Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde is vriendelik...
DUITSE WESIES (6)
EERSTE VERGADERING GEHOU WAAR BESLUIT WORD OM DUITSE WESE NA SUID-AFRIKA TE BRING
(Lees reeks by Duitse weeskinders 1948 )
Werner (Shellack) van der Merwe
" In die algemeen was die vergadering die gedagte simpatiek gesind, maar daar was twyfel oor die uitvoerbaarheid. Sou daar vir 10 000 weeskinders geskikte pleegouers gevind word? Sou die nodige fondse gevind kon word?".
Omdat die meeste Afrikaners dwarsdeur die Tweede Wêreldoorlog pro-Duits was en sterk deur die Duitse propaganda van Zeesen, die Duitse radiostasie, beïnvloed is, is dit begryplik dat hulle die ondergang van Duitsland as 'n ramp en katastrofe ervaar het. Die Afrikaanse pers het ook sy deel bygedra om die beeld van Duitsland se ellende by die leserspubliek in te skerp. Die nasionaalgesinde Afrikaners (veral lede van die Ossewa-Brandwag en die Nuwe Orde) was dus onder die eerstes wat daadwerklik probeer het om 'n helpende hand na die Duitse volk in sy uur van nood uit te steek.
Die Afrikaanse pers het sy lesers voortdurend op hoogte gehou oor die gebeurtenisse in die verpletterde Duitsland. Die Transvaler en Die Burger het berigte geplaas van verwoeste stede, verhongerde en daklose gesinne en die duisende vlugtelinge in oorbevolkte vlugtelingkampe, maar boweal van verweesde kindertjies wat op die landweë ronddwaal opsoek na verlore ouers en familiebetrekkinge. Die beeld wat die Afrikaanse pers sy lesers gebied het, was wel eensydig in die opsig dat die ellende van ander Europese lande, byvoorbeeld Nederland, België en Pole, nouliks vermeld is, maar oor die korrektheid van die berigte bestaan geen twyfel nie. Duitsland was inderdaad in die woorde van die beroemde Duitse historikus, Friederich Meinecke, 'n uitgebrande krater van die magspolitiek.
Duitsland is deur sy oorwinnaars fisies in puin gelê. Dit was veral die groot stede wat erg onder die bomme deurgeloop het. Berlyn, Keulen, Hamburg, Braunschweig en Mannheim is feitlik met die grond gelyk gevee. In een nag het Amerikaanse bomwerpers die stad Dresden heeltemal verwoes en meer as 35 000 mense het die lewe gelaat. Na afloop van die oorlog was sowat 98% van alle wonings in die stad Düsseldorf onbewoonwaar en in Berlyn is daar meer wonings vernietig as wat daar ooit in die stad München gebou is, om maar net twee voorbeelde te noem.
Vir diegene wat die oorlog beleef het, het 'n troostelose toekoms gewag. Om sake te vererger, het miljoene Duitsers gedurende die ineenstorting uit die oostelike provinsies van die Duitse Ryk (Oos-Pruise, Pommere en Silesië) na die Weste gevlug om nie in die hande van die Russe en Pole te val nie. Nog etlike miljoene was boonop deur die gealliseerdes verplig om huis en haard te verlaat. Hierdie nagenoeg 15 miljoen vlugtelinge en verdrewenes het in haglike toestande in talle vlugtelingkampe in die drie Westerse besettingsones van die verdeelde Duitsland geleef.
As gevolg van die geweldige omvang van die oorlogskade en die verwoesting van die Duitse infrastruktuur het ongekende hongesnood op die bevolking gewag. In een stadium het die daaglikse lewensmiddelrantsoen op sowat 800 kalorieëper persoon te staan gekom. Alles in ag geneem, het die Duitse bevolking 'n hoë prys vir die oorlog betaal wat hulle verloor het. Vaders het op die slagveld gesneuwel, moeders is aan uitputting en verhongering oorlede, jeugdiges is as krygsgevangenes na Rusland weggevoer en klein kinders het verwese op die landstrate rondgedwaal. Na beraming was daar na die afloop van die oorlog in die Amerikaanse en Britse besettingsones van Duitsland (diégebied wat later die Duitse Bondsrepubliek geword het) nagenoeg ander half miljoen kinders wat een van hulle ouers verloor het. Omtrent 250 000 kinders het albei hul ouers verloor. Dit was veral die kinders in die groot stede en in die lae sosiale klasse wat die meeste ontberings verduur het. Die oorgrote meerderheid van hierdie kinders het 'n chroniese proteïntekort gehad en sowat 55% van hulle het nooit melk gekry om te drink nie.
In die lig van die Nazi-gruweldade was die geallieerdes aanvanklik nie gretig om die Duitse volk in die uur van sy nood by te staan nie. Private welsynsorganisasies en verskillende kerkgenootskappe (dwarsdeur die wêreld) het egter moreel verplig gevoel om die verslane Duitse volk te help. Veral die lot van die vrouens en kinders het die verbeelding aangegryp en mense aangespoor om 'n helpende hand na Duitsland uit te steek.
Suid-Afrika was onder die eerste lande wat daadwerklik met noodlenigingswerk ten behoewe van Duitsland begin het. Afrikaners en Duitsers was aan die voorpunt van hierdie noodlenigingswerk.
In Suid-Afrika is daar reeds na die afloop van die Eerste Wêreldoorlog 'n Duits-Afrikaanse Hulpkomitee (Deutsch Afrikanischer Hilfsausschuss – DAHA) in die lewe geroep. Die doel van die DAHA was om aan Duitse burgers in die Unie wie se eiendom gedurende die anti-Duitse betogings in 1915 vernietig is, hulp te verleen. Omdat die Afrikaners so sterk pro-Duits was, het DAHA die volle ondersteuning van die Afrikanerbevolking ontvang. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het genl Smuts dadelik talle manlike Duitse burgers in die Unie laat interneer. Ten einde die versorging van hulle families te verseker, het Smuts toestemming verleen dat DAHA met noodlenigingswerk ten behoewe van hierdie families kon voortgaan. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Smuts aan DAHA verlof gegee om sy noodlenigingswerk ook na Duitsland uit te brei. Die Afrikaners was weer die mees aktiewe ondersteuners van DAHA en teen 1947 het DAHA reeds meer as 250 000 pond ten behoewe van Duitsland ingesamel.
Met die mildelike ondersteuning van die Afrikaners het DAHA letterlik duisende kospakkies, komberse, truie en ander kledingstukke ingesamel vir verspreiding onder die noodlydende Duitse bevolking. DAHA was egter ten spyte van die sterk Afrikanersteun 'n Duitse beweging wat deur Duitssprekende Suid-Afrikaners van stapel laat loop is. Sommige nasionaalgesinde Afrikaners, hoofsaaklik lede van die Ossewag-Brandwag en die Nuwe Orde, het egter gevoel dat daar 'n uitsluitlike Afrikanerhulpaksie in die lewe geroep moes word. Hierdie mense wou die Afrikaners se goeie gesindheid teenoor die Duitse volk sterker beklemtoon. In Pretoria het mev Nellie Liebenberg die leiding geneem om 'n meer bepaalde Afrikanerhulpaksie in die lewe te roep.
Dorothea Petronella Liebenberg, wat in 1912 gebore is, was aktief betrokke by die verskeie vroue-aksies en by DAHA, en het 'n groot bewondering vir die Duitse volk gehad. Sy en haar man was nie slegs vurige lede van Oswald Pirow se Nuwe Orde nie, maar hulle was ook goeie huisvriende van die Pirows. Gedurende die oorlog het die Liebenbergs net na die Duitse Zeesen radiostasie geluister en volgens mev Liebenberg het hulle geen woord van die 'Engels-Joodse propaganda' oor die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie geglo nie. Aan die einde van die oorlog het Zeesen sy luisteraars ingelig oor die wrede behandeling wat die Duitse bevolking van sy invallers (veral die Russe en Pole) ontvang het. Mev Liebenberg het sodoende bewus geword van die nood wat daar in Duitsland geheers het. Haar meegevoel was in die eerste plek met die lot van die duisende verhongerde vroue en weeskinders. Gevolglik het sy besluit dat die Afrikanervrou daadwerklik moes poog om Duitsland te help.
Aan die begin van Julie 1945, twee maande na die beëindiging van die oorlog, het mev Liebenberg en 'n aantal vroue, waaronder Oswald Pirow se dogter en die voorsitster van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) mev S Broers, besluit om van DAHA af te skei en hulle eie Afrikanervrouenoodlenigingsaksie in die lewe te roep. Met hierdie doel voor oë het hulle toe die Vrouenoodlenigingskomitee gestig. Mev Liebenberg en die komitee het dadelik aan die werk gespring en kinderklere gemaak wat hulle aan DAHA oorhandig het vir verspreiding in Duitsland. Die komitee was egter vasberade dat sy bydrae tot die versagting van Duitsland se ellende slegs deur Afrikanervroue gemaak word. Verder moes die Duitsers ingelig word dat hierdie bydrae van Afrikaners afkomstig was. Gevolglik is daar op elke vervaardigde kledingstuk 'n afsonderlike etiket vasgewerk met dié woorde op: "Van die Boerevolk van Suid-Afrika". Mev Liebenberg wou seker maak dat die Duitsers weet dat die Boerevolk hulle ereskuld aan Duitsland vereffen het vir die hulp wat die Boere na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog van Duitsland ontvang het.
Dat die Vrouenoodlenigingskomitee, wat later verskeie takke dwarsdeur die Unie gehad het, 'n bydrae tot die versagting van die Duitse bevolking se ellende gemaak het, is nie te betwyfel nie. Talle Duitse vroue het aan mev Liebenberg en die komitee briewe van bedanking en groot waardering geskryf vir die Afrikanervroue se hulp en bystand. Maar op die keper beskou, was die bydrae van die Vrouenoodlenigingskomitees 'n druppel in die emmer. Mev Liebenberg was deeglik daarvan bewus en daarom het sy aan ander metodes begin dink om Duitsland nog verder te help. Sy het geweet dat daar duisende hawelose Duitse wese was wat 'n troostelose toekoms in weeshuise tegemoet gegaan het. Sy het daaraan begin dink of dit nie dalk doeltreffender sou wees om van daardie weeskinders na Suid-Afrika te bring, en hulle deur Afrikanerpleegouers te laat aanneem en versorg nie. Terselfdertyd sou die immigrasie van Duitse weeskinders die Afrikanergetalle versterk. Daar kan aanvaar word dat mev Liebenberg onder die invloed van die uitsendings van Zeesen en haar lidmaatskap van die Nuwe Orde baie waarde geheg het aan rassesuiwerheid en dat sy gevolglik graag die Afrikanervolk wou versterk met 'n "stewige inspuiting van Ariese bloed."
Wat wel baie seker is, is dat mev Liebenberg beslis van voornemens was om "die room" van Hitler se Herrenvolk na die Unie te bring. Hoe meer sy oor die idee van Duitse kinderimmigrasie nagedink het, des te aantrekliker het sy die hele gedagte gevind. Gevolglik het sy haar plan met 'n goeie huisvriend, dr TEW Schumann, bespreek. Sy het hom vertel dat sy gemeen het dit sou prakties moontlik wees om 5 000 uitgesoekte Duitse wese na die Unie te bring. Schumann het die gedagte eweneens aantreklik gevind. Omdat hy 'n persoon was wat altyd in "groot maat" gedink het, het hy dadelik voorgestel dat 10 000 wesies uitgebring word na Suid-Afrika.
Theodor Eberhardt Werner Schumann (1896 – 1986) was nie slegs deur en deur pro-Duits nie. Hy was van sowel vaders- as moederskant van ou gesiene Duitse sendingfamilies afkomstig. As student in Duitsland is hy ook diep getref deur die Duitsers se sterk pro-Afrikaner sentimente. Oral waar hy gekom het, het hulle met groot bewondering van die "dapper Boerevolk van Paul Kruger" gepraat. Nadat Schumann in 1933 tot direkteur van die Weerburo in Pretoria benoem is, het hy 'n leidende rol in die Afrikaner se politieke en kulturele lewe gespeel. Hy het ook die Afrikanernasionaliste se afkeur jeens alles wat Brits was, gedeel en het sterk in die pro-Duits en pro-Nazi wentelbaan beland.
Vir die Afrikanernasionaliste van die dertiger- en veertigerjare was die versterking van die Afrikanervolk 'n allesoorheersende doelwit. Soos daar reeds in die vorige aflewering aangetoon is, wou leiers soos Hertzog, Van Rensburg, Malan en Verwoerd almal verkieslik die Afrikanergetalle met Duitse bloed versterk. Schumann het dus in Liebenberg se plan van kinder-immigrasie die ideale geleentheid gesien om "volksdiens" te lewer. Dié plan van kinder-immigrasie sou spreekwoordelik "twee vlieë met een hou tref": Die Duitsers se lot sou verlig word, aangesien die versorging van sowat 10 000 monde van hul hande geneem word, en die Afrikaner sou sy gewenste immigrante kry. Die Duitsers en die Afrikaners sou mekaar dus 'n wedersydse weldaad bewys.
Die plan om 10 000 Duitse weeskinders na Suid-Afrika te bring, was voorwaar idealisties. Die vraag het ontstaan hoe daar aan hierdie plan prakties uitvoering gegee kon word. Schumann het die inisiatief geneem en kort na sy gesprek met mev Liebenberg het hy die plan met etlike vriende en kollegas bespreek. Die reaksie was só bemoedigend dat hy besluit het om daarmee voort te gaan. Hy het daarop 'n groep pro-Duitse Afrikaners na sy huis genooi om die plan aan hulle te verduidelik. 'n Vergadering is vir Dinsdagaand 4 September 1945 belê.
Sowat 18 persone het die vergadering bygewoon. Onder die aanwesiges was daar etlike vooraanstaande Afrikaners en Duitssprekendes teenwoordig, soos onder andere mnr JJ Bosman (hoofbestuurder van Volkskasbank), dr AJ Stals ('n Volksraadslid), mnr Schalk J Botha (bekende Pretoriase sakeman en direkteur van Afrikanermaatskappye), en mnr E Schweikerdt ('n kunshandelaar en die verteenwoordiger van DAHA in Pretoria). Nadat 'n voorsitter (AJ Stals) en sekretaris (Schalk J Botha) vir die vergadering gekies is, het Schumann die plan verduidelik om Duitse weeskinders na die Unie te bring.
Ten einde meer gewig aan die gedagte van kinder-immigrasie te verleen, het Schumann ter inleiding die aanwesiges daarop gewys dat die Afrikaners nog 'n uitstaande ereskuld teenoor Duitsland gehad het vir die hulp wat hulle in 1902 ontvang het. Hy was daarvan oortuig dat die vergadering dit met hom eens sou wees dat dit tyd geword het om daardie ereskuld te vereffen. Schumann het egter nooit van die Afrikaners se ereskuld teenoor die ander 'stamlande' melding gemaak nie.
In sy uiteensetting van die beoogde plan het Schumann daarop gewys dat die Afrikaners nie oor die nodige materiële middele beskik om werklik die ellende in Duitsland betekenisvol te verlig nie. Inteendeel, die Afrikaners het oor sulke beperkte middele beskik dat hy selfs huiwerig was om enige aanbod om hulpverlening te maak. Na lang en deeglike oorweging het hy egter tot die gevolgtrekking gekom dat daar wel een wyse van hulpbetoon bestaan het wat waarskynlik die Duitsers se las sou verlig. "Dit is om weeskinders uit Duitsland in te voer en hulle in ons huise as ons eie kinders aan te neem."
Schumann het van die veronderstelling uitgegaan dat dit omtrent 1 000 pond sou kos om 40 kinders vir 'n tydperk van een jaar te versorg. Vir dieselfde bedrag sou 40 kinders van Duitsland na die Unie vervoer kon word en dan was hul verdere versorging permanent van die verarmde Duitse volk se skouers af. Die daadwerklike weldaad wat teenoor Duitsland bewys word, sou sodoende vyf-, selfs tienvoudig verdubbel.
Schumann het drie vereistes vir die uitvoerbaarheid van die skema gestel: Eerstens moes daar 'n fonds gestig en 250 000 pond ingesamel word om die kinders na die Unie te bring. Tweedens moes daar, met die ondersteumning van die pers en ander media, 'n beroep op die Afrikaanse volk gedoen word om tot die fonds by te dra, sodat omtrent 10 000 weeskinders uitgebring kon word, en derdens moes Afrikanergesinne versoek word om die Duitse weeskinders in hul huislike kring op te neem.
Nadat Schumann die doelstellings van die skema verduidelik het, is die aangeleentheid lank en indringend bespreek. In die algemeen was die vergadering die gedagte simpatiek gesind, maar daar was twyfel oor die uitvoerbaarheid. Sou daar vir 10 000 weeskinders geskikte pleegouers gevind word? Sou die nodige fondse gevind kon word? Die optimistiese Schumann het geglo dat duisende aansoeke van voornemende pleegouers sou instroom indien die plan bekend gemaak word. En oor die fondse het hy die vergadering daaraan herinner dat Suid-Afrika 500 miljoen pond kon vind om teen Duitsland oorlog te voer, en daarom behoort dit nie 'n probleem te wees om 250 000 pond vir noodlenigingswerk te vind nie.
Die vergadering wou ook weet of die geallieerdes Suid-Afrika sou toelaat om die kinders te gaan haal. Boonop het hulle getwyfel of die Smuts-bewind sou toelaat dat Duitse kinders na die Unie gebring word. Die Afrikaners was deeglik bewus daarvan dat die Verenigde Party van genl Smuts (veral die Engelssprekendes en die Jode) Duitsland allesbehalwe goedgesind was. Schumann was verplig om ter erken dat daar op daardie tydstip geen vooruitsig was dat die geallieerdes sou toelaat dat weeskinders uit die besette Duitsland geneem word nie. Hy het ook getwyfel of die regering sy toestemming aan Duitse kinder-immigrasie sou gee.
In die volgende aflewering : watter stappe gevolg is om die skema in werking te stel.