Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is niks so teleurstellend soos iemand wat in ʼn verantwoordelike gesagsposisie verkeer en die gesag nie tot eer van God beoefen nie, maar kompromie met booshede aangaan.
HANSIE SMAL EN DIE IMPI
Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
" Daar is nog net vyf Matabeles oor. Toe tref ‘n assegaai Vossie dodelik en die perdjie vou onder Hansie in. “My arme dier!” skree die kind, en hy skiet die aanvaller plat."
Abraham Smal wil gaan elande jag. Die tienjarige Hansie ry saam. Die vader sit op sy groot bruin hings met die wit bles voor die kop. Hansie het sy Vossie onder die saal. En die beste is nog dat sy pa vir hom ‘n klein geweertjie by een van die ander Trekkers geruil het. Die seun voel sommer pure man.
Nie ver van die staanplek af nie, skiet Abraham Smal ‘n eland. Hulle pak die karkas met doringtakke toe om die roofvoëls weg te hou, en ry dan verder. Duisende stuks wild pronk om hulle die veld vol, blesbokke, springbokke en wildebeeste. Maar elande is skaars, en die enkeles wat hulle nog gewaar bly hulle ontwyk.
Hulle ry ‘n uur of twee, drie met ‘n wye boog tussen die rante deur. “Nee, nou sal ons maar moet terugdraai,” sê die vader, “anders kom ons te laat by die kamp, en dan is ons die ander eland dalk ook nog kwyt.”
Hansie sê niks nie, maar hy is ‘n bietjie hartseer omdat hy nie ‘n skoot kon inkry nie. Hy swaai Vossie se kop om, agter sy pa aan.
“En dit?” mompel Abraham Smal toe hy meteens digte, donkerblou rookdampe skuins voor hom agter ‘n koppie sien uitborrel. Hy beskou die wêreld noukeuriger. “Dis mos waar die Liebenbergs se trek staan. Ek wonder wat hulle aanvang.”
Maar iets anders trek Hansie se aandag. “Pa,” roep hy, “kyk die snaakse swart skaduwee op die vlakte. En daar is dan g’n wolk aan die hemel nie.”
Vader en seun hou hul perde in. Geleidelik maak hul oë beelde uit. Skildvelle! Dis ‘n swart leërmag. Abraham Smal dink dadelik aan Silkaats se Matebeles van wie hulle al so baie gehoor het maar tot dusver nog nie teëgekom het nie. Wat sou hulle hier soek? En daardie rook?
“Kom!” sê Abraham, en hulle jaag teen die koppie uit. Ontset betrag hulle die toneel onder in die laagte. Dis tente en meubels wat daar brand, en oral lê liggame rond. Die Liebenbergs is uitgedelg.
Abraham wik en weeg. Al plek waar hulle na hul mense toe kan deurkom is om die punt van daardie opgeskote bergie. En aan die voet van die berg beweeg die Matebeles. Hulle sal dit maar moet waag. Miskien glip hulle tog ongemerk verby. Te vinnig kan hulle egter nie ry nie want Vossie is maar tingerig.
Vader en seun is nog ‘n hele ent van die bergpunt af toe hulle sien hoe tien Matebeles hulle van die hoofmag afskei en skuins voor hulle insny.
Die perde haal deur die gras en bossies. Nou is die swart krygers skaars honderd en vyftig tree ver. “Ons sal hulle moet terugskiet!” roep Abraham. Sarsie op sarsie val Die Matebeles is so naby dat hul assegaaie om die twee ruiters gons. Maar Hansie laai en skiet, laai en skiet skoot vir skoot saam met sy vader.
Daar is nog net vyf Matabeles oor. Toe tref ‘n assegaai Vossie dodelik en die perdjie vou onder Hansie in. “My arme dier!” skree die kind, en hy skiet die aanvaller plat. Die orige vier krygers sien nie verder kans nie en val terug, maar intussen kom ‘n hele afdeling van die hoofmag aan om te help.
“Vat vir Kolbooi!”, skree Adam Smal, “dan jaag jy uit! Ek sal die Matebeles terughou!”
Hansie kyk na sy vader, en hy kyk na die donker stroom wat nes ‘n reuseslang met baie koppe en ‘n honderd blink tande op hulle aangestu kom. As sy vader moet agterbly is hy dood. “Nee, Pa,” sê hy, “ek gaan nie alleen nie.”
Abraham skud net sy kop maar tog voel dit ‘n oomblik warm in sy bors oor sy seuntjie se besluit. Toe roep hy: “Spring dan hier agterop dat ons met een perd probeer!”
Kolbooi se asem ruk in sy keel, die skuimvlokke bol om sy bek en spat oor die grond terwyl sy spiere saamtrek en uitskiet, saamtrek en uitskiet. Hy doen sy bes, maar die Matebeles is net vyftig tree agter toe hulle om die punt van die berg swaai.
Die swart vegsmanne skree en fluit en slaan met die assegaaie op hul skildvelle. Dis oorverdowende rumoer. Vlug soos wildsbokke skiet hulle oor die aarde tot hulle feitlik hier langs die perd met sy twee ruiters hardloop. Knopkieries en assegaaie reën. Maar wonderbaarlik word vader en seun nie getref nie.
‘n Goeie halfmyl duur die wilde jaagtog. Dan begin die krygers uitsak. Nog ‘n enkele kierie, assegaai of twee plof in die gras. Toe word dit stil.
“Ons is gered!” roep Adam Smal.
“Ja ,Pa,” sê Hansie.
Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar