Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het alles vir ons kom doen op aarde; selfs sy uitroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" het beteken dat ons as Christene nooit weer daardie vraag hoef te vra nie!
WIE IS DIE AFRIKANER- BROEDERBOND? (2)
Lees reeks by Wie is die Afrikaner-Broederbond?
B Schoeman
Regering binne regering
In 'n betreklik vroeë stadium van die Broederbond se bestaan het prof. Joon van Rooy, voorsitter van die AB, die taak van die organisasie soos volg in 'n omsendbrief geskets: "Laat ons in gedagte hou dat die belangrikste punt vir die Afrikanerdom is om sy uiteindelike doelwit van oorheersing in Suid-Afrika te bereik. Broers, ons oplossing vir Suid-Afrika se probleme is dat die Afrikaner-Broederbond Suid-Afrika moet regeer." Min of meer dieselfde tyd is op 'n AB-byeenkoms verder hierop uitgebrei en is dit gestel dat die AB "beheer moet verkry oor alles waarop hy sy hand in elke vertakking van die lewe in Suid-Afrika kan lê."
Lede, het die opdrag verder gelui, moet mekaar help om bevordering in die Staatsdiens of op enige ander terrein van die lewe te kry met die oog daarop om tot belangrike administratiewe posisies te vorder.
Deur die jare het die Uitvoerende Raad hierdie riglyne getrou gevolg en daar is feitlik nie 'n terrein van die openbare lewe wat die AB nie bestryk het nie. Komitees van "deskun-diges" is aangestel om elke denkbare faset van die politieke lewe en ook sake buite die politiek te bestudeer, studiestukke daaroor op te stel en die nodige riglyne te verskaf. Toe die Afrikaner in 1948 weer die politieke mag verower het, het die Uitvoerende Raad dit sy taak geag om die Regering oor bepaalde vraagstukke te adviseer en aanbevelings daaroor te doen. So het met verloop van tyd eintlik 'n Broederbond-"kabinet" tot stand gekom wat later nie net 'n raadgewende rol teenoor die Regering vervul het nie, maar in werklikheid ook beleid begin formuleer het.
Talle voorbeelde kan genoem word om dit te illustreer. Die nuwe sportbeleid van 1971, wat uiteindelik uitgeloop het op totale rasgeïntegreerde sportbeoefening op alle vlakke in Suid-Afrika, is een. Dit was veral in Vorster se bewindstermyn dat die Uitvoerende Raad hom al hoe meer in die rol van beleidsformuleerder geplaas het. Dit het, om maar een van die moderne terme te gebruik, 'n soort dinkskrum vir die Regering geword. Die oorsprong van bepaalde beleidsrigtings in hierdie tyd kan tot in die binnekamer van die Broederbond-leiding nagespoor word.
In hierdie tydperk het ook 'n nuwe ontwikkeling begin intree. In toenemende mate is die Broederbond deur die Regering gebruik as middel om eers die volk voor te berei en te kondisioneer vir veranderings en beleidsafwykings wat in die politiek beoog is. En wanneer die veranderings aangebring is, is die Broederbond weer gebruik om dit in die beste voeë aan die volk voor te lê. Hiervoor is in eie kring omsendbriewe, studiestukke en andere middele aangewend. Na buite is weer van senior Broederbondlede gebruik gemaak om deur middel van toesprake, referate, lesings, ens., 'n groter deel van die volk te bereik. Die klaskamer, universiteitskateder, staatskantore, staatsgesubsidieerde institute, kultuurorganisa-sies, koerante, sinodesittings — ja, selfs die kerk — is berekend en in toenemende mate hiervoor ingespan. Alles waarop die Broederbond sy hand kon lê, is inderdaad hiervoor gebruik.
