Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die vloei van die geskiedenis deur alle tye heen, ook óns volk s'n, is gewortel in die fontein van menslike gedagtes. 'n Mens se gedrag word grootliks bepaal deur wat ons dink. Daarom leer die Woord ons in Spreuke 4:23 om ons hart, meer as alles wat ons het, te bewaar want die oorspronge van die lewe kom daarvandaan.
DUITSE WESIES (2)
DUITSLAND EEN VAN DIE AFRIKANER SE BELANGRIKSTE STAMVERWANTE BODEMS
(Lees ook DUITSE WESIES (1))
Werner (Shellack) van der Merwe
Die rede vir die inbring van die Duitse weeskinders was 'n protesverklaring teen die feit dat Suid-Afrika gedurende die Tweede Wêreldoorlog teen Nazi-Duitsland oorlog gevoer het. Die invloedryke groep Afrikaners van die DKF wou daadwerklik wys dat 'n beduidende deel van die Afrikanervolk die Duitsers se vriende was. Dit ongeag al die aantygings wat die wêreld teen Duitsland gemaak het, in die besonder dat die Duitsers sowat ses miljoen Jode in gaskamers om die lewe gebring het. In 'n sekere sin was die stigting van die DKF die kulminasie en klimaks van eeue se aanraking en wedersydse kontak tussen Duitsers en Afrikaners. Terselfdertyd was dit ook 'n bewuste poging om die behoud van die Blanke Afrikanervolk op 'n Swart kontinent te verseker, 'n poging wat nou in 2010 waar Blankes 'n volksmoord in die gesig staar, met meer begrip en waardering geag word.
In die ontstaan- en wordingsgeskiedenis van die Afrikaner speel Duitsland naas Nederland en Frankryk die belangrikste rol. Gedurende die eerste twee eeue van Blanke nedersetting aan die suidpunt van Afrika het meer as 14 000 Duitse immigrante hulle permanent hier kom vestig. Sowat 4 000 van hulle het die direkte stamvaders van bekende Afrikanerfamilies, onder andere die Bothas, Krugers en Albertse, geword. Die Duitse element in Suid-Afrika is verder versterk deur die toeloop van Duitse sendelinge en koloniste in die 19e eeu. Die Afrikaners se 'genetiese wording' is dus in hoë mate deur Duitse bloed bepaal. GevolGlik is Duitsland later met reg as een van die Afrikaner se belangrikste 'stamverwante' bodems beskryf.
Ten spyte van die hoë persentasie Duitse bloed in die are van die Afrikaner, het die Duitse taal en kultuur in verhouding tot die bloedsterkte weinig neerslag in die Afrikaanse leefwyse gevind. Daarvoor was die Angel-Saksiese element in Suid-Afrika te sterk. Op politieke gebied egter, het Duitsland 'n baie groot invloed op die Afrikaners uitgeoefen – 'n invloed wat direk met die toename van Britse betrokkenheid in die lotgevalle van die Afrikanervolk verband gehou het.
In die Afrikaner se lang en taai stryd teen Britse oorheersing in Suid-Afrika, het hy na bondgenote gesoek wat hom teen Brittanje kon bystaan.
Met die totstandkoming van 'n verenigde Duitsland in 1871 het die Afrikaner in die nuwe Duitse Ryk, onder leiding van kanselier Otto von Bismarck, 'n potensiële bondgenoot gevind, want namate Duitsland self tot 'n eerstrangse Europese moondheid ontwikkel het, het die kloof van wantroue en vyandskap tussen die Britte en die Duitsers toegeneem. Teen die einde van die 19e eeu het Brittanje en Duitsland teenoor mekaar te staan gekom.
Brits-Duitse antagonisme het die Afrikaner al hoe nader aan Duitsland getrek, want op die beginsel van 'my vyand se vyand is my vriend' het die Afrikaner gehoop dat die Duitsers hom in sy stryd teen Brittanje sou bystaan. Hierdie hoop het veral na 1884 toegeneem, toe Duitsland Suidwes-Afrika in besit geneem het en in Afrika die buurman van die Afrikanerrepublieke geword het.
President Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) wou graag die Duitse teenwoordigheid in Afrika as 'n teenvoeter teen Brittanje gebruik. Gevolglik was hy begerig om sy staat se bande met die Duitse Ryk te verstewig. In Junie 1884 het Kruger die Duitse rykshoofstad, Berlyn, besoek en gesprekke gevoer met sowel Bismarck as die Duitse keiser, Wilhelm II. Kruger het die Duitsers gevra om sy land teen Brittanje se noordwaartse uitbreidingsdrang te beskerm. Talle Duitsers, maar veral die nasionaalgesinde Pan-Germanistiese Verbond Alldeutscher Verband, het Kruger se versoek om beskerming vertolk as 'n uitnodiging om Transvaal onder die Duitse vlag te plaas. Die Duitsers het gevolglik al hoe meer die bloed- en geestesverwantskap tussen die Duitser en die Afrikaner begin beklemtoon. Die Duitsers het ook meer en meer in die lotgevalle van die Afrikaners begin belangstel.
