Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel skryf nie allerlei Boererate vir beproewing voor nie. Dit skryf God voor. Nie as ‘n pynstiller nie, maar as Iemand wat ons in ons beproewing bystaan en help; Iemand wat omgee en ons deur die diep waters van die lewe lei.
M O S E S... (5)
...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
DIE TIEN PLAE
Die Here het vir Moses gesê: “Let nou op wat Ek met die ongehoorsame farao gaan maak. Hy sal gretig wees om hulle te laat gaan. Hy sal selfs by hulle aandring om pad te gee uit sy land.”
Om die Israeliete en Moses se twyfel verder hok te slaan, het die Here aan Moses gesê: “Onthou Moses, Ek is die Here. Ek het my aan Abraham, Isak en Jakob voorgestel as God die Almagtige. Hulle het My nie geken as ‘die Here’ nie. Ek het met hulle ‘n ooreenkoms gemaak om die land Kanaän, waar hulle vir ‘n tydjie oorgebly het, vir hulle te gee. Jy kan verseker weet dat ek gehoor het hoe die mense kla omdat hulle soos slawe vir die Egiptenaars werk. Ek het onthou van my ooreenkoms met hulle. Daarom moet jy vir die Israeliete gaan sê: Ek is die Here. Ek sal julle verlos van die slawewerk in Egipte. Ek sal julle bevry met krag en met sterk vergeldingsdade. Ek maak julle my eie volk. Ek sal julle God wees. Julle sal weet dat dit Ek, die Here julle God is wat julle van die slawewerk in Egipte bevry het.
Ek sal julle onder eed na die land bring wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob beloof het. Dit sal julle eie land wees. Ek is die Here.”Met hierdie treffende onderhoud het die Here vir Moses weer moed ingepraat. Hy het vir hom gesê: “Gaan praat weer met die koning van Egipte dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.” Moses het egter geantwoord: “Maar Here, die Israeliete luister nie eers na my nie. Hoe sal die farao dan na my luister? Ek kan nie goed praat nie.” Maar die Here het daarop aangedring dat hy en Aäron weer na die farao toe gaan en eis dat hy die Israeliete moet toestemming gee om sy land te verlaat.
Moses en Aäron was tuis in die huis waar hulle gebore is. Moses was nou 80 jaar oud en Aäron 83. Ek, hulle suster Mirjam, het hulle versorg. Moses se vrou, Sippora en sy seuns, Gersom en Eliëser, het na Midian teruggegaan en sou by ‘n latere geleentheid weer by hom aansluit, wanneer ons met die volk deur die woestyn trek.
Ten spyte van die besware wat Moses nog steeds geopper het, het die Here vir hom en Aäron opdrag gegee om weer na die farao terug te gaan en te eis dat die volk moet trek. Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal jou soos God laat wees teenoor die farao. Jy moet alles vir Aäron sê en hy moet eis dat die Israeliete uit Egipte trek. Ek sal die stamme deur groot vergeldingsdade uit Egipte uitlei. Dan sal die farao en die Egiptenare weet hoe magtig Ek is en dat Ek die Here is.”
Toe Moses hulle by die farao kom, het hy verwag dat hulle vir hom moet bewys dat God hulle gestuur het. Moses het Aäron beveel om sy herderstok op die grond te gooi. Dit het in ‘n slang verander. Die farao het sy wyse manne nadergeroep. Hulle het met hulle kunsies presies dieselfde gedoen. Toe hierdie “slimmes” hul kieries neergooi, het dit ook in slange verander, maar Aäron se slang het hulle slange ingesluk! Alhoewel die farao hom daaroor verbaas het, het hy hardkoppig gebly, soos die Here voorspel het.
DIE EERSTE PLAAG: RAMP MET BLOED
Die Here sê toe vir Moses: “Farao bly nog steeds eiesinnig en hy weier steeds om die volk te laat gaan. Môre-oggend as hy afgaan rivier toe, moet jy met hom gaan praat. Gaan staan langs die rivier en wag vir hom daar. Neem jou herderstok wat in ‘n slang verander het met jou saam en as hy opdaag, sê jy vir hom: Die Here, die God van die Hebreërs het my hier na jou toe gestuur om weer vir jou te sê jy moet my volk toelaat om na die woestyn te gaan, sodat hulle daar vir Hom kan offer. Maar omdat jy weier, gaan Hy nou iets doen waaraan jy sal weet dat Hy die Here is.”
Die farao sien toe dat Moses na die rivier toe loop en met sy herderstaf op die water slaan. Hy sien tot sy verbasing dat daar ‘n verskriklike ding gebeur. Die helder water van die Nyl begin in donkerrooi bloed verander! Jy kan dit nie drink of vir enigiets meer gebruik nie. Die visse daarin vrek en alles begin sleg ruik. Die Egiptenare grawe putte langs die rivier-oewer om drinkwater te kry.
Onderwyl dit allles besig is om te gebeur, praat die Here met Moses: “Sê vir Aäron hy moet sy kierie uitsteek in die rigting na al die plekke in Egipte waar daar water is, sodat dit ook in bloed kan verander.”
Die hele Egipteland was net die ene stinkende bloed.
Die betekens van hierdie eerste plaag is dat die Here ook oor die Nyl regeer, wat deur Egipteland aanbid is. Die rivier is in verband gebring met die Vrugbaarheidsgod Osiris. Die lewegewende rivier word nou ‘n straf, deurdat die bloed ‘n beeld van ondergang en dood word.
TWEEDE PLAAG: PADDAS, PADDAS, PADDAS!
Toe die farao na ‘n bloederige week niks gedoen het nie, stuur die Here weer vir Moses na hom met hierdie boodskap: “Hoor wat die Here sê: Laat my volk trek, sodat hulle my kan gaan aanbid. As jy weier om dit te doen, moet jy nou mooi hoor: Ek sal hordes paddas oor jou hele land laat kom.
Paddas is in Egipte beskou as ‘n verskynsel van lewenskrag en lewensvernuwing en vrugbaarheid. Maar nou sou hulle groot getalle ‘n verskrikking word. Aäron moes toe sy herderstaf uitsteek na al die riviere, kanale en moerasse in Egipte. Die paddas het toe gekom. Die towenaars kon egter ook paddas maak. Maar ‘n mens kan jou skaars voorstel hoe leef jy met paddas op jou eettafel, paddas in jou bed, paddas wat onder jou klere op jou lyf kriewel, en so aan.
Die farao het gesoebat: “Vra tog die Here om die paddas van my en my volk weg te vat. Ek sal die volk laat gaan om vir die Here offers te bring.” Moses het dit gedoen en die paddas in die huise en op die strate en in die veld het almal gevrek. Hulle is op hope bymekaargemaak en ‘n doodsreuk het oor die land gehang. Maar toe die farao sien die krisis is verby, raak hy weer eiesinnig en weier om na Moses en Aäron te luister.
Vervolg...