Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons God begin dank vir al die vreugdes wat Hy ons skenk, sal daar nie tyd oor wees om te kla nie. Die mens wat dankbaar oor die verlede is, sal die Here ook vir die hede dank en die toekoms vreesloos tegemoet gaan. As ons dankbaar vir die genade van die verlede is, kan ons uiteraard ook op nuwes reken.
SANNIE GREEF
Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Weg van die slagveld met sy gedonder van kanonne en kleingeweervuur het ook ander verhale van 'n stiller soort moed, maar nie minder aangrypend nie, hulle tydens die Tweede Vryheidsoorlog afgespeel. Daar is byvoorbeeld die geval van die jong meisie waarvan generaal Hertzog in sy oorlognotas melding maak. Sy word net as "mejuffrou Greef" aangedui maar ons sal haar Sannie noem.
Dis Februarie 1902. Die oorlog draal nou al in sy derde jaar, maar die Boere wil nog nie kopgee teen die oormag nie. O, die dood en verwoesting, en niemand is één dag sy lewe seker nie.
Hulle is eintlik gelukkig, die groepie daar bo naby Parys aan die Vaalrivier, dat hulle nog nie in die hande van die Engelse geval het en na die een of ander kamp weggevoer is nie. Maar dis 'n harde bestaan, veral vir die meisie wat vir almal moet sorg, want die drie vroue en die drie mans het te oud geword om hulself te help, en die vier kinders is nog te klein om iets te doen.
Van ligdag soggens tot donkeraand is Sannie Greef aan die gang, en dan is daar nog die nagte wat sy by 'n sieke moet waak. Bedags gaan sy uit om veldkosse te versamel, sy vang vis in die rivier met 'n handlyn en stel wippe vir hase en kleinwild, sy kook en was en stryk en hou hul hartbeeshuisie van riet en klei so netjies aan die kant asof dit 'n herewoning is. En gedurig moet sy op die uitkyk wees vir Engelse patrollies sodat hulle tussen die bome in kan vlug en wag en bid.
"Sannie, kom tog hier!", roep een ou vrou wat nie meer haar rok kan vaskry nie.
"Sannie! Sannie!" huil 'n kind wat sy toon nerfaf gestamp het.
Sannie help en troos en versorg so goed as wat sy kan, en sy kla nie. Die wil om nie te wyk en die vyand sy sin te gee nie, hou haar aan die gang. Die enigste afleiding is wanneer 'n klompie Boere daar kom oorbly en miskien 'n bietjie kos afstaan wat hulle by die vyand gebuit het. Dan word dit 'n feesmaal, en hulle praat die nag klein oor die ellendes van die oorlog, maar veral oor die hoop, en die veldslae wat gewen word, en die vryheid van die twee Republieke wat nie verlore mag gaan nie. As daar mense is wat kleinmoedig word, noem Sannie nie haar eie durf en daad nie, maar vertel sy graag van oom Hendrik Barnard, tagtig jaar oud, wat laer af langs die rivier woon.
"Die Engelse het hom onverhoeds betrap, en al genade was om sommer reg rivier in te vlug," verduidelik Sannie, en haar oë is baie helder. "Daar het hy in 'n diep poel tussen die riete gaan skuil, maar die stuk wêreld was vir die Engelse tog te lekker, en hulle wou nie weer weggaan nie. Twee dae en twee nagte lank het oom Hendrik so gesit, en as die Engelse nader kom, sak hy weg tot net sy neus bokant die water uitsteek. Die ergste was nog toe die Engelse op die wildeganse begin skiet wat in oom Hendrik se einste rietbos geboer het. Die ou oom sê dat hy die voëls maar taamlik gou daar uitgewoel het terwyl die koeëls hier ongemaklik naby hom water skop. En wat het oom Hendrik van sy avontuur oorgehou? Net 'n stywe nek – en ek het dit self weer reggedokter."
Toe word die een ou man siek. "Kindjie," sê hy die oggend vir Sannie, "ek voel nie te lekker nie. Miskien moet ek maar liewers vandag in die bed bly."
"Goed, Oom," sê Sannie, en sy trek die velkombers gemakliker oor sy knopperige skouers op. Daardie aand is hy al ylend. Twee nagte en nog 'n dag lank klou hy met taaie volharding aan die lewe, maar die koors doen sy verwoestingswerk, en teen die derde dagbreek sterwe hy in Sannie se arms.
Dis 'n groot droefheid in die hartbeeshuisie, want hulle het lief vir mekaar geword in al die dik en dun wat hulle deurgestaan het. Ná die eerste hartseer kom egter die nugterheid.
"Hy moet begrawe word soos dit 'n Christenmens betaam," sê die een ou vrou, en die ander beaam. Maar hoe? Hulle kyk na mekaar. G'n een van die oumense of die kinders het die krag om 'n graaf te hanteer nie.
"Ek sal dit doen," sê Sannie.
Die oudste vrou skud net haar kop. "Arme kind," sug sy, want sy weet dat dit nie anders kan nie.
Sannie gaan soek kort agter die huis 'n geskikte gelyktetjie uit, en sy begin grawe. Sy is fyn gebou, maar taai en gehard, en sy vorder bestendig. Sy werk dwarsdeur die dag, met net 'n onderbreking wanneer sy by die ete gaan help. Sy werk terwyl die trane haar oë verblind wanneer sy daaraan dink dat sy hier besig is om 'n gat te maak waarin sy haar ou-oom moet wegbêre. Teen die laatmiddag is sy klaar.
Die oumense het reeds die lyk uitgelê en in 'n laken toegedraai, want 'n kis is daar nie. Almal het hul beste klere aan, al is dit hoe dik gelap en gestop, uit respek vir die dooie. Ook die kinders is silwerskoon gewas. Sannie gaan haarself eers 'n bietjie regmaak. Nou kan die plegtigheid begin. Sy tel die wit bondel in haar arms op en lê dit versigtig in die gat neer. Die gestorwene is al so oud en uitgeteer dat hy skaars meer as 'n kind weeg.
Een van die ou mans lees 'n gepaste hoofstuk uit die Bybel voor. Dit gaan sukkelend, want sy oë is nie meer so goed nie, en kort-kort verloor hy die plek. Die ander oue doen 'n gebed. Dan sing almal saam:
"Als wij de doodsvallei betreën,
Laat ons elk aardsche vriend alleen;
Maar Hij de beste Vriend in nood
Verzelt ons over graf en dood."
Die oudste prewel: " Stof tot stof," en gooi 'n handvol sand oor die wit linne uit. Toe stap hulle stadig by die huis in terwyl die meisie die graf toegooi.
Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar