Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra God in ons gebede soos Hy ons geleer het dat ons vergeef sal word, soos ons diegene vergewe wat teen ons oortree – nie omdat ons in staat is om die skuld van 'n vergryp of belediging te vergewe nie – maar net dat ons toorn, haat en wraaksug vrywilliglik uit ons hart verban kan word.
DUITSE WESIES (11)
KEUSE VAN KEURDER WAT NA DUITSLAND MOES GAAN
(Lees vorige aflewerings onder Duitse weeskinders 1948 )
Werner (Shellack) van der Merwe
Die regering het ingestem dat die Fonds sy eie mediese keurder na Duitsland stuur op voorwaarde dat daar toegesien moes word dat slegs fisies en geestelik gesonde kinders die land ingbring word. Dit is aan drie lede van die dagbestuur opgedra om 'n geskikte geneesheer te soek. Dit was geen maklike taak nie want na beraming sou die keuring van die kinders ongeveer drie maande duur. Dit sou beteken dat 'n praktiserende geneesheer sy praktyk vir 'n geruime tyd sou moes sluit met gevolglike verliese. Die bestuur kon sy mediese keurder hoogstens 50 pond per maand betaal. Die bestuur het egter te hore gekom van 'n sekere dr Frank Rosseauw wie in Londen 'n opgeleide kinderspesialis was, en besig met verdere studies in hierdie veld. Daarby het hy ook die toestande in Duitsland baie goed geken aangesien hy na afloop van die Tweede Wêreldoorlog 'n geruime tyd verbonde was aan 'n kindervlugtelinghospitaal in Lübeck, in die Britse sone van Duitsland. Rosseauw was reeds in Londen en derhalwe sou dit relatief maklik wees om hom vandaar na Duitsland te stuur.
Terwyl die dagbestuur probeer uitvind het of Rosseauw reeds by die Suid-Afrikaanse Mediese Raad as geneesheer geregistreer was, het mnr Mm. Bührmann die Fonds in kennis gestel dat sy suster, dr Vere M Bührmann, bereid was om met die mediese keuring van die kinders behulpsaam te wees. Sy het egter die voorwaarde gestel dat die dienste van dr Rosseauw tot haar beskikking gestel word.
Nadat daar in November 1947 vasgestel is dat Rosseauw wel as geneesheer geregtistreer was het die sekretaris onderneem om aan hom 'n brief te skryf en van hom te verneem of hy bereid sou wees om vir dr Bührmann met die mediese keuring behulpsaam te wees. Terselfdertyd het die dagbestuur dit aan Rosseauw opgedra om vas te stel of die Duitse owerhede daarvoor te vinde sou wees dat weeskinders permanent uit Duitsland geneem word. Hy moes ook uitvind watter vervoermoontlikhede daar vir die kinders was. In afwagting op 'n antwoord van Rosseauw het die dagbestuur intussen vir Kuschke versoek om die Fonds te help om vir dr Bührmann verlof te reël by die Stadsraad van Pretoria waar sy werksaam was.
Aan die begin van 1948 het Rosseauw na Kaapstad teruggekeer om daar met 'n praktyk te begin en was dus nie meer beskikbaar nie. Dr JC Kriek het kort daarna sy dienste gratis aangebied. Hy was selfs bereid om sy eie vervoerkoste na Europa te betaal. Vir die dagbestuur was dit 'n baie gunstige aanbod en daarom is besluit dat drr Kriek en Bührmann die Fonds se mediese span sou uitmaak.
Op 6 Februarie 1948 het die Hoof Mediese Gesondheidsbeampte van die Stadsraad van Pretoria die Fonds in kennis gestel dat daar vir 'n tydperk van drie maande aan dr Bührmann verlof toegestaan is. Indien dit sou blyk dat sy langer in Duitsland moes vertoef sou sy verder onbetaalde verlof moes neem. Vera Maatjie Bührmann, gebore in 1910, het in 1935 die grade M.B. en B.Ch. aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Later het sy twee diplomas in Openbare Gesondheid verwerf. Nadat sy vyf jaar lank in Springs as mediese praktisyn werksaam was, het sy die betrekking van Mediese Beampte verbonde aan die Stadsraad van Pretoria aanvaar. Teen 1948 het Bührmann dus reeds 13 jaar geneeskundige ondervinding gehad. Dit sou egter die eerste keer in haar loopbaan wees dat sy oor die lot van weeskinders moes besluit. Haar hoof het haar gewaarsku om die DKF se opdrag baie deeglik te oorweeg "want jy weet nie wat jy onderneem nie."
