Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om sonder God te probeer leef is baie soos 'n afpunt-potlood: daar is geen punt nie! Dit is nutteloos om te lewe en sonder Hom te probeer oorleef.
DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (1)
Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Dit is die laaste Sondagaand van die maand en volmaan.
Twee persone in werksklere verskyn in Hoofweg 27, net buite die kollegedorpie Ashton. Hulle is albei lank en goed gebou — buitengewoon groot. Die een is donker, met donker hare en ’n skerp, puntige gelaat en die ander een is blond en gespierd. ’n Ent weg gaan hulle staan en beskou die dorp en die buitengewone aktiwiteite wat daar aan die gang is. Luide musiek en ander lawaai weerklink op die strate en in die kafees en op die dorpsplein. Die twee figure stap nader.
Die Ashton Somerfeesvieringe is in volle gang. Een maal per jaar vind hierdie joligheid plaas om op dié wyse die sowat agthonderd studente in die Kollege welkom te heet en tuis te laat voel in die boesem van die dorp. Na afloop van die feestelikhede, gaan die
meeste van die studente gewoonlik vir hulle somervakansie huis toe om ’n rukkie uit te span. Niemand in Ashton wil die karnaval misloop nie. Hulle geniet die disko, die flieks, die kroeë en al die plesiere.
’n Roekelose, losbandige atmosfeer heers en gewoonlik word die geleentheid benut om dronk te word, die lewe te geniet, vrye seks te beoefen en selfs in gevegte betrokke te raak.
Een van die grondeienaars het ’n leë stuk grond in die middel van die dorp aan ’n rondreisende groep beskikbaar gestel en hulle het hulle stalletjies en plesierritte daar ingerig. Daar is van alles en nog wat. Die groot ronde wiel met die swaaiende sitplekke trek almal se aandag en almal wil graag daarop ry om vanuit die lug oor die kleurryke toneel neer te kyk. Luide karnavalmusiek klink oorverdowend en al wat leef en beef is daarop uit om die aande te geniet.
Kinders ry op kleurryke meganiese perdjies; sommige persone gooi met balle na opgestopte poppe, ander gooi sente na blikke of pyltjies na wapperende ballonne.
Die twee besoekers staan in die middel van die dorpie en wonder onwillekeurig hoe ’n dorpie van twaalf duisend inwoners so ’n bonte mengelmoes kan genereer. Die inwoners wat gewoonlik so rustig is, het ’n metamorfose ondergaan en hulle getalle is aangevul deur besoekers van omliggende gebiede. Elke straat, gangetjie en plein is druk beset. Mense drom teen mekaar aan. Die polisie is teenwoordig, maar handhaaf ’n lae profiel. Indien hulle teen elke dronke sou optree, sou die tronke spoedig stampvol wees. Inderdaad, die feesvieringe het nou, op die laaste aand, ’n hoogtepunt bereik. Dis soos ’n stormwind wat in felheid toeneem en niemand kan iets daaraan doen nie. Dit moet maar net uitwoed!
Stadig stap die twee besoekers tussen die menigtes deur, luisterend na elke gesprek. Hulle stel besonder belang in die dorp en daarom neem hulle alles met arendsoë waar. Hulle sien die menigtes wat teen mekaar druk en by mekaar verbyskuur. Hulle soek na iemand.
“Kyk daar!” sê die donker man.
Albei sien haar dadelik. Sy is jonk en blond, maar lyk taamlik ontsenu. Sy dra ’n kamera in haar hande. Haar gesig lyk ernstig.
Die twee mans stap haastig nader en gaan langs haar staan. Sy merk hulle egter nie.
“Jy kan gerus in daardie rigting kyk,” fluister die donker man en plaas sy hand op die meisie se skouer. Hy stuur haar in die rigting van ’n stallejie waar ’n klompie jongmense besig is om ballonne met pyltjies stukkend te gooi. Sy stel nie in hulle aktiwiteite belang nie, maar dan trek ’n beweging agter die stalletjie haar aandag. Sy hou haar kamera gereed en tree effens nader. Toe sy die foto neem, stap die twee groot mans haastig weg na hulle volgende afspraak.
Hulle beweeg vinnig, geruisloos en sonder huiwering tot bo-op Poplar-hoogte waar ’n klein kerkgeboutjie sigbaar word. Die kerk is witgeverf, klein en kompak en die gras voor die gebou is netjies gesny. ’n Kennisgewingbord is voor die kerk aangebring waarop die tye van eredienste en Sondagskool aangedui word.
Die Ashton Gemeenskapskerk is op ’n heuwel gebou en vandaar kan die hele dorpie gesien word. Op die kennisgewingbord is ook die naam van die nuwe pastoor aangebring — Henry L. Busche.
Vanaf die kerkie staar die twee mans ’n paar oomblikke oor die omgewing uit. Aan die westekant is die karnaval in volle swang en aan die oostekant pryk die gebouekompleks van Whitmore Kollege.
Die middelste gedeelte is die dorpie self met besighede, petrolpompe, die plaaslike koerant en verskeie ander kantore en winkels. Vanaf die kerkie lyk die ou dorpie so heel normaal en doodgewoon, soos menige ander Amerikaanse dorpies.
Die twee mans kyk egter nie met menslike oë na die dorpie nie; nee, inteendeel, hulle sien veel dieper. Hulle kan aanvoel dat daar ’n ondertoon van onheil teenwoordig is — iets vreemds en tasbaars - iets uit die bose. En uit die aard van hulle werk, moet hulle dikwels vrae stel — wat hulle nou ook doen. Waarom voel hierdie dorpie so anders? Watter onheil bedreig hierdie skynbaar normale gemeenskap?
