Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Intelligente mens wat sy waarde ken, is altyd beskeie want hy hoef nie dekking te soek vir iets in homself nie. Daarby plaas nederigheid 'n mens ver buite bereik van die satan.
AGTERGEBLEWENE
Johan Dorfling
Dikwels word die begrip agtergeblewene verkeerdelik aan die politiek gekoppel, want dit is nie die volle betekenis van die begrip nie. Agtergeblewene het betrekking op die landbou, ekonomie, onderskeie vertakkings van die wetenskap, meganika, onderwys, administrasie (bestuur) en enige ander vakgebied, insluitend politiek. Dit kom nooit in afsondering voor nie omdat agterbly oorkoepelend in iemand se lewe staan. In Suid-Afrika word agtergeblewenes om goeie redes wel met sommige swartes verbind, hoewel met wanbegrip. Sommige blankes is ook agtergeblewenes.
Agtergeblewene dui op iemand wat agtergebly of agtergeraak het by ontwikkeling. Die volwassene het nie doeltreffend bygebly of self voortgebou nie. Wat sy kinders betref, het hy ook nie sorg gedra dat hulle voldoende ontwikkel het deur hulle self in sekere opsigte tuis van hulle kultuur bewus te maak nie (soos in taal, maniere en dissipline). Dit gaan maar altyd so dat ontwikkeling op alle gebiede van die lewe voortdurend plaasvind wat meebring dat die ouers hulle kinders moet aanmoedig om skool toe te gaan tot sover as wat hulle kan. Die ouers is per slot van sake vir hulle kinders se welsyn en opvoeding verantwoordelik.
Natuurlik beteken dit ook dat die ouers die kinders moet aanmoedig om skole by te woon, om die klaskamers en geboue in stand te hou en sportvelde aan te lê sodat die kinders daardeur kan leer watter voordele daar vir hulle eie gerief en ontspanning is. Insameling van fondse om instrumente, boeke vir die biblioteek en ander hulpmiddels aan te koop, of skenkings te probeer verkry, is noodsaaklik. Gemeenskappe wat so te werk gaan, maak vordering in selfontwikkeling en presteer akademies beter en ook op sportvlak. Dit is die skole wat aansien verwerf, waarvan die leerlinge vooraanstaande posisies in hulle samelewing bereik en daarop voortbou. Die leerlinge ervaar die genoegdoening dat hulle wetenskap kan beoefen, interessante en leersame boeke kan lees en gehelp het om die mooi sportvelde met gras te beplant.
Leerlinge wat eerder niks doen nie en steen en been kla, is die kinders wat agterbly en dikwels die skole afbrand. Hulle wil agtergeblewenes wees en afbreek. Agtergeblewenheid is 'n keuse, ongeag die omstandighede. Dit het niks met volkeienskappe of velkleur te doen nie. Om velkleur as 'n verskoning te gebruik, is bloot agterklappery omdat geen fout gevind kan word nie. Rasverskille was en is nie ter sprake nie.
Genoeg van die kinders omdat die klem op die ouers moet val. Hulle is tuis die onderwysers vir hulle kinders en moet die voorbeeld stel. Een voorbeeld wat 'n onderwyseres aan my vertel het, toon watter sukses 'n ouer kan behaal. Een oueraand het die graad 6 dogter se ouers by die skool opgedaag en verneem of daar probleme is, want die dogter presteer nie na wense nie. Sy was bietjie ouer as haar klasmaats. Versigtig en diplomaties vertel die juffrou dat dit goed gaan, maar die kind gee nie altyd aandag nie. Sy is geneig om opmerkings te maak wanneer sy na die juffrou moet luister of self klaswerk moet doen.
Die ouers het niks verder gesê nie, maar die volgende oggend het die ma saam skool toe gekom en langs die dogter gaan sit. Elke keer dat die dogter ongevraagde opmerkings gemaak het, het die ma haar skerp berispe. Dit was die laaste. "Juffrou moet asseblief sê wanneer my dogter haar weer wangedra." Daardie kind het tot in matriek nooit weer probleme gegee nie en goed geslaag. Tans is sy op universiteit.
Volwassenes ‒ selfontwikkeling is om stappe te doen om jouself te verbeter, soos die aanleer van nuwe vaardighede en die afskud van slegte gewoontes. Allerhande wetenskaplike en sielkundige besprekings word dikwels in moeilik verstaanbare hoogdrawende taal oorgedra, terwyl die kern van sake in die eenvoud daarvan lê. Eenvoudig ‒ maak gebruik van wat tot jou beskikking is, stel jou eie doelwit en werp jou eie skuldige gevoel af sodat jy vordering kan maak.
Moenie iemand anders verwyt as jy na jou sin nie genoegsaam ontwikkel het nie. Moenie dink die wêreld of iemand anders skuld jou iets as jy ongelukkig voel nie. Maak jouself gelukkig deur te presteer in plaas daarvan om jouself te bejammer. Moenie dink jy is verkul en dit gebruik as verskoning om bitter te wees nie. Dit bring jou nêrens. Jy kan weeklaag of daadwerklik iets doen. Daar is ander wat baie slegter af is of was as jy, maar hulle het vasgebyt en presteer. Dit is nooit te laat om te studeer nie, of om jou omstandighede te verbeter deur beter gehalte werk te lewer. Al is dit om jou kinders te help om te doen en nie agteroor te sit en kerm nie.
Diegene wat teen jou is, hou daarvan as jy ander beskuldig of jouself bejammer, want dan is jy 'n swakkeling. Jy bestee hopeloos te veel tyd om verskonings te soek en mors kosbare tyd vir vooruitgang. Woordvoerders wat aanhoudend aanvoer dat hulle en hulle kinders agtergeblewenes is, beledig hulself. Komaan, daar was nog altyd skole vir almal om hulle te help en dit is bewys deurdat sommige predikante, mediese dokters, prokureurs, onderwysers en ander beroepslui, as kinders uit onderdorpe, hulself gekwalifiseer het.
Jy hoef nie so hoog te vlieg nie. Wat van 'n tuintjie te maak, jou huis netjies en skoon te hou, of enige ander belangstelling te volg. Sommige vleg mandjies of maak draadkarretjies of brei of bak koekies of loop aandklasse. Jou kanse is volop op jou vlak. Koeranteverkoop het 'n hele paar kinders gehelp om vir universiteitsklasse te betaal. So kan jy die hoogste sporte bereik of jou kinders help om daar te kom.
Hierdie is geskryf om wit en swart aan te moedig om hulself te help en nie agtergeblewenes te wees nie. In alle volke is daar rykes en armes. Armes kan hulself opwerk ongeag hulle omstandighede. Verskonings is doelloos.