Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die doek wat op Christus se hoof in die graf was, het na sy opstanding eenkant opgevou gelê. In die Bybelse tyd het ’n welgestelde man sy servet opgevou as teken dat hy die tafel net vir ’n tydjie verlaat en weer sou terugkeer. Wat Jesus met die opgevoude gesigsdoek gesê het was dat Hy net vir ’n tydjie weg sou wees, maar weer sal kom. Is jy gereed vir sy Wederkoms?
GEBED VIR SY VOLK
Hannes Ollewagen
Nehemía 1:1-11
Nog ‘n jaar spoed ten einde en wanneer ons terugkyk na die moord en doodslag, korrupsie, verval van ons land en die toenemende sedeloosheid onder ons eie volksgenote, is dit seker natuurlik dat die gevoel van moedeloosheid ‘n mens oorval. Om doodeerlik te wees was die gedagte om die land te verlaat selfs vir ‘n behoudende volksgenoot met ‘n diepgewortelde liefde vir ons volk nie uitgesluit nie. Dit voel asof ons soos Nehemía kan sit en ween, want sal hierdie afvallige volk dan nooit tot sy God terugkeer nie?
Hierdie gedagte en gevoel is egter iets wat elkeen wat ons God en sy volk waarlik liefhet, baie hard moet beveg. Hierdie gevoel neem by ons plaas wanneer ons dink dat daar genoeg mag in onsself gesetel is om die omstandighede van ons volk te verander; m.a.w. dat ‘n mens ons hopelose situasie self sal kan omkeer, wat nie die geval is nie. Ons moet egter onthou dat God nie ons vernietiging soek nie, maar ons bekering en terugkeer tot Hom met ‘n opregte hart, ‘n suiwer hart, ‘n gebroke en verslae hart, ‘n hart van ootmoed!
Daar is toenemend volksgenote wat besef dat ons enigste heil by ons getroue God te vinde is. Ons sal nie ons eie situasie kan red nie, want ons toestand is te ellendig en ons het baie diep weggesink in ons ongeregtighede - nie een van ons, hoe vroom ookal, staan onskuldig voor Hom nie! Selfs ons kerke is besig om een na die ander die pad byster te raak en mense het so ver van God af weggedwaal dat hul van “godsdienstigheid” ‘n afgodery gemaak het. Selfs wanneer die kerke dwaalleer en heimlike kettery verkondig sal mense steeds nie uit die kerk uit wegbeweeg nie, want die kerk is dan die weg tot die ewige saligheid! Ons kerke was eens die baken in ons volkslewe wat vir ons die weg na God gewys het met opregte leraars en herders oor hul kuddes. Laasgenoemde is egter uitgesif deur goddelose en bose bedrywigehde binne-in die kerk wat nie sal skroom om die waarheid te onderdruk om hul eie motiewe te bevorder nie.
Wanneer ‘n kerk ‘n beginselstandpunt vir etlike dekades huldig en dit dan verander omdat die polities-korrekte mening verander het, moet ‘n mens jouself die vraag DRINGEND afvra of jou kerk ‘n rigtingwyser na God is of ‘n volgeling van die wêreld. Laasgenoemde kan God nie behaag nie, want ‘n mens (lees kerk) kan nie die wêreld behaag sonder om daaraan gelykvormig te word nie. Wanneer ‘n leraar voorgeskryf word wat om te preek, moet jy jouself die vraag DRINGEND afvra of jou leraar jou in die gehoor moet streel en of hy vir jou die weg na God moet aandui en die boodskap van Hom aan jou moet lewer? Indien jy nie WIL HOOR wat God se boodskap vir jou is nie, waarom dan skynheilig gaan om te luister daarna? Met watter gesindheid is jy dan in die kerk?
Ek probeer geensins vandag mense uit die kerke uit preek nie, maar ek wil daadwerklik die wekroep aan elke kind van God rig wat Hom waarlik liefhet: Toets die kerk waaraan jy behoort of dit ‘n rigtingwyser na die onveranderlike God is wat sy boodskap bring, of ‘n volgeling van die wêreld? Wanneer u kerk die gebooie en verordeninge van God verlaat het om die wêreld ter wille te wees, het dit daadwerklik tyd geword dat u u eie verantwoordelikheid opneem om na God te gaan soek, sou dit dan selfs buite kerkverband wees. Moet egter nie met ‘n gemaksugtige gesindheid uit die kerk wegbeweeg net om Sondae maar eerder rustig by die huis te verkeer of selfs inkopies te gaan doen of op watter ander dergelike wyse die Sabbatdag deur te bring nie, want daar gaan u God ook moeilik vind. Die Sabbat is vir ons gegee om te rus en om ons in God te verlustig.
Die tyd het haas aangebreek dat ons as ‘n volk ons daadwerklik tot God moet bekeer! Wanneer my kerk my op ‘n dwaalweg lei, moet ek daarvan losbreek en terugkeer na my God! Dit is ironies hoe die kerke leeg geloop het vandat hulle alles in die stryd werp om die wêreld ter wille te wees. Geloof is nie ‘n gewildheidskompetisie – dit is die sieraad van ons volk wat ten alle koste bewaar en verdedig moet word. Sou dit aangeval word vanuit die onverwagse oorde waaruit dit deesdae kom, durf ons nie terugdeins omdat ons onverhoeds betrap word nie.
Ons volk word uitgemoor teen bykans 3 500 siele per jaar en ons kerke swyg daaroor. Aborsies word gewettig en ons kerke swyg daaroor. Verkragtings is aan die orde van die dag en kerke swyg daaroor. Bykans een miljoen blankes sit in ellende gedompel in plakkerskampe en ons kerke swyg daaroor. Ons dra eerder die kospakkies en Bybels verby hierdie volkgenote wat in ellende gedompel is tot aan die boonste punt van Afrika om daar vreemdes te gaan opsoek en te versorg. Ons kerke hou eerder aan jammer-sê oor kamtige onregte van die verlede sodat daar nie ‘n woord oorbly oor die onreg wat daagliks seëvier nie. In plaas daarvan dat die Evangelie verdedig word, word die een na die ander kompromie daaromtrent aangegaan! Met sulke verwarde rigtingwysers in ons samelewing, is dit geen wonder dat ons volk verstrooid geraak het oor die aarde heen nie.
Mag God ons self verlos op sy bestemde tyd – van leraars wat dwaalleer en afvalligheid onder ons volk verkondig. Mag dit plek maak vir diensknegte van Hom wat die waarheid aan sy volk sal verkondig om hul sodoende na Hom terug te lei waar hul heil sal vind.
“Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees;…”
Nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat Hy ‘n grote en gedugte God is wat die goedertierenheid hou vir diegene wat Hom waarlik liefhet en sy gebooie hou; daarom bid ons dat Hy ook vir ons een Nehemía in ons volk sal verwek wie se gebed Hy sal aanneem om die sondes van ons volk voor Hom te bely, want as ons vir ons kerke wag om dit te doen, gaan ons baie lank wag. . .