Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Stuart Cloete se woorde in sy gesprek met die Goewerneur-Generaal van die eertydse Belgiese Kongo in sy boek "The African Giant":
" 'Your Excellency, what would happen if the white man left the Congo? How long would it last?'
'A few years' he said, 'because we have built well. The buildings will stand'.
'And then?' I said.
'Then, monsieur, the forest will return'.
This is the classic reply all over the continent. There is no other answer".
HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (2)
Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd
SO ONTHOU EK MY BROER
In 1936 behaal Lucie, dr Verwoerd se enigste suster en later mev HJL Cloete, 'n M.A.-graad in Sosiologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy word later 'n maatskaplike werkster in Kaapstad, toe Johannesburg en na haar man se dood weer in Bloemfontein.
Lucie vertel:
My broer Hendrik, of Henk soos hy kleintyd genoem is, was twaalf, Len veertien en ek vyf toe ons aan die einde van 1913 uit die Kaap na Bulawayo verhuis het. Pa het 'n paar maande vroeër vooruit gegaan. Na ten minste drie dae en nagte op die trein was ons kinders se vreugde groot toe ons Pa op die perron sien staan om ons te verwelkom. Van pure uitbundigheid het Hendrik van die trein afgespring nog voor dit tot stilstand gekom het, en Pa tegemoet gehardloop. Net daar kry hy toe 'n paar stywe klappe en verander die vreugde in trane, want Pa was ook maar pure senuwees na die lang wag.
Wat ek uit die tyd voor daardie treinreis onthou, veral oor Hendrik se laerskooldae, is hoofsaaklik staaltjies wat in die familiekring oorvertel is. Pa kon altyd met geur en kleur vertel en Ma het ook haar deel bygedra. Ek onthou darem self hoe ons drie in die agterplaas van die huis in Wynberg begrafnis gehou het. Dit was 'n hele prosessie; duiwe en katte en honde en alles wat wou doodgaan, is plegtig begrawe en kruisies op die grondhopies gesit met die ding se naam ook nog daarby. Hendrik was die predikant, Len was die koster en ek was die gemeente.
Pa het sy eie besigheid as boukontrakteur gehad, maar Sondae het hy in Tokai se gevangenis (die latere verbeteringskool) en op ander plekke gepreek. Pa het gou Afrikaans leer praat maar het dwarsdeur sy lewe 'n Hollandse aksent behou. Sy idioom was egter grotendeels Afrikaans want hy was betrokke by die lidmate van die NG Kerk en die meeste van sy latere vriende was Vrystaatse boere en dorpenaars. Ma het moeiliker in Suid-Afrika aangepas. Sy was tot haar dood in 1940 'n Hollandse huisvrou wat haar met haar eie dinge besig gehou het. Ons kinders het meestal Afrikaanse speelmaats gehad, al was die twee oueres se onderrigtaal Engels.
In Wynberg het die twee seuns allerhande kattekwaad aangevang. Op die hoek van ons straat, Mortimer Road, was daar 'n sinagoge. Dit moet nog daar wees. Dit was welbekend dat iemand homself in die sinagoge opgehang het en dat dit daar spook. Hendrik en Len het toe van Ma se lakens gesteel en ná donker gaan spook speel, kastig om die Jode bang te maak.
Volgens Ma was Hendrik eintlik nog te jonk, maar die juffrou van die Evangelies-Lutherse skool in Waterloo Road, het kom pleit dat hy asseblief moet kom om haar getalle vol te maak. 'n Maand ná sy sesde verjaardag is hy toe by die Duitse skool ingeskryf waar Len reeds was. Eendag kom hy watersopnat by die huis want die juffrou het hom buite in die reën laat staan. Ma is natuurlik smoorkwaad en sê: "As dit weer gebeur dan kom jy huis toe." Net twee dae later kom Hendrik vroeg huis toe. Ja, die juffrou het hom weer uit die klas gestuur. Die middag kom kla die onderwyseres dat Hendrik nie 'n minuut stilsit nie, en Ma vra: "Maar ken hy sy werk?" Ja, sê sy, hy doen die skoolwerk baie vlugtig en dan sit hy die ander kinders se aandag en aftrek. "En vanmôre was hy so woelig en stout dat ek hom moes uitstuur en toe loop hy huis toe." Ma antwoord: "Maar as hy dan so lastig is dan is dit die heel beste dat hy tuis bly want hy is mos eintlik te jonk om skool toe te gaan."
