Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is jou geen verklaring verskuldig vir enigiets wat Hy jou vra om te doen nie. Begrip kan wag maar nie gehoorsaamheid nie. Onmiddellike gehoorsaamheid gaan jou meer van God leer as 'n hele leeftyd van Bybelstudie. Jy sal sommige bevele trouens nooit verstaan as jy hulle nie eerstens gehoorsaam nie want gehoorsaamheid sluit begrip oop.
ELIA EN ELISA (12)
Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA
NAÄMAN SE GENESING
Dr JP Botha
Die bedreiging van die Arameërs vir die koninkryk van Israel het nie na die dood van die astrante Siriese koning, Benhadad II opgehou nie. Sy opvolger, Benhadad III, het Israel voortdurend geteister deur Aramese bendes oor die grens te stuur om strooptogte te onderneem.
Die krygsraadsitting in Damaskus
Die Here het nie toegelaat dat hierdie heidennasie ons volk totaal oorrompel nie. Hy het gereeld aan my bekend gemaak wanneer en waar die Arameërs gaan toeslaan, sodat ek vir koning Joram kon laat weet om hulle te verras en die aanval betyds af te slaan. Dit kon koning Benhadad nie verklaar nie. Hy het al sy generaals vir 'n krygsraadsitting in Damaskus bymekaar geroep.
"Hier is 'n verraaier onder julle! Ek wil weet wie van julle dra nuus aan oor ons troepebewegings aan die koning van Israel."
Almal was verbaas en ontsteld, totdat een van hulle sê: "U Majesteit, ek kan u verseker dat hier geen verraaier onder ons is nie, maar ek het gehoor dat daar in Israel 'n profeet is met die naam van Elisa. Hierdie man weet alles. Hy kan glo vir die koning van Israel alles vertel wat u hier in u slaapkamer praat. Dit is hy wat vir hom vertel langs watter paaie ons optrek en waar ons hulle gaan aanval."
Die Arameërs wil my vang
Hierdie nuus het vir Benhadad vasberade gemaak om my in die hande te kry. Hy het spioene uitgestuur om vas te stel waar ek my bevind het en 'n sterk leërmag met perderuiters en strydwaens uitgestuur om my te gaan vang. Ek het my toe in die stad Dotan bevind. Ek en Gehasi was in 'n herberg tuis.
Toe hy vroeg een oggend opstaan en buite kom, sien hy die Aramese leër, met perde en strydwaens rondom die stad. My liewe ou slaaf het hom lam geskrik en na my toe gestorm.
"Ag, meneer, wat gaan ons nou maak?"
"Moenie bang wees nie, Gehasi. Dié wat by ons is, is meer as wat hulle is."
Ek het gebid dat die Here sy oë moes oopmaak sodat hy kon sien. Meteens was die berge rondom ons vol perde en strydwaens van vuur.
Hulle word blind
Die Arameërs het dit natuurlik nie gesien nie en het met 'n juigkreet op ons afgestorm toe hulle ons gewaar. Ek het gebid dat die Here hulle moes blind maak en dit het oombliklik gebeur.
"Vir wie soek julle?" vra ek.
"Vir Elisa die profeet."
"Hy is nie hier nie. Maar kom en stap agter my aan, dan gaan wys ek julle waar hy is."
Hulle was so gretig om my in die hande te kry, dat hulle werklik die stuk of 25 kilometer vanaf Dotan na Samaria al agter my en Gehasi aangestruikel het. Ons het die klomp blindes netjies deur die poort van Samaria gelei tot op die groot plein binne in die stad en toe het ek gebid dat die Here hulle moes laat sien waar hulle was!
Jy moet jou vyand liefhê
Jy moes die verbasing en skrik op die honderde gesigte gesien het toe hulle weer kon sien en ontdek dat hulle in hul vyand se hoofstad vasgekeer is en dat die poort agter hulle gesluit is.
Die opgewonde koning Joram, wat vanaf die stadsmuur gesien het hoe ek en Gehasi hulle die stadspoort binnelei, het na my aangehardloop gekom en gevra of hy nou die klomp Arameërs moet laat doodmaak.
"Nee, koning Joram, as jy op die slagveld 'n vyand oorwin en jy neem daar krygsgevangenes, dan bring jy hulle nie om die lewe nie. Laat nou vir hulle 'n groot feesmaal voorberei, waar hulle genoeg kan eet en drink en dan maak ons weer vir hulle die poort oop sodat hulle na hul koning toe kan teruggaan."
Joram het dit gedoen en na 'n dag of wat het die dankbare, skaam Arameërs weer die stad verlaat, op pad na Damaskus, nadat hulle ons oor en oor verseker het dat hulle ons weldaad aan hulle nooit sal vergeet nie en dat hulle ons land nooit weer sal binneval nie.