Hoewel die persone wat die kinders op hul reis van Duitsland na Suid-Afrika moes oppas nie dieselfde verantwoordelike taak as die geneeskundiges gehad het nie was dit nogtans van die allergrootste belang om persone te vind wat minstens goed met kleuters oor die weg kon kom. Daar moes dus na simpatieke en ervare persone gesoek word. Soos daar reeds aangetoon is het die DKF op aanbeveling van die regering beoog om ongeveer sewe persone te kry om die kinders te begelei. Uit 'n skrywe van die Departement van Volkswelsyn is die indruk geskep dat die Departement dit op hom sou neem om geskikte persone te vind. Die gedagte is uitgespreek dat voornemende volwasse immigrante, verkieslik uit Brittanje, vir hierdie doel gebruik sou word. Die dagbestuur het egter niks van hierdie idee gehou dat Britte Duitse kinders oppas nie. Gevolglik het dr Stals vir Kuschke versoek om die keuse van geskikte begeleiding aan die Fonds oor te laat. Hy het daarteen geen beswaar gehad nie. Etlike persone het hierna aangebied om die kinders te help maar die dagbestuur sou hom eers later verbind na meer inligting oor hierdie mense verkry is.
Nog een van die belangrike probleme wat die dagbestuur die hoof moes bied was die kwessie van die vervoer van die kinders vanaf Duitsland na die Unie. Dr Stals en mnr Du Plessis het onderneem om die hele aangeleentheid te ondersoek. Hulle het met etlike skeepsrederye en die Unie se Hoëkommissaris in Londen in verbinding getree. Nog voor die einde van 1947 het sowel die Holland Afrika Lijn, as die Union Castle Mail Steamship CO Ltd, die Fonds in kennis gestel dat hulle nie binne afsienbare tyd vir 100 kinders plek sou hê nie. Uit die rederye se antwoorde blyk dit ook dat hulle eers van die Unie se Departement van Buitelandse Sake 'n waarborg wou hê dat die kinders wel wettig tot Suid-Afrika toegelaat was. Vermoedelik het die vrees bestaan dat hulle onwettige immigrante kon vervoer – nie ongegrond nie veral na afloop van die Tweede Wêreldoorlog toe talle Europeërs gepoog het om Europa te verlaat, wat groot verliese vir die rederye tot gevolg gehad het.
Aanvanklik was die dagbestuur van mening dat dit die mediese keurders se werk aansienlik sou vergemaklik indien die kinders wat vir aanneming in aanmerking gekom het op 'n sentrale plek byeengebring word en vandaar na die Unie vervoer word. In 'n lang gesprek met die hoof van die Switserse Hulpvereniging (Caritas), mnr AF Kaufman, het dit geblyk dat Switserland die aangewese versamelpunt vir die kinders was. Vanaf Switserland kon die kinders dan per trein na Genoa in Italië reis en vandaar met 'n Italiaanse boot na Suid-Afrika vervoer word. Die sekretaris het in hierdie verband 'n skrywe aan die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger in Rome, generaal-majoor FH Theron, gerig en hom versoek om die DKF behulpsaam te wees met die kinders se vervoer vanaf Italië. Terselfdertyd is daar ook 'n skrywe aan Suid-Afrika se verteenwoordiger in Portugal, dr P Botha, gerig met die versoek om vas te stel of die kinders nie met 'n Portugese boot na die Unie vervoer kon word nie.
Die berigte wat die dagbestuur uit Italië ontvang het was baie bemoedigend. Die Lloyd Triestino Maatskappy in Trieste het laat weet dat hulle wel vir die kinders plek gehad het op die nuwe Italiaanse boot Toscana. Die boot sou op 3 Augustus 1948 vanaf Trieste vertrek en die totale vervoerkoste sou ongeveer 7 500 pond beloop. Die maatskappy het egter daarop aangedring dat die DKF nie later nie as 15 Junie vir die kinders plek bespreek. 'n Deposito van 50% moes dan ook betaal word. Aangesien die Fonds in daardie stadium nog nie eens geweet het of hulle wel die kinders sou kry nie kon hulle nie van die aanbod gebruik maak nie.
Die dagbestuur het dit ook wenslik geag om kwotasies vir die vervoer van die kinders van enkele lugrederye te verkry. Vir die meeste lugrederye was dit uiteraard byna onmoontlik om aan die DKF kwotasies te verskaf want soos die bestuur van Suid-air International Airways Ltd in Johannesburg die dagbestuur meegedeel het: "We find it very difficult to give you a quotation owing to the fact that the ages of the children are only approximate, as also the number of adults."
Die Reisbureau Lissone Lindeman N.V. het uit Den Haag in Nederland berig dat hulle met verskeie rederye in verbinding was en dat daar in totaal drie verskillende opsies vir die DKF bestaan het. Die kinders en begeleiders kon in twee Dakotas en met drie vlugte vervoer word of in twee Skymasters met twee vlugte. Die derde moontlikheid was dat die kinders in 'n DC III met vyf vlugte vervoer word. In al drie genoemde opsies sou dit ongeveer 100 pond per kind kos. Om die kinders dus per lug na die Unie te vervoer sou die Fonds omtrent 10 700 pond kos. Die onkoste verbonde aan lugvervoer was vir die Fonds eenvoudig te groot en daar is nie verder daarop ingegaan nie.
Dit wil voorkom asof die dagbestuur uit sy weg gegaan het om te verhinder dat die kinders met 'n Britse redery vervoer word. Eers nadat mnr Martin Andrag uit Switserland die bestuur laat weet het dat die Italiaanse skepe nie "juis baie skoon is nie", en die Nederlanders "geensins so gretig was om Duitse kinders te vervoer nie", is daar aan Britse en Sweedse rederye gedink. Trouens, Andrag het voorgestel dat die Fonds die Union Castle Line, moes nader. Hy het ook aan die hand gedoen dat die dagbestuur moes poog om die steun van die hertoging van Hamilton te verkry. Dit is interessant dat Andrag juis die naam van die hertoging van Hamilton genoem het. In Mei 1941 het Adolf Hitler se tweede-in-bevel, Rudolf Hess, na Skotland gevlieg in 'n poging om die Britte te oortuig om met Duistland vrede te sluit. Die persone met wie hy wou kontak maak was juis die uitgesproke pro-Duitse hertog en hertogin van Hamilton.
Toe die sekretaris aan die einde van April 1948 na Londen vertrek het, was die vervoer van die kinders nog nie gefinaliseer nie. Die bestuur het dit toe aan hom opgedra om tydens sy verblyf in Europa die finale vervoerreëlings te tref. Na 'n lang gesukkel en uitgerekte onderhandelings met Union Castle het Botha uiteindelik daarin geslaag om vir die kinders en hul begeleiding passaat te kry op die Winchester Castle. Plekke is bespreek vir die vaart wat op 24 Augustus vanuit Southampton, Engeland, na Kaapstad sou vaar.
Hoe bemoedigend die werksaamhede van die Fonds ook al gevorder het, was die dagbestuur deurentyd daarvan bewus dat die sukses van die hele onderneming van een sentrale faktor afhanklik was – die beskikbaarheid van weeskinders. Gevolglik het die dagbestuur alles in die stryd gewerp om vas te stel of daar wel Duitse kinders voor hande was. Nie een van die dagbestuurslede het met Duitsland kontak gehad nie en nie een van hulle het geweet hoe om kontak te maak nie. Gevolglik het die Fonds besluit om DAHA te versoek om van hulp te wees. Hulle verteenwoordiger in Pretoria, mnr Emile Schweikerdt, het sy volle samewerking gegee.
