Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"...gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie." – Spreuke 30:8-9
DIE SEËN VAN PROTESTANTISME (2)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE SEËN VAN PROTESTANTISME
Die sakramente en Maria-verering
Die sakramente
1. Die doop en bieg
Die Bybel leer dat daar net twee sakramente is – die doop en die nagmaal. Rome het sewe sakramente waarvan die doop, boetedoening en die misoffer die belangrikste is omdat God daardeur sy genade in besonder aan sondaars skenk. Altans so glo die RK.
Sy dwaal om te glo dat die doop die wedergeboorte is waardeur God erfsonde vergewe. Alle sonde wat na die doop gepleeg word, kan net deur boetedoening en deelname aan die misoffer vergewe word. Dit beklemtoon opnuut die RK se kerndwaling dat Christus se kruisdood nie genoegsaam vir redding is nie, maar deur sakramente aangevul moet word.
Die bieg is vir Rome baie belangrik. Sy glo dat sondaars wat deur sonde van God se genade verval het, dit deur te bieg kan regstel. Die Konsilie van Trent (16de eeu) verklaar dat indien iemand na sy doop sondig, ʼn priester nadat daar gebieg is, die nodige vergifnis van sonde kan skenk.
2. Die misoffer
2.1 ʼn Karikatuur
Vir Rome is liturgie uiters belangrik. Sy beskou dit as die fontein waaruit God se genade na mense vloei. Die grootste deel van haar liturgie draai egter om die as van die misoffer, iets wat nie met die Bybelse nagmaal verwar moet word nie. Die misoffer is ʼn karikatuur daarvan.
Die misoffer is ʼn weersinswekkende onbloedige wederkruisiging van Christus. Hier teenoor leer die Bybel baie duidelik dat dit ʼn gedagtenis maaltyd is. Jesus sê: “Doen dit tot my gedagtenis”. Daarom dwaal die RK gruwelik deur dit as ʼn werklike offer en herhaling van dit wat op Golgota gebeur het, te verkondig.
Die Bybel leer baie duidelik dat Christus sy offer eens en vir altyd gebring het: “Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe...” (Rom.6:10). Dit kan dus nooit herhaal word nie.
Die Griekse woord wat hier vir eens en vir altyd gebruik word, is ephapax en dui op ʼn handeling wat nie herhaal kan word nie. Die skrywer van die Hebreër brief gebruik twee keer dieselfde woord om Jesus se dood as ʼn afgehandelde gebeure te beskryf (9:25,26; 10:10).
Soos wat Christus nie weer aan ʼn kruis kan sterf nie, kan sy liggaam nie weer geoffer word nie: “... en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb.9:22). “Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie” (Heb.10:18). Die misoffer is die satan se bespotting van die Bybelse nagmaal!
2.2 Transsubstansiasie
In die misoffer neem Rome Jesus se woorde in Joh.6:53 baie letterlik op as Hy sê: “ Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle self nie”. Rome glo dat as die voorganger oor die tekens van brood en wyn gebid het, dit in die werklike liggaam en bloed van Christus verander. Daarom word daar voor die misoffer gekniel en die tekens aanbid omdat dit vir hulle Christus se liggaam is.
In die RK gebruik alleenlik die priester van die wyn en nie die lidmate nie uit vrees dat van die wyn op die grond mag val en mense dan op die bloed van Jesus trap. Om te verhoed dat dit ook met die brood gebeur, neem lidmate dit nie self ter hand nie, maar plaas ʼn priester dit direk in hul mond. Dank God vir die eenvoud van die Protestantse nagmaal!
Die misoffer laat sekere vrae in gelowiges se gemoed ontstaan. Indien die tekens waarlik Christus se vlees en bloed sou word, is die gebruikers daarvan dan nie per sè kannibale nie? Wat maak Rome met Christus se woorde in Mt.15:17: “Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie?”
2.3 ʼn Ander maaltyd
Die misoffer het geen raakpunte met die OT Pasga of Joodse kultuur nie, maar stem eerder met die oud Egiptiese heilige maal van Osiris ooreen en is derhalwe wesenlik afgodies. Tydens die misoffer moet priesters bv. die presiese formulier soos deur die kerk opgestel is voordra sonder om een woord uit te laat. Sou hy iets uitlaat, verander die tekens nie in Christus se liggaam en bloed nie. Dit laat ʼn mens eerder aan ʼn towerformule dink. As ʼn towenaar net een woord uitgelaat het, was die towerspreuk kragteloos.