Later is nog 'n nuwe ontwikkeling waargeneem. Sekere politieke leiers het in die geledere van die boonste hierargie van die Broederbond vir hulle 'n klompie vertrouelinge versamel wat hulle invloed in die Broederbond moes gebruik om na binne die regte klimaat te skep vir ingrypende beleidsveranderings wat nie meer hulle oorsprong binne die geledere van die Uitvoerende Raad gehad het nie. Mense soos Gerrit Viljoen (voorsitter tot opname in die Kabinet), mnr. D.P. de Villiers (Sasol en UR-lid), W.J. (Wim) de Villiers (General Mining), en andere het al hoe meer in hierdie rol na vore getree.
Dit is insiggewend dat Viljoen, kort na P.W. Botha se bewindsaanvaarding, in gesprekke geen geheim daarvan gemaak het dat hy groot probleme met Vorster in sy laaste bewindsjare ondervind het nie. Vorster het staties geword, het hy vertel, en die indruk gewek dat hy net sy uittrede sit en afwag. Dit het al moeiliker geword om met hom te kon kommunikeer. Maar, het Viljoen bygevoeg, met PW is dit heeltemal anders gesteld; daar is hartlike samewerking.
Dit was dan ook geen verrassing toe Viljoen se naam skielik begin sirkuleer het as een van die persone op Botha se kortlys van kabinetskandidate nie. Omstandighede het dit egter genoodsaak dat hy eers 'n draai as Administrateur-generaal in Suidwes-Afrika moes gaan maak om as voorsitter van die Broederbond die strydende Mudge- en Du Plessis-faksies met mekaar te probeer versoen.
Voor sy aanstelling as die Regering se politieke kommissaris in Windhoek en te midde van oplaaiende gevoelens tussen mnr. Dirk Mudge, leier van die Republikeinse Party en die veelrassige Demokratiese Turnhalle-Alliansie, en mnr. A.H. du Plessis, leier van die Nasionale Party, het die Hoofsekretaris van die Broederbond, mnr. Naude Botha, en verskeie UR-lede besoeke aan Suidwes-Afrika gebring om die breuk tussen die twee groepe te probeer heel. Mudge se voortgesette lidmaatskap van die Broederbond nadat hy met die NP van Suidwes gebreek het, was glo een van die belangrikste redes vir hierdie botsing.
In Broederbondkringe in Windhoek is die storie ook versprei dat regter M.T. Steyn, die eerste Administrateur-generaal, 'n Vrymesselaar is en dat dit baie bygedra het tot sy ongewildheid onder 'n groot deel van die Blankes van Suidwes-Afrika. Regter Steyn was 'n Vorster-aanstelling en dit is seker nie sonder betekenis dat Botha hom onverwags met die voorsitter van die Broederbond vervang het nie.
Hoe sterk die gevoel werklik teen die Broederbond later jare onder toonaangewende Blankes van Suidwes-Afrika geloop het, blyk uit 'n brief wat mnr. Barry Steyn, 'n gewese lid van die Hoofbestuur van die Nasionale Party van Suidwes, aan mnr. Kosie Pretorius, nuwe leier van die NP, geskryf het. Dit was Steyn se bedankingsbrief uit die NP.
In sy brief stel Steyn dit dat hy en sy gesin uit die NP bedank omdat dit sedert 1976 vir hulle duidelik begin word het dat die Party stelselmatig besig was om sy beginsels te versaak. Daarna vervolg Steyn onder meer: "Voortaan moes daar hande gehou word met die aartsvyande van die konserwatiewe Afrikaner. Vir ons was dit die finale kus van die dood vir die Afrikaner van hierdie land. In my brief het ek jou ook vriendelik tog dringend versoek om alle bande met die Afrikaner-Broederbond te verbreek. Vir ons en vele andere is die rol wat die organisasie vervul net nie langer aanvaarbaar nie. Genoemde organisasie beywer hom vandag openlik om die integrasiebeleid van die SA Regering te propageer. Hoe jy dit kan vereenselwig met die strewes van die Afrikaner van hierdie land, kan ons net nie begryp nie. Dit is geheel en al onversoenbaar."
Dit is 'n onbegonne taak om in beperkte ruimte die AB se rol as beleidsformuleerder en beleidspropagandis volledig te behandel. Enkele voorbeelde is tog van belang.
Vervolg...