Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die "Onregverdige Mammon" is 'n term wat Jesus in Lukas 16 self aan geld gegee het omdat mense op oneerlike maniere probeer om meer en meer daarvan te kry. Daarby sê Jesus dat dié mens wat getrou is met klein dingetjies soos geld, ook getrou sal wees in die groot dinge; en Hy voeg daarby: "En hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig". Glo u dat die belangrikste saak vir die Afrikanervolk naamlik sy voortbestaan en lewe, veilig is in die hande van 'n regime wat nie eers met die klein dingetjies getrou is nie?
DIE SEËN VAN PROTESTANTISME (1)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE SEËN VAN PROTESTANTISME
ʼn Omwenteling
Inleiding
Omdat Satan vir Christus hartstogtelik haat, maak hy van baie metodes gebruik om die kerk as die liggaam van Christus te probeer vernietig. Na die ontstaan van die Christelike kerk het hy dit eers met vervolging probeer dooddruk. Toe dit nie slaag nie, het hy met dwaalleringe in die boesem van die kerk opgeduik en die kerk met vyande in haar eie geledere aangeval.
Johannes was deeglik bewus van hierdie Satansagente en waarsku gelowiges: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (I Joh.2:19).
Satan se aanhoudende aanslae teen die kerk het later ʼn bres in die kerkmuur veroorsaak waardeur heiden-elemente die kerk binnegesypel het. Daarna het die kerk heidense gebruike begin huisves wat met verloop van tyd so ingebed geraak het, dat mense nie meer geweet het wat reg of verkeerd was nie. In plaas van die kerk wat die wêreld binnedring en lig in die duisternis bring, het die wêreld die kerk binnegedring en die lig van die Evangelie verdof en die Roomse Kerk (hierna RK of Rome genoem) ontstaan.
Omdat die RK wesentlik nie ʼn Christelike kerk is nie, maar eerder ʼn herlewing van die Babiloniese afgodsdiens, vertoon sy soos ʼn lugspieëling in die woestyn sonder ʼn druppel lewenswater om geestelike dors te kan les. Die RK huisves soveel heidenelemente, dat dit inspanning kos om iets eg Christelik te vind.
Die RK het sover vasgestel kon word in die stad Pergamus ontstaan. Pergamus beteken gemengde huwelik en was met sy kosmopolitiese inwoners die hoofstad van die Romeinse provinsie Klein Asië (vandag Turkye). Die stadspolitiek is in Pergamus met godsdiens (keiserverering) verweef ten einde mense te beheer en van burgers marionette aan ʼn lyntjie te maak. Die RK gaan op soortgelyke wyse te werk.
Die profeet Hosea kla dat sy volk ten gronde gaan weens ʼn gebrek aan kennis (Hos.6:4). So ook baie Protestante wat die RK as maar net nog ʼn Christelike kerk beskou met lidmate wat ook hemel toe kan gaan. Dis alles behalwe waar! Roomse Katolisisme is eintlik ʼn reuse sisteem van gekunstelde afgodery wat soos ʼn sterk seestroom mense verby die reddende genade van Jesus voer.
Haar leer verskil so ingrypend van die Bybel, dat daar vir haar hoegenaamd geen kans op redding is nie. Haar leer van die wedergeboorte deur die doop, redding deur kerklidmaatskap, regverdiging deur goeie werke, boetedoening, vagevuur en die aanbidding van Maria en gebede vir dooies is alles behalwe skriftuurlik, maar eerder heidens!
Dit het gebeur nadat die Romeinse Ryk die Christendom tot staatsgodsdiens verklaar en die heidendom vastrapplek in die kerk begin verkry het. Destyds het heidene slegs vir die fisiese voordele wat kerklidmaatskap hulle gebied het, die kerk by die duisende binnegestroom en hulle laat doop ten einde in die kerkregister opgeneem te word.
Hierdie gekerstende heidene was egter nie met die eenvoud van die kerk tevrede nie en het met verloop van tyd baie van hulle heidense gebruike van Christelike name voorsien en in die kerk gevestig. Dit het ʼn heidense duisternis op die kerk laat toegesak wat in die geskiedenis as die Donker Eeue aangeteken word omdat daar o.a. nie ʼn kerk was om die lig van Christus in die duisternis te laat skyn nie. So ontspoor was die RK toe alreeds!
