Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom leer ons so baie uit ons ellendes en so min uit ons vreugdes? Is dit omdat vreugde iets buitemensliks is, dat ons nie toegerus is daarvoor nie? In die Here is ons egter volkome toegerus om die vreugde wat Hy alleen ons kan gee te ervaar.
PETRUS BEZUIDENTHOUT
Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis
HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS
Op 6 Februarie 1838 is Retief en sy sowat sewentig geselskaplede deur Dingaan naby sy stat om die lewe gebring. Tien dae later het die Zoeloes die ander Voortrekkers ook kom aanval. Die Voortrekkers was toe al so seker daarvan dat hulle in Natal sou kon woon dat hulle oor 'n groot gebied versprei was en orals langs die Bloukrans- en Boesmanriviere, takke van die Tugela, met hulle waens en vee in klein groepies gestaan het. Slegs hier en daar was die mense nog versigting en het hulle in taamlik groot getalle bymekaar gestaan, behoortlik laer getrek en snags wagte uitgesit om hulle te waarsku.
Een van die groepies mense wat aangeval is. was die Bezuidenhouts wat aan Moordspruit, 'n tak van die Bloukransrivier, gestaan het. Hulle het vyf waens besit en drie veltente wat hulle opgeslaan het. Daar was slegs drie volwasse mans, naamlik die vader, Wijnand Bezuidenhout, sy getroude seun Daniël Bezuidenhout, en sy skoonseun Roelof Botha. Dan was daar nog 'n seun, Petrus Johannes Bezuidenhout, wat veertien jaar oud was, en 'n kleiner seuntjie genaamd Hendrik Cornelis Bezuidenhout. Verder was daar sewe vrouens en dogters, en waarskynlik drie kindertjies van minder as 'n jaar oud.
Daniël het jare later, in 1879, sy herinneringe aan hoofregter – later president – FW Reitz meegedeel, en onder andere van sy bittere ervarings die nag toe die aanval op die groepie gemaak is, vertel.
Hulle was die nag almal vas aan die slaap. Omtrent eenuur het hy die honde hoor blaf en eers gedink dat hulle besig was om met 'n luiperd te veg. Hy het opgestaan om die honde aan te hits maar hy kon moeilik beweeg omdat dit donkermaan was en die omgewing ook ruig en met doringbome begroei was. Toe hoor hy die gedruis van skildvelle en assegaaie, en dit het hom laat besef dat dit nie luiperds is nie maar Zoeloes.
Toe het hy vir sy vader wat in een van die waens was geskree dat die Zoeloes besig is om die honde dood te steek, en gehardloop om sy geweer te kry. Maar die waens was reeds omsingel en die sterwenskrete van mense in die waens was duidelik hoorbaar. Hy het probeer wegkom, vier assegaaisteke gekry en wel sy tent bereik waar sy vrou en hulle babatjie van 'n paar dae oud was. Sy kon nie self vlug nie maar het hom toe die babatjie gegee om mee te vlug. Die Zoeloes het egter die kindjie hoor huil en in die donkerte na hom gesteek, en die kindjie in sy arm doodgesteek. Hy het dit eers later bemerk en die bondeltjie onder 'n bos neergelê en verder gevlug.
Die broertjie van Daniël genaamd Petrus Johannes, het in sy vader se tent geslaap. Hy het wakker geword toe die honde so blaf en Daniël gehoor skree. Hy het slegs een assegaaisteek skrams in sy rug gekry. Toe het hy tussen die doringbome ingehardloop waar sy aanvaller hom nie kon sien nie.
Die verhaal van wat verder met Petrus gebeur het word vandag nog deur die Bezuidenhout-familie vertel. Hulle noem hom egter Hans, na aanleiding van sy tweede voornaam.
Die eerste wat Petrus gedoen het was om tussen die beeste in te hardloop, vertel hulle. Daar kon die Zoeloes hom nie hoor of sien nie. 'n Entjie verder het hy in 'n diep sloot wat net een uitkomplek het, gespring, en tot bo in 'n rantjie gevlug. Daar het hy die hele nag lank gesit en baie bloed verloor.
Die volgende môre het hy die perde in die laagte sien wei en versigtig daarnatoe gegaan. Hy het een van die perde probeer vang maar die perd wou nie stilstaan nie. Die Zoeloes wat nog daar rond was, het hom toe gewaar en gestorm om hom te vang. Hy sou nie kon ontvlug deur te hardloop nie, daarvoor was hy te swak. Toe het hy een van die perde aan die stert beetgekry en dit begin paai. Die perde het gestaan, en Petrus het sy kruisbande geneem om dit as 'n toom te gebruik. Dit was 'n bietjie kort en hy het sy kruisbande glo met 'n klomp van die perd se sterthare wat hy uitgepluk het, langer gemaak, vertel sy familie. Daarna kon hy terug na die waens toe ry om sy geweer te gaan haal, en daar het hy sy ouers, albei erg vermink en dood, sien lê.
Die Zoeloes was egter nog naby die waens en toe hy nader probeer gaan het hulle padgegee. Maar net toe hy by die waens kom het hulle weer aangestorm waarop hy eers moes wegjaag. Die proses het nog twee keer plaasgevind voor hy hoop opgegee het om sy geweer te kry. Toe het hy besluit om maar by die ander laers uit te kom. Dit was ook gevaarlik want hy kon enige tyd op die Zoeloes afkom en het steeds niks gehad om homself mee te verdedig nie.
Hy het sowat agt myl ver noord gery so vinnig as hy kon om by Doornkop, waar die groot Retieflaer gestaan het, te kom om hulle te waarsku. Die Zoeloes was op die oorlogspad en hulle sou sekerlik ook hierdie laer kom aanval. Hier het hy sy broer Daniël aangetref. Hy het glad nie geweet wat van Daniël geword het nie en waarskynlik gereken dat hy ook dood was. Hulle was die enigste van die Bezuidenhout-familie wat die lewe behou het, en nou brandarm omdat die Zoeloes al die vee veggevoer het.
By Doornkop en in Maritz se laer wat aan die Boesmansrivier naby die teenswoordige dorp Estcourt gestaan het, het die Trekkers maatreëls getref om hulself te verdedig. Die waens is dadelik in die vorm van 'n kring getrek en hulle het die Zoeloes ingewag. Toe die aanval kom het hulle hulself goed verdedig. Die aanval is afgeslaan en die Zoeloes het terug oor die Tugela gevlug. Maar daar aan die Bloukrans- en Boesmanriviere is byna driehonderd Voortrekkers en tweehonderd werksmense om die lewe gebring.