Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Oumense wie se harte jonk bly, is ‘n sieraad vir hul geliefdes en hulle gemeenskap. Ouderdom is dus ‘n geval van geestesingesteldheid en nie van jare nie.
TATOEËRING...
...SATAN SE SKILDERYE
Ds Andrè van den Berg
Lev.19:28-29; 1 Kor.3:16-17; 6:19-20
Niks vernietig ʼn volk se gees soos bose, volksvreemde gebruike nie. Baie van ons volksgenote, veral sportlui en verhoogkunstenaars, laat hulle deesdae tatoeër. En dis die mense wat deur jongmense as rolmodelle beskou en aangehang word. Die ergste van alles is dat baie van hierdie mense se lewens so verrot is, dat dit geen voorbeeld is nie, maar eerder ʼn waarskuwing hoe daar nie geleef moet word nie!
Tatoeëring is ʼn bewustelike ontering van die mens se liggaam as tempel van God. Dis egter geen nuwe gier nie, maar ʼn baie ou heidengebruik. Daar is selfs mummies met tatoeërmerke gevind. In Assirië, Egipte en Babilon het slawe-eienaars bv. ink onder die vel van hul slawe laat inwerk om eienaarskap aan te dui. Veeboere doen dieselfde met brandmerke. Nie net slawe nie, maar ook misdadigers is destyds permanent met ʼn merk getatoeër.
In die OT was sulke merke ʼn teken van afgodsaanbidding. Afgodedienaars het hulle graag laat tatoeër en daarmee aangedui dat hulle aan ʼn sekere afgod behoort het; slawe van die Satan. Elke afgod het sy eie merktekens gehad.
Keiser Konstantyn het in die vierde eeu nC alle tatoeërmerke in die gesig verbied omdat die gesig die onbesoedelde beeld van God moes weerkaats. In 767 nC het pous Adrianus alle tatoeërmerke vir die Christendom verban, nie net die in die gesig nie. Dit word vertel dat die ou kruisvaders ʼn kruis op hul liggaam laat tatoeëer het sodat, indien hulle sou sterf en hul liggame gevind word, hulle ʼn Christelike begrafnis kon kry.
Israel het tatoeërmerke as ’n toewydingsteken aan afgode verag. Sommige van hulle het hulle egter in tye van godsdiensafvalligheid laat tatoeëer ten einde hul eenstemmigheid met die gees van die tyd te betoon; presies wat vandag weer gebeur - tatoeëring en geestelike afvalligheid loop hand aan hand! Openb.13 waarsku dat baie mense met die eindtyd die merk van die dier sal ontvang en gevolglik slawe van die laaste afgod sal wees.
Wat sê die Bybel oor tatoeëring? “ Julle mag ook ter wille van ʼn dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here” (Lev.19:28). God sê jy mag nie!
Daar is mense wat tatoeëring wil regverdig deur Lev.19:28 as ʼn OT verbod en deel van die uitgediende seremoniële wette te beskou. Hulle sê dat die NT dit nêrens verbied nie. Dis gevaarlik om so te redeneer want dit kan mense gevaarlike aannames laat maak. Bestialiteit, geslagsomgang met diere, word bv. slegs in die OT verbied. Beteken dit dat die NT dit goedkeur? Allermins! !
Lev.19:29 sê bv. dat ouers nie dogters vir hoerery mag misbruik nie. Die NT sê niks daaroor nie. Is dit derhalwe toelaatbaar? Nee, gelowiges mag nooit so redeneer nie. Wat in die OT verbode was, is ook in die NT verbode waar dit die geloof geraak het. Slegs die Joodse seremoniële wette en Joodse sabbat het na die opstanding van Christus met die tot stand kom van die Nuwe Verbond uitgediend geraak.
Lev.19:28 verbied twee dinge - snye en tatoeëring. Heidene het hul gereeld stukkend gekerf as teken van rou en droefheid. Die priesters van Baal op Karmel is ʼn sprekende voorbeeld hiervan: “En hulle het hard geroep en hulleself volgens hulle gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het” (1 Kon.18:28).
God noem in Lev.19:28 twee heidengebruike in een asem omdat beide oor die mens se liggaam gaan. Snye en tatoeëring is van meet af eie aan Sataniese kultusse. Lev.19:26-28 verbied sulke heidengebruike.
Tydens die Middeleeue het mense hul dikwels in die geheim laat tatoeër as ʼn teken van vereenselwiging met ʼn sekere belangegroep, amper soos bendes vandag. Wie met so ʼn merk gevang is, is dikwels deur die Roomse Kerk van heksery beskuldig en in sekere gevalle selfs op ʼn brandstapel verbrand.
Christene dink anders oor hul liggame as heidene. Omdat dit die siel huisves, is dit solank as wat ons op die aarde leef ʼn tempel van God: “Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? “ (1 Kor.6:19).
God verwag dat gelowiges verantwoordelik met hul liggame sal omgaan: “Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees…” (:20). Heidense snye en merke is niks anders as liggaamskending en derhalwe sonde in die oë van die Here nie! “Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand ʼn tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.3:16,17).
Omdat ons liggaam ʼn tempel van God is, mag nie met heidense merke mismaak word nie. Onthou, God is ʼn Regter en Hy sal vra wat ons met ons liggaam gedoen het terwyl dit die siel gehuisves het? Moenie met jou liggaam vir mense ʼn struikelblok wees nie!
