Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elkeen van ons kom soms en heel dikwels by 'n laagtepunt waar ons nie reg weet hoe om te bid nie. Al wat nodig is, is om reguit met die Here te praat: "Here, wat sal ek vir hierdie dag vra? Buiten dat u goeie wil vandag geskied, weet ek nie wat om te vra nie; maar ek sal nie bang wees nie want U is oraloor, en steeds by my. AMEN".
HOE HEERLIK IS U NAAM!
Hannes Ollewagen
Psalm 8
“...wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.” (:5&6)
Ons lees in hierdie gedeelte hoe die psalmdigter God se grootheid beskryf en in verwondering hieraan kom die nietigheid van die mens na vore. Dawid besef dat God wel die mens as die kroon van God se skepping gemaak het om oor die aarde te heers volgens God se opdrag, maar in vergelyking met die skeppingswerk van God is die mens maar net ‘n stofdeeltjie.
‘n Gedeelte soos hierdie waarin ons lees dat God die mens maar ‘n weinig minder gemaak het as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon het, is ‘n gedeelte wat ‘n mens laat goed voel oor die wese van die mens. Dit is egter gedeeltes soos hierdie wat maklik deur dwaalleraars uit verband geruk word om die mens te verhef as ‘n opperwese wat nie meer afhanklik van God is nie, maar soveel eer en heerlikheid ontvang het dat die mens die 'REG' gegee word om God voor te skryf. Die dwaling van humanisme veroorsaak soveel ellende omdat hierdie dwaling die mens verhef as ‘n wese wat gelyk is aan God. Daarom veroorsaak dit die waansinnige gedagte dat die mens God maar kan voorskryf in sy Raad. Hierdie dwaling veroorsaak dat die mens verhef word as ‘n wese wat homself nie meer hoef te onderwerp aan God se gesag nie, maar eintlik kan maak soos wat hy wil, aangesien hy 'belangrik' genoeg is om na goeddunke te handel.
Die dwaling dat die mens homself nie aan God se gesag hoef te onderwerp nie, veroorsaak dat samelewings uitmekaar val weens afskuwelikhede dade van selfsug, gierigheid, grootpratery, trotsheid, laster, ongehoorsaamheid, ondankbaarheid, onheiligheid, liefdeloosheid, onversoenlikheid, kwaadsprekery, bandeloosheid, wreedheid, verraad, roekeloosheid, verwaandheid en dies meer omdat mense liefhebbers van hulfself en liefhebbers van genot raak meer as liefhebbers van God. (Verw. 2 Tim. 3:2-4). Laasgenoemde beskrywing dwing ons om vir ‘n wyle tot stilstand te kom en te besin oor hoe dinge tans toegaan in ons vaderland, Suid-Afrika. Ons land word beskou as ‘n 'Christelike land', maar die beskrywing in 2 Tim. 3 laat enige nugter mens te veel die ooreenkomste met ons land raaksien om dit te ontken. As Suid-Afrika tans as ‘n Christelike land beskou word, moet ons onsself afvra watter maatstaf gebruik word om Christelikheid te bepaal? Ons moet dalk vir ‘n oomblik besin of die kerke besig is om mense te vermaan en te onderrig volgens God se voorskrifte en of dit maar doodeenvoudig ‘n tradisie van mense geword het om kerktoe te gaan om in hul gehoor gestreel te word? Is selfs die kerk nie meer besig om hom aan God se gesag te onderwerp nie en verkies eerder om mense t.w.v. politieke korrektheid in die gehoor te streel?
Die Afrikanervolk het gedurende die afgelope paar dekades fokus verloor hier. Ons het vergeet dat ons as volk deur God se Hand geformeer is en aan die suidpunt van Afrika geplaas is om ons skeppingsopdrag uit te voer om oor die werke van sy Hande te heers volgens die riglyne van sy Woord. Ons het in tye van voorspoed begin dink dat alles net oor onsself gaan. Toenemende onderhandelinge is aangegaan om dit wat vir ons persoonlik belangrik is, te beskerm. Ons het nie meer omgegee of die eer van God en dit wat vir Hom belangrik is in die slag moet bly ten einde ons menslike begeertes na te jaag nie. Die strewe na wêreldaanvaarding het ons volk tot in sy siel laat verrot. Ons het, hartverskeurend om te sê, nie meer as verantwoordelike heersers oor ons erfdeel gewaak en geheers nie maar saam met die vloedgolf van die wêreld onverantwoordelike misbruikers geword wat elkeen net sy eie begeertes najaag. Ons het dalk vergeet dat ons nie in eie krag hier aan die suidpunt van Afrika ons opgang as volk gemaak het nie, maar deur groot genade van God as ‘n volk geplant en gesuiwer is vir sy doel en tot sy eer.
Alhoewel die mens die sentrale rol speel in Psalm 8 is dit belangrik om daarop te let dat aan die begin en die einde van die Psalm dit God se eer is wat grootgemaak word. Alhoewel die mens die sentrale rol in die gelese gedeelte vervul, is dit God wat die begin en die einde van sy eer en heerlikheid is.
Die mens is net ‘n weinig minder as ‘n goddelike wese en met groot eer en heerlikheid gekroon, maar dit is weliswaar nie deur homself nie – dit is deur God so gemaak! Dit is om hierdie rede dat ons onsself in ootmoed voor Hom wil neerbuig in die diepe besef dat ons nie is wat ons is uit onsself nie, maar deur sy groot genade en oorvloedige barmhartigheid. Dit is met hierdie besef dat ons harte wil stil wees, maar op so ‘n wyse wil leef dat ons lewens sal getuig en sal uitroep: “o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Verw. :2&10).