Christus het egter sy kerk deur klein groepies Skrifgetroue gelowiges bewaar wat later tot ʼn kerkhervorming (16de eeu) gelei het en Protestantisme genoem word. Protestantisme was soos ʼn vars bries in ʼn bedompige kamer en ʼn baie welkome terugkeer na die ware kerk met haar vaste geloof en geseënde eenvoud. Christus het verhoed dat die waarheid in die stortvloed van Roomse afgodery wegspoel. Daarom deel ons met groot vreugde in hierdie terug-na-die-Bybel-ommekeer wat jaarliks in Oktober herdenk word.
Protestantisme is nie ʼn nuwe godsdiens soos wat die RK voorgee nie, maar eerder ʼn geseënde herlewing van die oorspronklike kerk wat deur die apostels gestig is. Soos die eertydse gelowiges grond Protestante hul geloof op die Bybel alleen. ʼn Kerk is slegs suiwer indien sy haar leer alleenlik op die Woord van God grond. “Want niemand kan ʼn ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (I Kor. 3:11).
Nadat Protestantisme die Bybel as die hoogste kenbron in ere herstel het, het duisende mense met die RK gebreek en kort daarna die Bybel in hul eie taal ontvang. Rome het lidmate eeue lank verbied om die Bybel te lees omdat dit hulle kwansuis sou verwar. Daarom was die Bybel slegs in priesters se hande wat dit aan mens moes verduidelik.
Met die Konsilie van Valencia (1229) is die Bybel selfs op ʼn lys van verbode boeke geplaas, waar dit vir eeue lank gestaan het. Vir miljoene mense wat die naam Christen gedra het, was die dit ʼn verseëlde boek en om priesters die alleenverklaarders daarvan te maak, het Rome mense van die saligmakende kennis van Christus beroof. Dit het vir Rome oor massabeheer gegaan. Mense se gedagtegang word maklik met godsdiens beheer. Rome het lidmate gebrein-spoel om alles wat sy leer te glo en as die enigste pad na die hemel te aanvaar.
Daarom was Protestantisme ʼn geseënde omwenteling. Dit het nie net die Bybel vir die gewone mens toeganklik gemaak nie, maar ook die kerk van heidense gebruike gesuiwer!
2. Satansaanbidding
Die RK is soos ʼn duif met roofvoël instinkte. In Openb.13:11 lees ons: “.... en hy het twee horings gehad soos ʼn lam en het gepraat soos ʼn draak”. Rome lyk op die oog af goed, maar sy praat soos ʼn draak. Baie van haar gruwels kom aan die lig as kerklui tot die ware bekering kom, die kerk verlaat en praat. Wyle dr. Malachi Martin, ʼn Roomse emeritus professor, is een van hulle. Toe hy die RK verlaat het, het hy die gordyn oor Satansaanbidding in die Vatikaan gelig.
Tydens die Fatima 2000 Internasionale Kongres oor Wêreldvrede in Rome het nog ʼn Roomse geestelike, aartsbiskop Emmanuel Milingo, skrywer van Face to Face with the Devil, getuig dat Roomse kerklui by formele Satansaanbidding betrokke is. Hy noem dit die derde dimensie van die Bose en is die gevaarlikste omdat dit deur kerklui in die geheim beoefen word.
Milingo het ook getuig dat Roomse kerklui wat met Satanisme omgaan deur hoë Roomse kerklui beskerm word. Dr. Malachi Martin se boek Windswept House het ʼn groot opskudding veroorsaak omdat dit juis op ʼn werklike Satans-ritueel gegrond is wat tydens die ampstermyn van pous Johannes Paulus II in die Vatikaan plaasgevind het. Dr. Martin het ook onthul dat homoseksuele kerklui gereeld met Sataniste skakel.
In 1976 het pous Paulus VI erken dat die rook van Satan die heiligdom van die Petruskerk binnegedring het. Hy was daarvan bewus dat die Satan-nagmaal (Black Mass) by verskeie geleenthede in die middernagtelike ure op dieselfde altaar gevier is as waarop die pous die misoffer bedien!
3. Teologie
3.1 Geloof
Rome se leer oor die saligmakende geloof verskil baie groot van die Bybelse leer daaroor. Rome leer dat geloof nie slegs vertroue in Christus is nie. Dis eerder ʼn dogmatiese begrip wat op ʼn slaafse aanvaarding van die Roomse leer neerkom. Om gered te word, moet sondaars aan die RK behoort en haar leer onderskryf. Dit sluit ook pouslike uitsprake in. Wie weier, sluit vir homself die hemelse deure toe.
