Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het alles vir ons kom doen op aarde; selfs sy uitroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" het beteken dat ons as Christene nooit weer daardie vraag hoef te vra nie!
DEUR SY GEES GELEI
GOD SE KINDERS WORD DEUR SY GEES GELEI
Hannes Ollewagen
Rom. 8:1-17
“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” (:14).
Geliefdes, ons lees in Johannes 14 waar Christus met sy dissipels spreek en aan hulle die belofte van die Heilige Gees gee. Dink maar aan die neerslagtigheid en dalk ook bekommernis wat hierdie mense moes beetpak. Hulle wat vir jare lank elke dag saam met Christus, die Seun van God, geleef en gewandel het. En nou moet hulle verneem dat Hy van hulle sou weggaan na die Vader in die hemel. En hulle hier alleen sou laat? Dit moes ‘n verskiklike en oorweldigende gevoel gewees het. Maar Christus beloof aan sy dissipels dat Hy aan hulle die Heilige Gees as Trooster en Leidsman sou stuur. “...maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Joh. 14:26).
Ons lees egter nie hier die eerste keer van die bestaan en leiding van die Heilige Gees nie. Daar is verskeie gedeeltes uit die Ou Testament waar ons reeds onderrig word rakende die leiding van die Heilige Gees. Ons lees in Neh. 9:30 van die waarskuwing van God aan sy volk deur die werking van die Heilige Gees. “En U was baie jare lankmoedig oor hulle, en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete; maar hulle het geen gehoor gegee nie. ...”. Ons lees ook in 1 Sam. 16:14 dat die Gees van die HERE van Saul gewyk het omdat hy aan die HERE ongehoorsaam was. “MAAR die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en 'n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.” (1 Sam. 16:14).
Die talle voorbeelde van mense uit die Ou Testament wat aan God diensbaar was, onderstreep dan ook vir ons die waarheid van die woorde uit Romeine 8:14. Hierdie mense was kinders van God. En hulle was getroue diensknegte van God wat Hom getrou gehoorsaam het en na sy wil eerder as hul eie belang gesoek het. Maar hierdie mense kon dit nie uit eie krag doen nie. Hulle is deur God se Gees bygestaan. Hulle is as God se kinders, deur sy Gees gelei. Luister in hierdie verband na die woorde van Dawid uit Psalm 143:10. “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land.” Eweneens het die profeet Eségiël dit baie duidelik gestel dat hy deur die Gees van die HERE sy krag en leiding ontvang. “Toe val die Gees van die HERE op my, en Hy sê vir my: Spreek, so sê die HERE: So het julle gespreek, o huis van Israel; en wat in julle gees opkom, weet Ék.” (Eség. 11:5). Ons lees dan ook van Gídeon wat deur die Gees van die HERE vervul is en deur hierdie Gees na God se wil gehandel het. “En die Gees van die HERE het Gídeon vervul;...” (Rig. 6:34). Dit is vir ons uit Miga 3:8 duidelik dat hierdie profeet ook deur die Gees van God gelei is. “Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die Here, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde.”
Geliefdes, wanneer ons in waarheid as God se kinders wil leef, moet ons ook na die leiding van die Heilige Gees vra. Ons is nie daartoe in staat om uit eie krag as God se kinders gehoorsaam te leef nie. “MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” (Gal. 5:16-17). Die Woord van die HERE is hieroor duidelik – ons kan nie doen wat ons wil nie. Ons kan nie in sonde en ongebondenheid leef en dink dat God daarmee tevrede is nie. As ons God se kinders is, wandel ons na die leiding van die Heilige Gees. Ja, ons volg die Heilige Gees na. En sou die Heilige Gees agter die sonde aangaan? Wil enigeen regtig dit waag om selfs te insinueer dat die Gees van God tot sonde verlok kan word? Ons durf dit nie eers bedink nie!
Wanneer ons doen wat ons wil en agter die begeerlikhede van die vlees aanloop moet ons weet dat ons nie die leiding van die Heilige Gees volg nie, maar eerder toegee aan ons eie sondige, vleeslike begeertes wat God vyandig gesind is. “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God. Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?” (Jak. 4:4&5). Dit moet vir ons gevaarligte in ons geloofslewe wees. Ons behoort dit raak te sien soos onkruid in ‘n pragtuin – iets wat verseker nie daar hoort nie en onverwyld uitgeroei moet word. En soos ‘n tuinier wat bereid is om die harde werk in sy tuin in te ploeg ten einde die onkruid uit te roei en die mooi plante te versorg, sal die mooi vrugte ook in ons lewens te voorskyn kom wanneer ons met moeite en ywer die vleeslike en verkeerde begeertes beveg en uitroei en die Gees in ons harte koester.
Ek hoop dat ons elkeen vandag weer deur die Woord van die HERE opnuut bewus gemaak word van die belangrike rol wat die Heilige Gees van die HERE in ons lewens vervul, geliefdes. Ja, dat ons opnuut bewus sal raak van die feit dat ons nie uit eie krag na God se wil kan leef nie, maar dat ons laasgenoemde alleen deur die krag en leiding van die Heilige Gees kan doen. En daarom moet ons daarteen waak om die nie Gees van God te bedroef nie. “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” (Efés. 4:30). Maar eerder moet ons hierdie Gees van God in ons harte koester en eerbiedig gehoorsaam.
Amen.