Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christus verklaar self dat Satan finaal, skielik en onkeerbaar soos 'n weerligstraal uit die hemel gewerp is; dat Hy ons bewapen teen al Satan se liste; en dat Hy ons teen alle bedreiging van Satan, of dit nou van die natuur of van die geestewêreld sal kom, sal beskerm.
M O S E S... (8)
...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
6. DIE EERSTE PAASFEES
Al die plae het uitgeloop op die aankondiging van die tiende plaag. Moses het nie weer met die farao onderhandel nie, maar hom voor die feit gestel dat die uittog gaan plaasvind nadat die plaag voltrek is.
Die Here het vir Moses gesê: “Hierdie maand sal van nou af die belangrikste maand wees en die nuwe jaar moet met hierdie maand begin. (Dit is die lentemaand Nisau – Maart/April). Elke gesin moet op die 10e van die maand ‘n lam in die hande kry. Indien daar te min mense in die huisgesin is om ‘n lam op te eet, moet hulle dit met ‘n ander gesin deel. Dit moet ‘n rammetjie wees uit die skape of bokke wat ‘n jaar oud is sonder enige gebrek.
“Op die 14e dag moet die rammetjie teen skemeraand geslag word. Hulle moet van die rammetjie se bloed aan die bokant en sykante van die kosyn van die huis se voordeur smeer, waar hulle gaan eet. Die vleis moet oor die vuur gebraai word en daardie selfde aand saam met suurdeeglose brood en kruie geëet word. Die vleis moet gaar wees. Dit mag nie gekook word nie. Die hele lam moet met kop, pote en alles gebraai word. Hy moet teen die volgende oggend heeltemal opgeëet wees. Wat daarvan oorbly – soos die bene - moet die volgende oggend verbrand word. Die volk moet die maaltyd vinnig, asof hulle haastig en reisvaardig is, eet. Vir sewe dae, tot die 21e dag, moet hulle ongesuurde brode eet en in dié tyd moet alle suurdeeg uit die huise verwyder wees.”
Die bloed van die lam is simbool van hulle gespaarde lewens en is ‘n teken vir die Here dat Hy moet verbygaan en nie die huis moet tref nie. Die kruie is beeld van die bittere verdrukking wat hulle in Egipte moes indergaan. Die ingesuurde brode is beeld van die haas waarmee hulle uit Egipte moes vertrek. Dit alles het die voorspel gevorm tot die 10e plaag.
Die viering van die Paasfees het later as ‘n herinnering gedien vir die volk dat die Here hulle op wonderbaarlike wyse gered het uit die slawetoestand in Egipte. Op die vooraand van sy kruisiging stel Jesus die Nagmaal in voor die Paasfees. Hy sê daarmee dat Hy die Een is wat gekom het om deur sy sterwe verlossing te bewerkstellig.
Die 10e plaag tref Egipte teen middernag. Dis die duisternis wat die lig van die songod uitdoof. Alle eersgeborenes sterf. Die dood van die een wat die geslag moet voortsit, maak die ramp des te groter. So tref die Here die aardse beliggaming van die songod, naamlik die farao direk. Met die plae bewys die Here sy heerskappy oor die gode van Egipte en oefen hy strafgerigte uit oor al die lewensterreine en landbouseisoene van Egipte, om daarmee die bevryding van sy volk te bewerkstellig.
7. DIE UITTOG UIT EGIPTE
Teen hierdie God kon die farao nie standhou nie en die volk kry die opdrag om te trek. Hulle eis silwer en goud van die Egiptenare. Dit vergoed vir die verdrukking wat hulle gely het. Hulle was 430 jaar in Egipte. Baie van hulle was van gemengde bloed. Altesaam het sowat 600 000 manne, buiten die vroue en kinders, die land verlaat.
Dit is die aand voor die uittog. Ek, Mirjam staan voor ons ou woning, waar ek soveel jare saam met my ouers gewoon het, waar my broer Aäron gebore is en later my boetie Moses wat ons in die riete gaan wegsteek het. My hart is vol weemoed, want ek weet dis ons laaste nag in hierdie huis. Moses hulle is in die huis besig om die gebraaide paaslam saam met ongesuurde brood te geniet. Ek het vroeër reeds die bloed van die lam aan ons deurkosyn gesmeer. Daar heers ‘n kil atmosfeer.