Dis niks anderste as ʼn voortsetting van die dwaling wat die vroeë Christelike kerk in Galasië geteister het nie. Sommige van die Jode wat gelowig geword het, wou die OT seremoniële wette as ʼn vereiste by die geloof in Christus voeg. Paulus waarsku dat dit ʼn valse evangelie is: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig geword het ...... na ʼn ander evangelie toe” (Gal.1:6).
3.2 Genade
Vir Rome is genade iets wat God d.m.v. die kerk en haar sakramente as’t ware in sondaars inspuit en wat hulle daarna in staat stel om goeie dade te verrig. Sulke dade getuig van hul geloof. Die Bybel leer anderste om - geloof toon goeie dade.
Rome leer dat sondaars God se genade slegs deur lidmaatskap en deelname aan sakramente verkry. Die kerk is die middelaar tussen Christus en sondaars en derhalwe God se universele sakrament van genade. Daarom is daar volgens Rome geen redding buite haar nie. Wie nie aan haar behoort nie, gaan hel toe.
3.3 Redding en regverdigmaking
Satan wil verhoed dat sondaars die hemel beërwe en maak onder andere van dwaalleer gebruik om in sy doel te slaag. Een van die skadelikste dwalings is Rome se leer oor redding en regverdigmaking. Sy erken dat sondaars op grond van Jesus se soenverdienste aan die kruis gered word, maar laat ʼn belangrike woord nl. alleenlik uit. Verder omskryf sy begrippe soos genade, geloof en regverdiging op so ʼn wyse dat dit die leer van die Skrif ondermyn en sondaars in effek verhoed om Jesus as hul Verlosser te vind.
Rome leer dat Christus se dood aan die kruis nie ʼn genoegsame vereffening vir sondeskuld is nie en dat die uitstaande balans deur die gebruik van sakramente gedelg moet word. Rome verkondig dat Jesus se kruisoffer nodig was om God, wat baie kwaad oor die sonde was, te paai en Hom te oorreed om nie te hard teen sondaars op te tree nie. Dit het God tevrede gestel waarna Hy vir sondaars ʼn nuwe pad na die hemel gebaan het nl. die RK. Met kerklidmaatskap en die gebruik van sakramente dra die RK sondaars die hemel in. Daarom leer Rome geen persoonlike verhouding met Christus nie. Die kerk sal die nodige doen.
Vir Rome het redding niks met God se guns in Christus te doen nie. Benewens lidmaatskap is die doen van goeie werke baie belangrik. Daarom dring Rome by haar lidmate aan om goeie werke, soos wat die kerk dit omskryf, te doen. Die gebruik van sakramente staan bo aan die lys. God bewerk nie alleen die mens se saligheid nie; die mens is sy vennoot.
Om Jesus se genoegsame offer te ontken, is ʼn dolksteek in die hart van die Christendom. Hoe anderste praat die Bybel nie oor Jesus se kruisoffer nie! Een van die hooftemas van Paulus se prediking was juis die genoegsaamheid van Sy versoenende offer.
3.4 Geregtigheid
Rome dwaal met haar leer oor geregtigheid. Sy sien dit as iets wat sondaars kan verwerf. Dis as’t ware vergoeding vir goeie werke wat by die doop begin waarna dit deur die gebruik van die misoffer, boetedoening en goeie werke onderhou word.
Die Bybel praat baie anderste oor geregtigheid en noem dit nooit anderste as die geregtigheid van God nie. Let op die misdadiger aan die kruis wat van Jesus redding ontvang het. Hy het nie aan ʼn kerk behoort of sakramente gebruik nie, nogtans verseker Jesus hom redding alleenlik op grond van sy bekering. Hy kon dit nie self verwerf het nie.
Benewens sondaars se bewustelike omdraai na Christus, het regverdiging en geregtigheid niks met sondaars te doen nie. Paulus skryf: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Efes.2:8) en aan die Romeine: “En hulle word deur sy genade sonder verdien-ste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Rom.3:23).
Die fout wat Rome maak, is om goeie werke aan regverdigmaking gelyk te stel. As jy jou kind laat doop, is dit ʼn goeie werk. As jy die misoffer bywoon, is dit ʼn goeie werk, As jy bieg, is dit ʼn goeie werk. Alles draai om die as van goeie werke. Vir Jesus se genade is daar geen plek nie. Rome is op die verkeerde pad en dis ʼn pad wat sondaars ver verby die hemel voer. Dank God vir die seën van Protestantisme!