Daar is egter nie tyd om lank te wonder nie. Meteens weet hulle dat hulle moet verdwyn, wegsmelt en in die duisternis agter die kerkie wegkruip. Vandaar hou hulle die omgewing afwagtend dop.
Die maanlig is ’n onderaardse blou kleur en donker skadu’s vlek die omgewing voor hulle. Maar een van die skaduwees is anders as die ander. Dis ’n afskuwelike, vreesaanjaende skaduwee wat sluipend naderkom.
Wat meer is, hierdie skaduwee het ’n vorm, ’n gestalte, arms en bene en aaklige kloue en angswekkende vlerke wat bokant die gedierte se skouers heen en weer fladder!
Die afskuwelike gedaante beweeg na die kerkie. Meteens word die aaklige uitpeuloë in die blou maanlig sigbaar. Die knoetserige kop rus op gekromde skouers en ’n rooi asemvlam kom by die gedierte se mond uit. Yslike slagtande word ook sigbaar.
Dan lag die ondier — ’n lag wat byna soos ’n hoesbui klink. Hy kom orent en ’n afskuwelike grynslag vorm op die gesig. Hy beweeg na die voordeur van die kerkgebou. Die swart hand reik deur die deur soos wat ’n mes deur botter sny. Die liggaam begin deur die deur inbeweeg . . . maar net halfpad!
Meteens is dit asof ’n onsigbare muur die ondier tot stilstand dwing. Hy val agteroor en word met geweld by die trappe afgeslinger.
’n Angswekkende gil weerklink! Maar dan kom hy weer orent en staar met uitpeuloë na die deur wat hom nie wil deurlaat nie. Dan is dit asof die ondier al sy magte versamel en met ’n bloedstollende kreet werp hy hom weer teen die deur aan. Hy dring deur die toe deur tot binne in die voorportaal van die kerk waar ’n wit liggloed hom omvou.
Weer skreeu die ondier en druk sy oë toe. Hy voel hoedat ’n sterk hand hom vasgryp en met geweld word hy na buite geslinger.
Die ondier se vlerke tril en hy vlieg een maal in die rondte. Rooi walms kom by sy mond uit. Sy kloue is voor hom uitgestrek en ’n vreeslike, onbeskryflike kreet wel vanuit sy binneste op. Weer slinger die ondier hom teen die kerkdeur aan, Maar dan ruk die ondier aan flarde! ’n Laaste angskreet weerklink! Bene en swaaiende kloue krimp ineen en smelt weg. ’n Onaangename swawelreuk vul die omgewing en dan meteens is daar niks meer nie. Die twee vreemdelinge staan binnekant die kerkgebou.
Die groot blonde man steek sy glinsterende swaard in die skede terug. Die wit lig wat hom omvou, word dowwer en dowwer.
“ ’n Gees van frustrasie?” vra hy.
“Moontlik. Of anders een van angs en twyfel. Wie weet?”
“Hulle is baie. Baie meer as wat ons is. En hulle is altyd bedrywig.”
“Ja. Dis waar,” sê die groot man en sug diep.
“Maar wat doen hulle hier? Ons het nog nooit so baie hier opgemerk nie?”
“Die rede sal spoedig duidelik word, dit kan jy glo.” Hy kyk rond en stap dan deur die swaaideure van die voorportaal na die binne ruim van die kerk:” Kom ons gaan ontmoet die pastoor. Dit lyk of sy lidmaattal aan die afneem is.”
Hulle stap met die nou gang langs na die preekstoel waar ’n enkele liigie brand. ’n Kruis hang bokant die doopvont. Op die preekstoel lê’n oop Bybel. Alles getuig van eenvoud en spaarsaamheid.
Skiellk hoor hulle ’n sagte gesnik vanuit die voorste ry banke. Daar kniel ’n jongman, sy kop rustend op die harde bank, sy hande met desperate erns ineengeklem. Hy is baie jonk en beslis kwesbaar. Hy bid, ernstig en dringend, terwyl trane oor sy wange biggel. Hardop noem hy die name van mense en instansies wat gebed nodig bet. Nou en dan klink lofprysing oor sy lippe.
Dic twee mans hou die jong pastoor ’n oomblik stilswyend dop.
“ 'n Ware gebedsheld,” se die donker man.
“Ja,” stem die blonde een saam. “Hy is die man. Hy is reeds besig om vir die mense van hierdie dorp by God in te tree . . .”
“Maar hy is alleen.”
“Nee.” Die blonde man skud sy kop. “Daar is nog ander. Daar is altyd nog ander. Hulle moet net gevind word. Maar sy gebede is die begin.”
“Maar hy gaan seerkry, dit weet ons.”
“Ja, en die nuusredakteur ook. En ons ook.”
“Maar sal ons wen?”
“Ja,” antwoord die groot man. “Ons sal wen, want ons sal veg.”
Hulle staan aan weerskante van die biddende man en stadig maar seker omvou 'n wit lig die geboë figuur en vul die hele gebou. Dit verhelder die kruis en elke bank in die kerkie. Naderhand glinster die hele binneruim in ’n byna onaardse lig van onbeskryflike skoonheid.
Teen hierdie tyd het die twee manne self ook helderwit geword. Dit lyk asof hulle albei van binne gloei. Hulle gesigte glinster, hulle oë skitter en albei dra ’n gloeiende swaard langs die sy.
Hulle plaas hulle hande op die jongman se skouers. Stadig begin 'n waas van glinsterende lig oor hom toesak. En saam versterk en bemoedig hulle die biddende man. Geleidelik begin sy trane opdroog. 'n Geestelike krag neem van hom besit.
Vervolg...