Toe hoor ek dit: Eers vaagweg, maar toe al hoe duideliker, kom die jammerkrete van mense uit verskillende rigtings van die Egiptiese woonbuurt op die nagwind aangewaai. Moses kom uit die huis en sê: “Mirjam, God is besig om die 10e plaag aan die halsstarrige farao te voltrek. Hoor hoe sterf die oudstes in die huisgesinne, ook die farao se oudste seun. As dit lig word, gaan die volk se uittog uit Egipteland begin!”
Dit was so. Met dagbreek het die uittog by Raämses begin. Wat ‘n skouspel was dit nie! Dit was wonderlik om te sien hoe elke Israeliet net één doel voor oë het en dit is om met sy laaste bietjie besittings op karretjies, waens, op rydiere soos donkies en te voet in een groot massa die uittog begin, terwyl die besitters van vee hul beeste en skape en bokke in een groot trop onder toesig van wagters laat aandryf het. Hulle het vertrek soos ‘n leër wat op mars is.
Die optog het by Raämses begin. Ons het stadig voortbeweeg tot by Sukkot. Moses het Josef se oorskot saamgeneem om Israel se belofte destyds aan hom te vervul. Ons is van Sukkot af weg en het by Etam aan die kant van die woestyn gekom.
Gedurende die dag het die Here vir ons die pad gewys met ‘n hoë wolkstapel wat voor ons uitgesweef het en snags het ‘n wolk waarin vuur was, ons pad verlig. Ons kon dus dag en nag trek.
By Etam het die Here vir Moses gesê om die volk te laat omdraai en hulle laer te gaan opslaan voor Pilhagirot, tussen Migdal en die see, teenoor Baäl-Sefon. Die Here het Israel dus nie kortpad deur die Filistynse gebied na Kanaän laat trek nie, maar met die woestynpad in die rigting van die Rietsee, want die Here het gesê, as die volk nou met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug na Egipte toe.
DEUR DIE RIETSEE
Ons deurtog deur die Skelfsee (of Rietsee), het na alle waarskynlikheid oos van Gosen, by een van die mere noord van die Suezkanaal plaasgevind, miskien die Bittermeer of die Timsameer.
Nadat die volk getrek het, het die farao weer spyt gekry. Hy het sy leërmag gemonster om die volk van die Here agterna te sit. Hy het ons teen die Skelfsee vasgekeer, wat groot paniek by die volk veroorsaak het. Die farao was persoonlik daar met sy eie oorlogswa en perderuiters. Sy hele leërmag was saam met hom, op al Egipte se 600 beste oorlogswaens, met ‘n bemannng van drie op elkeen.
Toe die volk bewus word van die groot gevaar waarin ons verkeer, het hulle baie bang geword en by die Here begn pleit. Hulle het ook by Moses gaan kla: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons te begrawe nie, dat jy ons hiernatoe gebring het om in die woestyn te sterf? Wat het jy met ons aangevang om ons uit Egipte te laat trek? Het ons nie vir jou gesê om ons met rus te laat toe ons nog in Egipte slawe was nie? Dit was beter om slawe van die Egiptenaars te wees, as om lyke in die woestyn te wees!”
Moses het hulle probeer bemoedig en hulle verseker dat die Here ons sou red. Die Here sê toe vir Moses: “Vir wat staan jy so benoud en roep na my? Sê die mense moet begin beweeg. Vat jou herderstok in jou hand en hou dit uit oor die water. Daar sal ‘n pad deur die water kom waarlangs die Israeliete op droë grond kan trek. Ek sal die Egiptenaars vasberade maak om agter die Israeliete aan te gaan.”
Toe ek dit hoor, was ek saam met die volk nog meer benoud, maar toe praat die Here weer met Moses en sê dat as Hy vandag klaar is met die farao, sy hele leër, sy waens en ruiters, sal Egipte weet dat Hy die Here is.
