Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Baie van ons verkies om ons eie probleme te dra en in stilte te ly. Dit klink edel om ander nie daarmee te belas nie en dit ook nié voor God te bring nie, maar kyk wat sê Dawid het sy stille lyding hom in die sak gebring: "Ek was stom in stilte... het geswyg, ver van die goeie af; maar my smart is aangewakker." Sy smart het erger geword tot hy dit aan God bely het. Soos Augustinus dit gestel het: "My hart is altyd onrustig in my behalwe as ek by U tot rus kom." Bring jou lyding na die HERE, praat met Hom daaroor asook met 'n beste vriend, en ervaar daardie vrede wat ook Dawid daarna ervaar het.
"NVK" IS NIE 'N KURRIKULUM
Leonard vd Dussen
Daar is al baie geskryf en geredeneer oor kurrikulums. Die HAT verklaar dit kort en kragtig as “studiekursus, leergang” en daarmee is dit afgehandel. ‘n Kurrikulum is dus doodeenvoudig ‘n uiteensetting van wat geleer gaan word.
Geleerdes het vraagstukke by die eenvoud van wat ‘n kurrikulum is, gevoeg wat veral in die twintigste eeu gestaltes begin kry het. Een daarvan is of die kurrikulum net die inhoudelike (die “wat”) uiteensit, en of dit dalk ook die metode (die “hoe”) moet beskryf. Die huidige Suid-Afrikaanse Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) wat as “Kurrikulum 2005” bekend was, het die metode ingesluit, wat in hierdie kurrikulum ‘n soort uitkomsgebaseerde onderwys is. Suiwer uitkomsgebaseerde onderwys is dit nie, aldus die vader van hierdie siekte in die onderwys, dr William Spady wat duidelike gronde vir sy afwys van Kurrikulum 2005 as werklik uitkomsgebaseerd in die ware sin aangee in sy artikel “It’s Time to End the Decade of Confusion about OBE in South Africa” (Afrikaanse vertaling: “Dis genoeg: Maak ‘n einde aan die verwarring oor Uitkomsgerigte onderwys in Suid-Afrika”, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, Jaargang 27 No 1: Maart 2008). Die NKV en ook die onlangse voorgestelde amendamente daarvan (die “Curriculum and Assessment Policy Statement” of “CAPS” vir elke leerarea) gaan voort met die eiesoortige geploeter van ‘n soort UGO wat alles wil assesseer, maar terselfdertyd ook ‘n voorgeskrewe uiteensetting van ‘n inhoudelike kurrikulum gee – twee dinge wat volgens Spady net nie kan saamwerk nie. Daarby probeer die NKV ook nog sosialistiese doelwitte afdwing soos “Social transformation; ensuring that the educational imbalances of the past are redressed, and that equal educational opportunties are provided for all sections of our population” (eerste kolpunt van 1.2(c) in die CAPS onder die opskrif: “The National Curriculum Statement Grades R – 12 is based on the following principles:”).
Die NKV beweeg so ver oor die grense van wat ‘n kurrikulum behoort te wees, dat dit ‘n vraag is of dit werklik ‘n kurrikulum is. Die CAPS’s stel dit tot ‘n mate reg met redelike inhoudelike lyste van wat geleer moet word, maar dit bly verpak onder opskrifte en beginsels van transformasie en hou aan om te veel van die metode te wil voorskryf (“The National Curriculum Statement Grades R – 12 (NCS) stipulates policy on curriculum and assessment in the schooling sector” (my beklemtoning)). In van die detailgedeeltes van die CAPS’s word ook uitgespel hoeveel take gedoen moet word en so meer.
As die wetenskaplike beskouing korrek is dat die NKV nie ‘n kurrikulum is nie, ontstaan die vraag wat dit dan is? Die NKV gee self die werklike verklaring in sy agtergrond en beginsels, dat dit ‘n prosedure van sogenaamde transformasie is om die nuwe Suid-Afrika te vestig en vas te lê. Die akademiese waarde van hierdie sogenaamde kurrikulum is dus ernstig onder verdenking ongeag die inhoudelike gedeeltes se diepte, wydte en relevansie of nie. Dit is wetenskaplik-akademies verwerplik.
In Suid-Afrika was staatsonderwys vir byna ‘n eeu lank sinoniem met gehalte-onderwys en dit het gewoonte geword om die staatskurrikulum te volg. Die regulatoriese raamwerk het so ontwikkel dat die navolg van die staatsvereistes en staatsertifikate die absolute norm geword het vir toelating tot tersiêre opleiding en dit het die gevoel van vanselfsprekendheid dat die staatskurrikulum noodwendig reg is, versterk. Dit is gevolglik ‘n moeilike erkenning en gewaarwording as die besef dat die staat nie meer goeie onderwys voorsien nie, en selfs nie meer vertrou kan word om minstens die riglyne reg na te vors en beskikbaar te maak nie.
Privaatonderwys bied die oplossing
Tog was dit vir eeue lank nie regerings nie, maar universiteite wat as selfstandige akademiese instellings akademiese vakkundigheid beskryf, bedryf en ontwikkel het en hoef daar nie in die 21ste eeu teruggedeins te word om in privaatinstellings onderwys op peil te kry, op gesonde wyse te bedryf en dit te ontwikkel nie.