Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het geen behae in die dood van die goddelose nie maar dat hy hom moet bekeer. Wat doen ons om mekaar te waarsku teen verkeerde dinge? Sluit ons liewe vredesonthalwe ons oë toe vir ons kinders en geliefdes se sondige lewens? God sê dat daardie verlore siel se bloed dan aan ons hande sal wees. As ons die persoon wel waarsku en hy gaan voort om in goddeloosheid te leef, sê God dat ons daardeur ons eie siel gered het (Eség 33).
M O S E S... (10)
...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
DIE GOUE KALF
Toe die volk nie meer vir Moses sien nie en nie weet wat van hom geword het nie, gaan hulle na Aäron en sê vir hom: “Ons weet nie wat van die man Moses geword het wat ons uit Egipte weggelei het nie. Maak vir ons ‘n god wat ons kan lei.”
Aäron het dit gedoen. Hy het hulle goue ringe en versiersels gebruik en ‘n goue kalf vervaardig. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het!” Hulle het hom aanbid en vir hom geoffer, want Aäron het ook nog ‘n altaar voor die kalf gebou en aangekondig: “Ons hou môre ‘n fees vir die Here!” Israel het toe brandoffers en feesoffers vir hulle afgod begin aandra. Die feesviering het skoon handuit geruk.
Die Here sê toe vir Moses: “Klim dadelik van die berg af! Die volk wat jy uit Egipte bevry het, is besig om lelike dinge te doen. Hulle is van koers af en die kluts skoon kwyt. Hulle het vir hulle ‘n kalf gemaak en aanbid hom en offer vir hom. Hulle sê vir mekaar: “Hier is jou god wat jou uit Egipteland bevry het!”
Die Here sê ook verder vir Moses: “Ek sien dat hierdie volk sy eie kop gaan volg. Jy moenie My nou keer nie. Laat staan My dat Ek my woede op hulle kan uithaal. Dan sal Ek jou liewer ‘n groot nasie maak.”
Maar toe begin Moses by die Here te pleit om dit nie te doen nie. Ten spyte van al die probleme en moeilikhede wat ons volk hom al besorg het, het hy hartstogtelik lief geword vir sy Israel. Hy vra vir God: “Here, waarom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag en sterkte uit Egipte bevry het? Waarom sal U die Egiptenaars kans gee om te sê: ‘Hulle God het hulle om die bos gelei. Hy het hulle bevry, sodat Hy hulle in die bergwêreld kon uitwis, sodat hulle van die aarde af verdwyn!’ Moet tog asseblief nie kwaad word nie. Sien af daarvan en moenie hierdie ramp oor hulle laat kom nie. Onthou tog dat U ‘n ooreenkoms gesluit het met Abraham, Isak en Jakob. U het vir hulle belowe: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie hele land vir julle nageslag gee om vir altyd in te woon.” Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor die volk wou bring.
Moses het met beswaarde gemoed die twee plat klippe geneem waarop God self aan albei kante daarvan sy verbondsbepalings geskryf het en die berg afgeklim. Toe hy die kamp nader, sê Josua wat hom vergesel het: “Dit klink of daar oorlog in die kamp is.”
Vir Moses het dit egter geklink of dit die lawaai van feesviering is wat hulle hoor, maar toe hy die kalf en die gedansery sien, het hy so kwaad geword dat hy die twee klippe in sy hande op die grond neergeslinger het, waar dit in stukke gebreek het.
Die lawaai het weggesterf toe die volk vir Moses gewaar. Hy het reguit na die afgodskalf geloop, dit opgetel en met behulp van Josua en ‘n paar ander in die vuur gegooi. Toe daar van die volk se nuwe “god” net as oor was, het hy dit bymekaar gekrap, in die water gegooi en vir dié wat naby hom was, gegee om te drink.
Hy vra vir Aäron: “Hoe het die volk dit reggekry dat jy hulle so ‘n groot sonde laat doen het?”
