Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Charles Dickens het gesê: “Geluk is goeie vriende, en ook goeie boeke en die vermoë om die lelike dinge van die verlede te begrawe en te vergeet”.
DIE AFRIKANERVROU VANDAG...
...STEEDS 'N STILLE KRAG?
Hannes Ollewagen
Kol. 3:8&9: "VROUE, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. Manne, julle moet julle vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.”
Ek twyfel of die Afrikanervolk in sy geskiedenis ‘n aanslag beleef het wat die huidige een oortref. Ons word fisies uitgemoor teen ‘n tempo wat die Tweede Vryheidsoorlog-sterftesyfers na speletjies laat lyk. Asof die fisiese aanslag nie genoeg is nie, word ons taal, kultuur, sedes, gesinswaardes en geloof in God Drie-enig aanhoudend gebombardeer. Die kinders word op skool gebreinspoel om die waardes en leringe van die ouerhuis te bevraagteken en selfs daarteen in opstand te kom. Die Afrikanerman word gedurig afgekraak en ondermyn om so die gesag as hoof van sy huis te probeer vernietig.
Die Afrikanervrou het telkens in die verlede haar deug bewys – daar was tye van groot beproewing en het sy daarvoor eer en respek ontvang. Hierdie vrouens was bv. bereid om gedurende die Groot Trek met baie min op stoflike gebied klaar te kom en het nie teruggedeins vir harde werk nie. Terwyl die manne op kommando was gedurende die Tweede Vryheidsoorlog was dit die vrouens wat die hele opstal en boerdery aan die gang gehou het.
Dit is opvallend en hartroerend hoe die vrouens die afgelope paar jaar weer sterk na vore tree om hul mans te probeer beskerm in die huidige omstandighede. Die vrou se betrokkenheid by die man se werk en verskeiei ondernemings het aansienlik toegeneem namate die druk van moeilike omstandighede toegeneem het. Dit blyk dat die las te swaar druk op die manne se skouers. Hierdie wonderlike en prysenswaardige optrede van die Afrikanervrou is feitlik bevestigend van die waarheid van ons liewe Heer se woorde in 1 Kor. 11:8&9: "Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.” Die feit dat die man as die hoof van die huis geskape is en die vrou as ‘n hulp vir die man, is alles behalwe ‘n chauvinistiese beskouing. Dit is ‘n skeppingverordening wat God in sy alwetenheid self bepaal en ingestel het en enige persoon wat dit bevraagteken, bevraagteken derhalwe God se raad.
Ons besef dat die huidige aanslag op die Afrikaner ‘n direkte aanslag op die Christendom is. Dit verklaar waarom daar so baie in die stryd gewerp word om die Afrikanerman se aansien te vernietig, want as die hoof van die huis neergeslaan is, is dit ‘n kwessie van tyd voordat die hele huis inmekaar tuimel. Huisgesinne wat tuimel rig dan natuurlik ook ‘n volk ten gronde. Laat 'n Godsvolk val en die Christendom word hard geknou om die pad na ‘n Nuwe Wêreldorde (wat reeds vyandskap teen God verklaar het) wat homself ten doel stel om Christus se koninkryk op aarde totaal te probeer vernietig. 1 Kor. 11:3 leer ons ‘n les van kardinale belang in hierdie verband: "Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.” Laasgenoemde illustreer aan ons dat ‘n welberekende hou teen die man eintlik gemik word op die vernietiging van God se verordeninge en gesag.
Dit is hartseer om soms te sien hoeveel vermaak dit vir vrouens en jongmeisies verskaf wanneer die man verkleineer en verneder word. Die televisie word natuurlik as ‘n uiters suksesvolle medium gebruik om hierdie gedrag aan te moedig. Dit is dan geen wonder dat dit selfs ‘n kompetisie tussen jongmeisies raak oor wie die meeste seuns uit kan oorlê nie. Die kompetisie oor hoeveel “verhoudings” ingeryg kan word as ‘n oppervlakkige kompetisie vir gewildheid, gee aanleiding tot losse sedes van troueloosheid.
My wekroep tot elke gelowige Afrikanervrou in Jesus Christus vandag word gedoen met ‘n liefde wat diep uit my hart kom ter behoud van ons volk se gesinne en families. Onthou dat ons leiding en raad nie by die misleidende owerhede van hierdie wêreld gekry sal word nie. Ons raad is van Hom Wie ons gemaak het, liefhet en dien. Ondersteun u man in wat hy doen, maar moet hom nie as hoof probeer onttroon of verneder nie. As hy Christus dien, moet dit nie vir hom moeilik maak nie. Onthou, u doen dit uit liefde vir die ware hoof van u huis, nl. Jesus Christus. Kol. 3:23&24: "En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.”
‘n Sterk vrou is nie noodwendig sterk en hard van geaardheid nie, maar wel sterk genoeg om haar huis te ondersteun volgens die raad van onse Here : 1 Petrus 3:1-4: "Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het. Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”