'n Dogtertjie word weggevoer
Na verloop van tyd was al hierdie mooi beloftes vergete. Benhadad III het maar weer toegelaat dat Aramese bendes strooptogte oor die grens uitvoer en roof en plunder so ver as wat hulle trek. By een so 'n geleentheid het hulle 'n jong meisie, wat nie saam met haar familie kon wegkom nie, gevang en saamgeneem na Damaskus. Daar in die vreemde is hierdie goeie kind in diens geneem deur die vrou van Naäman. Hy was die hoof van die Aramese leër en 'n dapper soldaat. Hy was hoog in aansien in die land, want hy het vir die Arameërs op die slagvelde verskeie oorwinnings behaal, en het die koning se hoë agting geniet.
Naäman se siekte
Maar skielik was die lewe van hierdie voortreflike heidense generaal vir hom niks meer werd nie, en ook nie vir sy land en sy koning nie, want hy het die ongeneeslike siekte van melaatsheid opgedoen en sou vir die res van sy lewe in afsondering veel pyn en ellende moes verduur.
Net ek het geweet dat die Here iets wonderliks met die siekte van hierdie Aramese veldheer wou doen en vir hom en sy koning en vir Joram van Israel wou toon dat Hy alleen oor die lotgevalle van alle mense beskik.
Die jong meisie in diens van Naäman se vrou het vir haar gesê: "Ag, as meneer Naäman tog net by die profeet in Samaria kon uitkom, sal hy hom gesond maak."
Die brief
Mevrou Naäman het dit vir haar man vertel en hy het weer met sy koning gaan praat. Benhadad het seker nie mooi verstaan nie en skrywe toe 'n brief aan Joram, koning van Israel: "Ek stuur my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak."
Naäman het met 'n paar strydwaens en 'n taamlike groot gevolg die lang pad van Damaskus af na Samaria aangepak. Hy het op 'n paar vragwaens 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en 10 stelle klere met hom saamgeneem. Na sy aankoms in Samaria is die brief aan koning Joram oorhandig. Hy het van ontsteltenis sy klere geskeur en aan sy raadgewers gesê:
"Wat dink hierdie man? Ek is mos nie God wat mense kan laat sterwe of lewendig maak nie! Hoe kan ek hierdie man van sy melaatsheid gesond maak? Hy soek net skoor met my; dis wat agter die hele ding steek."
Ek het geweet van die Arameër se aankoms by die koning en stuur toe met Gehasi vir Joram 'n boodskap: "Waarom skeur u u klere? Stuur Naäman hier na my toe, sodat hy kan sien en weet dat daar 'n profeet in Israel is."
Gaan was jou in die Jordaan
Na 'n rukkie het ek die geknars van wawiele en die geklap van perdepote gehoor en geweet dat hy voor die deur van my huisie aangekom het. Ek het vir Gehasi na buite gestuur om vir die Arameër te gaan sê om hom sewe maal in die Jordaan te gaan was, dan sal hy gesond word en rein wees.
Dit het Naäman nie verwag nie. Hy het vol verwagting na my toe gekom en gedink dat ek darem minstens na hom toe sou uitkom en eerbiedig voor hom buig en dan my God hardop sou aanroep, terwyl ek my hande heen en weer oor die siek plek van sy liggaam beweeg, onderwyl ek aanhoudend bid totdat die melaatsheid verdwyn. Hy het vir die mense by hom gesê: "Wat verbeel hierdie ou Israelitiese profeet hom tog om my te beveel om my daar in hulle ou modderige riviertjie te was! Dit is nie waarvoor ek die hele end pad van Damaskus af hierheen gekom het nie. As ek my dan moet was, kon ek dit mos in ons eie land se Parparrivier, of in die Abana gedoen het."
Hy het vererg op sy wa geklim en met sy hele geselskap daar weggery en was nog woedend toe hulle na 'n dag of wat deur 'n vlak drif in die Jordaan moes gaan, voordat hulle die lang pad na Damaskus sou aanpak. Sy amptenare wat hom vergesel het, het een en almal begin pleit: "Asseblief Generaal, as daardie profeet vir u 'n moeilike ding voorgeskryf het, sou u dit tog gedoen het. Hier is ons nou by die rivier. U kan net sowel nou maar afklim en u gaan was. Dalk gebeur daar iets."
Hy het hom laat ompraat en sewe keer in die water ingegaan en toe hy daar uitkom, was sy melaatsheid weg en was hy weer blakend gesond.
Hoe sê 'n mens dankie?
Die groot Arameër het net daar omgedraai en met sy hele gevolg na Samaria teruggery. Dit was 'n ander Naäman wat weer voor my huisie stilgehou het. Ek het na hom toe uitgestap. Hy het oorgeloop van dankbaarheid en gesê: "Nou weet ek dat daar geen ander God bestaan nie, as net julle s'n in Israel."
Hy bied my toe al die goud en silwer en klere wat hy saamgebring het as betaling aan vir sy genesing en was verbaas toe ek weier om dit aan te neem. Daarop het ek aan hom verduidelik dat ék hom nie gesond gemaak het nie, maar dat die almagtige God wat ek dien, dit gedoen het. Hy is die Skepper van alles wat bestaan en alles is Syne, ook die goud en silwer daar op sy wa. Hy leen dit maar net aan ons om te gebruik en in ons behoeftes te voorsien. Daarom kan ons Hom nie betaal vir al die wonderlike weldade wat ons van Hom ontvang nie. Ons kan Hom maar net loof en dank en dien en gehoorsaam alles doen wat Hy ons vra.
Die Arameër het dit begryp. Ek het in sy oë die lig van sy pasgevonde geloof in die almag en majesteit en heerlikheid van die Here, ons God sien brand. Toe sê hy: "Ek glo. Van nou af sal ek Hom dien en geen ander god aanbid nie."
Maar hy het reeds aan die probleme gedink wat sy nuwe geloof kan vertroebel na sy terugkeer na Damaskus. Hy moet gereeld sy koning vergesel na die afgodstempel van Rimmon en vra dat die Here hom moet vergewe as hy dan daar vir die skyn gaan aanbid. Hy vra ook twee muilvragte grond om saam te neem, wat hy op 'n plekkie in Damaskus wil oopsprei, om daarop brandoffers en diereoffers aan die Here te bring.
Vanwaar, Gehasi?
Ek het van die dankbare Naäman en sy gevolg afskeid geneem. Die Siriese generaal en sy mense het die 200 kilometer na Damaskus met vreugdevolle blymoedigheid aangepak, om vir sy koning te gaan vertel van die wonder wat met hom gebeur het.
Kort na hulle vertrek, het Gehasi verdwyn. Onderwyl die Arameër met my gepraat het, het my goeie kneg verskeie kere om die wa waarop die geskenke gelaai was, geloop, terwyl hy gesprekke gevoer het met die Aramese manne. Nadat hulle 'n end weg was op hulle noordwaartse pad, het hy hulle agternagesit en ingehaal.
Die Here het my duidelik laat sien wat daar gebeur het: Toe Gehasi by Naäman se waens aankom en die Arameër hom gewaar, het hy van sy wa afgespring, hom tegemoet geloop en ontsteld gevra: "Is daar iets verkeerd?"
"Nee, daar is niks verkeerd nie, meneer Naäman, maar die profeet het my hier na u toe gestuur. U was pas weg van sy huis af, toe kom daar twee jongmanne van die profetegemeenskap van die Efraimgebergte af en nou vra meneer Elisa of u nie asseblief vir hulle 34 kilogram silwer en twee stelle klere sal gee nie."
Naäman het Gehasi se gruwelike leuen geglo en by hom aangedring om dubbel soveel silwer te neem. Hy het dit in twee sakke laat toebind en twee van sy slawe gegee wat die klere en die geld vir Gehasi gedra het.
My liewe ou slaaf het nie met hierdie ryk besit na my toe teruggekom nie, maar dit na 'n nabygeleë rantjie laat dra en in sy eie kamer daar naby gaan wegsteek. Die twee slawe is terug na Naäman se waens en Gehasi kom 'n rukkie later doodluiters by my huis in Samaria aangestap.
"Gehasi, waar kom jy nou vandaan?"
"Nee, ek was nêrens heen nie; ek was maar hier."
"Ag Gahasi, moenie nog meer sulke gruwelike leuens vertel nie. Toe die hebsug jou beetgepak het en jy agter die Arameër aan was om die geld en die klere te gaan vra, het ek jou gesien. Wil jy met al daardie geld olyfboorde en wingerde en kleinvee en grootvee en slawe en slavinne koop?
Omdat jy hierdie verskriklike ding gedoen het, gaan die Here jou straf. Die melaatsheid waaraan Naäman gely het, gaan van nou af vir jou en jou nageslag aankleef."
Ek het met groot hartseer gesien hoe my goeie kneg, skielik oud en gebroke, van my af wegstap. Op sy sieklike liggaam het die ongeneeslike melaatsheid reeds al wit soos sneeu vertoon.
Ek sou dit graag anders wou gehad het, want hy was vir my 'n goeie kneg en tot groot hulp en bystand waar ons oral heen gegaan het, maar die Here het bepaal dat sy sonde op hierdie wyse gestraf moes word en wat die almagtige God doen, is altyd welgedaan.
________________
.