Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy naby God en sy oneindige genade leef hoef jy nie iets te sê nie; dit wys op jou gesig.
PAS OP VIR DIE LEUEN
Hannes Ollewagen
Gén. 3:1-24
“MAAR die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (:1).
“Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (:4&5).
Adam en Eva was die eerste, maar nie die laaste mense, wat deur hierdie selfde leuen van Satan bekoor is nie. Satan het in sy listigheid vir Eva oorreed dat die mens nie absolute, kinderlike gehoorsaamheid aan God verskuldig is nie. Hy het haar daarvan oortuig dat ‘n mens homself tot op “God se vlak” kan verhef om vir homself te bepaal wat goed en kwaad, reg en verkeerd is en God nie hiervoor nodig het nie. “...sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (:5). Dit is sekerlik die toppunt van vermetelheid!
Ons lees in 2 Kor. 11:3 waar Paulus die gemeente van die Korinthiërs teen hierdie verkeerde optrede aanspreek. “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.” Paulus spreek sy kommer hieroor uit omdat ‘n mens wat aan hierdie leuen van Satan toegee homself van God vervreem, geliefdes. Ja, dink maar aan Adam en Eva wat vir God gaan wegkruip het nadat hulle aan hierdie leuen van Satan toegegee het! Daarom dat Paulus die Korinthiërs hieroor aanspreek. Hy waarsku hulle dat hierdie ‘n manier is waarop Satan die mens van God vervreem sodat ons nie meer in opregtheid met Hom sal leef nie. Maar ‘n mens wat aan hierdie leuen van Satan toegee, leef eerder in ‘n eiesinnige verwaandheid dat geen ander as hyself in sy lewe sal bepaal wat goed en kwaad, reg en verkeerd, is nie. So ‘n mens se fokus is alleen op homself en sy eie selfsugtige begeertes eerder as op die leiding van Christus gerig. En so raak ‘n mense heeltemal verdorwe in die verstand en vervreemd van die lewe in Christus.
Ons verstaan die toestand van die wêreld dalk bietjie beter in die lig hiervan. U sal seker met my saamstem dat ‘n mens na die wêreld rondom jou kyk en soms wonder: het die mense dan heeltemal mal geraak? Die onbesonne en onverantwoordelike besluite wat gesiene mense in leiersposisies maak; die onbesonne en onverantwoordelike besluite wat grootmense maak en daardeur hul gesinne met hartseer en teëspoed belaai; die onbesonne besluite wat jongmense maak omdat hulle nie na welgemene raad wil luister nie – is hierdie nie alles dinge wat kenmerke is van ‘n samelewing wat in sy verstand heeltemal verdorwe geraak het nie? Ja, kenmerke van mense wat toegee aan Satan se leuen dat hulle “self soos God is” en dus self kan bepaal wat vir hulle “reg en verkeerd” is en nie God se oordeel van reg en verkeerd hoef te eerbiedig of te gehoorsaam nie.
Ons lees in 2 Tim. 3:8 oor die verskriklike verdorwenheid van die laaste dae. Hierin verwys Timótheüs ook na mense wat in hulle verstand verdorwe geraak het. Hierdie skrywe handel dan ook oor mense wat van die waarheid van God se heilige Woord afvallig sal raak en dwalinge verkondig wat hulle in eiesinnigheid uitdink en leer. Hierdie mense kan met reg as diensknegte van Satan beskou word, want hulle doen presies wat Satan gedoen het toe hy Eva in listigheid besoek het. “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.” (Joh. 8:44). Ewe belangrik volg die vermaning van Timótheüs hierna om in die gesonde leer van die Woord te volhard. Geliefdes, die boodskap van God deur Timótheüs is derhalwe baie duidelik – moenie toegee aan Satan (en sy diensknegte) se verleiding nie, maar weerstaan hom en volhard in die waarheid van God se Woord. Hou aan om dit wat God leer as die absolute waarheid te beskou en te gehoorsaam. Moenie vir een oomblik die leuen glo dat enige wese homself tot “op God se vlak kan verhef” en aan Hom gelyk kan wees en sodoende self kan bepaal wat goed en kwaad, reg en verkeerd, is nie.
Geliefdes, mag ons onself aan God onderwerp en die duiwel met sy leuens volhardend weerstaan sodat hy eindelik van ons sal wegvlug. “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (Jak. 4:7)