Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Afsondering is een van die oudste behoeftes van die mens. Elkeen van ons wil soms bietjie alleen wees sodat ons rustig kan wees, sonder die inspanning wat ander mense se teenwoordigheid bring. Ons moet egter onthou dat ons nooit, nooit sonder God se teenwoordigheid is nie. Afsondering beteken dus vir die Christen om alleen saam met God te wees, soos wat Christus in afsondering gaan bid het voor sy kruisiging.
DIE OES VAN ONS LAND...
...HOE LYK DIT?
Hannes Ollewagen
Matt. 13:1-23
In hierdie gelykenis wat Jesus vertel, sien ons hoe die saaier uitgegaan het om te saai en hoe die saad op die verskillende plekke geval het. In verse 19 -23 verklaar Jesus aan sy disspels die gelykenis sodat hulle dit beter kan verstaan.
In vers 19 verduidelik Hy dat die saad wat op rotsagtige plekke geval het, is soos iemand wat die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie. Die woorde van die Woord vind dus nie ingang is sy/haar lewe nie. Is dit nie daarom dat dit so uiters noodsaaklik is om nie van ons stiltetyd net ‘n gewoonte te maak om ons gewetens te sus nie? Verstaan ek werklik wat ek lees wanneer ek die Woord van God open sodat Hy met my kan praat, of rammel ek maar net gou ‘n paar versies af om my gewete stil te kry vir die dag? Indien ek nie erns van my tyd saam met God maak nie, moet ek nie verbaas wees wanneer die Bose kom en my van die saad wat in my hart gesaai is, beroof nie!
Maar wat as ek nie verstaan wat ek lees nie?
Lees weer! Bid daaroor en vra God vir wysheid en insig, want Hy beloof in sy Woord dat ons Hom sal soek en Hom sal vind, as ons Hom soek met ons hele hart. Ons leer ook in Jakobus dat enigiemand wat wysheid kortkom, dit van Hom moet bid. Volhard in die gebed en soek God totdat jy Hom vind sodat die saad in jou hart kan ontkiem en kan wortel skiet en groei!In verse 20-21 word die “mooiweers-Christene” omskryf. ‘n Mens kry op aarde mense wat jy dink is jou vriende, totdat die teëspoed aan jou deur kom klop en jy dan skielik tot die besef kom dat weinig van jou “vriende” in jou lewe oorgebly het. Dit is dieselfde met geloof. Daar is soveel mense wat kerktoe gaan omdat dit reg en polities-, sowel as sosiaal-aanvaarbaar is en geensins omdat hulle ‘n lewende verhouding met God het of Hom daar gaan soek nie. Daar is ook diegene wat God wil aanbid, aangesien hulle glo dat hulle Hom kan manipuleer met ‘n skynheilige lewe om sodoende sy seën te bekom. Dit is waar dat God regverdiges seën, maar dit is ook waar dat Hy die gesindheid van ons harte ken – ons kan Hom nie bedrieg nie! Hy weet maar alte goed waarom ons ons met Hom bemoei: uit opregte liefde of omdat ons iets van Hom wil hê in ruil daarvoor. Die tyd sal egter die kaf van die koring skei, aangesien God kinders soek wat Hom sal liefhê en dien in slegte sowel as goeie tye- daarom dat feitlik alle ware gelowiges tye van voorspoed sowel as geweldige teëspoed in hul lewens mag ervaar – dit is 'n toets vir ons. ‘n Ware gelowige sal in tye van teëspoed weet of hy gestraf word vir verkeerde dinge in sy lewe en of hy met 'n doel beproef word. . .
In vers 22 beweeg ons na ‘n tydsbestek baie naby ons huidige. Ons sien hoe mense, selfs diegene naby aan ons en van wie ons nooit sou kon glo nie, agter die wêreld aanloop. Ons sien hoe die wêrel en sy verleiding van rykdom en vermaak vir mense meer aanloklik raak as hul liefde vir en gehoorsaamheid aan God en hul stadig maar seker al meer toegewings maak om die wêreld in hul lewens te akkomodeer. Sonder dat hulle dit besef laat hulle toe dat die onkruid in hul lewens tot so ‘n mate vermeerder dat dit begin om die goeie saad wat reeds in hulle opgekom het, verdring en verstik word. Soos wat daar nét sóveel voedingstowwe en vog in die grond is vir of die plante/of die onkruid om te gebruik, is daar nét sóveel tyd in my dag om aan wêreldse dinge te bestee of in diens aan God en sy koninkryk hier op aarde. Beteken dit dat ek nou agt ure van die dag Bybel moet lees of sendingwerk gaan doen? Allermins! God wil jou bes moontlik gebruik net daar waar jy is, maar jy moet jou dagtaak en werk met ‘n gesindheid van verootmoediging doen, m.a.w. met ‘n gesindheid van onderdaningheid aan Hom. Jy doen dit wat jy doen, asof vir Hom sodat Sy Naam ook deur jou gesindheid verheerlik mag word!
Wanneer elkeen van ons in ‘n gesindheid van ootmoed ons dagtaak aanpak, sal ons waarlik vrug oplewer in die landerye van ons lewens. Sommige van ons sal dertig-, ander sestig-, en ander honderdvoudig vrug oplewer, soos wat Hy dit aan ons toebedeel het, maar wat belangrik is, is dat elkeen ag gee op sy eie “stukkie landery” om te verseker dat dit wel oes oplewer en dat die onkruid (sonde) so spoedig en deeglik as moontlik daaruit verwyder word om die opbrengs te verhoog!
Al voel dit huidiglik vir ons as behoudende volksgenote na ‘n droë oesjaar in ons land (simbolies gesproke) waar die reën steeds wegbly en ons met moedeloosheid in die landerye arbei, mag ons nie toelaat dat ons harte stomp word soos baie ander in ons geledere nie(vlg. vers 15) en ons hande mag nie slap raak nie. Gelukkig sien ons oë en hoor ons ore wat werklik aangaan (vers 16), want daarom hou ons steeds vol met arbeid in die verwagting van die uitkoms wat deur Hom alleen voorsien sal word!
Judas 1:24&25: “Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.”