Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soms kalmeer die HERE die storm, en soms laat Hy die storm woed en kalmeer sy kind.
ROOMSE MISLEIDING ONTMASKER (4)
Ds A E vd Berg
Lees reeks by Roomse misleiding ontmasker
Godin-verering
Babilon het in die Bybel altyd ʼn ongunstige betekenis. Vanaf die bou van die toring (Gen.11) tot in Openb.18 staan dit in die teken van opstand teen God. Babel was ʼn stad aan die benedelope van die Eufraat- en Tigrisriviere (tans Irak). Die Grieke het dit Babilon genoem omdat Babel die hoofstad daarvan was. Babel beteken godspoort. Ironies genoeg was dit nie ʼn poort na God toe nie, maar eerder na die Satan toe.
Die Babiloniërs was almal afgodsdienaars wie se godsdiens om die as van verborgenheid gedraai het. Slegs priesters kon mense in dié geheimsinnigheid onderrig. Wie dit te wete wou kom, moes vooraf eers ʼn geheime drank drink wat hulle bedwelm en in die mag van die priesters geplaas het.
Jeremia verwys hierna as hy sê dat Babel ʼn goue beker is wat die aarde dronk en nasies rasend maak (Jer.51:7). Johannes praat simboliese van haar:
“...en sy het in haar hand ʼn goue beker gehad, vol van gruwels” (Openb. 17:4). “...omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery …” (18:3).
Die Babiloniërs se drang na kennis van die verborgenhede het aan die priesters ongekende mag besorg. Hulle is as die enigste vertolkers en uitlêers hiervan geag en gevolglik die enigstes wat mense daarin kon onderrig. Sonder die priesters se hulp het Babiloniërs nêrens gekom nie.
Om by die verborgenhede ingelyf te bly, moes ʼn persoon gereeld alles wat op sy gemoed was aan ʼn priester bekend maak. Vandaar die oorsprong van die RK se bieg. Gevolglik het priesters alles van almal geweet. Dit het tot godsdiensdespotisme gelei soos wat later ook in die RK die geval was.
Babiloniese priesters is aan kaal koppe of ʼn kaalte bo-op die kop (kroonskeer) gekenmerk. Dit was heidens en vir Joodse priesters taboe:
“Hulle mag op hul hoof geen kaalte maak …” (Lev. 21:5).
Sekere Roomse priester-ordes is later daaraan gekenmerk wat hul Babiloniese herkoms verraai het. Dit was immers dieselfde godsdienssisteem!
Babilon se godsdiens het om die aanbidding van ʼn godin gedraai - Semiramis, die vrou van Nimrod. Sy was ʼn werktuig in die hand van die Satan wat allerlei heiden-gebruike soos bv. die selibaat gevestig het waardeur priesters en tempelmaagde vir haar diens afgesonder is. Sy is as ʼn verhewe vrou met ʼn goue beker in haar uitgestrekte hand uitgebeeld wat magshebbers aan haar onderwerp.
Nadat Nimrod vermoor is, het ʼn priester ʼn seun by haar verwek wat sy Tammuz genoem het. Sy het haar onderdane egter laat glo dat Nimrod een nag uit die dood teruggekeer en haar op bonatuurlike wyse bevrug het. Die Babiloniërs het die storie geglo en Tammuz as ʼn wonderseun en reïnkarnasie van Nimrod aanvaar. Daarna is daar oral in die beelde van haar as ʼn moeder met die wonderseun in haar arms in die ryk opgerig.
Semiramis is egter eers na haar dood as godinmoeder vereer en die hemelkoningin genoem waarna daar aan haar begin offer is; selfs Bondsvolklede in tye van godsdiensverval:
“En as ons vir die hemelkoningin rook laat opgaan en vir haar drankoffers uitgiet …” (Jer.44:19).
Heidene het gereeld aan haar geoffer. Die broodjie-offer was die gewildste. Dit was ʼn ronde wafeltjie:
“ … is dit dan sonder ons mans dat ons vir haar koeke maak om haar af te beeld en drankoffers vir haar uitgiet?” (Jer.44:19).
Slegs toegewydes is toegelaat om dit te nuttig. Die RK het later dieselfde offer as ʼn karikatuur van die Nagmaal voortgesit – die mis (Engels: Mass).
Die vroeë kerk het nooit ʼn probleem met Maria gehad totdat die RK haar as hemelkoningin gekroon het nie. Die NT sê weinig oor Maria. Haar laaste aangetekende woorde is aan die begin van Jesus se amptelike bediening toe sy by ʼn bruilof sê:
“Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen” (Joh.2:5).
Nêrens in die Bybel word sy tot dieselfde vlak as Christus verhef of aanbid nie. Sy was slegs geseënd omdat sy die Jesus-kind gebaar het en niks verder nie. Daarom het Maria-verering in die vroeë kerk ontbreek. Gelowiges sou dit as afgodery beskou en summier veroordeel het!
Gelowiges sal nooit die RK se afgodiese liefde en toewyding aan Maria begryp nie. Daarvoor moet ʼn mens met ʼn Roomse gewete gebreinspoel wees. Die fabelleer oor haar stem met die leer van die Melekiete ooreen; ʼn vroeë sekte wat tydens die Sinode van Nicea (325nC) die kerk wou oortuig dat die Drie-eenheid uit God (Vader), Christus (Seun) en Maria (middelaar) bestaan het. Hul kettery is summier verwerp.
Die RK laster as sy van Maria as moeder van God praat. Daar was niemand voor God nie! Die RK leer ook dat sondaars wat hulle voor Jesus verootmoedig, nie altyd van gebedsverhoring seker kan wees nie omdat Hy hom hoofsaaklik met geregtigheid en oordeel besig hou en genadebetoning aan sy moeder oorlaat. Gevolglik het sondaars ʼn beter kans om met hulle versugtinge by Maria geholpe te raak as by Jesus. Dit bots met Jesus se eie woorde:
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28)
Die RK beeld Jesus dikwels as ʼn hulpelose mens uit – ʼn baba dood in Maria se arms of dood aan ʼn kruis. So ʼn negatiewe beeld sal mense vir seker aan sy middelaarskap laat twyfel. Dit verwek hoogstens meegevoel, maar nie hoop en vertroue nie. Daarom aanbid die RK eerder ʼn lewende Maria as ʼn dooie Jesus!
In 1950 het Pous Pius XII gesê dat Maria se liggaam drie dae na haar dood opgewek is waarna sy as hemelkoningin opgevaar en ʼn troon aan die regterhand van Jesus ontvang het. Die RK glo dat Maria se geboorte bonatuurlik en dat sy derhalwe sonder sonde was. Daarom is haar bonatuurlike koms na die aarde met ʼn bonatuurlike verlating daarvan afgesluit.
Nee, Maria was ʼn gewone sondaar en sondaars kan nie verlossers wees nie.
“En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand.4:12).
Die RK bid eerder tot Maria as tot God. Hulle glo dat Maria en die heiliges wat na hulle dood deur die RK verheerlik is van God die reg ontvang het om gebede aan te hoor. Dis verfoeilik, om die minste te sê! Die Bybel sê dat gelowiges alleenlik vir mekaar, maar nie tot mekaar mag bid nie.
Daar is al soveel fiksie en fabel aan Maria toegedig, dat die werklike Maria in die stortvloed van Roomse onsin verdwyn het. Desondanks bly sy as die moderne Semiramis die rolmodel vir Roomse vrouelidmate. Kortom: Sy is bloot van die een afgodsisteem na ʼn ander een verplaas; net met ʼn ander naam!