Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe vervul ons ons lewensdoel hier op aarde? Ons weet nie altyd wat ons moet doen om ons lewensdoel uit te leef nie maar as ons vir duidelike leiding van die Heilige Gees vra sodat alles tot eer en verheerliking van God sal strek, sal ons die antwoorde kry.
Pinkster 2016: DIE BRUIDEGOM IS OP PAD (2)
2. Hy kom gou
Mt.25:1-13; Openb. 22:6-10
“En kyk, Ek kom gou….” (Openb. 22:12).
Openbaring is die moeilikste dog opwindendste boek in die Bybel. Nogtans moet ʼn mens baie versigtig met die uitleg daarvan wees. Dis in simboliese taal geskryf en kan nooit letterlik verklaar word nie. Vir mense wat Openbaring letterlik opneem, sal Openbaring nooit ʼn openbaring wees nie, maar ʼn geslotenheid bly. Nee, die beelde en veral die getalle wat in hierdie laaste boek van die Bybel opgeteken is, is nie letterlik te verklaar soos wat die Jehova Getuies bv. met die getal 144,000 van Opg.7 doen nie. Hulle beskou dit as die letterlike getal – die volle som van almal wat gered is en hemeltoe gaan.
Nee, hierdie 144,000 is ʼn simboliese getal en dui ʼn ontelbare skare aan. Johannes werk hier met die getal 12 - 12 X12 X1000. Dis die 12 stamme van Israel, die 12 dissipels en 1000, die getal wat volheid aandui. Hierdie 144,000 is slegs die simboliese getal van almal wat gered word. Daar gaan miljoene der miljoene geredde siele in die hemel wees. God se genade in Christus is groot!
As ons wil verstaan wat God vir ons in die Bybel sê, moet ons eerstens weet dat God nie in enkel sinne met mense praat nie. Ons praat dan nie eens in enkel sinne met mekaar nie! God praat altyd in paragrawe, hoofstukke, boeke en selfs groter gehele soos die OT en NT. Hy praat ook nie kort nie, maar lank sodat ons goed moet luister na wat Hy sê - veral oor die eindtyd.
ʼn Baie verkeerde ding om met God se Woord te doen, is om ʼn teks uit sy verband aan te neem en ʼn sekere betekenis daaraan te koppel om jou eiewyse standpunt te ondersteun. Neem Mark 16:16 as vb. Daar staan: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word, maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word”. Voorstanders van die grootdoop haal dit gereeld uit sy verband aan om die kinderdoop as verkeerd te bewys. Lees jy dit in sy verband, leer jy die werklike betekenis daarvan. Markus het sy evangelie vir die Romeine geskryf. As ʼn Romein tot bekering gekom het, het hy hom laat doop – uiteraard as volwassene. Die teks roep die heiden-Romeine tot bekering op en om die doop as verbondsteken te ontvang. Dis nie ʼn teks om mense wat kwansuis verkeerd doop by te kom nie!
Die Bybel is ʼn aangrypende verhaal wat vir ons vertel wat God in die verlede vir sy kinders gedoen het. Dis egter ook die wonderlike verhaal van wat Hy vandag nog steeds vir sy kinders doen en ook in die toekoms sal doen. Die Bybel omspan die verlede, die hede en die toekoms. Daarom bly dit altyd nuut.
Die Bybel is eintlik ʼn baie maklike verhaal om te verstaan. God praat nooit met ons in raaisels of deur geheime kodes soos die skrywers van die omstrede boek The Bible Code so ʼn paar jaar gelede beweer het nie. God praat eerder in alledaagse taal soos wat ons met mekaar praat – reguit en sonder omhaal van woorde. Ons moet net reg luister. As ons nie luister nie, is verwarring onafwendbaar en sal ons nooit hoor wat God vir ons wil sê nie!
Wanneer dit by die dinge van die eindtyd kom, is die verkeerde verstaan van TYD een van die hoofoorsake van verwarring. In die Bybelse tyd het mense baie anders as ons oor tyd gedink; veral oor die toekoms. Hulle het nie so kwaai belang by die toekoms gehad as ons vandag het nie. Daarom moet ons nie met ʼn Westerse bril na die Bybel se uitsprake oor die eindtyd kyk nie.
Die mense van die Bybelse tyd het meer belang by die verlede gehad. Lees gerus Ps.77 wat vir ons vertel hoe die gelowiges van 3000 jaar gelede na die oplossing vir hul probleme gaan soek het. Hulle het teruggekyk na God se groot dade in die verlede en dan vir mekaar gesê: “As Hy dit destyds kon doen, kan Hy dit vandag ook nog doen”. Is dit nie een van die wesentlike dinge wat ons vandag miskyk nie?
Die gelowige Asaf sê: “Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd… U het u volk met ʼn sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef”.
Johannes die Sendbriefskrywer, maak van dieselfde resep gebruik. Die gelowiges in die verstrooiing het so swaar gekry dat sommige selfs aan God se liefde en sorg begin twyfel het. Hulle het geredeneer dat indien God liefde is, Hy nie sulke slegte dinge oor hulle sou laat kom het nie. Sommige het dan ook die geloof verlaat.
Johannes draai hulle as’t ware om - met hul gesigte na die verlede, en wys hulle op Christus se kruisdood en die redding wat daar vir mense gekom het. Dit is God se liefde. Ja, op Golgota word die antwoord op die mense se vraag na God se liefde glashelder. Gelowiges moes omdraai en terugkyk om ʼn antwoord te kry.
Die verlede is baie belangrik. Mense moet deeglik kennis daarvan neem. Daarom is daar ʼn vak soos Geskiedenis; eerstens om ons te leer om ʼn fout nie te herhaal nie en tweedens om ons te help om die toekoms in fokus te bring. As iemand onverskillig teenoor sy geskiedenis staan, sukkel hy ook met die hede en die toekoms.
Die Bybel se mense het, so anders as ons, die toekoms nooit tot in die fynste besonderheid beplan nie. Daarom moet ons baie versigtig met die Bybel omgaan en weet dat Bybelse profesieë nie uitsluitlik handel oor gebeure wat duisende jare later vir die eerste keer in vervulling sou gaan nie. Dis die groot fout wat die miljoenêr eindtyd-skrywer Hal Lindsay bv. maak!
Vir die mense van die Bybelse tyd was tyd nie aan horlosies of kalenders gekoppel nie. Tyd was eintlik ʼn relatiewe begrip. ʼn Koning kon bv. nooit vir ʼn afspraak laat wees nie. As daar laat weet is dat hy op ʼn sekere dag ʼn sekere stad sou besoek en hy daag eers ʼn paar dae later op, was hy nog steeds betyds. Die tyd was eintlik eers reg sodra hy opgedaag het. Mense het geduldig gewag.
Teen hierdie agtergrond moet ons die Gelykenis van die Tien Maagde en die bruidegom wat getalm het verstaan. As Jesus in die tweede laaste vers van die Bybel sê: “Kyk, Ek kom gou” en dit neem 2000 jaar of langer, kom Hy nog steeds gou!
Wanneer Jesus dus oor die wederkoms praat, is HY nie besig om wederkomsdatums uit te deel nie. Hy skerp eerder sy kinders op om soos die vyf wyse maagde gereed te wees. Hy kom nie op ʼn datum wat deur mense bepaal is nie. Hy kom op sy eie tyd, ja, in die volheid van die eindtyd. Ons wag maar geduldig, want kom, sal Hy kom! Die vraag is nie wanneer nie maar is jy gereed?