Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het goeie raad oor hoogmoed en nederigheid: jy mag maar hoogmoedig wees onder jou meerdere maar jy moet nederig wees onder jou mindere; só sal jy minstens nie jou eie waardigheid of ander s'n kwes nie. Hy herinner ons ook dat nederigheid nooit kan val nie...
LOS DIE VERLEDE
Ds Andrè van den Berg
“.... ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is..” Fil.3:14
Baie jare gelede het ek Dan Engelbrecht, ʼn volslae alkoholis, op Stellenbosch leer ken. Iets ernstig het hom gepla waaroor hy nie wou praat nie. Dit het eers aan die lig gekom nadat hy een aand vir dronkbestuur aangekeer is. Hy het my vertel dat hy weens nalatigheid vir sy 16 jarige broer se dood verantwoordelik was en dat die skuldgevoel daaroor hom na drank gedryf het.
ʼn Skuldgevoel is ʼn verskriklike ding. Niks tap ʼn mens se gees soos ʼn verlede wat by jou bly spook nie! Dawid skryf in Ps.32 dat dit sy gedagtes besmet en sy gees uitmergel het. Na die voorval met Batseba en die moord op haar man, het Dawid sy skuldgevoel vir homself probeer wegsteek. Dit het nie gewerk nie. Die nare spoke uit sy verlede het telkens voor hom opgedoem!
Hoor hoe treffend skets hy dit: “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer..” (:3). “...U hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander...” (:4). Dan bely hy dat dit dwaas is om sonde vir God te probeer wegsteek: “Wees nie soos ʼn perd, soos ʼn muil-esel wat geen verstand het nie... Die goddelose het baie smarte, maar hy wat op die Here vertrou, met goedertierenheid sal Hy hom omring” (:9). Ja, wie sy sonde in ware berou voor God bely, ontvang vergifnis.
Ons het net een lewe van God ontvang en Hy wil dat ons goeie dinge daarmee doen. Satan laat ons egter dikwels verkeerde dinge doen. Sommige daarvan is so groot dat dit by ons bly spook totdat ons dit aan die voete van Jesus lê en bevryding deur vergifnis ontvang.
Sonde bind mense. Vergifnis bevry mense. Paulus skryf uit eie ondervinding: “... ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is...” Hy het ʼn baie slegte verlede gehad. As ʼn vervolger van die Christene het hy baie gelowiges laat doodmaak. In Hand.7 gee hy as teregstelligsoffisier selfs goedkeuring vir die steniging van Stefanus. Jare later getuig hy voor koning Agrippa: “ ... en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit... en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee” (Hand.26:16).
Paulus het inderdaad ʼn baie slegte verlede gehad. Het dit hom ʼn skuldgevoel besorg en die dood van die gelowiges lewenslank by hom gespook? Nee, dit het nie, anders sou hy nooit sy groot Evangelie-taak kon verrig nie. Ná sy bekering het God hom rustig gemaak omdat Hy hom nuut gemaak het. Jy kan net deur die bekering van voor af begin.
Paulus het die verkeerde dinge al te goed geken. Dit was immers jare lank deel van sy lewe. Maar deur die bekering het hy die verlede in die verlede gelaat. Dit was verby! “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
As iemand wat in Jesus nuut geword het, kon Paulus voor begin. Daarom word hierdie nuut-word wedergeboorte genoem – soos ʼn pasgebore baba van voor af met die lewe begin. Elke sondaar wat sy sonde in diepe berou voor Jesus bely, word in Christus nuut. Hy het nie meer ʼn verlede nie; slegs ʼn hede. Daarom skryf Paulus: “... ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is...”
ʼn Wedergeborene dra die bagasie van die verlede nie verder saam nie. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Mt.11).
Satan bly jou aan jou verlede herinner. Hy geniet mense wat die swaar bagasie van die verlede saamsleep. Die Heilige Gees, daarenteen, fokus ons oë op die toekoms met die hemel as eindpunt. Wie op pad daarheen is, reis altyd lig en baie dankbaar. Jesus help ons om d.m.v. sondevergifnis van alle onnodige bagasie ontslae te raak. “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele” (Mt.5:17). “Verbly julle altyd in die Here, ek herhaal: Verbly julle!” (Fil.4:4).
Paulus rig hierdie woorde asook dié van ons teksvers aan die Filippense; gelowiges in die stad Filippi in die Noord-Ooste van Griekeland. Paulus het met groot vrug hier gearbei en selfs ʼn tronkbewaarder na Jesus gelei. Filippi was ook die tuiste van Lidia, ʼn vermoënde beroepsvrou wat tot bekering gekom het waarna Paulus haar en haar gesin en daarna ook dié van die tronkbewaarder gedoop het – hele huisgesinne en nie net volwassenes nie.
Talle Grieke het destyds onder Paulus se bediening tot bekering gekom en Jesus begin volg. Hierdie nuwe lewe was geensins maklik nie omdat hul volkskultuur van die heidendom deurspek was. Vir hulle om met hulle kultuur te breek, was net so goed as om met hul volk self te breek. Gevolglik was die versoeking om na die ou lewe (verlede) terug te val altyd groot. Paulus skryf aan Timoteus dat ʼn sekere Demas hom verlaat het “omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (2 Tim.4:10). Demas het na sy ou lewe teruggeval.
Dit maak ʼn leraar hartseer as iemand wat die weg van die waarheid leer ken het, die geloof verlaat of andersins in dwaalleer verval soos alreeds in die vroeë kerk voorgekom. Daarom waarsku die skrywer van die Hebreër-brief: “want dis onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het... en afvallig geword het – om die weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Heb.6:4-6).
Baie mense wat terugval, is mense wie se gees deur die Satan vasgeketting is. En weet u waaraan? Aan die swaar yster-bal van ʼn lelike verlede. Hy het Paulus daarmee probeer muilband, ʼn persoon met so ʼn lelike verlede. Paulus het hom met die genade van God nie laat bind nie maar die teenoorgestelde gedoen: “.... ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is..” Wat sou van Paulus geword het indien hom aan sy verlede laat ketting het? Ons sou nie eens van sy bestaan geweet het nie!
Wat maak jy met jou verlede? Hoe hanteer jy jou flaters? Ons maak almal foute. Gelowiges laat dit na sondebelydenis in die verlede agter hulle. Baie mense dra dit saam. Dis soos iemand wat ʼn bottel breek en die skerwe daarvan in sy broeksak bêre om hom gedurig te krap.
Jesus wil hê dat ons, soos Paulus, die verlede moet laat gaan om die toekoms te kan gryp. Geen mens sal ooit weet waarheen jy gaan as hy gedurig bly omkyk nie; veral nie ʼn gelowige nie! Die verlede is nooit belangriker as die toekoms nie. Moenie die Satan toelaat om jou met kettings aan die verlede vas te maak nie. Niemand kan sinvol vir die toekoms voorberei deur aan ʼn hartseer verlede vas te klou nie
Niemand van ons is egter sonder foute nie. Ons is maar almal produkte van ons verlede. Ons durf net nooit gevangenes van ons verlede wees nie. Daarvoor het Jesus ons deur sy bloed vrygekoop. Ons kan egter nie ons verlede weg wens nie. Ons moet daaruit leer sonder om daarin verstrengel te raak anderste raak ons bitter en nie beter nie. En ʼn bitter mens vertolk die lewe altyd verkeerd. Deur die wedergeboorte kom daar dikwels goeie mense uit die gietvorm van ʼn slegte verlede. Kyk maar net na Paulus!
As jy op die verkeerde pad is, moet jy soos die verlore seun ʼn U-draai maak en omdraai. Dit maak nie saak hoe ver jy op die verkeerde pad in die lewe is nie, draai om en skud die verlede af soos wat ʼn slang sy vel afskud. “.... ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is..” Die grootste suksesse begin by foute wat herstel is – soos Paulus gedoen het.
Amen!