Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kom ons kyk weer na hoe die mees besonge onderwerp in die wêreld regtig lyk: Die Liefde. Ware liefde is egter nie daardie romantiese gevoel wat een mens teenoor 'n ander koester en oormôre verdwyn soos in die miljoene sekulêre liedjies besing word nie; 1 Kor 13 vertel hoe ware liefde lyk: dit is vriendelik, opreg, geduldig, eerlik, regverdig, getrou en bestaan vir ewig. Dit is hierdie liefde wat ons moet nastreef tot ons eendag werklik volwasse is en nie meer soos 'n kind hieroor dink, redeneer en praat nie.
RASSEVERMENGING ‘N BABELSE VERWARRING
Ds Andrè van den Berg
Die opskrif van Jes.14 lui: “Die val van die koning van Babel”:.
“Hoe het jy uit die hemel geval. O morester, seun van die dageraad? Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel my troon verhef bo die sterre van God.... Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!” (12-15)
“En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en almal het een taal. En dit is net die begin van hul onderneming ... Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar..... So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi....” - Gen.11:6-8;
“en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?” - Hand.2:7,8
Gen.11 is die verhaal van ʼn verenigde gemeenskap; mense met net een taal en ʼn sondige versugting na mag. In die boosheid van hul harte het hulle selfs ʼn toring probeer bou waarmee hulle tot by God in die hemel wou opklim om met Hom kragte te gaan meet. Wat in Babel gebeur het, het hom daarna telkens in die geskiedenis herhaal – saamgesnoerde, enkeltalige, magsbehepte gemeenskappe wat hul rieme met God styfgeloop het! Sowat 2000 jaar later het dieselfde ding weer in Babel plaasgevind toe ʼn koning hom bo God probeer verhef en gestraf is. In Gen.11 verydel God die Babiloniërs se bose strewe op twee aanskoulike maniere. Eerstens vernietig Hy die onvoltooide toring. Tweedens laat hy die stadsbewoners deur ʼn spraakverwarring uitmekaar spat. Wat die Babiloniërs destyds gedoen het, was lynreg teen God se bevel. Na die sondvloed gee God Noag en sy gesin opdrag om te vermeerder en oor die aarde te versprei. In Babel doen Noag se nasate net die teenoorgestelde; hulle trek onder ʼn koning, Nimrod, in Babel saam - hulle wil nie apart wees nie, maar eerder saambly!
Daarom het God ingegryp en hulle d.m.v. ʼn spraakverwarring apart gedwing sodat hierdie groot mensefamilie nie langer kon voortbestaan nie. Hulle het op ʼn harde manier ʼn les geleer wat mense tot vandag toe nog nie wil leer nie - wat God geskei het, mag geen mens saamvoeg nie!
Sulke mense-samevoegings is alles kunsmatig en veroorsaak nie net spanning nie, maar kweek ook onderlinge haat soos die reënboognasie ʼn sprekende voorbeeld van is! Openbaring waarsku ons dat daar net voor die wederkoms van Christus een groot, bose wêreldfamilie gaan ontstaan. Dit gaan deur ʼn wêreldleier wat God haat, aangevoer word nl. die Antichris. Sy ryk word simbolies Babilon genoem!
Soos wat Gen.11 ons vertel hoedat God uit die hemel gekom en mense gestraf het, vertel Hand.2 hoedat Hy eeue daarna in die Heilige Gees uit die hemel gekom en ʼn nuwe familie op Pinksterdag begin vorm het. Op daardie dag het die 14 verskillende volke wat in die tempel teenwoordig was die boodskap van verlossing in sy eie taal gehoor. Dis ʼn ommekeer van wat by Babel gebeur het!
Slegs in Christus is ʼn wêreldfamilie vir die mensdom goed want dis die wêreld van wedergebore Christene. Daarom bely ons dat ons aan die gemeenskap van die gelowiges glo. En dis ʼn ervaring! Selfs wanneer jy met Christene van ander nasionaliteite in aanraking kom, vind jou siel aansluitings by hulle.
Ons keer vir ʼn wyle terug na Gen.11. Nimrod en sy onderdane wou God nie aanbid nie. Hulle het so veel van hulself gedink, dat hulle eerder met Hom wou meeding. God het hierdie spyker wat uitgesteek het, goed gehamer! Dit was immers die sonde van Adam en Eva se tyd af – mense wil God nie aanbid nie, maar eerder hulself. Babel is vir haar trots gestraf. God het uit die hemel neergedaal, die toring verwoes en hul taal verwar waarna hulle oor die aarde versprei het soos wat Hy aanvanklik wou hê!