ʼn Paar jaar gelede het ʼn Amerikaanse vrou getuig dat sy tydens ʼn misoffer ʼn onsigbare teenwoordigheid aangevoel het. Dit het vir haar gesê het dat hy Christus is. Toe sy kort daarna ʼn soortgelyke ervaring in haar huis gehad het, het sy besef dat dit ʼn bose gees was!
2.4 Lasterlik
Die misoffer is lasterlik. Hoe durf ʼn priester Jesus offer terwyl die Bybel baie duidelik sê dat Christus Homself geoffer het? Wil Roomse priesters as Jesus se teregstellingbeamptes optree?! Pous Johannes Paulus II het die Maria-demoon selfs die Moeder van die Misoffer genoem terwyl pous Benediktus XVI mense gewaarsku het dat diegene wat versuim om die misoffer te gebruik, God se oordeel oor hulle haal.
Die rituele gebruik van die nagmaalsbeker deur ʼn priester is ook met bose rituele deurspek. In Openbaring sien Johannes die RK: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken... en sy het in haar hand ʼn goue beker gehad...” (17:4). Babel het ook van ornamentele bekers van edelmetaal op altare gebruik gemaak.
Semiramis, die Bioniese hemelkoningin, is ook as ʼn verhewe vrou met ʼn goue beker in ʼn uitgestrekte hand uitgebeeld wat onderdane in ʼn blinde onderdanigheid aan haar onderwerp. Jeremia verwys ook na Babel as ʼn vrou met ʼn goue beker in die hand wat nasies rasend maak (Jer.51:7). So ook Johannes: “...omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery …” (18:3).
2.5 Groter deelname
Omdat deelname aan die misoffer deur die jare skerp afgeneem het, maak die RK toenemend van nuwe evangelisasiemetodes gebruik om beter deelname te verkry. Daar word gereeld konferensies en werkwinkels oor liturgie en die sakramente gehou. Dit is so dat mistieke godsdienstige ervarings mense oor die algemeen prikkel. Die toename in charismatiese kerkgetalle bewys dit.
3. Die aanbidding van Maria
3.1 Die hemel koningin
Die vroeë Christene het nooit probleme oor Maria, die aardse moeder van Jesus gehad nie totdat Rome Christus verdring, ʼn troon vir haar ingerig, haar as hemelse koningin gekroon en begin aanbid het. Rome glo verkeerdelik dat sy die Bybelse Maria vereer terwyl sy in werklikheid die Babiloniese godin Semiramis aanbid. “Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg” (Jer.7:18).
Semiramis is bloot vanuit die een afgodsisteem na ʼn ander een oorgebring en ʼn nuwe naam gegee – Maria. Die Babiloniërs het ook geglo dat Semiramis na die hemel opgevaar het waar sy as hemelkoningin ʼn ereplek beklee. Semiramis word dikwels as ʼn vrou met ʼn goue wynbeker in ʼn uitgestrekte hand uitgebeeld. Johannes sien haar ook: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ʼn goue beker gehad …” (Openb.17:4). Purper en skarlaken is nie toevallig die RK se amptelike kleure nie. Dis ʼn waarskuwing!
In 1825 het die RK, glad nie toevallig nie, ʼn herdenkingsmedalje uitgegee wat die kerk as ʼn sittende vrou met ʼn beker in ʼn uitgestrekte hand uitbeeld. Die onderskrif lui: “Die hele wêreld is haar setel”. Rome gaan net voor die wederkoms van Christus die hele wêreld beheer. Johannes skryf: “… en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (Openb. 17:2).
Rome laster deur Maria moeder van God te noem. Daar was niemand voor God nie! Rome glo ook dat sondaars wat hul voor Christus verootmoedig, nooit van verhoring seker kan wees nie omdat Christus Hom eerder met geregtigheid en oordeel besig hou en die genadebetoning aan sy moeder oorgelaat het. Daarom kniel lidmate onbeskaamd voor beelde van Maria en is daar selfs spesiale aanbiddingsplekke vir haar ingerig waar die Maria-demoon al aan mense verskyn het en waarheen pelgrims na plekke soos Lourdes (Frankryk), Fatima (Portugal) en “Ons Dame van Guadalupe” (Mexiko) reis om seën of genesing te ontvang.
