Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Eerlose volksleier sal nooit eerbaar word indien hy nie wedergebore word nie (Joh.3:3). Net so min as wat uit verrotte hout iets goed gekerf kan word, kan ‘n ou aap ‘n mooi gesig hê of ‘n glimwurm ‘n lantern wees. Om vir ‘n vark vlerke aan te sit, maak nie van hom ‘n voël nie. Hy is en bly ‘n vark!
DIE SEËN VAN PROTESTANTISME (3)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE SEËN VAN PROTESTANTISME
Die ampte
1. Profetiese waarskuwings
Wanneer die satan hom soos ʼn engel van die lig voordoen en mense mislei, begin hy altyd met ʼn waarheid waarna hy onwaarhede daaraan toevoeg. Gevolglik is die enigste manier om die leuen van die waarheid te onderskei, om alles wat verdag voorkom aan die Bybel te toets. “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh.17:17). So vertoon Roomse ampsdraers byvoorbeeld ʼn rol wat totaal vreemd aan die Bybelse voorskrifte vir kerklike opsieners is (I Tim.3:1-7).
Rome huisves ʼn magdom van oorlewerings, leerstellings en heiden-tradisies wat teen die waarheid van die Bybel indruis. Jesus waarsku: “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie” (Mark.7:7,13). Paulus skryf: “Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal. 1:8).
Protestantse teoloë het bevind dat soveel as 90% van die Roomse leer glad nie met die Bybel se leer ooreenstem nie. Desondanks hou die skamele 10% wat wel daarmee ooreenstem miljoene mense aan Rome gebonde.
Gelowiges moet hulle van alle leer wat nie met die Skrif ooreenstem nie, afkeer. Jesus waarsku: “So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het...” (Mark 7:13). Paulus skryf: “Pas op dat niemand julle as ʼn buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense en nie volgens Christus nie” (Kol.2:8).
Petrus en Johannes waarsku in hul Sendbriewe spesifiek teen dwaalleraars wat kerklike ampte beklee. Petrus skryf: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos wat daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer … en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet.2:1-2). Johannes skryf: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar nou ook baie antichriste … Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie …” (I Joh. 2:18-19).
2. Die pous
Die RK handhaaf ʼn onbybelse hiërargiese orde met die pous as die hoogste gesag. Hy word die pontifikaat genoem wat brug bouer beteken. Dis ʼn heidense titel wat aan die eertydse Romeinse keisers toegeskryf is omdat hulle ampshalwe hoof van die godsdiens was en as brugbouers tussen die aardse lewe en die hiernamaals beskou is.
Die vroeë Christelike kerk het geen hiërargiese gesagstrukture geken nie. Gelowiges is as dienaars beskou en nie as heersers nie. Almal was broers en derhalwe gelyk. ʼn Leraar was bloot die eerste onder gelykes. Namate die satan die lig van die Evangelie verdof het, is ʼn vreemde leer die kerk ingedra met ampsdraers wat, soos in Babilon, met geheimsinnige mag oor ander geheers het.
Gelowiges het van die begin af Christus as die Hoof van die kerk bely: “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef.1:22,23). “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol.1:18). “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol.2:9).
Rome leer in stryd met die Skrif dat die pous die leraar van God, hoof van alle kerke, vader en leermeester van alle Christene en heerser oor die wêreld is. Nee, die Bybel leer dat die Heilige Gees God se leraar op aarde is: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 14:26). Deur homself as heerser van die wêreld te sien, trap die pous in dieselfde strik wat die satan vir Christus probeer stel het (Mt.4:8-10). Hy behoort eerder Christus se voorbeeld te volg en vir die verleier sê: “Gaan weg, Satan!”
Die pous word deur die RK as onfeilbaar beskou. Dis onbybels. “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom.3:23). “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie” (1 oh.1:8). Die Roomse leer oor die onfeilbaarheid van die pous skep ʼn tegniese probleem; as die hoof korrup is, so ook die res van die liggaam.
Die woord pous kom van die Latynse woord papa wat vader beteken. Jesus verbied hierdie woord vir geestelikes: “En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is” (Mt.23:9). Die mens het net twee vaders – sy hemelse en sy aardse vader. Kerklui durf nie as vader aangespreek word nie! Rome oortree willens en wetens die Skrif!
