Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons kry almal 'n laaste geleentheid om na God terug te draai; besef ons die noodsaak daarvan? Jesus het sy twaalf dissipels uitgestuur met die bevel om in verskeie stede en dorpe te gaan preek om die afgedwaaldes te bekeer; maar as die mense nie na hulle wou luister nie, moes hulle uit daardie huis of daardie dorp uitgaan en die stof van hulle voete afskud; en dán, het Jesus gesê, sal dit vir daardie stad in die oordeelsdag baie erger wees as wat Sodom en Gemorra deurgegaan het.
POLITIEKE SLUIPMOORDE IN SUID-AFRIKA (2)
Lees reeks by Politieke sluipmoorde in SA
PW SE 'AGENTE' WORD MET DIE RIETBOK –VLIEGTUIG NA HUL GRAF GESTUUR
"Die Mechanic was dadelik beskikbaar alhoewel sy fooi verdubbel het sedert hy tien jaar gelede 'n soortgelyke diens naby Terrace-baai in die destydse Suidwes gelewer het..."
Ná die moord op dr HF Verwoerd was twee ministers kandidate om Suid-Afrika se volgende eerste minister te word: die Minister van Justisie, John Vorster, en die Minister van Vervoer, Ben Schoeman. Van die begin van die kort veldtog ná dr Verwoerd se dood het Van den Bergh, Suid-Afrika se veiligheidshoof, sy agente in die media en die tegnologie tot sy beskikking gebruik om Vorster een tree voor sy teenstanders te hou. Die polisieman het goeie redes gehad...
In die veldtog voor die premiersverkiesing het die lys telefoonlyne wat deur Van den Bergh se "tegniese afdeling" afgeluister is, aansienlik gegroei. Een van die toevoegings was die lyn na PW Botha, Minister van Verdediging, se huis. Ná Vorster se verkiesing het Van den Bergh besluit om met die "dienste" voort te gaan. Op 'n dag het sy tegniese direkteur by sy kantoor opgedaag en "iets belangriks" aan hom voorgespeel. Dit was die derde gesprek wat sy aandag getrek het:
"Naand", antwoord PW se stem.
"Goeienaand mnr Botha, gaan dit goed?"
"Dit gaan goed met almal dankie." Die man het dadelik tot die punt gekom:
"Toe ek gister in Kaapstad was, het ek 'n paar navrae gedoen. Die Griek het 'n baie diverse geskiedenis."
Botha het geweet die oproeper verwys na Tsafendas. Die Minister van Verdediging wou nie so 'n sensitiewe saak oor die telefoon bespreek nie.
"Ek dink nie dit is die regte medium nie," het hy gesê.
Die oproeper het hom nie aan die waarskuwing gesteur nie.
"Daar is geen rekord van sy bewegings ses dae voor die moord nie."
"Nie nou nie, Johannes, dit is regtig onvanpas," het Botha streng gesê.
"Natuurlik. Ek het net gedink ek sal dit met u deel. Ek verwag 'n besoeker van oorsee wat van groot hulp sal wees. So gou ek al die feite het, sal ons u in Pretoria besoek."
"Dis goed, wees net versigtig," het Botha gesê.
Van den Bergh het 'stop' gedruk en die kasset uitgehaal. Hierdie Johannes, wie hy ookal was. het geklink of hy seker is hy het belangrike inligting. Dit was noodsaaklik dat die geheimsinnige Johannes geïdentifiseer word. Van den Bergh het die telefoon opgetel en 'n opdrag gegee:
"Ek verstaan," het die agent gesê.
Die volgende middag was daar 'n klop aan die deur van 'n huis in Devonstraat, Woodstock. Die eienares, Alice Theyser, het die deur oopgemaak.
Die man het gevra of enigiemand onlangs navrae daar gedoen het oor Tsafendas. Sy het bevestigend geantwoord, dat die persoon min of meer dieselfde vrae as die polisie gevra het oor die kamer wat sy aan Tsafendas verhuur het. Hy het datums gevra en sy het hom gesê dit was van 7 Julie tot 31 Augustus. Ook dat Tsafendas nie sy volgende adres vir haar gegee het nie.
