Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In ons land bid baie van ons vir beskerming teen die goddelose mense wat ons wil vermink, verkrag en vernietig. Misdaad word deur die goddelose owerheid aangehelp. Die opskrif van Ps 140 is "Gebed vir beskerming teen goddelose mense". Dawid het vir die HERE gevra: "Red my HERE, van die kwaaddoeners... wat slegte dinge in die hart bedink, wat elke dag stryd verwek... bewaar my HERE, vir die hande van die goddelose; behoed my vir die manne van geweld wat planne beraam om my voete weg te stoot" . In dieselfde Psalm toon Dawid ook sy geloof: "Ek weet dat die HERE die regsaak van die behoeftiges sal behartig." Ons mag ook glo dat God ons volk van uitwissing sal red.
HANSIE EN DIE PIKPUNT
Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Hier is die laaste van klein Hansie Smal se dapper optredes voordat hy gesterf het:
Die tienjarige Hansie se speeldae is verby. Van vroeg soggens tot saans laat hyg die velblaasbalk en stoot die gloed rooi in die smidsvuur op totdat die vonke in fyn sterretjies op die witwarm yster dans. Hansie is die blaasbalktrekker, en sy vader die smid.
Daar is baie werk. Ná die dood van die Liebenbergs en Hansie-hulle se noue ontkoming het die Matebeles verwoed op die Trekkers toegeslaan. Maar by Vegkop het hulle pal gestaan totdat die swart bul sy horings stomp gestoot het en moes wyk. Nou is ‘n strafekspedisie teen die Matebele-koning uitgestuur, en intussen is die Trekkers hier by Thaba Nchu versamel en word die waens nagesien vir die pad vorentoe. Die hele dag lank bly dit ‘n bedrywigheid daar onder die strooidak op vier pale in die skraal koelte van ‘n doringboom waar Abraham Smal sy smidwinkel ingerig het.
Dit hou soms tot ná donker aan as dit baie druk gaan, en hy en Hansie by die lig van ‘n vetkers nog boute en wabandspykers smee. Hansie is saans so moeg dat hy steier en op sy slaapplek neerval. Maar soggens is hy weer opgewek en vrolik, want hy laat hom nie onderky nie.Een middag sê sy vader: “Hansie, vat vir Kolbooi en ry dadelik oor na oom Tjaart van Vuuren toe, en vra vir hom of hy nie vir my ‘n stuk staal het vir ‘n pikpunt nie. Ek het dit môrevroeg nodig.” Daar is donderwolke in die lug maar Abraham ken die weer, en hy weet dat dit nie voor die aand sal reën nie. Die Van Vuurens se trek staan maar net ‘n uur weg, en die kind kan nog met lig terug wees.
Toe Hansie by die Van Vuuren-laer kom, is oom Tjaart nie daar nie, en hy moet meer as twee uur lank vir hom wag. Die weer word donker en dreigend.
“Ja, Hansie, ek het so ‘n stuk staal,” sê Tjaart van Vuuren toe hy eindelik terugkom, en hulle gaan soek tussen ‘n hoop ou yster.
”Dankie, Oom,” sê Hansie, en hy loop na Kolbooi se kant toe.
“Maar jy kan nie nou ry nie, Hansie,” roep die man ontsteld uit. “Kyk hoe lyk die weer, en dis al amper nag.”
“My pa het gesê hy moet die stuk staal môrevroeg hê, oom Tjaart,” sê Hansie beslis. “Ek kan hom nie laat wag nie.”
“Hansie!” Die man gryp na die kind maar hy glip onder sy hande uit en spring in die saal.
“Totsiens, Oom, en baie dankie!” roep hy. Toe ry hy weg.
“Ai tog, die kind gaan naderhand ‘n ongeluk oorkom.” praat Tjaart van Vuuren by homself. “Ek moet hom keer.”
Maar sy ryperd het saam met ‘n buurman se trop gewei en dit duur ‘n goeie kwartier voor hy die pad na die Smals se laer toe vat. Dis ‘n donker stormnag. Die reën fluister deur die lang gras, om dan met ‘n skielike windvlaag sissend teen ruiter en perd aan te storm. Die lang, ligtende vingers van weerligstrale gryp teen die verwulf van die wolkedak wat die hele landskap omheen insluit. Die donder praat met ‘n duisend stemme. Nêrens is ‘n nagdier te sien nie. Aarde en skepsel buig met ontsag voor die geweld uit die hemel.
“Hansie! Hansie! Waar is jy?” roep die ruiter tussen die donderslae en windstote deur, maar hy weet dat dit tevergeefs is. Al is die kind ook sommer naby sal hy hom tog nie kan hoor nie.
Tjaart ry tot by die Smals, maar Hansie het nie daar uitgekom nie.
“My kind! My arme kind tog,” snik die moeder.
“Toemaar vrou. Ons gaan hom nou haal,” praat Abraham Smal haar moed in, hoewel hyself nie baie hoopvol is nie. Waar gaan hulle die kind in hierdie weer kry? Haastig maak hy ‘n stormlantern reg, steek die entjie kers binnekant aan en gooi nog twee stukkies in sy sak.
Hulle soek die nag vol, maar teen die donker en die elemente vermag hulle weinig. Die kerse is later op. Hulle is verplig om agter ‘n bos te skuil tot dit lig word. Die storm het ook bedaar. Nou kan hulle spoorsny, maar dit gaan moeilik omdat die reën die meeste tekens weggewas het.
“As die kind maar net vir Kolbooi die teuels gegee het sou hy hom veilig tuisgebring het.” mompel Abraham as hulle sien hoe die perd telkens padtoe gedwing het, maar dan het Hansie hom weer regs gestuur. Kort duskant die Smals se staanplek swaai die spoor heeltemal na die verkeerde kant om die rantjie.
‘n Paar honderd tree verder kom hulle op Kolbooi af waarhy rustig staan en wei met die saal nog op sy rug. Maar die kind is nêrens te sien nie. “Hansie!” roep die vader, en hy hardloop met ‘n swaar treë vooruit. Sy geoefende oog lees die verhaal. Hier kon Hansie nie verder nie, en miskien het hy uit die saal geval, of anders het hy self afgeklim. Die spoor slinger na ‘n boom daar naby en verdwyn. Abraham kyk op. Daar, in ‘n lae mik, inmekaargetrek van koue en uitputting, sit Hansie met die stuk staal nog altyd in sy hande geklem.
“My kind!” roep die vader, tel hom versigtig in sy arms en ry terug na die laer toe. Hy lewe, maar sy asemhaling is vlak en onreëlmatig.
Die medisynetrommel word uitgehaal, en daar word met die beste rate gedokter, maar Hansie bly ylend. Die knou van die nag was te veel vir sy klein en swak gestel. “Nee, oom Tjaart,” hoor hulle hom nog een maal duidelik sê, “ek kan nie bly nie, Pa het die staal nodig.”
Toe is hy stil.
Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar