Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In hierdie moderne tyd dink ons dat die Bybel se betekenis soos al die ander dinge verander het, maar dit is die een saak wat so vas soos 'n rots staan: die Bybel het vandag nog presies dieselfde betekenis as al die eeue. Met betrekking tot egskeiding sê Jesus vir sy dissipels: "Wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie". Ook dat die man en die vrou egbreuk pleeg wanneer hulle weer met iemand anders trou – lees Markus 10. Wie dínk ons ís ons om hierdie woorde van Jesus in die wind te strooi asof dit nie meer vandag op ons van toepassing is nie – wat maak óns geslagte so besonders dat óns los en vas mag trou en skei!
GELOFTEFEES 2025 - VILJOENSKROON
Dewald Schoeman
Vandag, 187 jaar gelede, het een van die mees betekenisvolle veldslae op Suid-Afrikaanse grondbodem plaasgevind.
Hierdie veldslag het ‘n direkte invloed gehad op ons volk se voortbestaan. Dit kan vandag gesê word dat van ons, selfs almal van ons, nie vanoggend hier sou sit indien ons voorsate nie deur die genade van God hierdie roemryke oorwinning behaal het nie.
Vriende, volksgenote, kom ons kyk ‘n bietjie na die Slag van Bloedrivier.
Om beter te begryp hoe enorm die wonderwerk van Bloedrivier was, moet ons ‘n oorsig oor die gebeure kry wat in daardie tyd afgespeel het.
In November 1837, ongeveer 13 maande voor die slag van Bloedrivier, het Piet Retief, ‘n Voortrekker leier in Natal, met Dingaan, koning van die Zoeloes, begin onderhandel vir ‘n grondgedeelte. ‘n Stukkie grond wat, alhoewel verlate was op daardie stadium, onder Zoeloe-beheer was. Retief wou graag grond bekom waar die Trekkers onafhanklikheid kon verklaar van die Engelse in die Kaapse Kolonie. Dit was juis die einddoel van die bekende Groot Trek, Vryheid en onafhanklikheid.
Die betaling vir hierdie stuk grond was dat Retief en sy manne 700 beeste moes opspoor en terugbring wat Sikonyela, ‘n vyandige swart stamhoof, van Dingaan geroof het.
Retief het voldoen aan hierdie versoek en die gesteelde beeste in vroeg Februarie 1838 by Dingaan se kraal,Umgungunluvo, gelewer.
Na oorlewering het hy 69 manne saam met hom gehad, waaronder sy 12-jarige seun Pieter. Die Trekkers was baie verdeeld oor die besoek van Retief aan Dingaan. Sarel Cilliers en Gerrit Maritz het gewaarsku dat Dingaan nie te vertrou was nie. ‘n Engelse handelaar met die van Tompson het ook inligting ontvang dat Dingaan die Trekkers sou verraai en nie sy ooreenkoms sou nakom nie. Tompson self het Retief gewaarsku.
Retief was egter vasbeslote en het die waarskuwings verontagsaam.
Op 6 Februarie 1838, 10 maande vóór Bloedrivier, word Retief en al sy manne wreedaardig deur Dingaan vermoor. Retief is laaste vermoor en moes die gruweldood van sy seun aanskou. Retief is daarna in die keel met 'n assegaai doodgesteek.
Ná die moord op Retief en sy geselsskap, mobiliseer die Zoeloemag ongeveer 10 000 krygers. Hulle motief: Om al die klein groepies Trekkers langs die Boesmans- en Bloukrans-riviere te gaan uitwis.
In die vroeë oggendure van 17 Februarie, 11 dae ná Retief se moord, daal die oormag Zoeloes op die niksverwagtende Trekkers neer. 352 Voortrekkers waaronder 41 mans, 56 vroue en 185 kinders word uiters wreedaardig uitgemoor. Die bewyse van getuies oor babatjies wat uit hulle moeders se arms geruk is en dan aan hulle voete geswaai is om hulle teen ossewawiele dood te slaan, stuur skokke deur die Afrikanervolk.
Onmiddellik is besluit dat ‘n strafkommando opgeroep moet word sodat Dingaan boet vir die wreedaardigheid wat hy op die Trekkers losgelaat het.
Die Trekkers in Natal versoek Piet Uys en Andries Potgieter om te kom help. Op 6 April 1838 word 347 man in 2 kommando’s te perd ontbied om die Zoeloes te gaan straf. Een kommando onder Uys en die ander onder Potgieter.
Die kommando’s word by Italeni in ‘n hinderlaag gelei en weens ‘n geskil tussen Uys en Potgieter, word die Trekkers maklikdeur die Zoeloes verslaan. Uys wou aanval, maar Potgieter nie. Hierdie verdeeldheid lei toe tot ‘n vernederende nederlaag waarin 10 Trekkers sneuwel, onder hulle die held Dirkie Uys wat doodsveragtend tussen die Zoeloemassa ingestorm het om sy noodlottig gewonde pa, Piet Uys, te gaan probeer red.
Hierdie nederlaag verdeel die Trekkers toe nog meer. Party beskuldig Potgieter dat hy lafhartig was en dat dit dus sy skuld is dat die Zoeloes die oorhand kon kry. Hy neem ernstig aanstoot en verlaat Natal terug na die Transvaal. Die Ithaleni kommando het vandaar bekend gestaan as die Vlugkommando.
Verdeeld, verower en verneder, staar die Trekkers ‘n donker toekoms in. Leierloos, met Piet Uys wat gesneuwel het by Ithaleni, Potgieter wat teruggetrek het hoëveld toe, Piet Retief wat vermoor is en Gerrit Maritz wat toe siek is en dan ook in September, 3 maande voor Bloedrivier sterf, was dit ‘n angsvolle tyd in ons volk se geskiedenis – dit was soortgelyk aan die verwarring, onsekerheid en verdeeldheid wat ons volk vandag beleef.
Tog besef die Voortrekkers baie goed dat hulle nie nou kon gaan lê nie ! Hulle besef dat hulle nou sal moes veg om oorlewing.
Hulp word gevra van die Trekkers wat steeds in die Kolonie woonagtig was.
Hierdie versoek bereik Andries Pretorius in Graaf Reinette. 2 Jaar van te vore het Pretorius in die 6de Grensoorlog teen die Xhosas 800 man onder sy bevel gehad in die Graaf Reinette kommando. Hy was dus ‘n ervare en uiters bekwame militêre strateeg soos ons ook nou uit die geskiedenis sal leer.
Pretorius skraap 60 man bymekaar en vertrek byna onmiddellik na Natal. Toe Pretorius 23 dae later by die laers in Natal aanland vind hy die Natalse Trekkers in haglike omstandighede. Hulle klere het van hulle lywe begin af skeur, voorrade en medisyne was gevaarlik min en hulle gemoedere uiters droewig. Soos ons netnou bespreek het is hierdie Trekkers op hulle knieë gedwing. Nie net militêr nie, maar ook geestelik en ekonomies.
Tydens die Bloukransmoorde is ongeveer 25 000 beeste en ander vee van die Trekkers gesteel. Dit was oa die lewende hawe wat nodig was om van te lewe, maar ook om te verhandel vir klere, voorrade en medisyne.
Met die aankoms van Pretorius en sy geselsskap, vlam die Trekkers se gemoedere weer vinnig op. Die wonde wat die Zoeloes aan ons volk berokken het is vars in die geheue van hierdie manne, vroue en kinders.
Voorbereidings vir ‘n strafkommando word finaal getref. In tussentyd het weerbare manne van regoor die land by die geselskap kom aansluit. Die kommando groei van ongeveer 130 man na 464 man sterk.
Pretorius gee bevel dat veghekke gemaak moet word, wat tussen die waens met kettings vasgemaak kon word om te verhoed dat Zoeloe-krygers onderdeur, of tussen die waens deur kon kruip tydens ‘n aanval. Gewoonlik is hierdie versperrings aangebring deur van doringtakke gebruik te maak, maar Pretorius was versigtig en ervare en het geweet dat daar nie altyd op die slagveld doringtakke beskikbaar sou wees nie. Hy beveel ook dat ammunisie sorgvuldig voorberei moet word, die voorlaaierlopers saamgebind moet word in skaapderms om die langdraadige herlaai proses van hierdie wapens so optimaal as moontlik te kon maak.
Die gewere kon dan met ‘n growwe tipe bokhael, effektief gelaai word en as haelgewere aangewend word – dit het verwoesting gesaai op die diggepakte massa Zoeloes wat aanstorm. Elke geweer kon sowat 3 skote per minuut afvuur, elke Trekker het darem meer as een vuurwapen besit. Hulle kon dus om die beurt gelaai word.
Op 4 Desember 1838 trek die strafekspidisie Zoeloeland in met 64 waens, 500 perde, 900 osse en 3 kanonne.
Vir ons menslike natuur is dit nou maklik om terug te kyk en te sê : “Dankie tog vir ‘n bekwame man soos Pretorius wat die Trekkers uit hulle verknorsing kom red het.”
Dit is egter nie die geval nie; alhoewel die geskiedenis ons leer dat Pretorius ‘n indrukwekkende man was, vriendelik, innemend, ‘n bekwame veldheer en sterk leier, was sy beste eienskap sy onstuitbare aandrang op die geestelike voorbereiding van sy manskappe.
Pretorius was ‘n ervare krygsman. Hy het dus geweet dat die taak wat hulle nou wou aanpak haas onmoontlik was! Hy het 2 jaar van tevore in die Xhosa-oorlog reeds met ‘n soortgelyke vyand afgereken. Daar was dit egter slegs 15 000 Xhosas teen min of meer 3000 kolonie-boere en Engelse magte.
Nou trek hy met net 464 Trekkers uit teen die sterkste millitêre mag in Afrika – beste opgeleide, beste georganiseerde weermag van ongeveer 36 000 Zoeloe-soldate. Pretorius en die hele strafkommando geselskap het baie goed geweet dat hulle kanse op oorlewing maar bitter skraal was.
Soos Gideon met sy 300 manne het die Trekkers geweet dat hulle redding net van God sou kom. Hulle het gedoen wat reg en goed was, nie wat noodwendig moontlik was nie. Om die onbegonne taak moontlik te maak, het hulle op God vertrou.
So kan ons sien uit Cilliers se preke in die 2 Sondae voor die slag van Bloedrivier, op 2 Desember, 16 dae voor die slag, het hy gepreek uit Josua 10. In vers 8 staan daar : “Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie.”
Die volgende Sondag op 9 Desember preek hy dan uit Rigters 6 wat spesifiek handel oor Gideon. Hieruit kan ons sien dat die Trekkers bewus was dat hulle in ‘n baie eenderse situasie was as Gideon van ouds.
Dit wil ook voorkom asof die Trekkergeselskap op 9 Desember 1838 vir die eerste keer die Gelofte afgelê het. Dit na ‘n paar dae se worsteling en bepeinsing tussen die leiers, of hulle wel ‘n gelofte moes aflê, aangesien hulle die gewigtigheid van die saak besef het. Ook die enorme verantwoordelikheid wat hulle op ons, hulle nageslag, sou laai om die Gelofte getrou te bewaar en na te kom.
Saterdag 15 Desember, die middag voor Bloedrivier, het die Strafkommando pas deur die Ncome-rivier getrek en uitgespan, toe Pretorius ‘n groepie verkenners uitstuur om die area te bespied.
Dit was die gewoonte van die Trekkers om een dag te trek en dan by ‘n gunstige plek, gewoonlik naby water, vir ‘n paar dae uit te span sodat hulle en hulle diere kon rus. So ‘n ossewatrek was ‘n moeisame werk. Aangesien dit Saterdagmiddag was wou hulle ook alles gereed kry sodat hulle op die Sabbat kon erediens hou en rus.
Pretorius, die versigtige bevelvoerder, het daarop aangedring dat daar by elke uitspanplek, laer getrek moes word sodat hulle ten alle tye teen ‘n moontlike Zoeloe-aanval beskut kon wees.
Kort na die uitspan langs die Ncome-rivier het die Trekkerverkenners teruggesnel waens toe om die berig te bring dat hulle op die ganse Zoeloe-leer afgekom het, ongeveer 25 km van hulle af. Die Zoeloes sou die laer in dieselfde aand kon bereik.
Vinnige, sekure besluite het gevolg. Pretorius het die terrein bekyk en onmiddellik beveel dat hulle weer moet inspan en die waens terugtrek deur die Ncome-rivier om daar ‘n laer te trek op die plek wat ons vandag ken as die Slagveld van Bloedrivier. Aan die oostekant beskerm deur die Ncome-rivier wat in vloed was en dan met ‘n donga wat suid-wes om die laer gekronkel het, met walle van ongeveer 4.2m hoog, sou die natuur beskutting bied teen die Zoeloes se stormlope. Die 3 kanonne is ook aan die weste, noorde en oostekant van die laer opgestel.
Die Trekkers was baie goed geoefen en kon hierdie laer binne ‘n uur trek. Laer-kommandant “Rooi” Piet Moolman het hierdie aksie gelei. Hulle moes ook al die osse en perde binne in die laer vaspen om te verseker dat die Zoeloes nie hierdie diere kon steel en wegdryf nie. Dit was‘n risiko, want as hierdie diere verbouereerd geraak en op loop geraak het, sou hulle maklik die laer kon breek en uithardloop. Dit kon die hele laer in gedrang bring.