Die man het gevra of dit 'n speurder was waarop sy geantwoord het: "Nee, maar ek het 'n visitekaartjie van hom, sien, hy is van 'n universiteit," en die kaartjie vir die man gegee wat ook wou weet of daar nog spesifieke vrae gevra is, waarop Alice geantwoord het:
"Hy wou weet wie die deposito en die huur van die kamer aan my betaal het. Ek het gesê 'n vreemdeling het twee maande se huur vooruit betaal. Hy het die kwitansie gevra en gesien dis uitgemaak in die naam van meneer Tsafendas. Hy wou die naam hê van die persoon wat betaal het en tot my verleentheid moes ek erken ek het nooit daarna gevra nie."
In Pretoria het Van den Bergh dadelik die telefoon beantwoord toe dit lui:
"Ons vriend is professor Johannes Bruwer van die Universiteit van Port Elizabeth."
Van den Bergh het geswets want hy het geweet Bruwer was die vise-rektor, 'n gerespekteerde waarnemende voorsitter van die Broederbond, en het bande met die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) gehad. Hy het openlik sy afkeer in die land se apartheidstelsel te kenne gegee, nogtans was hy met dr Verwoerd bevriend. Wat as hy 'n afskrif gehad het van die toespraak wat in dr Verwoerd se "vermiste" aktetas was?
Twee dinge moes so gou moontlik vasgestel word: die identiteit van Bruwer se geheime besoeker uit die buiteland en die datum waarop hy van plan was om PW in Pretoria te besoek. Die volgende paar dae sou van kritieke belang wees om dr Verwoerd se moord versluier te hou. Tyd was net so belangrik. Die lang man het floreer op uitdagings maar, soos in skaak, kon een verkeerde skuif 'n ramp beteken. Die oorwinning aan die einde het natuurlik vir al die spanning langs die pad vergoed. Van den Bergh het 'n oproep na sy kantoor in Port Elizabeth gemaak en Bruwer se telefoonnommers verskaf. Die volgende twee dae het beloof baie interessant te wees.
Die verwagte oproep uit Port Elizabeth kon nie gou genoeg kom nie. Die jong polisieman het vertel 'n vrou met 'n duidelik Amerikaanse aksent het die professor by sy huis gebel. Sy het gesê wanneer sy in die kusstad sou aankom, maar nie haar naam genoem nie.
Binne 'n uur is die nommer van die buitelandse oproep neergeskryf en twee oproepe later het Van den Bergh geweet dat die New Yorkse private maatskappy alles behalwe privaat was. Hy het weer 'n nommer geskakel:
"Ja!" het die gewone kortaf antwoord gekom.
"Kry die Mechanic in die hande. Ons het sy dienste nodig," het Van den Bergh gesê.
Voordat besoekers op die lughawe Jan Smuts in Johannesburg geland het, moes hulle 'n doeanevorm invul. Van den Bergh het mej Audrey Rosenthal van Amerika se voltooide vorm in sy kantoor ontvang, Sy het haar huisadres as Kalifornieë aangegee en haar beroep as doktor in die filisofie. Die rede vir haar besoek was 'n "inligtingstoer."
Dié CIA-agent het geskryf dat sy ses weke in Suid-Afrika sou wees. Ná haar aankoms op Jan Smuts het sy die eerste beskikbare vlug na Port Elizabeth gehaal. Gedagtig aan Bruwer se liberale houding en sy verbintenis met die IMF, was dit baie moontlik dat die CIA die kans sou aangryp om sy dienste te verkry.
