Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God loop nie soos ’n stootskraper oor mense wat nie in hul spoor trap nie. In sy liefde om sondaars van ’n ewige dood te red, staan Hy selfs terug soos eeue later weer gebeur het toe Hy weereens teruggestaan het sodat Jesus mens kon word, nie net om verwerp nie maar ook gekruisig te word.
JAPIE GREYLING
Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Dit was in April 1901 toe die jonge Japie Greyling op sy vader se plaas Smaldeel in die Vrystaatse distrik Hoopstad teen die Britse kaptein Jack Seeley te staan gekom het. Op daardie dag het Japie vir hom onsterflike roem as kinderheld verwerf.
Dat die kind dit nou moes gedoen het, die klein Japie – en hy nog nie elf jaar oud nie! Om 'n vuurpeloton te daag, sit nie in elkeen se murg nie. Dis die oorlog wat seuns al manne maak as hulle nog albaster moes gespeel het. Pa Greyling en sy twee oudstes is saam met die Vrystaatse magte op kommando. Nou is Japie en sy tweelingbroertjie, afgesien van die meisiekinders, hul ma se stut en steun op die plaas.
Dié April-nag het daar weer 'n klompie burgers op Smaldeel geslaap, maar vanoggend vroeg moes hulle laat spat toe hulle 'n afdeling Engelse soldate in aantog gewaar. Daar is bange oomblikke terwyl dit lyk asof die Engelse die Boere inhaal, maar dan swaai die burgers in 'n ruie klofie op en verdwyn.
"Ha! Lekker gefop!" lag Japie waar hy die spulletjie van agter die huis af staan en dophou, en hy loop kombuis in om vir sy ma koffiewater te gaan opsit.
Nie te lank nie of perdepote klap weer voor die deur. Japie loer buitentoe. Ja, dis die Engelse. Sjoe, maar daardie voorman van hulle lyk boos. Hy is natuurlik vies omdat die Boere hom so maklik uitoorlê het. Japie Greyling lag weer, maar stilletjies.
Die Engelse kaptein stap met lang hale nader. Alles loop vanoggend skeef, en sy geduld is net mooi op. Hy wéét dat hier 'n Boere-kommando in die omgewing optree, en hy wil hulle hê. Die kaptein kyk die seuntjie aan en glimlag. Dit sal seker nie moeilik gaan om die inligting uit hóm te kry nie. Hy wink sy tolk nader en beveel: "Vra vir die kind waarheen die Boere is wat nou net hier weggery het."
"Na hulle kommando toe," antwoord Japie prontuit.
Die kaptein se geisg verdonker. "Dit weet ek ook!" sê hy bars. "Maar wáár is die kommando?" Japie kyk die kaptein reg in die oë. "Dit sal ek nie sê nie," antwoord hy.
"Haantjie, né," mompel kaptein Seely. "Ek sal gou-gou sy stertvere vir hom pluk!"
Sy groot hand sluit om die seun se skouer en sleep hom oor die werf. In 'n smal strokie muur tussen twee deure van 'n buitegebou stamp hy die kind se skraal lyf vas.
"Waar is die Boere?" vra hy. G'n tolk is meer nodig nie. Die seun weet wat die Engelsman wil hê. En die kaptein? Miskien verwag hy reeds die antwoord.
"Ek sal nie sê nie!"
Kaptein Seely bulder 'n bevel, en die sersant dra dit aan sy manskappe oor. Ses tree aan, sak knie op die grond neer, gewere oorgehaal, vingers op die snellers gereed. By die seun kan daar g'n twyfel wees oor die Engelse se bedoelings nie. 'n Vrouestem begin kermend in die kombuis te huil. Iewers voor die deur proes 'n perd en trap dan ongeduldig rond. Verder is dit stil.
"Waar is die Boere?" kom die vraag weer, en die seun weet dis die laaste keer.
Tog bly staar hy veragtend na die koel donker bekke op sy bors gerig. Sy mond is effe oop soos iemand wat sy hande na 'n prys uitsteek.
"Ek sal nie sê nie!" antwoord Japie.
'n Oomblik lank stol die toneel: die Boerseun, die Engelse offisier, en die wagtende gewere.
Dan wuif die kaptein vir sy manne om hul wapens te laat sak en stap na Japie toe. "Jy is 'n dapper seun," sê hy terwyl hy sy hand vat. "Ek hoop dat ek jou weer eendag sal ontmoet."
Die Engelse klim op hulle perde en ry weg, en die moeder storm by die deur uit om haar seun teen haar vas te druk. Maar Japie woel hom los, en hy kyk die Engelse stil agterna met 'n trek van teleurstelling op sy gesig soos wanneer 'n kind iets moois beloof is en dit toe nie gekry het nie.
Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar