Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie; want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het – Prediker 7:21-22
AFRIKAANS IN DIE KERK
Johan Dorfling
'n Wonderwerk het gebeur; die ontstaan van 'n afsonderlike selfstandige taal, naamlik Afrikaans. Die ganse Afrikanervolk het gesamentlik deelgeneem aan 'n beweging om Afrikaans in 'n betreklike kort tydperk te vestig. Taal hou regstreeks verband met geloof, kultuur en denke van die gebruikers wat dieselfde betekenis en begrip aan die woorde en volksuitdrukkings gee. Afrikaans spreek die siel aan.
In 1933 is 'n belangrike mylpaal bereik toe die Bybel in Afrikaans beskikbaar gestel is. Oor etlike jare is met groot toewyding laatnagte aan die Bybelvertaling gewerk. Totius het verklaar dat die vertaling suiwer gedoen moes word sonder om 'n Hebreeuse of Griekse woord in te bring. Die Bybel moet "duidelik" en "verstaanbaar" wees. Hy het 'n Afrikaanse Bybeltaal geskep. Afrikaans as kerktaal is nie alleen 'n kultuursaak nie, maar ook verstaanbare evangelieverkondiging aan Afrikaanssprekendes.
1 Kor 14:9 – Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal 'n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat. Vers 11 – As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker 'n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my 'n vreemdeling wees.
Hand 2:6 en verder – En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; (met ander woorde, die evangelie in verstaanbare taal).
Daar word algemeen aanvaar dat die doel van die Bybelvertaling was om 'n goed verstaanbare, bronteksgetroue Afrikaanse vertaling van die Bybel te skep wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.
'n Taal moet so vry as moontlik van vreemde woorde en idiome gebruik word ten einde vermenging en uiteindelike verdwyning te bekamp. Volksuitdrukkings, kultuur en die geskiedenis raak verwaarloos en godsdiensbewustheid verflou. Dit is waarom teoloë in verstaanbare Afrikaans met lidmate moet praat en skryf. Dikwels gebruik hulle 'n taal wat uit Romaans of Latyn voortvloei en nie uit Afrikaans se werklike oorsprong nie, naamlik Diets. Baie Romaanse woorde is onbekend aan lidmate omdat dit nie gewone gebruiks-Afrikaans is nie.
Dit het nie net betrekking op die taalgebruik in kerktydskrifte en ander geskrifte soos afkondigings nie. Dikwels gebeur dit dat 'n predikant bepaalde skrifgedeeltes waaroor hy preek, so met Griekse en Latynse verwysings verduidelik dat hy sy hoorders se aandag verloor. Waarom het ons 'n uitstekende Afrikaanse vertaling van die Bybel as 'n predikant terugval op verduidelikings van vreemde woorde? Is die Afrikaanse Bybel dan onbetroubaar?
Hoogdrawende taal wat sommige teoloë besig, het 'n nadelige uitwerking op kerkbywoning. Ongelukkig praat lidmate net onder mekaar daaroor en wil dit selfs nie aan kerkraadslede noem nie omdat hulle enersyds nie met die predikant in botsing wil wees nie en andersyds nie aanstoot wil gee nie.
Twee vrae kom na vore:
- Verwag teoloë dat lidmate (vir hulle) vreemde woordgebruik moet begryp?
2.Kan teoloë 'n lidmaat kwalik neem as hy/sy liewer tuisbly en die Bybel lees as om nog te probeer om die afkondigings te begryp wanneer die erediens reeds verby is?
Daar word aangevoer dat die gebruik van vreemdsoortige woorde Afrikaans sogenaamd verryk, maar die teendeel is waar. Hoe meer daar van Romaanse woorde gebruik gemaak word, hoe minder word Dietse woorde gebruik wat beteken dat dit later in onbruik verval en as verouderd beskou word. Daardeur verloor Afrikaans sy Dietse inslag. Wat het onder meer van die Iere en Skotte se tale geword namate hulle meer Engelse woorde bygebring het? Dit is 'n wesenlike gevaar en nie taalontwikkeling nie.
Dat die kerk die liggaam van Christus is, beteken dat goeie gebruiks-Afrikaans die geloof meer verstaanbaar maak. Goedkeuring (approbasie), getuigskrif (attestaat), aflos-leraar (konsulent), losmaking (demissie), besoek (visitasie), rustend (emeritus), hersiening (revisie) en nog talle ander goeie Afrikaanse woorde is immers baie makliker verstaanbaar vir lidmate. Sommige teoloë en ander mense probeer onderskeid tref tussen byvoorbeeld ekumenies en algemeen of gesamentlik of verenig. Die onderskeidings is meestal eie persoonlike denke en nie geregverdig nie.
Verduidelikings dat kerktaal anders as gebruiks-Afrikaans is omdat die kerk anders is, gaan nie op nie. Om byvoorbeeld op kerklike gebied onderskeid te tref tussen amendement en wysiging, en tussen ander voorbeelde wat in die voorafgaande paragraaf genoem is, is werklik harekloof. Slegs die persoon wat dit probeer toelig en enkele ander begryp wat hulle probeer bereik.
Sekere woorde het deur die jare beslag gekry in die kerklike taal en 'n bepaalde kerklike betekenis word nou daaraan geheg. Byvoorbeeld, attestaat word beskryf as meer as 'n blote getuigskrif. Dit is ook die bevestiging dat iemand 'n ingeskrewe, belydende lidmaat van 'n gemeente is of was en dan kom die getuienis van goeie gedrag daarby. Nee wat, dit is kunsmatig en behoort reggestel te word. Om voorbeelde soos baard (beard), been (bone), bloed (blood), brood (bread), groot (great) en letter (letter) as vergelykbaar voor te hou, is heeltemal onvanpas.
Dat Engels en Afrikaans en ook ander tale eeue gelede uit Germaans ontwikkel het, beteken dat elk van hierdie tale sy eie weg ingeslaan het. Om hierdie tale nou, as gevolg van 'n soortgelyke oorsprong nader aan mekaar te probeer trek, is om die eiesoortige ontwikkeling kunsmatig te probeer omkeer. Waarom word slagspreuke soos "Sola Fide", "Sola Scriptura", "Sola Gratia" en ander in 'n vreemde taal voorgehou as alleen Geloof, alleen die Bybel en alleen Genade meer betekenisvol vir Afrikaanssprekendes is?
Die evangelie word nie deur moeilike vreemde woorde uitgedra nie, maar deur verstaanbare woorde. Eenvoudige woorde het 'n veel groter trefkrag, spreek duideliker en het 'n dieper betekenis as wat hoogdrawende sprekers daaraan koppel. Afrikaans is 'n pragtig beskrywende diep taal in eie reg en ons mense se trots. Was die stryd van die taalbewegings om Afrikaans se aanvaarding tevergeefs? Waarom het Martin Luther die Bybel in Duits vertaal en waarom is die Bybel in gemaklike Afrikaans vertaal? Romaanse en Latynse woorde en uitdrukkings is net vir die wat kennis daarvan het.
Evangelieverkondiging is belangriker as gekunstelde taalgebruik. Dit kan maklik getoets word deur lidmate, oud en jonk, te vra wat hulle verstaan onder woorde soos Middelaar, erfsonde, soenverdienste, sondebok, Verlosser, gereformeerd, apokrief, kerstening, verbond en maagd (soos in tien maagde). Vra aan hulle algemene kennisvrae wat alle Christene behoort te ken. As min lidmate hierdie begrippe ken, hoeveel minder sal hulle weet wat pluriformiteit, liturgies, ecclesia, katoliek, kuratorium, sinkretisme en predestinasie beteken?
Myns insiens is teoloë se eerste plig die uitdra van die evangelie deur die gebruik van eenvoudige diepsinnige woorde soos in die paragraaf hiervoor uitgewys. Dit is die wese van die evangelie. Die eenvoudige Bybeltaal het ontsaglik baie tot Afrikaans bygedra, omdat dit 'n baie ryk ervaringswêreld is wat besonder heg ingeskakel het in die kulturele verband waarbinne Afrikaans gebruik word. Die uitdrukking onoorbrugbare kloof kom uit Lukas 16:26, waarin die gelykenis vertel word van die ryk man wat in die hiernamaals deur 'n kloof van Lasarus geskei word.
Volgens prof Fritz Ponelis kom uitdrukkings soos die volgende almal uit die Bybel: berge versit, jou dae is getel, soos 'n dief in die nag, 'n doring in die oog, op die hande dra, met hart en siel, jou hart uitstort, hemel en aarde beweeg, tot hiertoe en nie verder nie, in die land van die lewendes.