Op Pinksterdag het God weer op mense neergedaal. ʼn Sterk wind, tonge van vuur en die dissipels se vermoë om in 14 ander verstaanbare tale te spreek, het mense hierdie keer nie uit mekaar laat spat nie, maar eerder saamgesnoer. Elkeen wat die Naam van die Here aangeroep het, is gered. Die Gees van God het mense tot ʼn nuwe eenheid saamgevoeg – kinders van God. “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12).
Die kerk van Christus is nie ʼn klub vir godsdienstige mense waar hulle Sondae by mekaar kom nie. Dis ʼn geseënde gemeenskap wat in so ʼn besondere verhouding met mekaar staan, dat hulle mekaar as familielede beskou en as broers en susters aanspreek.
Wat bind hierdie mense saam? Die nuut-word in Jesus; die wedergeboorte. Daarsonder is alle godsdienstige vertoon niks anderste as toneelspel nie! Die Fariseërs was in Jesus se tyd ʼn toonbeeld van sulke godsdienstige toneelspel. Daarom het Jesus asook Johannes die Doper hulle hard daaroor aangespreek!
Jesus se laaste opdrag was: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies...” (Mt.28:19). Die dissipels waarvan ons in die NT lees, het almal, op een na, die wedergeboorte gesmaak en soos eie familie liefdevol by mekaar ingeskakel. En dis wat Jesus vandag nog wil hê; dissipels. Hy roep mense uit alle volke, tale en nasies tot dissipelskap op. Niemand is hiervoor te sleg nie.
Op hierdie terrein moet ons egter bitter versigtig vir die misleiding van die satan wees want hierdie dissipelskap/geloofsgemeenskap verskil hemelsbreed van die wêreld se gemeenskapvorming. Dis nie struktureel nie. Gevolglik kan dit nie sigbaar gemaak word deur bv. ʼn groot struktuur op te rig en daarna almal daarin saam te bondel nie.
Dit was Babel se groot fout – Nimrod het hom vir strukturele eenheid beywer en klaaglik misluk. Hy was die eerste maar ongelukkig nie die laaste politikus wat met hierdie dwaasheid misluk het nie. Deur die eeue heen was daar talle soortgelyke mislukkings sonder een enkele suksesverhaal. Die reënboognasie is die jongste mislukking!
Hoe lyk die ware geloofsgemeenskap/kerk van Christus? Wat sê die Bybel? Dis alles behalwe sigbaar en ʼn geestelike eenheid. Jesus sê: “Ek het nog skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde een herder” (Joh.10:16). Die klem val hier baie op verskillende skape wat aan verskillende stalle behoort maar in die gees net een Herder het. Daarom keur die AP Kerk rassevermenging sonder ʼn omhaal van woorde af. Benewens die TV skerm werk dit nêrens ter wêreld nie!
Pasop vir die satan. Hy hou aan die mensdom ʼn geheel ander gemeenskap as rolmodel voor – een waaroor die Antichris binnekort gaan heers. Hoeveel kerke het nie al met strukturele eenwording proefnemings gemaak nie? Het een van hulle enig een van hulle al enige sukses gehad? Nee een nie! Kyk maar net na die onmin en skeuring wat die Belhar-belydenis nie al veroorsaak het nie!
Kerklui hardloop in die verkeerde rigting. Jare gelede wil ʼn Jood met ʼn bus Trafalgar plein toe ry en vra die kondukteur wat dit kos. “Two and six” antwoord hy. Die Jood besluit toe om vir so ʼn rukkie agter die bus aan te hardloop met die hoop dat dit dan minder sal kos. Na so ʼn myl skreeu hy vir die kondukteur: “Mister conductor, how much to Trafalgar Square?” “Three and six; you’re running in the wrong direction” skreeu die kondukteur terug.
En dis presies wat op kerklike terrein gebeur – kerke hardloop al hoe verder van die waarheid af weg. Kom ons verheug ons egter in die komende Pinkstertyd in die ware gemeenskap van die gelowiges. Laat ons doen wat God se Woord van ons vra en nie wat ʼn verworde kerklike wêreld en Antichris van ons verwag nie!