Toe sê die juffrou nee, sy wil graag met Hendrik praat. Hendrik word geroep maar toe hy sien dis die onderwyseres, verdwyn hy onder die tafel. Daar was so 'n groen viltkleed op die tafel. Naderhand sê die juffrou: "Wag, ek sal hom uitkry." En sy probeer hom met die sambreel se krom steel bykom, maar kry dit nie reg nie. Sy is glo briesend daar weg en Ma en Pa het lekker gelag oor die hele petalje.
Hendrik moes teen sy sin weer skool toe, maar eendag sê hy hy is nou lekker moeg vir daardie juffrou wat hom heeldag uitskel vir mamma-se-seuntjie. Toe gaan kla Pa by die skoolhoof en sê hy dink hy moet maar vir Hendrik by 'n groter skool inskryf. Die skoolhoof soebat dat Hendrik moet bly want hy is dan tog so intelligent. Hy het toe gebly tot aan die einde van standerd 4. Dit was in 1912.
Broer Len was hom natuurlik twee jaar voor, maar hy was heeltemal 'n ander soort kind, baie meer bedees.
Hendrik was omtrent agt of nege, toe kry hy Sint Vitusdans, 'n senuweesiekte. Die dokter het voorgeskryf dat hy vir twee maande in 'n donker kamer moet bly en stil moet lê; hy mag nie woel of lees nie. Ma het hom baie goed opgepas, soos enige ma, maar toe sy hom weer eendag uit die bed tel om die matras om te draai, kry sy 'n menigte prenteverhale en boekies daaronder wat hy al die tyd weggesteek het om stilletjies te lees. Hy het darem mooi gesond geword.
'n Ander petalje in die Duitse skool was die onderwyseres se kweperlatte wat onverklaarbaar verdwyn het. Sy bring elke keer 'n nuwe lat skool toe en dan verdwyn dit net so vinnig. Toe word daar op 'n dag voorbereidings getref vir 'n skoolkonsert. Die verhogie waarop die juffrou se tafel staan, moet verskuif word, en daar kry hulle dosyne stukkende kweperlatte weggesteek. Die skuldige het nooit aan die pen gery nie maar Hendrik het glo vir Ma gesê hy het gedink daar moet iets aan gedoen word, want dit is onregverdig dat hulle van die môre tot die aand onnodig lyfstraf kry.
Na standerd 4 is Hendrik vir 'n jaar na die Wynberg High School for Boys en toe is ons almal Rhodesië toe. Daar het ons drie jaar lank (1914-1916) gebly terwyl Pa sy ideaal om die evangelie te verkondig, kon uitleef. Al kwalifikasie wat hy gehad het, was die "Oefenaar-sertifikaat" van die NG Kerk wat hy in Desember 1910 aan die Wellingtonse Sendinginstituut verwerf het. Ds. Smit en die gemeente van Bulawayo het hom 'n pos as hulpprediker teen 'n vergoeding van £150 per jaar aangebied, maar kort na ons aankoms sterf ds. Smit en toe moes Pa amper drie jaar waarneem voor daar uiteindelik 'n leraar bevestig is.
Die NG-gemeente van Bulawayo het tot by Lusaka gestrek. Maandae het Pa gewoonlik sy fiets op die trein gelaai, op die verste punt afgeklim en dan myle deur die bos gery om die boere op die plase te besoek. Vrydae kom hy terug en Sondae preek hy in die kerkie agter ons huis. Len was die koster. Hendrik en ek het hom gewoonlik Saterdae gehelp om die kerk skoon te maak. Daar kry ons toe eendag 'n nes vol klein muisies. Ek hardloop huis toe om 'n skoendoos te haal. Die muise word netjies ingepak en met bruinpapier toegedraai en in juffrou Vermeulen se kamer gesit. Juffrou Vermeulen was 'n sendingdame wat by ons ingewoon en vir my musiekles gegee het. Ons het nie van haar gehou nie; sy was te streng. Sy het ook tydens die diens in die kerkorrel gespeel en dit was Len en Hendrik se taak om die blaasbalk te pomp. As hulle haar nou regtig die dag wou verpes dan hou hulle eenvoudig op met pomp. Sy druk die note, maar daar kom nie 'n geluid uit nie. Dan draai Pa op die preekstoel om, kyk so oor sy halflensbrilletjie en mompel sodat almal dit kan hoor: "Sit-nog-aan-toe, die kinders is weer stout vanmôre!"
