nie van plan was om daarvoor te veg nie...
Ons het toe kamp opgeslaan en dinge vir ons so gerieflik as moontlik ingerig. Een van die mans wat by ons was, het die wa en osse vergesel. Die offisiere het ons na die hotel uitgenooi op staatskoste terwyl ons osse weg was, maar ons het die uitnodiging van die hand gewys omdat ons skuldig gevoel het dat ons nie van plan was om saam in die oorlog te veg nie. Hulle het ook aangebied om ’n wag by ons kamp te plaas en gesê dat ons net moes vra as ons iets nodig het. Hulle het belowe dat sodra ons osse terugkom, hulle aan ons ’n “pas” sou gee om oor die grens te gaan. Die osse het die derde dag na ons aankoms teruggekeer en trou aan die Afrikaners se woord, is die “pas” aan ons gegee, waarna ons met ’n vriendelike handdruk die aand die reis weer hervat het.
Ná vier jaar is ons eindelik weer terug na ons verlate en verwaarloosde wonings in Transvaal. Ons moes van nuuts af weer begin want ons eie mense, die Engelse, het alles wat ons besit het soos barbare afgebrand en doodgemaak. Ons het ons ou Boerevriende op dieselfde voet van goedgesindheid aangetref as voor die oorlog en hulle was vir ons beter vriende as wat Engelse ooit kon wees. Ons het ons ondervindings oor en weer vertel, maar mekaar nooit verwyte na die hoof geslinger nie.
Die Huisgenoot, 13 September 1940.