Omdat Duitsland nie oor 'n vloot beskik het wat met dié van Brittanje kon meeding nie, kon die Duitsers nooit werklik Brittanje se voorrang in Suider-Afrika uitdaag nie. Vir Brittanje was die blote teenwoordigheid van Duitsland in Afrika egter 'n onsekere faktor waarmee daar deeglik rekening gehou moes word. Die Duitsers het verder tot Brittanje se onsekerheid bygedra toe hulle in die dekade ná 1890 al hoe meer met die twee Boererepublieke, maar veral met Tansvaal, begin handel dryf het. Brittanje het hierdie Duitse handelsbetrokkenheid vertolk as die voorspel tot politieke betrokkenheid.
Die sogenaamde Jameson-inval van 1895 deur die Britse imperialis, Cecil John Rhodes, met behulp van dr LS Jameson, het hopeloos misluk maar dit het wye internasionale gevolge gehad. Die buiteland het hierdie Britse optrede sterk veroordeel en die Duitse keiser het selfs 'n telegram van gelukwense aan Kruger gestuur. Hy het Kruger geloof vir die feit dat die Transvalers sonder enige hulp daarin geslaag het om 'n aanslag van 'n vreemde staat teen die soewereiniteit van Transvaal suksesvol af te weer. In een stadium het die keiser selfs daaraan gedink om 'n leër na Transvaal te stuur en die Boere te help. Omdat Duitsland oor geen noemenswaardige vloot beskik het nie moes die keiser egter van sy plan afsien.
Die keiser se uitgesproke meegevoel met die Afrikaners het in Transvaal die hoop laat opvlam dat Duitsland hulle teen die Britte sou help. Gevolglik het pro-Duitse sentimente onder die Afrikaners toegeneem en Brittanje se wreedhede teenoor die Afrikaner is in skerp kontras gestel met die vriendelike houding van Duitsland. In Duitsland het die Alldeutscher Verband as gedugte vriende van die Boere na vore getree.
Toe die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitbreek was die meegevoel van die Duitsers deur en deur aan die kant van die Boere, soos dit trouens ook die geval in Nederland, België, Frankryk en Rusland was. Ten spyte van die sterk meegevoel met die Afrikaner se heldhaftige stryd teen die magtige Britse wêreldryk, was geen Europese staat bereid om die Afrikaner daadwerklik teen Brittanje te help nie. Die Duitse keiser was inderdaad besig om te poog om Duitsland se betrekkinge met Brittanje te verbeter. Hy het selfs die Britte van raad bedien hoe om die Boere spoedig te verslaan.
Die kloof tussen die Duitse regering en die Duitse bevolking was op daardie tydstip dieper as ooit. Die Duitse volk het spontaan met die Afrikaners gesimpatiseer en dwarsdeur Duitsland is fondse ingesamel om die noodlydende Boere, maar veral die vroue en kinders in konsentrasiekampe te help. Dit bly vandag 'n ope vraag watter van die Afrikaner se twee stamlande, Nederland of Duitsland, die meeste geld vir die Boere ingesamel het. Hoe dit ookal sy, die Duitsers se simpatieke gesindheid teenoor die Afrikaner het sy pro-Duitse sentimente baie versterk.
Na afloop van die oorlog het die drie generaals, CR de Wet, JH de la Rey en Louis Botha, Europa besoek waar hulle verdere steun vir die Afrikaners gesoek het. Nederland en Duitsland het mekaar weer in welwillendheid probeer oortref en België en Frankryk se geesdrif het ook nie te kort geskiet nie. Nogtans was Duitsland met sy groter bevolking as die ander state, in staat om 'n wesenlike bydrae tot die heropbou van die Afrikaner te maak. Tydens 'n noenmaal in Berlyn het die inwoners van die Duitse hoofstad onder leiding van die Alldeutscher Verband die bedrag van 10 000 pond vir die Afrikaners ingesamel. Dit is later aangewend vir die oprigting van skole en weeshuise, onder andere die bekende Langlaagte-weeshuis.
Die oorlog het by die Afrikaner 'n bitter nasmaak gelaat. Alhoewel baie Afrikaners na die oorlog bereid was om met die Engelse saam te werk en 'n nuwe Suid-Afrika op te bou, was daar ook diegene wat meer as ooit vantevore anti-Brits was. Hulle sou alles in die stryd werp om weer die verlore onafhanklikheid van die Boererepublieke te herwin. Dit was hierdie Afrikaners wat weer vir hulp na Duitsland opgesien het.
In deel drie sal ons kyk na die betrokkenheid van Duitsland met Suid-Afrika in die jare ná die Tweede Vryheidsoorlog .