Nêrens in die Bybel is daar enige aanduiding dat Maria tot dieselfde vlak as Jesus verhef, aanbid of verheerlik moet word nie. Sy was slegs geseënd omdat sy die Christuskind gebaar het en niks meer nie. Daarom het die vroeë Christelike kerk geen Mariaverering geken nie. In die 21 apostoliese briewe wat vir ons in die Bybel opgeteken is, word daar nie eenmaal na Maria verwys nie omdat sy geen rol in die uitbreiding van die Christendom sou speel nie.
Protestante sal Rome se afgodiese liefde en toewyding aan die Maria-demoon nooit begryp nie. Daarvoor moet ʼn mens met ʼn Roomse gewete gebreinspoel wees. Rome se fabelleer oor Maria stem baie met die leer van die dwaalsieke Melekiete van die vierde eeu ooreen. Dit was ʼn sekte wat tydens die Sinode van Nicea (325n.C) die kerk probeer oortuig het dat die Drie-eenheid uit God (Vader), Christus (Seun) en Maria (middelaar) bestaan.
Rome se uitbeelding van Christus stuit Protestante teen die bors. Hy word altyd as ʼn hulpelose uitgebeeld; of as ʼn baba, of dood in Maria se arms of dood aan ʼn kruis. So ʼn hulpelose beeld sal oningeligte mense vir seker aan Christus se middelaarskap laat twyfel! So ʼn Christus wek hoogstens gevoelens van meegevoel en hartseer op, maar nie van hoop of vertroue nie. Geen wonder dat Rome ʼn lewende Maria bo ʼn dooie Jesus verkies nie!
Pous Pius XII het in 1950 die grootste onsin oor Maria kwytgeraak toe hy in ʼn ex cathedra-uitspraak gesê het dat haar liggaam drie dae na haar dood opgewek is om as koningin van die hemel op ʼn troon aan die regterhand van Christus te gaan sit. Wat is dit anders as ʼn bose parallel van Christus se opstanding en hemelvaart met ʼn Maria wat Christus na die kroon steek?
Rome leer in werklikheid niks nuut nie. Die Babiloniërs het ook geglo dat Semiramis uit die dood opgestaan en ten hemel gevaar het en ʼn ereplek as die hemelkoningin beklee. In aansluiting hierby glo die RK dat Maria se geboorte ook soos Christus s’n bonatuurlik was en dat sy sonder sonde was. Daarom is haar bonatuurlike koms met ʼn bonatuurlike verlating afgesluit.
Soos wat die Jesus wat in die Mormoonse kerk verkondig word nie die Jesus van die Bybel is nie, is die Maria van die RK nie die Bybelse Maria nie maar ʼn demoon wat vir die misleiding dieselfde naam aangeneem het. Die Bybelse Maria was geseënd, nederig en het ʼn behoefte aan ʼn Verlosser gehad. Sy was ʼn sondaar en sondaars kan nie redders wees nie. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12).
Die uitbeelding van Maria is geensins Joods nie maar eerder Babilonies. Maria word as ʼn jong vrou met blou oë en blonde hare uitgebeeld. Dit stem eerder met afbeeldings van Semiramis uit argeologiese opgrawings ooreen. Die Roomse Maria word net soos Semiramis dikwels met ʼn stralekrans om die kop uitgebeeld. Die stralekrans is die simbool van die songod.
Daar is deur die eeue al soveel fiksie en fabels aan die valse Maria toegedig, dat die ware Maria in die stortvloed van Roomse onsin verdwyn het. Desondanks bly die Semiramis-Maria die rolmodel vir alle Roomse vrouelidmate wat haar hartstogtelik aanbid!
3.2 Gebedekrale
Die aanbidding van Maria sluit ook met die gebruik van gebedekrale (Rosary) in. Dis in der waarheid ʼn minagting van Christus se waarskuwing: “En as julle bid, gebruik nie ʼn ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word”(Mt.6:7).
God het geen behae in betekenislose woorde en vormgodsdiens soos die gebruik van hierdie gebedekrale waarin 52 keer tot Maria gebid word sonder om een maal die naam van Jesus te noem! ʼn Toegewyde lidmaat bid dus in ʼn gemiddelde leeftyd van 70 jaar meer as een miljoen keer tot Maria. Wat ʼn misleiding!