Van den Bergh het oor Rosenthal se reisplan gedink. In die spioenasiewêreld het 'n mens altyd by sekere grondreëls gehou – 'n agent het nooit reguit na sy ware bestemming gevlieg wanneer hy in 'n vreemde land aankom nie. Enigeen wat die pragtige Suid-Afrika besoek vir 'n inligtingstoer sou die toer in Pretoria of die skone Kaaptad begin het. Rosenthal, wat as 'n ANC-simpatiseerder gereis het, het die winderige stad Port Elizabeth gekies. Dalk het die dringendheid van haar besoek haar die goue reëls laat verbreek. Maar dit was geen verskoning nie, en die gesoute Van den Bergh was diep teleurgesteld.
Hy was darem heel ingenome met die volgende nuus wat hy ontvang het: die Mechanic was dadelik beskikbaar alhoewel sy fooi verdubbel het sedert hy tien jaar gelede 'n soortgelyke diens naby Terrace-baai in die destydse Suidwes gelewer het...
Die polisie in Port Elizabeth het opdrag gekry om uiters versigtig te wees. Hul teenstander sou goed opgelei wees in spioenasie en teenspioenasie. Hulle moes dus liewer op Bruwer as op die CIA-agent konsentreer. Die volgende paar dae het goeie resultate gelewer. Die twee het afsonderlike, maar enerse reisreëlings getref. Op 13 Maart 1967 is Audrey Rosenthal gevolg terwyl sy haar weg gebaan het na Court Chambers, 'n gebou in die voorstad Noordeinde. Soos altyd het sy haar ligbruin aktetas gedra. Sy het die gebou saam met Jimmy Matyu, 'n welbekende aktivis, verlaat. Hulle het geloop asof die strate van die stad aan hulle behoort, tot irritasie van die konserwatiewe wit agente. Later die middag het sy 'n huurmotor na die lughawe gehaal. Die twee polisisemanne wat Bruwer van sy huis af gevolg het, het hulle kollegas by die lughawe raakgeloop.
Op die laaiblad was daar niks buitengewoons aan die tegnikus wat na die geparkeerde Vickers Viscount-vliegtuig gestap het nie. Hy het die onderstel van die Rietbok professioneel ondersoek. Die vliegtuig sou onderweg na Johannesburg in Oos-Londen land. Die 'tegnikus' het rustig en selfversekerd sy werk gedoen. Hy was net klaar toe die passasiers aan boord begin stap. Net toe die son oor die see begin sak, het die Rietbok opgestyg, met twintig passasiers, twee van hulle, 'n man en 'n vrou wat ver van mekaar af gesit het, en vyf bemanningslede aan boord. In die vertreksaal en selfs aan boord van die vliegtuig het die twee oogkontak vermy. Niemand sou kon raai hul gesamentlike eindbestemming was die kantoor van PW Botha in Pretoria nie.
Die Rietbok was eens die persoonlike vliegtuig van Fidel Castro, die Kubaanse leier. Deur die jare het die Russiese aanjaer-brandstof die turbine-lemme gevreet en hulle is nooit vervang ná die Suid-Afrikaanse Lugdiens die vliegtuig gekoop het nie. Dit was 'n nuttige feit wat gebruik kon word in een van die baie teorieë wat Van den Bergh uitgedink het. In die spioenasiewêreld was sulke geloofwaardighede noodsaaklik, en hierdie een het perfek in Van den Bergh se plan gepas.
Dit was 'n stormagtige nag en die see by Kaysersbaai naby Oos-Londen was rof. Twee inwoners van die dooierige vakansiestad het 'n ontploffing oor die see gehoor. Hulle het net betyds opgekyk om te sien hoe 'n vliegtuig in die see neerstort. Die volgende oggend het die radio die nuus van die Rietbok se tragiese einde die wêreld ingestuur. Dit is nie verwag dat daar oorlewendes sou wees nie. Onder die name van die slagoffers was dié van huweliksmaats, enkellopendes, 'n professor, en 'n toeris uit Amerika – 'n doodgewone groep mense wat dit ongelukkig getref het.