Die dagbestuur het vir mnr VM. Bührmann afgevaardig om met Schweikerdt te gaan gesels, wie toe aanbeveel het dat daar 'n brief aan die Protestante kerke in Duitsland (Deutsche Evangelische Kirche) gerig word waarin die Fonds sy doelstellings volledig uiteensit en terselfdertyd die kerke versoek om hom van hulp te wees. Op 3 Oktober 1947 het mnr EG Blohm, bestuurslid van DAHA, namens die DKF die brief geskryf. Daar is ook daarop gewys dat die DKF kinders tussen die ouderdomme drie en agt jaar verkies. Uitgesoekte pleegouers sou hulle aanneem, behoorlik versorg en opvoed.
Op die 21e vergadering van die dagbestuur op 28 November 1947 is die antwoord van die Duitse kerke voorgelees. Dit was 'n kort kabelgram wat die Fonds meegedeel het dat 100 weeskinders in Berlyn gereed was om onmiddellik gekeur te word en dat die Fonds moes laat weet wanneer sy keurders in Duitsland sou arriveer. Goeie nuus ja, maar dit was onvoldoende inligting sonder 'n waarborg wat eers voorsien moes word om die kinders te mag kry. Natuurlik wou dagbestuur verhoed dat groot geldelike onkoste aangegaan word om helaas vas te stel dat die Duitse wet (soos dit weliswaar in Nederland die geval was) dit verbied het dat kinders in die buiteland deur pleegouers aangeneem word.
Daarom het die dagbestuur 'n kabelgram aan die hoofkantoor van die 'Hilfswerk der Evangelischen Kirchen' – Hulpwerk van die Protestantse Kerke – in Stuttgart gestuur met die versoek: "Before sending representatives Dietse Kinderfonds requests assurance the 500 orphans will be available for selection of one hundred children and that no legal objections to their emigration to South Africa will be made by German Authorities..."
Die vermoede bestaan dat die Hulpwerk intussen al hoe meer oor die DKF se skema begin twyfel het want voordat al die antwoorde van die Duitse inrigtings ontvang is, het die Hulpwerk reeds die Fonds in kennis gestel dat die plan om Duitse weeskinders in die Unie te laat aanneem onuitvoerbaar was. In 'n kabelgram terug aan die dagbestuur (16-02-1948) het die Hulpwerk voorgestel dat die Fonds tydelike pleegsorg moes oorweeg aangesien aanneming onprakties was. Hierdie voorstel was nie vir die dagbestuur aanvaarbaar nie aangesien dit vir hulle juis om permanente verblyf vir die kinders gegaan het.
Intussen het die dagbestuur sy sekretaris as keurder aangewys. Schalk Jacobus Botha (1905 – 1978) was eers 'n onderwyser, maar sy sterk voorliefde vir die sakewêreld het hom in 1944 uit die onderwys laat bedank. Op uitnodiging van dr Albert Hertzog het Botha die sekretariaat van sowel die Johanna Ziervogel- as die Pieter Neethling fondse oorgeneem. Albei hierdie fondse het dit ten doel gehad om die Afrikaners se belange in die stede te bevorder.
So, byvoorbeeld, het die Pieter Neethling-fonds in 1948 'n leidende rol gespeel in die stigting van die Afrikanermynwerkersvakbond. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was Botha 'n vurige aanhanger van die Ossewa-Brandwag, en die bevordering van die Afrikaners se belange op elke lewensterrein was vir hom 'n lewenstaak met sy Christelik-nasionale lewensbeskouing. Die DKF se plan om Duitse wese na Suid-Afrika te bring het Botha as noodsaaklike 'volksdiens' beskou en daarom was hy bereid om as sekretaris – sonder geldelike vergoeding – van die Fonds op te tree.
Die laaste taak wat die dagbestuur onderneem het voordat Botha op 27 April na Europa vertrek het was om vir hom die nodige toegangspermitte tot die besette Duitsland te verkry. Dit blyk dat die dagbestuur dit in geen stadium oorweeg het om navraag te doen of sy keurder ook die Russiese sone van Duitsland kon besoek nie – dit sou aanvanklik net tot die Britse sone beperk bly. Gevolglik was sy eerste oorsese bestemming Londen, hoofstad van die Britse wêreldryk wie se invloed die Afrikaners met 'n stewige 'inspuiting' van Duitse bloed in Suid-Afrika wou verswak.
Lees in volgende aflewering oor Botha se aankoms in Londen.