Pretorius het dadelik na die berig van die Zoeloe-leër se ligging, met 220 man en een kanon wat deur ‘n perd gesleep kon word, die laer verlaat om die Zoeloes se opmars te probeer stuit.
Nadat hulle die Zoeloe-leer ongeveer ‘n uur later bereik het, het hulle beraad gehou om aan te val. Dit was ‘n bergagtige en gebroke terrein. Pretorius het besluit om nie in die oopte met die Zoeloes slaags te raak nie en het beveel dat die Trekkers na die laer moes terugkeer.
Dit blyk nie ‘n baie gewilde besluit te gewees het nie. ‘n Paar manne het van hom verskil en wou losbrand op die Zoeloes, maar later is dit vir ons duidelik dat dit die regte besluit was.
Die Zoeloes sou hulle waarskynlik omsingel en maklik in ‘n hinderlaag kon lei, net soos by Ithaleni. Pretorius het hierdie faktore noukeurig in ag geneem.
Hierdie besluit om terug te val het wel vir die Zoeloes al die insiatief in die komende veldslag gegee. Die Trekkers was nou uitgelewer om te verdedig wanneer ookal die Zoeloes sou goed dink om aan te val.
Die aand van 15 Desember sou lank wees… Wat die Trekkers die meeste gevrees het, was ‘n moontlike nagaanval deur die Zoeloes. Hulle sou nie kon sien om raak te skiet en om die kanonne effektief te benut nie, die laer sou waarskynlik vinnig oorweldig kon word.
Om hulle kanse op weerbaarheid in die geval van ‘n nagaanval te verbeter, het Pretorius bevel gegee dat vetkerse op sweepstokke gehang en tussen die waens gemaak staan moes word. Dit sou darem ‘n dowwe lig direk om die laer skyn sodat hulle iets kon sien.
Hier sien ons een van die wonderwerke van 16 Desember 1838. Jare later, vertel Zoeloe-krygers wat aan die slag deelgeneem het van die snaakse ligte hoog in die lug rondom die laer. Dit het die Zoeloes oortuig dat geeste die laer beskerm en dat ‘n dagaanval meer gunstig sou wees. ‘n Deel van die Zoeloe-leer het ook in die stikdonker, mistige nag, verdwaal.
Hierdie nag was dan besonder mistig, sodat die grond, wat meestal potklei was, glad en taai geword het. Dit het die Zoeloes se beweging baie gestrem, maar ook die Trekkers benoud gemaak, want hulle biskruit was higroskopies. Dit beteken die kruit trek water. As die kruit teen dagbreek sou nat wees, sou die voorlaaiers nie skiet nie…
Die Voortrekkers het dan getrou die aand ook Godsdiens gehou. Die Zoeloes wat toe al naby was kon hoor hoe die Trekkers sing. Die historikus, Gustav Preller, het aangeteken dat ‘n hoogsbejaarde Zoeloe hom jare later vertel het. “Hulle het gesing toe dit donker word net asof almal saam huil, en ons jonges het geluister daarna, en gesê:’ja, sing maar julle, want môre se son sal julle nie weer sien ondergaan nie.' ”
Volksgenote, ons moet die erns van hierdie gebeurtenis duidelik besef !
Aan die eenkant het ons ‘n volk, die Afrikaner, wat ‘n uiterste minderheid is, maar op die enigste Lewende Almagtige God vertrou. Nie net vertrou hulle om hulle eie oorlewing nie, maar ook op die voortbestaan van die gelowige Afrikanervolk aan die suid-punt van Afrika.
Teenoor hulle staan die magtige Zoeloe-ryk. Weke vooraf word die Zoeloe-leër voorberei vir die konfrontasie met die Trekkers deur toordokter -rituele. Maphalala, die bekendste Zoeloe-historikus, erken dat izinyanga zempi(spesiale oorlogsdokters) in seremonies wat sowat 3 dae lank geduur het, izentelezi (oorlog muti) voorberei het wat die krygers dan blykbaar onoorwinbaar sou maak.
In die een hand het ons God se belofte aan die Afrikanervolk, soos in Josua :” Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie.”
In die ander hand het ons Satan se belofte aan die Zoeloes. Doen vir my ‘n duiwelse ritueel van 3 dae, eer my wat Satan is en ek gee vir julle medisyne wat julle in staat sal stel om die veldslag te wen.
Vervolg more...