Aäron het Moses met die volgende verklaring probeer tevredestel: “Moenie kwaad word nie. Jy weet self hoe maklik hierdie volk kwaaddoen. Hulle wou hê ek moes vir hulle ‘n god maak wat hulle kan lei. ‘Ons weet nie wat geword het van hierdie Moses wat ons uit Egipte gevat het nie.’ Ek het toe hulle goue oorringe gevra en dit in die vuur gegooi en siedaar, hierdie kalf kom toe uit die vuur!”
Moses het besef dat Aäron toegelaat het dat die volk handuitruk. Hulle was ‘n bespotting vir hulle vyande. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en uitgeroep: “Almal wat aan die Here se kant is, kom staan hier by my!” Al die leviete het by hom gaan staan. Hy sê toe vir hulle dat die Here hulle beveel om met hul swaarde deur die hele kamp te gaan en voor die voet, vriend, vyand of familielid dood te slaan. In die slagting wat gevolg het, het ongeveer 3 000 goue-kalf-aanbidders gesterf.
Moses het vir dié wat oor was, gesê: “Julle het gruwelik teen God gesondig. Ek sal weer opklim na Hom toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle dit vergewe.”
Moses het weer op die berg geklim en toe hy in die teenwoordigheid van die Here kom, begin hy pleit: “Ag tog Here, hierdie volk het ‘n verskriklike sonde gedoen. Wil U nie maar hulle sonde vergewe nie? As U nie wil nie, moet U tog maar my naam uitvee uit die boek waain U dit opgeteken het.”
Die Here antwoord: “Ek sal net dié wat teen My gesondig het se name uitvee uit die boek. Gaan en gaan lei die volk verder na die land wat ek vir Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek het toe belowe dat Ek hierdie land aan hulle nageslag sal gee. Ek sal ‘n engel voor julle uitstuur en die heidense nasies uit die land verdryf. Maar Ek sal nie saamgaan nie. As Ek saamgaan, sal Ek julle vernietig. Jy en die volk wat jy uit Egipte gelei het, moet nou maar van hieraf verder trek. Sê vir Israel: Julle is ‘n eiesinnige volk. As ek ‘n tree saam met julle verder moet trek, gaan Ek julle vernietig.”
Vandat Moses van die berg af teruggekeer het, het hy ‘n entjie buite die kamp ‘n tent opgeslaan wat die ontmoetingstent genoem is. Die Here het ‘n wolkkolom bo die tent laat hang. Moses het in die tent met die Here gepraat. Wanneer hy in die tent ingaan, het die wolkkolom afgesak en oor die tent bly hang. Die volk het, wanneer hulle dit opmerk, by die ingang van hulle tente gekniel om te bid, want hulle skuldgevoel was enorm groot oor die goue kalf-aanbidding. Die wolk het dan daar bly hang tot die Here klaar met Moses gepraat het. Dit was soos twee vriende wat met mekaar gesels en in die oë kyk.
Toe Moses weer in die tent kom, sê hy vir God: “U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het. Maar wie gaan U saam met my stuur? Sê vir my wat u planne is, sodat ek kan weet wat U van my verwag. Hierdie mense is tog u eie volk.”
Die Here het geantwoord: “Moet Ek dan self saam-gaan sodat jou hart kan rus?”
Moses sê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ‘n tree hiervandaan verder laat beweeg nie. As U nie saamgaan nie, sal niemand weet dat U vir my en u volk liefhet nie. Hoe anders sal hulle weet dat U oor ons anders voel as oor ander volke?”
Toe kom God se wonderlike antwoord: “Goed. Ek sal doen wat jy gevra het. Jy dra my goedkeuring weg. Jy is my vriend.”