Toe het daar iets wonderliks gebeur: God se boodskapper wat die optog gelei het, het toe agter ons gaan staan. Die wolkkolom wat voor ons uit beweeg het, het ook agter ons ingeskuif. Dit het gaan hang tussen die plek waar die Israeliete kamp opgeslaan het en waar die Egiptenare se kamp was. Hier was dit donker, maar aan Israel se kant was dit lig. Die vyand kon gedurende die nag nie nader aan ons bang Israeliete kom nie.
Moses het sy hand oor die see uitgestrek. Die Here het ‘n sterk oostewind laat opsteek wat deur die nag só sterk gewaai het dat dit die water oopgekloof en die seebodem droog gemaak het. Ons verbaasde Israeliete het op droë grond deur die see gegaan met die water soos twee hoë mure weerskante van ons. Die Egiptenaars is gretig agter ons aan, met al die farao se perde, sy oorlogswaens en hulle bemanning.
Nog gedurende die vroeë nagwaak het die Here vanuit die vuurkolom en die stapelwolk op hulle neergekyk en verwarring onder hulle laat ontstaan. Hy het die wiele van hulle waens laat vasval, sodat hulle nie kon beweeg nie. Moses het bevel gekry om sy hand weer oor die water uit te steek. Dit het teruggevloei en die farao en die hele Egiptiese mag laat verdrink. Ons het gesien hoe die lyke van die Egiptenaars op die strand uitspoel. Ons volk se wankelende geloof in die Here en hulle vertroue in Moses, is deur hierdie daad wat God hulle van ondergang gered het, baie versterk.
MOSES SE LIED VAN BEVRYDING
Die geweldige gebeurtenis hoe die Here sy ou volkie in nood van ondergang en uitwissing gered het, het Moses se gemoed met verwondering en aanbidding vervul. Hy het in ‘n jubellied die geredde volk voorgegaan. Hulle het gesing: “Ek wil oor die Here sing, want Hy is geweldig groot. Hy het perd en oorlogswa in die see gesmyt.”
MIRJAM SE LIED
Toe het ek, Mirjam, Moses en Aäron se suster, my roeping as vroulike profeet baie sterk gevoel. Ek het ‘n tamboeryn gevat en al die vroue het agter my aan gedans, terwyl hulle op tamboeryne slaan. Ek het vir hulle voorgesing: “Sing vir die Here, want Hy is geweldig hoog. Perd en ruiter het Hy in die see gegooi.”
Daarna het Moses die volk weggelei van die Rietsee af. Ons het direk na die Surwoestyn getrek. Ons het drie dae lank deur hierdie droë streek en hygend van dors by Mara beland, waar daar genoeg water by hierdie mooi fontein was, maar dit was só brak en bitter dat dit ondrinkbaar was. Toe die dorstige volk se klagtes op Moses begin reën, het hy die Here oor die probleem geraadpleeg. God het aan hom ‘n stuk hout gewys wat hy in die fonteinwater moes gooi. Dit het dit soet en drinkbaar gemaak.
Die Here wou graag die klaende en moedelose volk ‘n bietjie troos en toets. Hy het deur Moses vir hulle gesê: “As julle goed luister na die Here julle God en doen wat vir Hom reg is, gehoorsaam is aan sy wette en reëls, dan sal Ek julle nie dieselfde dinge laat oorkom as die Egiptenaars nie. Ek is die Here wat julle gesond sal hou.”
Van Mara af is hulle verder suidwaarts, tot hulle by Elim, ‘n pragtige oase aangekom het. Hier was volop water en boomryke skadu teen die son! Daar was twaalf sterk fonteine en sewentig groot palmbome, waar die volk gretig kamp opgeslaan het.
Die mikpunt van die Here met hierdie groot trek van ons Israeliete uit Egipte, naamlik om Kanaän te bereik, het met sy suidwaartse gang oënskynlik weg van Kanaän af beweeg, omdat die Here die volk nie op die korter Filistynse pad langs die Middellandse See aan groot gevare wou blootstel nie. Daarom het die pad deur veilige droë streke en woestyne gegaan.
Vervolg...