Die Bybel roep gelowiges telkens op om alles tot eer en verheerliking van God te doen: “Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja! (Ps.150:6). Jes. 61:3 sê dat ons ʼn planting van die Here tot sy verheerliking is. Hoe kan mense met tatoeërings van doodsbeendere, spinnerakke en gedrogte God verheerlik? Is God dan nie lewe nie? En dit terwyl tatoeërings van die dood getuig!
Gelowiges is anders as ongelowiges en volg hul leefwyse nie klakkeloos na nie. Paulus skryf aan die gelowiges in Rome om nie soos die wêreld te wees nie, maar anders op te tree (Rom12:2). Gelowiges moet anders lyk. Hulle dra ook hulle hart op hul vel. As jou hart skoon is, sal jou vel ook skoon wees.
ʼn Gelowige se gees kom in opstand teen tatoeëring. Dit pas net so min by ʼn gelowige as ʼn standbeeld van Adolf Hitler in Jerusalem! Tatoeëring pas eerder by geweldenaars, misdadigers en onverskilliges. Getuig tatoeërmerke van ʼn verloste siel? Eerder die teenoorgestelde! Die losbandigheid, duiwels, demone, geweld en wreedhede wat uitgebeeld word, gee aan die draers daarvan ʼn misplaaste magsgevoel. Geen oorlogskildery het al ooit ʼn geveg gewen nie!
Tatoeëring getuig van Sataniese verwarring en weerhou mense daarvan om die eer van hul lewens aan Jesus te gee. En wie Jesus minag, sal ook enigiets anders minag.
Tatoeëring vlam altyd in tye van geestelike verval en ʼn toename in die heidendom op. Die geskiedenis van Suid-Afrika getuig baie duidelik daarvan. Toe die Christelike grondwet in 1994 in Suid-Afrika afgeskaf is, het die heidendom met al sy kentekens opgevlam.
Die Heilige Gees het nog nooit gelowiges gelei om hul te laat tatoeër nie. Hy lei mense eerder weg van afgodstekens af! Navorsing het getoon dat baie mense wat tatoeërmerke laat aanbring het later bitter spyt daaroor was, veral toe hulle tot bekering kom en deur die Heilige Gees van sonde oortuig is. Dit gebeur veral met tatoeërmerke met ongunstige assosiasies en/of herinneringe aan ʼn ou sondige lewe. “Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek” (Spr.21:5). Die verwydering van tatoeërmerke is skynbaar baie duur en onaangenaam.
Tatoeëring is afgodery - die aanbidding van die liggaam. Is dit nie vreemd dat ons in ʼn wêreld leef wat aan geen mens aanstoot wil gee nie. Dink maar oor die manie van politieke korrektheid. Desondanks word daar nie geskroom om aan God aanstoot te gee nie! Tatoeërmerke het nog geen mens nader aan God gebring of die geloof in Jesus Christus laat groei nie. Die teenoorgestelde is egter waar; dit laat mense in die geloof veragter. Gelowiges groei alleenlik as die Heilige Gees hulle lei om die regte dinge op Bybelse oortuigings te doen.
Toe Lev.19 geskryf is, was Israel op pad na Kanaän waar ʼn heidense leefwyse aan die orde van die dag was. Israel moes anders wees - ambassadeurs en advertensies vir God soos Christene vandag moet wees: “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense” (2 Kor.3:2).
Israel het in die tyd van Josua die heidendom binnegetrek om die bose teen te staan en God se eer onder ʼn verloregaande heidendom te verkondig. In Suid-Afrika het presies die teenoorgestelde gebeur - die Satan het ʼn eens Christelike volk binnegetrek en sy slawe gemerk.
Ongelowiges steur hul nie aan God nie. Hulle maak met hul liggame net wat hulle wil. Gelowiges steur hulle wel aan God en maak nie met hul liggame wat hulle wil nie. Wat meer is, vra hulle: Is dit wat ek met my liggaam doen, bydraend tot vrede in my gemoed? Met watter rede sal wil ek ʼn tatoeërmerk op my liggaam laat aanbring. As ʼn simbool van rebelsheid ongehoorsaamheid of opstandigheid? Probeer ek my identiteit of onafhanklikheid met so ʼn merk bevestig? As dit die rede is, is dit sonde!
As Christene mag ons nooit toelaat dat iets ons getuienis vir Jesus Christus ondermyn nie. Rom.14 gee ʼn aantal riglyne wat gelowiges altyd in gedagte moet hou as hulle met ongelowiges omgaan. Gelowiges mag nie aanstoot gee of mense laat struikel nie. Gelowiges moet ander se gevoelens eerbiedig en nie onnodig die aandag op hulself vestig nie. Dit wat gelowiges uitbeeld moet ʼn positiewe getuienis asook ʼn aanknopingspunt tot eer van God wees. “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ʼn lewende, heilige en aan God welgevallige offer....” (Rom.12:1).
Die heidendom is tans besig om soos ʼn magtige stroom dwarsdeur ons land te spoel. Dit sleur duisende volksgenote mee. Kyk maar net hoe lyk baie van ons jongmense - kleredrag, haarstyle, tatoeërmerke; net soos heidene! Iemand op die verkeerde lewenspad het geen aansporing nodig nie. Net ʼn sondebesef laat so ʼn mens van rigting verander.
Daar is niks met SA verkeerd wat nie met dit wat reg is gesond gemaak kan word nie. Ek verlang na die dag wanneer hierdie skrikbewind met sy 47 moorde per dag tot ’n einde kom en alle tatoeër-salonne gesluit word!