Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoewel 'n mens in gebed enigiets van God kan vra, benadruk Johannes in 1 Joh 5 dat diegene wat iets in ooreenstemming met God se wil vra, daarop kan reken dat God dit wil en sal gee. Gebed is nie 'n manier om God se gedagtes te verander (en Hom dus te manipuleer om jou wense uit te voer) nie. Om volgens God se wil te bid is ook nie 'n towerformule om te kry wat jy wil hê nie. Gebed is juis om jóú planne en ideale in ooreenstemming te bring met God s'n.
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Jasmyn
{Jasminum - Fam. Oleaceae)
'n Katdoringkrans,
Met die klein, wit sterre van wilde-jasmyn daarin - vyfpuntige sterre vergeur met die ruik van die vlei,
Met die lewe wat sonskyn gee en die krag wat die lewe win,
Gevleg in 'n krans albei.
Grysgroen katdoring,
En waswit, wyd-ope blomme van wildejasmyn; en die son, wat vir altwee gegee het sy groen en sy wit,
Val op die grys in die doodkis wat nou al verdwyn.
En die groen wat die dood besit.
(C Louis Leipoldt)
Soos die poësie van die Afrikaanse natuurdigter, Leipoldt, is die Hooglied van Salomo ook deurdrenk van blomgeure... hennablomme en mirre, lelies en affodille, nardusparfuum en kalmoes, wingerdgeure en lekkerruik-kruie. Die verse is deurspek van lente en liefde. En wie liefhet, sweef, hardloop, is bly en voel vry soos die geur van 'n blom op die aandwind. "Daar is bloeisels in die veld, dit het tyd geword om te sing" (Hooglied 2: 2).
Geur van kaneelbos en wilde-jasmyn
Melati en lotoslelie;
Kleur van saffiere, smarag en robyn -
En alles vir jou, o Seli!
(C Louis Leipoldt)
As daar 'n lenteblom is wat in een asem hiermee genoem kan word, dan is dit die bekende jasmyn, Jasminum poly-anthum. Min geure is so subtiel sonder om te soet te wees. Vroeg in die lente kom die geur sag en talmend op die wind aan - onmiskenbaar heerlik. En almal weet: die winter gaan verby, daar is nuwe groei.
Die jasmyn is sinoniem met vriendelikheid, minsaamheid, aanvalligheid en beminlikheid. Hulle stort oor heinings en mure... trosse klein tuitjies wat wit uit die pienk knoppies aan die punte van elke fyn rankie oopgaan.
Die jasmyn is inheems in die warmer dele van die ou wêreld. Jasminum offlcinahs van Noord-Indië en Persië word gebruik om parfuum mee te maak. In die Franse dorp Grasse word landerye vol jasmyn en laventel gekweek om van die wêreld se beroemdste geure vir parfuum te verskaf.
Daar bestaan sowat 200 spesies jasmyn. Die gewone geel jasmyn, Jasminum fruticans van Suid-Europa en die Mediterreense streek is immergroen met reuklose blomme. Die Jasminum nudiflorum of winterjasmyn is inheems in Sjina en dra ook geel blomme in die winter en lente voor die blare uitkom. Daar is heelwat struik- en rankjasmyn in die olyffamilie. In Suid-Afrika is tien inheemse jasmynsoorte. Die wilde jasmyn, Jasminum multipartitum, is die aanskoulikste van almal. Die immergroen struik met die groot, geurige blomsterre groei op die koppies en in die bosse van Oos-Kaapland, Natal en dele van Oos-Transvaal. Dit word meer en meer in tuine geplant pleks van die uitheemse Asiatiese soorte.
Die meisie in jasmyn is fyn, tenger en vroulik. Nie robuus en stewig nie, maar afhanklik en weerloos in die groot lewe. Sy ontvang opleiding om haarself te onderhou, maar dit duur net totdat 'n ridder opdaag wat haar vasvat en meevoer, met haar trou, haar versorg en haar geniet. Sy blom oordadig onder sy versorging en liefde. En sy is lief om te sing. Die soet klank vloei nie net oor haar lippe nie, maar spreek uit haar oë en gelaat. As jong moeder vleg sy in die lente blomkransies vir die dogtertjies se hare en speel saam ringspeletjies op die gras.
"Ek gaan eendag met Mamma trou," lispel haar kleuterseuntjie.
Die jasmynvrou aard nogal goed in die verpleegberoep en is gewild onder die pasiënte. Sy het veral 'n slag met jongmense en kinders. Maar sy trou vroeg en begin met 'n gesin. Tussendeur hou sy as byverdienste partytjies waar kosmetiek, huislinne, onderklere en wat nie alles nie, verkoop word. Sy bêre seep met 'n fyn geur in laaie en kaste sodat alles daarin vars en skoon ruik. Dit verdryf ook die motte, glo sy.
Sy verstaan die kuns om besoekers te onthaal en bedryf soms 'n ouwêreldse plattelandse gastehuis vol antieke meubels en met koperkatels in die kamers. En wanneer dit 'n vakansieplaas is, vind die tam stedeling daar 'n paradys van stilte en afsondering. Die plaasontbyt is 'n feesmaal met spanspek en waatlemoen vars van die landerye, met skaaplewer in netvet of suursous en lamskotelette, met varswatervis uit die rivier of dam en roereiers van die werfhoenders, met vars brood en snippers perskekonfyt. Maar op 'n dag mag die kombuis gesluit wees met die bekende kennisgewing daarop: "Kitchen closed because of illness -I am sick of cooking." Want ook sy het haar blomtyd en haar aftyd.
Die jasmyn se huis en tuin is nie klinies netjies nie, maar weerspieël informeel die gesin se aktiwiteite en voorliefdes. Hulle is 'n hegte eenheid wat in mekaar opgaan, kreatief leef en beleef. Word die kinders groter en later volwasse, is daar 'n waterdigte lojaliteit teenoor mekaar en word verskille tuis besleg en uitgepraat. Die jasmynmoeder bly 'n maat en raadgewer, selfs vir haar groot kinders. Hulle leer van haar dat "reukolie en wierook iets is om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry" (Spreuke 27: 9).