In die RK neem die pous vir alle praktiese doeleindes die plek van Christus in. Behalwe dat hy as heilige vader of sy heiligheid aangespreek word, eis hy ook onvoorwaardelike onderworpenheid aan hom. Kardinale het in die verlede voor pouse neergeval en selfs hul voete gesoen. Dis aanbidding!
Die Bybel verwerp die aanbidding van mense, lewend of dood: “Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ʼn mens” (Hand. 10:25-26).
Die verskil tussen Christus en Roomse pouse is net te skerp dat hulle ooit Sy verteenwoordiger op aarde kan wees. Christus het nooit ʼn amptelike kroon gedra nie en is nooit in ʼn stoel vervoer nie. Hy het nooit duur klere gedra en is nie deur mense met buigings van die knie begroet nie. Christus het eenvoudige klere gedra en is gewoonlik deur mense gespot, gehoon en verag.
Teenoor Christus, wat beswaarlik ʼn lêplek vir sy kop kon vind, leef pouse deur die eeue baie luuks. Die grootste verskil is egter die feit dat waar baie pouse onskuldige bloed aan hulle hande het en duisende se lewens laat beëindig het, Jesus sy bloed vir sondaars gestort het sodat hulle kan leef!
Op grond van gruwelike dwaalleer kan geen Roomse ampsdraer, hetsy man of vrou, die hemel beërwe nie. Desondanks is daar talle Protestante wat tog so glo. Op 2 April 2005 het die internasionaal bekende programaanbieder Larry King aan Billy Graham, die wêreldbekende Protestantse evangelis, gevra of hy glo dat pous Johannes Paulus II, wat toe so pas oorlede is, se siel by God is, waarop Graham geantwoord het dat hy daarvan sekerder was as van sy eie redding!
Hoe kan ʼn Protestant met ʼn doktorsgraad in die teologie so skokkend min van die Roomse dwaalleer weet? Bekende Protestante soos Wycliff, Calvyn, Luther, Wesley, Finney, Moody en Spurgeon het almal gesê dat die RK die sedelose vrou is waarvan Openb.17 praat. Dit beskryf baie duidelik nie ʼn oudwêreldse Babilon nie, maar eerder die Vatikaan! Ironies genoeg beteken Vaticanus plek van Godsverheerliking (Latyn). Net die teenoorgestelde is waar: “ … ʼn woonplek van duiwels en ʼn versamelplek van allerhande onreine geeste … ” (Openb.18:2).
3. Die priesteramp
Die OT priesteramp was ʼn voorafskaduwing van Christus wat in die volheid van die tyd na die aarde gekom het (Gal.4:4). Hierdie amp is ná die kruisiging van Christus afgesluit omdat sondaars daarna direk tot God kon nader sonder enige kerklike tussengangers. Gevolglik praat die NT nêrens van ʼn voortsetting van die OT priesterskap nie. Daarbenewens is Rome se ampte van aartsbiskop, kardinaal en pous is totaal vreemd aan die Skrif.
Die NT kerk word aan nuwe ampte gekenmerk: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk …” (Ef.4:11,12). Geen woord word oor priesters geskryf nie. Paulus het nie priesters nie, maar ouderlinge in gemeentes aangestel. Die brief aan die Hebreërs handel juis oor die wegdoen van die priesterskap. Om nog steeds priesters tussen God en die mens in te druk, maak Rome sondaars se pad na die hemel doelbewus toe.
Toe Christus sterf, het die gordyn in die tempel middeldeur geskeur (Luk. 23:45) waardeur God laat blyk het dat Hy voortaan nie meer deur menslike middelaars genader moet word nie, maar deur Christus. Met die voortsetting van die priester-amp, werk Rome die geskeurde gordyn as’t ware weer aanmekaar!
Waarom spreek Rome in weerwil van Christus se uitdruklike bevel priesters as vader aan? Omdat sy lidmate laat glo dat priesters sonde kan vergewe. Dis ʼn leuen! Die Bybel sê: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (1 Tim.2:5). Geen priester of wie ook al kan sonde vergewe nie; slegs Christus.
Die Fariseërs was nie eens so vermetel om te glo dat priesters sonde kan vergewe nie. Luister wat sê hulle toe Jesus ʼn verlamde man genees en vir hom sê dat sy sondes vergewe is: “Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?” (Mark.2:7).
Rome se leer van die selibaat (verbod om te trou) vir ampsdraers is ook heidens van oorsprong. In Babel is priesters en tempelmaagde verbied om te trou omdat die weerhouding daarvan as bevorderlik vir hul kennis van die verborgenhede geag is. Dit het egter rampspoedige gevolge gehad. In plaas daarvan dat dit die tempeldienaars se lewens geheilig het, het dit tot allerlei vergrype soos hoerery, sodomie en verkragting gelei. Roomse kerklui maak hul gereeld aan dieselfde vergrype skuldig. Die appel val nie ver van die boom af nie!
4. ʼn Ander Christus
Christus waarsku dat die mensdom net voor sy wederkoms deur ʼn ongekende godsdienstige misleiding verblind gaan word. Satan gaan mense met tekens en wonders mislei en bedrieërs gaan voorgee om die terugkerende Christus te wees: “As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! Of: Daar! – moet dit nie glo nie. Want daar sal baie valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei" (Mt.24:23,24).
Paulus waarsku ook teen valse profete wat ʼn ander Jesus as dié van die Bybel verkondig: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne miskien so bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig... laat julle jul dit goed geval” (2 Kor.11:3,4).
Rome se Jesus is beslis nie die Jesus van die Bybel nie, maar ʼn ander Jesus. Rome se Jesus staan in die skadu van Maria, die eintlike redder wat verheerlik word. Met ʼn verlede soos hare, kan Rome onmoontlik nie die Bybelse Jesus verkondig nie. Uit die geskiedenis weet ons dat die RK miljoene mense wat nie met haar dwaalleer genoeë geneem het nie, laat folter het. In baie gevalle is hulle selfs doodgemaak!
Hoe kan Rome dieselfde Jesus as die Bybel verkondig as sy sondaars leer om by priesters vergifnis vir sondes te ontvang? Verkondig sy miskien die Bybelse Jesus as sy mense leer dat die kerk sondaars die hemel indra? Wat dan van die persoonlike verhouding met Jesus?
Hoe kan Rome die Bybelse Jesus verkondig as sy mense leer om beelde te aanbid, voor die pous as God op aarde te buig en sy uitsprake met dieselfde gesag as die Bybel s’n te bejeën? In die RK val Christus die oog nie maklik op nie. Hy is iewers op die agtergrond; iewers agter Maria, agter die priester, agter die kerk; iewers agter.
5. Nie Christus alleen nie
Verblind deur dwaalleer, glo Rome selfs dat nie-Christene ook die hemel kan beërwe. Op 30 Nov.2005 het pous Benediktus XVI tydens ʼn gedenklesing in die Vatikaan gesê dat enigeen wat hom vir vrede en voorspoed vir die mensdom beywer en na voortreflikheid streef, gered sal word al ontbreek dit hom aan die Bybelse geloof!
Op 24 Julie 2015 het die pous in die openbaar gesê dat Christus en Mohammed kinders van God is. Die naam waarop Hy aangespreek word, maak nie saak nie. Allah is ook reg. Daarna het die pous gesê dat die mensdom wonders in die wêreld kan verrig as hulle hul gelowe laat saamsmelt en daardie tyd is nou. Dit sal maak dat mense nie langer hul medemens oor verskillende sienings van God vermoor nie.
Tydens ʼn groepsbespreking met godsdiensleiers in Maart 1999 in Texas, het kardinaal Francis Arinze gesê dat God se redding nie net tot Christene beperk is nie, maar ook Jode, Moslems, Hindoes en ander mense met goeie harte insluit solank as wat hulle hul oog op God hou. Toe ʼn verslaggewer hom vra of ʼn mens dus in die hemel kan kom sonder om Christus bewustelik as Verlosser aan te neem, het hy bevestigend geantwoord. Dis ʼn leuen wat ten hemel skreeu! “Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde” (Ps.55:22).
Die Bybel is baie duidelik oor redding: “Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh.8:24). “Wie is die leuenaar behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie” (1 Joh.2:22,23).
Rome ontken willens en wetens een van die grootste waarhede van God se Woord: “ ... as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3). Dis misleiding op sy allerergste! Daar word gesê dat alle paaie na Rome lei. Die een na die hemel loop bitter ver by Rome verby!