Vir Ma was dit swaarkrydae daardie. Pa se salaris het nie veel beteken nie; hy moes maar sien kom klaar. Ma het loseerders ingeneem, lap- en stopwerk gedoen, en van geskenke gelewe. Daar was 'n polisieman wat sy gebruikte uniforms vir Ma gegee het, dan haal sy dit uitmekaar, draai dit om en maak netjiese pakkies klere vir die seuns.
Ons het 'n baie agtermekaar Nyasa-huishulp gehad, ou Molteno. Hy kon beter Engels praat as Ma. Sy sê toe eendag vir hom:
"Molteno, you must not jump on the stove." Dit was 'n koolstoof en sy wou hom waarsku om nie aan die stoof te stamp nie want sy het 'n koek in die oond gehad. Hy het goed verstaan wat sy bedoel. Hendrik, twaalf of dertien jaar oud, hoor dit en skree hier uit sy kamer: "You must not jump on the stove, you will burn your feet, Molteno!" En hy sê: "Shut up, kleinbaas, I know."
In Augustus 1914 het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en in Oktober was daar rebellie in die Vrystaat en Transvaal, juis toe Pa op 'n kollektereis in Suid-Afrika was om geld vir die Daisyfield-weeshuis in te samel. Pa kom toe terug, vol entoesiasme vir die Afrikanersaak. Die mense was opgerui, en in Milton High waar Len en Hendrik was, moes die seuns elke dag "God save the King" sing. Van die groter seuns het aangesluit om teen die Duitsers in Suidwes te gaan veg maar is almal dood aan maagkoors. Len het alleen oorgebly in sy klas; die onderwysers het nie veel aandag aan hom gegee nie en hy het al sy belangstelling in skoolwerk verloor. Dit is seker die groot rede waarom hy later so gesukkel het om matriek te maak en Hendrik hom verbygesteek het op universiteit.
Hendrik se geaardheid was teenoorgestelde. Hy het die vegtersgees gehad. As hulle vir hom sê, gaan vind self uit, dan doen hy dit. Hy het baie goed gevorder tot standerd 8 en kry toe die Beitbeurs vir matriek. In die helfte van 1917 word Pa egter aangestel as kolporteur van die Vrystaatse NG Kerk met Brandfort as standplaas. Hendrik moes vir die skoolhoof, ene mnr. De Beer, gaan sê dat hy nie sal kan bly nie en dis toe dat hy vir 'n rebel uitgeskel en letterlik by die kantoor uitgeskop is.
In Brandfort se skool het Hendrik verdere probleme opgetel. Die eerste was sy geboortesertifikaat. Toe die hoof sien dat hy in 1901 gebore is en sy tweede naam dieselfde is as die van die berugte generaal French uit die Anglo-Boereoorlog, en dat hy boonop van die Britse kolonie Rhodesië af kom, is hy en sy familie dadelik gebrandmerk as jingo's. Dit het heelwat verduideliking van Pa se kant gekos om die misverstand uit die weg te ruim. Tweedens het die leerplanne van die Vrystaatse skole baie verskil van Milton High School s'n. Ingevolge generaal Hertzog se onderwyswet was die onderrigtaal Hollands. Ironies genoeg het Hendrik besluit dit sal vir hom beter wees om hom in sy laaste twee skooljare vir die matriekeksamen in vakke soos Natuurwetenskap en Matesis in Engels voor te berei, as om na Hollands oor te skakel. Hy het dus nie voltyds by die skool ingeskryf nie en net klasse in 'n paar vakke soos Hollands en Engels bygewoon. 'n Inspekteur het vir Pa kom se Hendrik sal nooit deurkom as hy so privaat studeer nie. Hendrik het volgehou dat hy klaar sy studierooster uitgewerk het, en gelukkig was daar 'n jong onderwyser, mnr. Joubert, wat hom na-ure gehelp het. Hy het goed gevorder. In Desember 1918 sou hy die matriekeksamen skryf, maar in Oktober breek die groot griep- epidemie uit. Pa lê siek, Ma lê siek en Hendrik is ook verskriklik siek. Len het daar in die distrik rond skoolgehou, maar hy moes kom help siekes versorg en ek moes huishou. Gelukkig het almal gesond geword. Die owerhede het toe bepaal dat die eksamen in Februarie 1919 afgelê kon word. Len en Hendrik het saam matriek geskryf. Len het deurgekom en Hendrik was eerste in die Vrystaat en vyfde in die Unie. Later het Brandfort Hoërskool en die onderwysers ook daarop geroem, al was hy nie eers voltyds by hulle nie.
Pa was baie trots op sy tweede oudste seun se akademiese prestasies. 'n Paar jaar later, nadat Hendrik sy doktorsgraad op Stellenbosch behaal het, was hy weer op Brandfort. Die oggend by die kerk roep die skoolhoof, "vader" Kock, die bestuurder van Nasionale Bank, mnr. Everard, nader en sê hy wil hom voorstel aan "doktor Verwoerd". Dié sê toe hy dink nie veel van 'n doktorsgraad nie, hy dink meer van die skool van die lewe. Pa was so afgehaal dat hy die volgende dag sy rekening gesluit en laat oorplaas het na Nederlandse Bank in Bloemfontein.
Hendrik het gereeld vakansies huis toe gekom toe hy student was en dan het ek soos 'n stertjie agter hom aangeloop. Hy was vir my te wonderlik. Amper vergeet ek om te vertel hoe hy eenkeer vir Pa gered het. Dit was net na ons op Brandfort aangekom het. Ons het tydelik in een van die plaasmense se tuishuise gebly, totdat Pa 'n huis in die hoofstraat gekoop het. Die huis het leeg gestaan en ons het gaan kyk. Ma loop deur die kamers en sê sy ruik weeluise. Pa sê nonsens, maar sy haal haar hoedepen uit, krap so onder die muurpapier en daar wemel dit. Toe sê Pa: "Gee my net twee dae. Ek sal die huis vir jou skoonmaak en opknap en jy sal nie weer 'n gogga sien nie". Hy het orals blikkies met swael neergesit en dit aan die brand gesteek. Die aand sê Pa vir my en Hendrik en Ma ons moet net weer gaan kyk dat die huis nie afbrand nie. Toe ons teen halfdonker daar aankom, is die huis vol rook. Sakdoek oor die mond dwaal ons rond, en daar verdwaal Pa in die huis. Hy weet nie waar hy is nie. Dit klink of hy paniekbevange raak. Hy proes en roep om hulp. Toe het Hendrik ingehardloop en Pa se hand gevat en hom uitgelei na buite. Hy kon kalm bly.
Hendrik was al op universiteit en ek so elf jaar oud, toe kry ek waterpokkies. Ek was seker so tien dae in die bed en by tye koorsig. Hendrik was die enigste een wat my kon kalmeer. Hy het vir ure by my gesit en storietjies vertel wat hy sommer so opgemaak het terwyl hy praat. Toe ek weer gesond was, het ons soms saam gaan perdry of tennis speel. Ek was soos sy skaduwee. Saans het ons meestal gesit en lees. Hendrik het vreeslik baie gelees by die huis.
Ons het om die tafel gesit terwyl Ma naaldwerk doen. Dan speel hy ingedagte met haar skertjie of haar vingerhoed, en as sy dit mis, kan jy maar weet Hendrik het dit in sy sak gesteek. Een aand, onthou ek, was Ma in een van haar neerslagtige buie. Sy was 'n diabeet - dit is seker waarom sy die buie gekry het. Hendrik staan toe op en gaan staan voor Ma en Pa se twee portrette teen die muur. Dit is nog in Holland gemaak toe hulle jonk was. En hy begin uitwei oor die mooi jong dame op die portret. Hy vra 'n bod. Nou speel hy afslaer, en veil die twee portrette op. Hy gaan so te kere dat Ma naderhand lag dat haar oë traan. Ons het almal die aand gelê soos ons lag vir Hendrik se manewales.
Een vakansie kom Hendrik by die huis aan en Ma vra vir hom hoekom hy so baie briewe skryf. Dit lyk of hy in nooiens belangstel. Ag, sê hy, daar is drie meisies vir wie hy skryf maar dit is nie nooiens nie. 'n Paar jaar later, dit moes in 1923 gewees het, bring hy toe vir Betsie saam Brandfort toe om ons te ontmoet. Toe is ek darem beduiweld, hoor. So ongenaakbaar soos kan kom. 'n Regte onmoontlike tiener. Hendrik was, wat my betref, skoon verspot en ek was baie vies dat hy so probeer afwys. Ma het toe een aand met Hendrik gepraat en gesê hy moet nou nie sy sussie heeltemal opsy skuif nie, sy is maar alleen en sy sien so uit na die vakansies wanneer hy kom. Daarna het hy en Betsie my 'n paar maal saamgeneem wanneer hulle êrens heen gaan.
Hendrik was 'n derdejaarstudent op Stellenbosch, toe gaan Len ook na Stellenbosch om Landbou te bestudeer. Nadat Hendrik en Betsie toe getroud is en hy terug was op Stellenbosch as die jongste professor aan die universiteit, het Len ook 'n doktorsgraad aangepak. Hy het geweet hoe om die gegewens in te samel maar het vreeslik gesukkel om dit agtermekaar te sit. Hendrik het hom weke en weke lank gehelp en feitlik die proefskrif vir hom geskryf.
Nog iets wat ek onthou, is hoe Hendrik leer motor bestuur het net voor hy Duitsland toe is vir sy nagraadse studie, in Desember 1925. Pa het sy eerste kar gekoop, 'n Red Bird, dit was 'n soort "overland"-voertuig. Daardie vakansie het hy Pa aangepor om so gou as moontlik sy bestuurderslisensie te kry sodat Hendrik langsaan kan sit en ook leer om te bestuur.
In 1927 het ek op Brandfort matriek gemaak en die volgende jaar is ek ook Stellenbosch toe om verder te studeer met Sielkunde en Sosiologie as hoofvakke, dieselfde jaar wat Hendrik as professor aangestel is. Eendag kom ons uit die klas, toe nooi hy my en sê: "Ry saam dan gaan drink ons tee by die huis." Hy het pas sy eerste motor, 'n Erskine, gekoop en hulle het in 'n huurhuis in Cluverweg op die "weduweesvlakte" (vandag deel van Universiteitsoord) gewoon. Ek staan toe so en kyk hoe hy oudergewoonte fietsknippies om sy broekspype sit voor hy in die kar klim. Ons het lekker gelag oor die "verstrooide professor".
In my derde jaar op universiteit het ek rumatiekkoors gekry. Hendrik en Betsie het my by hulle in die huis geneem en nege maande lank versorg terwyl ek bedlêend was. Eers is al my tande getrek, toe is my mangels uitgehaal en daarna het ek reggekom. In Junie 1933 het ek uiteindelik my B.A.-graad gekry. Daarna het ek vir die M.A.-graad in Sosiologie ingeskryf terwyl ek as maat- skaplike werkster by die Onderstandsraad in Kaapstad werksaam was. Dit het meegebring dat ek en my kollega, Erika Perold, in die Kaap gewoon en net een maal elke twee weke op 'n Donderdag- namiddag Stellenbosch toe gekom het vir 'n klas van twee uur by Hendrik in sy studeerkamer. Hulle het toe reeds hulle eie huis in Van der Stelstraat, Mostertsdrift, gehad.
'n Sekere Morgenthal, wat later predikant in Suidwes geword het, was 'n medestudent en eendag, toe ons so uitstap, voor die studeerkamervenster verby, sê hy: "Jong, ek is darem bly ek is nie in jou skoene nie want wragtig, jou broer laat jou darem swaar kry." Twee weke later het ons dit al vergeet, maar Hendrik begin toe deur te sê: "Ek is jammer, mnr. Morgenthal, om te hoor jy is so besorg oor my suster. Ek sal probeer om minder streng met haar te wees." Hy het seker maar sleg daaroor gevoel.
Nouja, dit was dan my herinneringe aan my broer Hendrik as kind en student en professor op Stellenbosch. Toe hy in 1937 redakteur van Die Transvaler geword het, was ek en my man ook reeds in Johannesburg en vir 'n tyd lank het ons 'n woonstel in die Voortrekkerpers se gebou gehad. Ons en Hendrik het mekaar dikwels gesien en ook oor en weer gekuier toe ons in Melville gewoon het.
Hendrik was sy lewe lank vir my 'n steunpilaar en 'n geliefde broer.