In die daaropvolgende dae is die twee ooggetuies, Phyllis Rowland en Ethel Hammond, oorval met oproepe om hul weergawe van die gebeure te gee. Die vloot het 'n mynveër gestuur om die wrak te soek. Soos altyd was daar baie bespiegelinge in die pers. Een gerug was dat die polisie na 'n geheimsinnige bruin aktetas van een van die passasiers gesoek het. Die feit dat die polisie die publiek van die strand weggehou het, het tot die intrige bygedra en samesweringsteorieë aangehelp. Donald Card, die legendariese Oos-Londense veiligheidspolisieman en goeie vriend van Donald Woods, het veral sy eie teorie gehad.
'n Vryskutjoernalis met mooi kurwes, het op die SAS Johannesburg die Oos-Londense hawe binnegevaar. Sy het maklik 'n bron van inligting gekry: 'n duiker het met smaak vertel hoe die wrak van die Rietbok gevind is. 'n Buite-maatskappy het die seebodem vir die vloot gefynkam en videomateriaal wat na die skip teruggesein is, het gewys waar die Rietbok op die bodem lê. Dit was voor en agter struktureel beskadig en albei die vlerke was afgeskeur, waarskynlik weens die impak van die ongeluk. Die meeste van die passasiers was nog in hul sitplekke vasgegespe.
"Alles wat ek jou nou vertel het, is geklassifiseerde inligting," het die duiker gou bygevoeg.
"Wil jy sê niks hiervan is bekend gemaak nie?"
"Ons is opdrag gegee om nie 'n woord te rep nie," het die duiker gesê, maar net daar het sy hoop op 'n aangename aandjie saam met 'n beeldskone vrou soos mis voor die son verdwyn, want sy het haar notaboek gegryp, geen gras onder haar voete laat groei nie en die storie verkoop. Die duiker is verplaas en verbied om ooit weer 'n woord oor die Rietbok te praat.
Gerugte het die rondte gedoen dat 'n senior ANC-lid aan boord was. Later is gesê die enigste prominente persoon op die vliegtuig was die waarnemende voorsitter van die Broederbond, 'n professor aan die UPE. Die owerhede het nadruklik ontken dat die wrak gevind is. Mettertyd het die samesweringsteorieë vervaag.
'n Verslaggewer het vasgestel dat ofskoon die SAL net gesinne van slagoffers vergoed wanneer nalatigheid aan die kant van die lugdiens bewys is, die redery in die geval van die Rietbok 'n uitsondering gemaak het. Maande later het 'n senior direkteur teensinnig aan dieselfde verslaggewer toegegee dat die Rietbok-leêr geheimsinnig uit die kantore van die SAL verdwyn het.
Twee onverwagte besoekers het by Van den Bergh se kantoor opgedaag. Mnr en mev Rosenthal, 'n Amerikaanse egpaar is gevra om te sit. Dit was duidelik dat die twee deur 'n paar moeilike dae is.
"Ons sal dadelik tot die punt kom. Ons dogter, Audrey, was aan boord van die Rietbok. Sy het vir die CIA gewerk," het mnr Rosenthal gesê.
"Die CIA is nie juis behulpsaam nie, haar besoek was glo geklassifiseer en hulle wil geen besonderhede gee nie. U moes tog geweet het sy was in die land."
Van den Bergh het na die gebroke ouers gekyk sonder die geringste emosie. Hy het absoluut geen simpatie met die CIA gehad nie.
Van den Bergh was gereed met sy antwoord:
"Buitelandse agentskappe lig ons nie in wanneer hulle mense vir sake in en uit ons land sluip nie. Dit is jammer dat u my nie vroeër kom besoek het nie," met sy hand op die deurhandvatsel.
"Sou dit verskil gemaak het?" het mev Rosenthal gevra?
"Dit sal ons nooit weet nie. Ek het nog baie belangrike werk op my lessenaar," sê Van den Bergh terwyl hy die deur vir die egpaar oopmaak.
Daardie aand skryf Van den Bergh sy gebruiklike inskrywing in sy dagboek:
13 Maart 1967 Johannes Bruwer RI Lugramp
Audrey Rosenthal RI Lugramp
BRON: DIE LANG GENERAAL deur Alan D Elsdon.