Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ware skoonheid sal jy eers kan raaksien wanneer dit reeds in jou hart is...
'N LEESLUSTELOSE VOLK
OU KRIEWELKOP
Ons praat oor leeslus, en die aankweek daarvan, en oor opleiding, want hoe sal 'n mens lees as hy nie geleer het om te lees nie? En ons praat oor geleentheid, want hoe sal 'n mens lees as hy nie boeke in die hande kry nie? Maar as die allereerste voorvereiste moet daar leesbare leesstof wees, en dat dié taak om diegene wat nie lees nie aan die lees te kry, in die eerste plek op die skrywers rus is nie betwisbaar nie. Met ander woorde, nie alleen kan jy nie lesers hê as jy nie skrywers het nie, maar jy sal nie lesers hê as jy nie vir hulle skrywers het nie. Om dan te praat oor hoe ons vir meer lesers sal sorg, is om by die verkeerde punt te begin; dis agterstevoor redenasie. Ons moet vra wat daar vir ons te doen is om te sorg dat ons skrywers sal hê wie se werk gelees sal word.
En dan kom die eerste antwoord en dit lyk of dit alle moontlike pogings vooraf hopeloos vernietig; want die antwoord is: "Jy kan leerlinge oplei om predikante te word, om dokters, advokate, vakmanne en ambagsmanne te word; sonder beroepsopleiding sal hulle vir geen beroep deug nie. Maar daar is nie so iets as 'n skrywers-opleiding nie." – CJ Langenhoven.
Maar instede van ontmoedig te word, laat ons dankbaar wees vir hierdie antwoord; 'n mens het al ver gevorder wanneer jy geleer het watter pad om nie te volg nie.
En die les is nog meer van toepassing in ons land omdat ons aanhou sukkel om op hierdie onmoontlike pad te wil voorbeur. Langenhoven het gesê dat as hy beheer oor die leerplanne gehad het hy van die veronderstelling sou uitgaan dat daar uit elke honderd leerlinge miskien een kan wees wat met kunstalent gebore is, en dat hy die talent beter sou ontwikkel uit die leerling se eie oorspronklike besieling as deur beoefening van voorskrifte en naäping van modelle. Maar hy het gemeen hy sou daarby eerder die reëls van die ambag aan al honderd leerlinge leer, want ook hulle, al sou hulle nooit kunswerke voortbring nie, sal hulle ook hul lewe moet deurgaan met skryf en met praat vir gewone daaglikse doeleindes. Met ander woorde, die ideaal is om honderd persent leerlinge te leer om suiwer te dink en hulle gedagtes helder en noukeurig uit te druk.Ons praat ook van die gesag wat in besit daarvan is met die 'alleenreg' om te oordeel, al bestaan hulle gewoonlik uit naamlose resensente. Die ongeluk is dat die gesag nie sy gesag kan handhaaf om die mense te laat lees wat hy voorskryf nie. Die rede hiervoor is dat hy sy voorskrifte nie hier gekry het uit die hart en smaak van die volk wat leeslustig gemaak moet word maar oorkant die see gaan optel het by die perwerse malkuns-modes van dekadente kringe. En hierin lê die eintlike kern van die beswaar teen die standaard van sogenaamde 'letterkunde' – dit is on-Afrikaans. Ons het leeslusteloos geraak omdat ons deur geslagte heen nie gekry het om lees wat ons eie was nie. Hierdie tekortkoming lê vierkantig voor ons volksvyande se deur wat geswoeg het om van ons 'n onbelese volk te maak sodat ons nie sou weet wat hulle volgende in hulle vernietigingsplanne met ons beoog nie.
Ons moet stry vir ons taal, ons moet dit idiomaties suiwer hou want daar is 'n siel en 'n gees en 'n styl in elke taal sowel as 'n spraakkuns en 'n woordeskat, en daardie siel en gees en styl werk heen-en-weer tussen taal en volk. Soos ons volk se taal eenvoudig en reguit is, so is ons volk eenvoudig en reguit. Uit hierdie siel, gees en styl moet die Afrikaanse skrywer sy beroep op Afrikaanse lesers maak of hy sal hulle nie bereik nie. Mis hy dit, dan kan hy kla oor hulle gebrek aan leeslus maar sy klagte is ook 'n aanklag teen homself. Die meeste skrywers toon vandag oor die algemeen nie die minste bekendheid met elementêre skryfreëls nie. Hulle weet nie om hulle woorde te kies nie; hulle weet nie hoe om die woorde tot sinne op te bou en die sinne tot paragrawe nie. Daar is dalk soveel tyd aan bestee om hulle kuns te leer dat daar geen tyd was om hulle die ambag van die kuns te leer nie.
Dus, as iemand wil kla oor gebrek aan leeslus by ons mense, al is dit ook by die eenvoudiges, soek nie die skuld by hulle nie maar by die wat geroepe is om in hulle behoeftes te voorsien. Gaan kyk na die onderwysers en oordeel of hulle meesters van hulle vak is...