Moses het toe gevra of hy nie tog maar die Here se heerlikheid kan sien nie. Die Here het beloof om hom iets van sy goedheid te laat sien en hom sy stem te laat hoor wanneer Hy sy Naam, “Die Here” uitroep, maar hy durf nie God se gesig sien nie. Die Here sal by hom verbygaan sodat hy Hom van agter kan sien. Niemand mag God van voor af sien nie. Geen mens sal bly leef as hy sien hoe die Here lyk nie. Moses was tevrede.
Die Here het toe in ‘n wolk afgekom en by Moses gaan staan. Toe het Hy by hom verby beweeg en hardop sy Naam “Die Here!” uitgeroep:
“Ek is die Here.
“Ek is ‘n God wat barmhartig en genadig is.
“Ek het geduld met mense.
“Ek is lojaal.
“Ek bly getrou.
“Ek bly vol liefde oor al die geslagte.
“Ek vergeef alles wat hulle verkeerd gedoen het.
“Ek laat sonde nie sommer verbygaan nie.
“Ek straf selfs die kinders tot in die derde en vierde geslag daarna vir die sonde wat hulle voorouers gedoen het.”
Moses het hierdie wonderlike getuienis van God oor Homself met geboë hoof aangehoor. Toe het hy vooroor gebuig en gebid: “As ek regtig u goedkeuring geniet het, Here, trek dan verder saam met ons. Vergeef tog maar ons sonde en oortredings, al is ons so ‘n eiesinnige volk. Aanvaar ons tog as u eiendom.”
Die Here sê toe: “Goed. Ek sluit met julle ‘n ooreenkoms. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur.” Hy sal ook die nasies voor hulle uit verdryf en vernietig. Israel mag nie met hulle en hul afgode meng nie.
Die Here het vir Moses gevra om weer twee plat klippe gereed te kry en die volgende dag daarna die berg uit te klim, sodat Hy weer sy Wet daarop kan skryf. Moses moes alleen gaan en geen dier mag teen die berg wei nie. Die Here het die “tien woorde,” sy Wet, weer neergeskryf en tydens sy oorhandiging daarvan aan Moses, het Hy ook instruksies uitgereik hoe die tent van samekoms, die tabernakel vervaardig moet word en ook die Ark van die Verbond, asook die toebehoorsels daarby, soos die tafel vir die offerbrood, die brandofferaltaar, die waskom en des meer. Hy het ook opdrag ontvang hoe die priesters se klere daar moet uitsien en hoe dit vervaardig moes word.
Moses was 40 dae en 40 nagte op die berg. Toe hy weer tussen ons kom, het sy gesig só geblink van God se heerlikheid wat Hy op hom afgestraal het, dat ons by tye moeilik na hom kon kyk. Moses moes dikwels sy gesig met ‘n doek bedek wanneer hy met ons praat. Dit het ook gebeur wanneer hy in die tent met God in gesprek was.
Gedurende die tydperk wat ons hier aan die voet van Sinaï vertoef het, het die Here buite die kamp in die tent aan Moses al die wette gegee wat hy in Levitikus opgeteken het.
Ons verblyf by Sinaï het meer as twee jaar geduur. Een van die laaste dinge wat daar plaasgevind het, was toe die Here vir Moses opdrag gegee het om die volk te laat tel. Dit was in die middel van die lente in die tweede jaar van ons verblyf by Sinaï. Moses moes reël dat ‘n sensus van al die Israeliete opgeneem moes word volgens hulle stamme en familiegroepe, van al die weerbare mans bo die ouderdom van 20 jaar. Dis bevind dat daar uit die elf stamme altesaam 603 550 manne was wat kon gaan veg. Levi se afstammelinge, die Leviete, is nie bygereken nie, want hulle is afgesonder en aangestel as priesters om diens by die tabernakel te doen en vir Aäron by te staan.
Voordat ons Sinaï verlaat het, het die Here ook vir Moses en Aäron gesê om vir elke stam ‘n bepaalde plek in die kamp te gee. So kon elke stam hiervandaan volgens sy familie en onder sy eie vaandel kamp opslaan en weer vertrek.
Vervolg...